Kwatryntjies vir die proe
(na Leipoldt)
1. By rafeltjievleis
'n Hutspot rafeltjievleis vereis "pap" rys
in die ysterpotkom: bokrugstrook, 'n patrys,
vlakvark-dobbelsteentjies – as jy dit kan kry;
daarby 'n "rowwe" plaaswyn - nie twee kampioene wat stry.
2. By wildsbraad
Wildsboud met varkspek gelardeer,
in driekwart droë wyn en 'n kwart asyn gemarineer;
bestrooi met bokwietmeel voor braai en smoor
Mitsgaders wrangheid van pontak wat komplementeer.
3. Droë sjerrie
Die maag hou van druifpitolie en amiensuur;
neem dus 'n droë sjerriekuur
wanneer die gerwe aangery word, die vygies bloei
'n vroeë pimpeltjie teen elfuur.
4. Grootoom Gieljam
Hy't sy wingerd uitgekap, die afskaffersendeling -
die ding van geen skaap in rooiwyn stoof, begin.
Ek sê hom dit verdamp, die wyngees.
Oom Gieljam was nie-soos-hy-hoort-te-wees.

