Boekresensie: Koebesie deur Trienke Laurie

  • 0

Titel: Koebesie
Skrywer: Trienke Laurie
Uitgewer: Corals Publishers
ISBN: 9780992211271

Die gerekende digter-kritikus TS Eliot skryf in sy essay "Tradition and the Individual Talent" (1919): “Honest criticism and sensitive appreciation is directed not upon the poet but upon the poetry”. Eliot voer verder aan dat “criticism is as inevitable as breathing.” Die resensent se taak is om op verantwoordelike en objektiewe wyse die teks te bestudeer en volgens sekere literêre norme en standaarde te takseer. Laasgenoemde taak word in meeste gevalle met entoesiasme aangepak en word die rol van die resensent binne die literêre sisteem soveel meer genotvol wanneer ’n teks nie alleen aan die basiese literêre vereistes voldoen nie, maar boonop die leeslus prikkel. In sommige gevalle word dié taak minder aangenaam en moet die resensent bloot in Eliot se voetspore volg om op eerlike dog sensitiewe wyse die teks te ontleed en te bespreek ten spyte van die teks se soms (talle) gebreke.

Koebesie is Trienke Laurie se vyfde digbundel. Die kunstenaar-digter is in 1999 bekroon met die Ingrid Jonker-prys vir haar debuutbundel Skietspoel (1997). Die bundel inkorporeer beide Laurie se voorliefde vir kuns met dié van poësie. Talle van Laurie se tekeninge en skilderye verskyn in die bundel asook op die voorplat. Die titel word visueel op die voorplat uitgebeeld met die koebesie(s) (ook bekend as die hommelby en is bekend as die manlike weergawe van die heuningby) wat in die byekorf werksaam is. Interessant is die feit dat dié diklywige en digbehaarde bysoorte veral in die Noordelike Halfrond voorkom. Laurie betrek hoofsaaklik ruimtes in die noordelike halfrond in haar gedigte en fokus veral op België en Griekeland. In die bundel as geheel poog die digter om die werkerby as metafoor vir die digter in te span wat ervarings versamel om terug na die byekorf te neem en sodoende met die ander ‘bye’ te deel. Laasgenoemde sluit aan by die reismotief wat naas die natuur- en religieuse temas sterk in die bundel figureer. In die slotvers skryf Laurie soos volg:

Terug na die korf

Die werkerby keer terug
met nektar van die ver blom
en voor die reisiger op die skerm
volvoer sy haar dans van die son.

Die meerderheid gedigte in die eerste kwart van die bundel handel oor die spreker se ervarings as reisende digter in België. Later kom die kultuurgeskiedkundige aspekte van die antieke Griekse beskawing aan bod en bied aan die leser ’n blik op plekke en gebeure wat tematies interessant is en die leser se verbeelding kan stimuleer.  

Helaas is die oorgrote meerderheid van die gedigte in die bundel ongeslaagd. Laurie se voorliefde vir anekdotismes en die "vertelagtige" skryfstyl dra by tot die gedigte se ondergang. Die digter maak haarself skuldig aan woordoordaad sowel as die oormatige gebruik van uitroeptekens. Vergelyk byvoorbeeld DJ Opperman se gedig “Vincent van Gogh” met Laurie se “Van Gogh by Nuenen”:

Die knoetsige herfseike
dra geel blaarpruike.

By Nuenen lyk die woninkies
van riet-en-klei – die mensenessies,
na nessies van winterkoninkies.

’n Wewer sit gebukkend
oor sy raam en weefgetou.
Enkele drade kaats die lig
van buite of van die turfvuur;

die kamer bly verder obskuur.|
dis asof sy weefwerk
die man gevange hou.

Vincent  het ’n spitter gesoek
om naak te poseer
om te sien hoe die arm hark word
of die hark, ’n arm.

Van die mense se geskinder
word Margot swartgallig, gryp na gif.
Vicent se pa, die pastoor, dienaar van die Lig,
            (sonde, o sonde om naak te poseer!)
verhinder die mense, betáál hulle
om nie modelle te wees nie.

            Ek voel soos ’n ruie hond
            met pote groot en nat –
            in almal se pad.
            Ek moet die pad vat,
            ’n ander hok soek.
            Dalk raak die hond dol
            met sy byt en blaffery
            en moet hulle die veldwagter kry.

Ook die gebruik van dwangrym in gedigte soos “Alles oor die inlê van olywe” ontsier die bundel:

’n Mens kan digterlik skrywe
oor iets soos olywe –
jou oë blink soos olywe
of die reuk van olywe
as ons mekaar vrywe

Die masseer met olie
Verdryf die spanning uit lywe.
Kyk na die vorm van die lywe
Voor jy skryf oor o-lywe.

Laf, my lief,
en o, lof op die o-lyf!

Met die publikasie van Sonskryf in 2007 het verskeie kritici op gebreke in Laurie se digstyl gewys. Dit wil voorkom asof die digter nie daarin kon slaag om laasgenoemde kritiek ter harte te neem en die digkuns op ’n meer beheersde wyse te beoefen deur krities te herlees en te herskryf nie. Om spaarsamig met woorde en beelde om te gaan, is ’n fyn kuns waarin slegs gesoute digters slaag. Alhoewel die bundel esteties mooi daarna uitsien, is dit die poësie wat die finale oordeel fel. Helaas is die kool in Koebesie se geval nie die sous werd nie.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top