Treurgrond: Onderhoud met Tarryn-Tanille Prinsloo

  • 0

Tarryn-Tanille Prinsloo het op 23 die draaiboek vir die film Treurgrond geskryf. Sy het met Naomi Meyer oor die film gesels.

Hallo Tarryn-Tanille, skryf jy nog altyd, of wat is jou agtergrond?

Ek was nog altyd lief vir skryf, of dit nou Afrikaanse of Engelse opstelle op skool was of redenaarstoesprake of bloginskrywings tydens my universiteitsjare. Ek hou daarvan om stories te skep, met woorde te speel en nuwe karakters te ontwikkel. Na skool het ek BA (Drama) gestudeer by die Universiteit van Pretoria, waartydens ek in my tweede jaar 'n kortfilm geskryf en vervaardig het vir 'n studentefees. Ek het tydens my honneursjaar (BA (Drama) Hons Cum Laude) draaiboekskryfkuns, dans en digitale media as hoofvakke gehad. Tydens dié jaar het ek ook aan verskeie skryfprojekte gewerk as deel van die kurrikulum. Ek werk tans ook aan my meestersgraad, wat oor dans en film handel.

Tarryn-Tanille Prinsloo

Toe jy op Facebook reageer het dat jy die draaiboek kan skryf, het jy al die boek Treurgrond gelees? Indien nie, wat het jou laat dink dat hierdie die filmdraaiboek sal wees wat jy kan of wil skryf?

Die Facebook-"update" waarop ek gereageer het, het geen aanduiding gegee dat dit handel oor Treurgrond nie. Die stelling was bloot of iemand kan skryf met spesifieke verwysing na rolprente en draaiboeke. Ek het eers veel later, tydens gesprekke met Phoenix Films ten opsigte van Treurgrond, aangebied om 'n eerste konsep voor te stel. Ek het gevoel dat dit 'n sterk tema is wat te doen het met 'n belangrike saak. Phoenix Films het dit duidelik gemaak waarna hulle op soek was en ek het 'n gevoel gehad, 'n oortuiging, dat ek die wese van wat hulle wil hê, sou kon vasvang.

Niemand van ons wil onder gewelddadige omstandighede leef nie. Dink jy dat plaasmoorde spesiale aandag verdien in ’n land waar almal onder misdaad gebuk gaan?

Nee, niemand van ons wil onder gewelddadige omstandighede leef nie. Ek dink glad nie dat enige moord of gewelddadige aanval verhewe is bo 'n ander nie. Treurgrond werp bloot die lig op 'n tema waarvan nie almal moontlik bewus is nie, veral ten opsigte van die brutaliteit en gewelddadigheid waarmee hierdie aanvalle en moorde uitgevoer word.

Ek het in jou onderhoud in Rapport gelees dat jy meen dis jammer dat enige persoonlike uitlatings van Steve Hofmeyr aandag trek as hy in ’n hoofrolposisie in ’n film verskyn. Dink jy dat hy hierdie rol sal kan vertolk as akteur, en nie as individu wat sekere uitsprake maak waarmee sommige mense ongemaklik voel nie? Watter ander akteurs speel nog in die film?

As skrywer van 'n storie, van 'n verhaal is dit altyd vir my sleg dat mense hulleself blind staar teen die akteur in plaas van die karakter. Wanneer ons vir Steve Hofmeyr op die skerm sien in Treurgond, sien ons hom in die hoedanigheid van 'n karakter, Lukas van Staden, ver verwyderd van die persoonlike oortuigings, uitlatings en persepsies gekoppel aan die akteur wat die rol vertolk. Ek dink Steve Hofmeyr is 'n uitstekende akteur wat die sagmoedige Lukas tot op die haar oortuigend vergestalt. Dieselfde kan gesê word van Erica Wessels, wat sy vrou Nellie van Staden speel en die karakter se oortuigings op die skerm ontbloot. Jana Strydom kry dit ook reg om die wêreld waarin kaptein Helena Schoeman haar bevind, uit te beeld deur haar afgestomptheid doeltreffend vas te vang. Ander akteurs in Treurgrond is André Frauenstein, Graeme Kriega, Barbara-Marie Immelman, Shaleen Surtie Richards, Boikie Pholo en Richard Lukunku.

Wat is jou hoofoogmerk met die film?

Die oogmerk met Treurgrond is om bewusmaking in terme van plaasmoorde en -aanvalle te verhoog. Dit is om aandag te vestig op een van ons land se krisisse. Die rolprent laat 'n mens met 'n stilte na die tyd, 'n oorweging en 'n bepeinsing. Dit laat 'n mens dink. Dit bevat wel ontstellende tonele en materiaal as gevolg van die aard van die konteks waarin en waarom dit geskryf is. Met dit gesê bevat die rolprent ook ligter oomblikke wat sal sorg vir vermaaklikheid en mense kan dit ook om daardie redes gaan kyk.

Lees 'n onderhoud met Darrell Roodt oor Treurgrond.

Wys Treurgrond elke Suid-Afrikaner wat hy reeds glo hy weet?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top