
Daar was lanklaas ’n fliek wat elke Suid-Afrikaanse kyker so direk met sy/haar eie vooroordele gekonfronteer het soos Treurgrond deur Darrell Roodt.
Ek bedoel: Hoe kyk ’n mens na Roodt se prent oor die gruwels van plaasmoorde met Steve Hofmeyr in die hoofrol as die stil, sag en sterk boer Lukas van Staden sonder om direk herinner te word aan Steve se verskeie omstrede uitsprake? Kan ’n mens eenvoudig vergeet van dié verklaring wat hy pas Sondag teenoor Hanlie Retief in Rapport gemaak het: “Jis, ek was selfs vir ’n jaar of twee trots op my ja-stem. Ek het hierdie idee gehad: Let’s share this damn old country, want hy’s so pragtig. Maar ek het vinnig agtergekom daai ja-stem was ’n dolk in die rug van mý mense, my volk, die mense wat die heerskappy opgegee het”?
Maar goed, kom ons probeer om Steve se politieke aktivisme buite rekening te laat en net te fokus op die fliek waarin hy ’n goeie boer speel. Die regisseur is immers Darrell Roodt wat naam gemaak het met anti-apartheid-prente soos A place of weeping (1986) en Sarafina! (1992). Tussen Roodt en Hofmeyr gebeur daar dalk iets verrassends?
In Treurgrond vertel Roodt die storie van Lukas van Staden en sy vrou, Nellie (Erica Wessels), wat te midde van ’n vlaag plaasmoorde en -geweld probeer voortboer. Maar Lukas vrees nie net vir hul veiligheid nie – Edwin Labona (Graeme Kriega) het ’n landeis vir sy grond teen hom ingedien. Edwin het op die plaas grootgeword en is deur Lukas se pa universiteit toe gestuur op sy onkoste. Daniel Lebona (Boikie Pholo), Edwin se pa, is boonop Lukas se getroue, goedige en gemoedelike voorman.
Lukas roep die hulp van sy prokureur-broer in – André, gespeel deur André Frauenstein, die vervaardiger van die rolprent.
Ander sentrale karakters is kaptein Helena Schoeman (Jana Strydom), leier van ’n spesiale taakmag om plaasmoorde te probeer bekamp. Helena is ’n beeldskone maar strafdrinkende, tawwe tienie. Haar adjudant, sersant Morena (Richard Lukunku), is nog rou. By die eerste grusame plaasmoordtoneel wat hy moet afneem, gooi hy op, tot sy groot verleentheid en die leedvermaak van sy kollegas.
En dan is daar Katie (Sharleen Surtie-Richards), die onderwyseres in Lukas se netjiese plaasskool. Lukas kom goed met haar oor die weg, maar Nellie voel sy misbruik Lukas se sagte hart.
Om hierdie figure weef die 23-jarige Tarryn-Tanille Prinsloo se draaiboek ’n intrige wat moeilik klassifiseerbaar is. Prinsloo sê in ’n onderhoud dat sy deur flieks soos Magnolia, 21 Grams en Babel geïnspireer is – met ander woorde, deur dramas met ’n groot ensemble karakters wie se lewens in beduidende oomblikke kruis as gevolg van die momentum van (dikwels katastrofale) gebeure buite hul beheer.
Treurgrond is egter nie, soos die genoemde drie flieks, ’n mosaïek van ’n klomp aangrypende klein dramas wat uiteindelik saam ’n veel groter beeld vorm nie. Dit wys ’n klein beklemmende wêreld bevolk deur karakters wat skynbaar almal uitgelewer is aan hulle lot in ’n rolprent wat soms lyk na ’n politieke drama, soms na ’n gruwelprent en soms na ’n misdaadriller waar die polisie bloot geen leidrade het om op te volg nie en wat reg in die middel radikaal onderbreek word deur Nianell wat so skielik, so kliphard “Wys my jou hart” sing dat jy wonder of jy nou per ongeluk op kykNet se musiekkanaal beland het.
Wie jy hoegenaamd nie in Roodt se fliek sien nie, is die plaasmoordenaars. Jy sien slegs hulle skrikwekkende handewerk in ontstellende grafiese besonderhede, maar geen karakter waag ’n teorie oor die rede vir hul wreedheid of identiteit nie. Om geweld en foltering uit te beeld sonder enige rasionele verklaring of legitimering is tipies van die gruwelgenre, maar in hierdie soort polities gelaaide drama kom dit vreemd voor. Dit mag wees dat Roodt eenvoudig wou wys hoe vele slagoffers hierdie sinlose geweld ervaar en dat hy ook geen oortuigende verklaring vir die brutaliteit en vlak van plaasgeweld kon vind nie, maar moenie Treurgrond gaan kyk met die hoop dat jy dieper begrip gaan kry vir die redes waarom plaaslike boerderygemeenskappe so bloedig ontspoor het nie. Dis nie ’n fliek soos die Brasiliaanse City of God (2002) wat jou tot geskokte nadenke oor die geweldmisdaad in Rio stem, maar terselfdertyd duidelik maak watter strukturele faktore aanleiding gee tot hierdie haglike bose kringloop waarin ryk en arm beide vasgevang is nie.
En op die keper beskou, worstel ons landbou tog ook met ’n geweldige strukturele probleem: jy het grondbesitters wat baie kundigheid versamel het en grondloses wat vir hul eie sak wil boer en weet hul besitloosheid is die gevolg van eeue se sistematiese onreg. Die sig op die treurgrond van ons plase moet dus radikaal verskillend wees na gelang van jou posisie.
Treurgrond wys hierdie problematiek net uit die oogpunt van die wit boere. Lukas se prokureur-broer André verduidelik sy siening aan Edwin Labona, die grondeiser, só: “Daar is nie iets soos ons s’n, of joune of myne nie. Daardie plaas is ’n gemeenskap. Lukas kyk na die opvoeding van die kinders van die families wat daar werk. Sonder Lukas is daar niks nie.” Die implikasie is dat daardie gemeenskap net met sy broer, Lukas, as baas van die plaas kan floreer. Die Lukas wat ons in die fliek leer ken, is beslis ’n eerbare, welmenende man, maar wat André sê, is hoogs aanvegbaar wanneer jy argumenteer uit die hoek van iemand wat oortuig is dat die grond nie werklik Lukas s’n is nie.
Ongelukkig gee die fliek nooit vir Edwin juis ’n spreekbeurt nie. Ons hoor slegs dat hy glo die grond is sy familie s’n en dat hy die eis ter wille van sy pa instel. Sy pa, Daniel, is dan woedend vir hom en sê ontsteld teenoor Lukas: “Edwin sal die plaas net deur sy gat trek.”
En tog is Treurgrond op ’n bevreemdende manier heel polities korrek: die boere se tierende frustrasie word duidelik gewys, maar hul rassisme bly betreklik beleefd en kook nooit oor in geweld nie. Hulle gebruik die regte kanale. Ook die polisie probeer hul bes en al die swart karakters wat ons sien, is “goed” – selfs die stug grondeiser is heel ingetoë. Die bose bly volkome onsigbaar onverklaarbaar en die k-woord word nooit gebruik nie.
Ek vermoed dus diegene wat reeds gebelg voel oor plaasmoorde, gaan nog meer ontsteld uit dié fliek uitstap, terwyl diegene wat ’n fliek met ’n AfriForum-agenda verwag, gaan voel hulle was reg. Die prominente produkplasing van onder meer Radio Pretoria, Rapport en NWK-kunsmis versterk die indruk dat hierdie fliek geborg is deur diegene wat in die eerste plek ’n belang in die boere se saak het. Die boere lug dan ook hul griewe in Treurgrond by ’n AfriForum-vergadering en wanneer die titels rol terwyl Hofmeyr se “Grondgebed” speel, kry jy AfriForum se Stop die Moorde-kontakbesonderhede op die skerm.
Treurgrond is uiteindelik ’n soort ontstellende Rohrschach-toets wat jou eie oortuigings en identiteitspolitiek aan jou terug-eggo.
Lukas van Staden verklaar in ’n sleuteltoneel teenoor speurkaptein Schoeman: “Elke keer as daar ’n boer vermoor word, sterf daar iets in ons binneste – ’n klein bietjie taal, ’n klein bietjie godsdiens, ’n klein bietjie geskiedenis. En uiteindelik ’n klein bietjie van wie ons is. Daar’s bitter min van ons oor.”
Hoe jy dink en voel oor hierdie woorde,hang nie in die eerste plek af van hoe jy dink en voel oor Steve Hofmeyr, die akteur wat dit sê, die regisseur, storie of kamerawerk nie – dit hang af van wie jou “ons” en wie jou “hulle” is. En daardie begrip van jou “ons” en jou “hulle” gaan Treurgrond nie vir jou radikaal bevraagteken of verskuif nie, ongeag of jy links, regs of bloot verward is.
Treurgrond herinner jou hoe tragies min gemeenskaplike grond alle Suid-Afrikaners ná Mandela kon vind.
Lees 'n onderhoud met Darrell Roodt oor Treurgrond.
Lees 'n onderhoud met Tarryn-Tanille Prinsloo oor Treurgrond.


Kommentaar
Hoe lees mens 'n resensie van Danie Marais as hy vooraf sy eie vooroordele duidelik verklaar? Ek bedoel, hy toon misnoeë oor Steve reken die ja-stem was 'n onding maar hy vertel nie hoekom die ja-stem 'n goeie ding was nie - dis tog duidelik dat hy dink die ja-stem was goed anders sou hy mos nou nie Steve veroordeel het nie of hoe?
Aangesien die fliek handel oor sommige van die slegte manifestasies (plaasmoorde, grondgryping ens) van die NSA, wat deur die ja-stem teweeggebring is, maak Steve se aangehaalde uitlating sin.
Danie nou weer wend geen poging aan om te verduidelik hoekom hy dink Steve dwaal nie; dit lyk asof Danie om een of ander rede net aanvaar dat sy lesers dink soos hy dink (of, meer akkuraat, nie-dink soos hy ook nie-dink, net klakkeloos aanvaar).
Hoe kan mens dan enigsins ag slaan op wat Danie sê as hy homself as stroomafdrywer ontbloot het?
Wel, volgens jou reaksie, dink jy duidelik jou ja-stem was nie goed nie. Dus is jou reaksie op Danie se resensie ook iets waarop mens nie ag kan slaan nie. En nou kan jy weer dieselfde vir my sê. Dis nou as jy konsekwent wil wees.
Wel ek het nie gestem vir die nuwe regering destyds nie .Ek het vir die KP gewerk ... Behalwe vir die baie gevloek in die prent (jammer ek hou nie van vloek nie) was die prent uitstekend. Dit het uitgebeeld hoe baie moorde daar werklik is om ons en die boere uit te wis en dit was hartseer om te weet wat besig is om te gebeur in ons land. Wat Steve betref kan ek net sê, baie dankie, jou rol was puik gewees.