Tradisie op sy beste: ’n fotobeeld van die 2026- Gesamentlike Byeenkoms van Pretoriase Leeskringe

  • 0

Dis jammer dat Mabel Malherbe se rol as oermoeder van Afrikaanse leeskringe nie genoem is in 101 remarkable South African women nie. Dis ’n uitmuntende nalatenskap wat op 30 Mei vir die 85ste jaar gevier is, ’n tradisie van leesvriendskap en die vreugde en verruiming wat boeke bring. Die 145 teenwoordiges is afkomstig van 14 van die 18 leeskringe.

Die tema was “Woordkunswisseling”, wat dui op die vervaging van genregrense, en dis verken deur vier gassprekers: skrywer Gerda Taljaard, filmkundige Chris Broodryk, redakteur en uitgewer Louis Gaigher en Deborah Steinmair, skrywer en resensent. Mimie de Vries, voorsitter van die Centurion Leeskring en redakteur van Plus50, het hulle uitgelok. Hulle binnekennis van die skryf-, uitgee- en filmwêreld het groot bewondering afgedwing.

Gertina van Schalkwyk, koördineerder van die Pretoriase leeskringe, stel die paneel aan ons voor: Gerda Taljaard, Chris Broodryk, Mimie de Vries, Louis Gaigher, Deborah Steinmair.

Deborah: Niefiksie word kwistig ingemeng. ’n Roman soos Binnerym van bloed herinner aan memoires. Maar Antjie sê dis ’n roman en voeg by: “As jy dit geskryf het, is dit in elk geval fiksie.” Sommige verhaalbundels weer kom oor as romans en prosa word verryk deur poësie.

Louis: Ek wonder telkens hoe boekhandelaars deesdae besluit waar om boeke te plaas.

Die grafdigter, Gerda se jongste roman, is ’n gotiese roman met magiese realisme, sprokies en domestic noir ingemeng. Dit sorg vir ’n betowerende leeservaring.

Chris het die onthutsende realiteit van die boek-na-film-proses verduidelik. Van boek na draaiboek verloor skrywers enige sê oor karakters en selfs die storielyn. Dié word aangepas om aan befondsers se vereistes te voldoen. Lang dialoog werk nie. Kykers het ’n aandagspan van 30 sekondes. Baie inligting moet via musiek en beeld oorgedra word.

Skrywers het meer vryheid, maar word steeds beperk deur voorskrifte van uitgewers en redakteurs, sê Louis. Ons werk in ’n moeilike omgewing wat van verskillende kante bedreig word.

“Nou watter van jou boeke sou jy graag as film wil sien?” vra Chris. Sonder om te huiwer, antwoord Gerda: “Die vier susters.”

Koop boeke, koop veral Afrikaanse boeke, sodat ons nie later spyt sal wees nie, word deur almal beklemtoon. Graffiti was weer eens ons boekwinkel van die dag, met Leonie van Rensburg en Antonio Cantoni aan diens.

Erika Murray-Theron se kinderboek, Die blou huis, was te koop. Erika is ’n jarelange lid van die Prisma- en Mabel Malherbe-leeskringe.

Die GLB is ook ’n heerlike kuiergeleentheid. Omdat films ter sprake was, is ons verwelkom met ’n flieksnoeppakkie.

Johan Talma, Lyn Sly en Tonia Barker

Annemarie Wiese, Anitra Schultz en Huma Louw

  • Foto’s afkomstig van die selfone van teenwoordiges.
Lees ook:

Fotobeeld van die 2024-Gesamentlike Byeenkoms van Pretoriase Leeskringe: 83 nie uit nie!

Fotobeeld van die 2024-Gesamentlike Byeenkoms van Pretoriase Leeskringe: 83 nie uit nie!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top