
Magé was 2025 se wenner (Foto: Emma Snyman)
Die Toyota Stellenbosch Woordfees is hier, en onder die verskeidenheid kulturele hoogtepunte op die Toyota Musiekfees-program is daar een gebeurtenis wat beloof het om die verhoog behoorlik te laat brand: die finale ronde van die Taalgenoot-Ruk en Rym-kompetisie.
Op Sondag 4 Oktober is die The Daisy Jones Bar buite Stellenbosch in ’n spilpunt vir grensverskuiwende klank verander. Hier sou van die varsste, progressiefste en uitdagendste alternatiewe stemme in Afrikaans hul staal wys in ’n meesleurende battle of the bands-styl kompetisie.
Noudat die kompetisie vir die vierde maal aangebied is, het Ruk en Rym homself stewig gevestig as die toonaangewende platform vir alternatiewe kunstenaars en groepe wat musiek met Afrikaanse lirieke skep.

Altra-Mal was tweede in 2025 (Foto: André Badenhorst)
Dit word in samewerking met die ATKV, Taalgenoot, WÊRELD, Spotify, kykNET, Locally Yellow en ’n breë netwerk van vennote op die been gebring. Uit meer as 80 inskrywings landwyd – wat getuig van ’n lewendige en honger alternatiewe musieklandskap – is 20 semifinaliste gekies wat reeds in Gauteng en die Wes-Kaap kragte gemeet het.
Die top 10 finaliste wat sou optree is Gktimo, Katjie, Konstant Wiesner, Landi Lu, Lelies en Roos, Likkewaan, Luzelle, Pous Calla, Tatum en TWO.
Elkeen van hierdie 10 optredes bring ’n eiesoortige benadering tot lirieke en klank. Enigeen van hulle kan op die ou end wegstap met die gesogte Johan Jack Smith-trofee, oftewel Draadman.

Jaco van der Merwe (Foto: André Badenhorst)
Jaco van der Merwe, kreatiewe regisseur van Taalgenoot-Ruk en Rym, benadruk dat niks voor die finaal vasgestel is nie. “Dis nog op die dag anyone’s game, en dis vir ons baie lekker om te sien hoe gemeenskap op die ou end seëvier, wie ook al uiteindelik as die wenner aangewys word,” verduidelik hy.

Angie Gallagher, assistentregisseur (Foto: André Badenhorst)
Assistentregisseur Angie Gallagher stem saam oor die onvoorspelbaarheid en hoë gehalte van die finaal. “Ek’s huiwerig om vir mense te vertel wie ek dink gaan wen, want ek vertrou nie my eie oordeel nie – ek is in die verlede al verras deur die wenners. Ek kan egter sonder twyfel sê dat elkeen van die finaliste tydens die finaal iets uniek na die verhoog en na alternatiewemusiekaanhangers se ore gaan bring.”
Die beoordelaarspaneel vir die finaal bestaan uit Jaco van der Merwe self, Augusta Zietsman (op die verhoog bekend as Sossi) en Paul Riekert, die legendariese voorbok van Battery 9. Hulle word bygestaan deur Peach van Pletzen en Yo Nax (saam bekend as Van Pletzen) as gasbeoordelaars. Om die dag op ’n hoë noot af te sluit, lewer Van Pletzen ook ’n volle gaskunstenaarvertoning net voor die amptelike wenners aangekondig word.
Met ’n program wat oor meer as vyf uur strek en ’n atmosfeer wat kook van rou talent en kreatiewe energie, is die Ruk en Rym-finaal nie net ’n kompetisie nie, maar ’n viering van outentieke Afrikaanse uitdrukking.
Vrae vir Jaco:
Ruk en Rym is nou in sy vierde jaar en julle het vanjaar meer as 80 inskrywings uit alle hoeke van die land ontvang. Hoe het die klank, tema-ontginning en verhoogenergie van die deelnemers verander sedert die eerste jaar, en wat sê dit oor die huidige gesondheid van alternatiewe Afrikaanse musiek?
Ek dink elke jaar is ons van vooraf net beïndruk, maar elke jaar voel vir my soos my favourite jaar en die top 10 voel elke jaar soos die beste top 10 wat ons al ooit gehad het. Ek is nie seker of dit net is omdat mens die pure genot van die ontdekking van hierdie nuwe kunstenaars beleef nie. Die thrill – dis nogal ’n uitdaging om elke keer nou 10 amazing finaliste te vind. Ek is nie seker of dit net dit is en of die kunstenaars genuinely beter word elke jaar nie – ek dink dit is seker so ’n bietjie van albei.
Die syfer was actually meer as 90 entries hierdie jaar – dit was amper 100. Ons gaan nog volgende jaar 100 clock.
Jy sit self op die beoordelaarspaneel saam met ikone soos Paul Riekert (Battery 9) en Sossi (Augusta Zietsman). Waarna soek julle spesifiek wanneer julle die wenner van die Johan Jack Smith-trofee (Draadman) moet aanwys? Is dit die liriese diepte, die rou verhoogenergie, of daardie ondefinieerbare X-faktor wat die deurslag gee?
Ons het vyf spesifieke kriteria waarna die ses judges kyk. Die eerste een is musiek, en ons soek iets vars. Daar’s so baie woorde wat nogal geyk is wanneer mens te doen het met musiek. Mens kan nie eintlik iets sê soos “oorspronklik” nie, maar iets wat nie net probeer copy-paste nie en kind of innoveer in die musikale space.
Tweedens is dit natuurlik ’n ATKV-produksie, so ons kyk na lirieke. Elkeen van die judges kan self besluit hoe hulle voel oor die skryfwerk van die kunstenaar, maar vir hierdie projek is die liriekskryf baie belangrik. Ek dink ’n groot deel van hoekom Dierbaar na die maan ’n jaar of twee gelede gewen het, was die strength van Janke Mostert se skryfwerk.
Dan kyk ons na iets wat ons “alternatief” noem. Dis kind of ’n sensibility ding wat gaan oor kunstenaars wat teen die hoofstroom werk. Dis seker nie almal se mission om dit so sterk subversief te sê nie, maar dis ’n gevoel – iets wat mens ken as jy dit hoor. Dit het nie te doen met genre nie, maar is ’n kind of sensibility thing: “Is this music alternative or not?” Dit is ’n sliding scale en elke persoon wat daarna luister, sal verskillende opinies daaroor hê. Net omdat dit ’n rock band is, is dit nie noodwendig alternatief nie.
Dan kyk ons na “feels” – of mens ’n emosionele connection met die song maak op ’n goeie manier. Ek maak altyd die joke: “Revulsion is also a kind of feeling, but that’s not the kind of feeling we want to feel.”
Die vyfde kriterium is potential. So ons consider would we like to see this artist in studio, you know, recording an EP or an album and would we like to see the artist playing shows like by ’n festival of so.
Jy het genoem dat dit op die ou end oor “gemeenskap” gaan wat seëvier, ongeag wie wen. Hoe help ’n platform soos Ruk en Rym om ’n blywende netwerk en ondersteuningstelsel te bou vir kunstenaars wat dikwels buite die hoofstroommusiekbedryf beweeg?
So dis baie prakties die antwoorde, actually. Eerstens het ons ’n WhatsApp-groep met al die alumni van die laaste vier jaar. So al die semifinaliste, so die volle 20 mense wat live gespeel het by Ruk en Rym, elke jaar, is almal saam in die groep. En dit is ’n nogal ’n wonderlike kind of platform waar mense nuwe musiek share wat hulle drop of ons het ’n klomp debatte oor whatever the new current thing is to talk about. Of ons share goed wat ons inspirational vind.
Selfs Hunter Kennedy is in die groep, so daar’s opportunity vir kind of Q&A en learning.
Die tweede manier is baie collabs tussen die kunstenaars wat mekaar letterlik ontmoet by die Ruk en Rym-semifinale of -finale, wat dan saam begin werk op musiek en so aan.
En dan is daar natuurlik allerhande geleenthede vir bookings. So die bestuurspaneel van Ruk en Rym – ek, Angie en Nicky Joubert – het ’n hele paar opportunities gedurende die jaar by ander feeste, ander gigs en ander get-togethers en stuff.
Daar is geleentheid om bookings te doen vir kunstenaars, so ons gebruik gereeld van die Ruk en Rym-kunstenaars vir daardie geleenthede. So groei die netwerk van mense wat mekaar leer ken, saam nuwe musiek ontdek en dan ook begin collaborate, saam gig en toere saam reël en stuff soos dit. So ja, dis maar min of meer hoe dit werk. Laasjaar het ons ook natuurlik die musiekvideo's gemaak met die support van kykNET vir die top 10. Elkeen van die top 10-finaliste laasjaar het ’n musiekvideo gemaak. Vyf van hulle is al klaar vrygestel. Mens kan hulle almal op YouTube sien. Elke keer is Rym & Ruit ook genooi vir die collab post. YouTube kan ook mos nou sulke collab posts soos Instagram doen.
Vrae vir Angie:
Jy het opgemerk dat jy al in die verlede deur die uiteindelike wenners verras is en daarom skroom om voorspellings te maak. Wat is dit van die lewendige battle of the bands-formaat op die dag self wat ’n optrede heeltemal kan laat vlamvat teenoor wat op papier of opname verwag word?
Ek sê dikwels vir mense om na Ruk en Rym te kom kyk want dit laat ’n mens iets vóél. Daar bruis op die dag van ’n finaal iets buitengewoon in die Daisy Jones Bar, en die opregte kameraderie tussen die deelnemers en ondersteuning vir mekaar val ’n mens op. Ek dink die heel beste kom in so ’n positiewe omgewing in die finaliste uit – daarom staan elkeen op die dag ’n werklike kans om te wen.
Ruk en Rym skep ’n baie spesifieke ruimte vir alternatiewe kunstenaars wat nie noodwendig by gehore op tradisionele platforms aanklank vind nie. Waarom is dit vir die ATKV en die groter span belangrik om juis hierdie meer eksplisiete, eksperimentele en grensverskuiwende stemme in Afrikaans te koester?
Die ATKV se kernbesigheid is die bevordering van Afrikaans, en Taalgenoot-Ruk en Rym skep ’n ruimte waar alle soorte Afrikaans gebesig word. Hierdie vars stemme is uiteraard soms nogal uitdagend, maar hulle aweregse aanslag is ook vernuwend in Afrikaans. Ruk en Rym wil juis ’n verhoog bied vir kunstenaars vir wie daar nie elders so ’n platform bestaan nie. Dis vir die Ruk en Rym-span ’n reuse voorreg en vreugde om kunstenaars soos hierdie te sien soos hulle gesien wil word.
Vanjaar se top-10 verteenwoordig ’n baie wye verskeidenheid style.
Die energie is regtig elektries! Dit roep iets van ’n fees soos die destydse Oppikoppi op. Die onderlinge ondersteuning is iets om gade te slaan en die uiteenlopende genres maak dit van begin tot einde opwindend. Daar is vanjaar natuurlik die bykomende lekkerte van ’n volle vertoning deur Van Pletzen voor die dinge op die spits gedryf word tydens die prysuitdeling. Ag, kom belééf dit net – want ’n belewenis is absoluut wat dit is.

