Toyota US Woordfeesbundel 2020: ’n onderhoud met Nellie Alberts

  • 0

LitNet plaas oor ’n tydperk van ’n maand onderhoude met die skrywers wie se verhale vanjaar in die Toyota US Woordfeesbundel opgeneem word. 

Foto van Nellie Alberts: https://lapa.co.za/Skrywer/nellie-alberts.html

Nellie Alberts vertel vir Naomi Meyer van haar kortverhaal wat vanjaar in die Toyota US Woordfeesbundel opgeneem word.

Nellie, waaroor handel jou kortverhaal en wat was die inspirasie daarvoor?

​Die storie gaan oor twee Noord-Kaapse bruin kinders wat alleen per taxi van Calvinia na Vanrhynsdorp reis om vir hulle ouma te gaan kuier, maar dan word hulle nie afgelaai nie en beland na ’n paar avonture in die Kaap, waar hulle onder skolliekapers deurloop. Ek het jare gelede ’n kinderboekkursus bygewoon waartydens die aanbieder verwys het na plekke waar skrywers inspirasie vir hul stories kan kry. Sy het toe vertel van ’n koerantberig oor ’n kind wat per taxi gereis het iewers heen; op Beaufort-Wes klim sy toe op ’n verkeerde taxi en beland  in die Oos-Kaap. Die storie het baie jare in my agterkop gehang. Ek behoort tot ’n Kaapse groep, die Fynbosskrywers. ’n Paar bundels kortverhale van hierdie groep is al gepubliseer. Op ’n keer het ons aan ’n projek oor avontuurverhale vir kinders gewerk. Ongelukkig is die produk nooit gepubliseer nie. Een van my stories was in die vorm van ’n dagboekingskrywing van Cherry-Lee Marthinus. Vriende van my het gedink die storie is baie goed en elke keer wanneer hulle gaste vir ete gekry het, het hulle gevra dat ek dit moet aanstuur, en dis dan vir die vermaak van die gaste voorgelees. Dis as gevolg van hulle vertroue in die storie dat ek dit uiteindelik vir die Woordfees ingeskryf het.

Wil jy iets vertel oor die skryfproses daarvan? Het jy die verhaal vooraf beplan of het dit organies ontwikkel? Afronding, redigering?

Soos hier bo genoem, was die inspirasie gebaseer op ’n koerantberig, maar die eindresultaat verskil baie van die oorspronklike storie. Cherry-Lee se storie het sommer self sy loop geneem. Ek het die reis in my kop meegemaak en dit het ’n heel ander einde gehad as die koerantberig (wat ek nooit eens onder oë gehad het nie). Byvoorbeeld: Omdat daar destyds aan die N7 gewerk is, het die tientalle padstoppe sommer ook ’n rol gekry. Ek het ook die storie in ’n Noord-Kaapse dialek probeer skryf – nes onse mense praat.

Gaan jy vanjaar die Toyota US Woordfees kan bywoon, en indien wel, en as jy reeds tyd gehad het om na die program te kyk, is daar enige items waarna jy op die program uitsien?

Ek kan ongelukkig nie hierdie jaar gaan nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top