Toyota US Woordfeesbundel 2020: ’n onderhoud met Anri Botha

  • 0

LitNet plaas oor ’n tydperk van ’n maand onderhoude met die skrywers wie se verhale vanjaar in die Toyota US Woordfeesbundel opgeneem word. 

Anri Botha (foto verskaf)

Anri Botha vertel vir Naomi Meyer van haar kortverhaal wat vanjaar in die Toyota US Woordfeesbundel opgeneem word.

Anri, waaroor handel jou kortverhaal en wat was die inspirasie daarvoor?

My kortverhaal, “Tjailatyd vir klonge”, handel oor ’n plaaswerker wat as transgender identifiseer. Sy seksualiteit word egter glad nie verstaan binne die kortsigtige plaasgemeenskap waar hy hom bevind nie. Die verhaal fokus op die konflik wat hy/sy in die werk en by die huis ervaar, asook die manier hoe hy/sy die verwerping en afknouery hanteer.

Wil jy iets vertel oor die skryfproses daarvan? Het jy die verhaal vooraf beplan of het dit organies ontwikkel? Afronding, redigering?

Dit gebeur selde dat ek verhale moet beplan of uitdink. Ek is altyd op soek na ’n verhaal en as mens jouself toelaat om anders na die wêreld te kyk, sal daar altyd verhale wees. Ek is ’n wynmaker van beroep en het op die plaas te doen gekry met ’n seisoenwerker waarop ek my karakter gebaseer het. Dié kortverhaal is egter die moeilikste een wat ek tot dusver aangepak het – die verhaal self is wêrelde verwyder van my lewenservaring en ek moes daarom baie navorsing doen om reg te laat geskied aan die karakter. Dit het baie wyndrink ook gekos – en in die proses het daar ’n glas rooiwyn op my skootrekenaar uitgeval. Die wetenskaplike deel van myself het my toe liederlik in die steek gelaat toe ek in die hitte van die oomblik besluit het om sout oor die rekenaar te gooi. Ek kon gelukkig die verhaal weer op Dropbox vind, maar moes dit van daar af met die hand benader. Ek het dit drie keer oorgeskryf en toe eers op my sussie se rekenaar getik. Letterlik een vir die boeke!

Gaan jy vanjaar die Toyota US Woordfees kan bywoon, en indien wel, en as jy reeds tyd gehad het om na die program te kyk, is daar enige items waarna jy op die program uitsien?

Ek woon dit reeds sedert 2012 elke jaar getrou by en ek het reeds kaartjies gekoop vir die Karen Zoid-vertoning, asook vir Bibi & Loftus: Sewe sondes & sjerrie. Ek kan ongelukkig nie te veel goed bywoon nie – dit is in die middel van parstyd en ek moet goeie wyn maak om al die kunstenaars daarbuite geïnspireer te hou!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top