Toyota US Woordfees 2022: ’n onderhoud oor onder woorde

  • 2

https://www.webtickets.co.za/v2/Event.aspx?itemid=1518132650

Willem de Swyger praat met Naomi Meyer oor “onder woorde”, vanjaar op die Woordfeesprogram.

Willem, jy is aan LitNet-lesers bekend as Willem de Swyger. Daar is al heelwat van jou gedigte op LitNet gepubliseer. Jy kan vertel waar daar nog ander gedigte van jou te lese is, soos op ’n wynbottel. En watter gedigte bekroon is!

Ek is bevoorreg dat heelwat van my gedigte al op LitNet gepubliseer is. Een van my gedigte, getiteld “my taal”, het verskyn op die rugetiket van ’n wyn genaamd “Afrikaans” (Volume 1 en 2 van dié soort wyn). Dieselfde gedig is voorgelees by die 95ste-verjaarsdagviering van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Die gedig vertel van en is ’n huldeblyk aan my diep liefde vir die moedertaal. ’n Gedig wat ek vir Bennie Griessel geskryf het, hang by De Vrije Burger op Stellenbosch. Ek is onlangs aangewys as een van die finaliste in die L’ Art Poétique-digkompetisie, en ’n paar van my gedigte is in die Ingrid Jonker-gedenkbundel opgeneem. My eie bundel, getitel vissers van woorde, verskyn eersdaags en sal hopelik beskikbaar wees teen die tyd dat die Woordfees aanbreek.  

Wie is die Willem de Swyger wat mense vanjaar by die Woordfees gaan sien/aanhoor?

Ek is ’n voltydse regsgeleerde en probeer deeltyds kuns skep (dalk eerder pleeg!). Ek bly saam met my gesin in die Eikestad. Ofskoon ek laat begin het, was ek nog altyd doenig met woorde en musiek. My reis in hierdie verband het egter in alle erns gedurende 2019 begin toe ek ’n CD getiteld kaalvoet die lig laat sien het met die hulp van my vriend Matthys Maree.

............
Ek kan my nie ’n lewe sonder musiek voorstel nie. Ek skryf sedert my hoërskooldae en die uitreiking van kaalvoet was voorwaar die verwesenliking van ’n lewenslange droom; my passie vir beide musiek en woorde het op die album bymekaar gekom.
..............

Ek kan my nie ’n lewe sonder musiek voorstel nie. Ek skryf sedert my hoërskooldae en die uitreiking van kaalvoet was voorwaar die verwesenliking van ’n lewenslange droom; my passie vir beide musiek en woorde het op die album bymekaar gekom. Die snitte op kaalvoet versinnebeeld ’n persoonlike reis en vertel hartstories van Namibië, die Kalahari en Stellenbosch, plekke wat spesiale betekenis het vir my én die mense wat naaste aan my is – my getroue medepelgrims. Daar is oa ’n gedig getoonset wat my pa in 2008 oor die hemel geskryf het, ’n gedig vir my ma, sowel as vir my vrou en dogter.

Willem de Swyger (foto: verskaf)

Jy en jou dogter is te siene in ’n produksie wat as onder woorde bekendstaan. Julle tree ook op saam met Deon Meiring, wat ’n bekende sanger is. Daar is ook radiomense – Nic de Jager en Frieda van den Heever. Hoe het julle paaie gekruis en hoe het die idees hiervoor ontstaan?

Die uitreiking van my CD het my, by wyse van verskeie ompaaie, toegelaat om vir Deon, Nic en Frieda te ontmoet. Ons het sedertdien gereelde interaksie en het vriende geword. Ons deel ons liefde vir woorde en musiek met mekaar. Veral op die kruispunt waar dié twee ontmoet, herontdek ons dikwels, asof vir die eerste keer, ons gedeelde hartewens en versugting. Wat ons saamsnoer, is dat elkeen van ons, op sy of haar unieke manier, daarna smag om sin te maak van die daaglikse gesleur van ons alledaagse bestaan. Ons probeer aanhoudend om fasette van ons leefwêreld, brokkies van ons binnewêreld, onder woorde te bring. Sáám bring ons beter onder woorde of onder beter woorde as wat ons op ons eie kan vermag. Ons het koppe bymekaar gesit en toe gedink dit sou dalk lekker wees om saam te werk, maar ook te werk aan iets wat vergestalting gee aan ons gedeelde passies vir woorde en musiek. Deon is ’n diep seun. Deon is ’n rockster – hy was al in die tyd van MK baie bekend as deel van Glaskas en later Dans Dans Lisa. Hy is werklik ’n wonderlike musikant en kan toor met ’n kitaar en mondfluitjie. Ek vind sy lirieke inspirerend. Frieda is, sover dit my aangaan, vir seker een van die mees kundige stemme as dit kom by die skat van Afrikaanse digkuns. Sy het dit week na week gewys met haar aanbieding van Vers en klank asook Kortom op RSG. Sy het daarbenewens ’n fantastiese stem en is werklik ’n uitmuntende pianis. Sy het ook al by verskeie geleenthede vantevore liedjies van haar eie gemaak en gepubliseer. Sy is terloops ook by die Woordfees te sien in ’n ander produksie genaamd Skoonveld (waar sy betrokke is as Frieda Kruger). Nic de Jager, of Vox soos ek hom graag noem, het, wat my betref, nie sy gelyke as dit kom by die vertolking en voordra van letterkunde nie. Hy het werklik ’n gawe om onder die vel van ’n stuk te kom en om dit lewe te gee, dit sy eie te maak. Ek is innig dankbaar vir die voorreg om saam met sulke begaafde en bekroonde kunstenaars te mag optree en die verhoog met hulle te mag deel, en dit bowendien in die Drostdy-teater waarvoor ek ’n baie sagte plekkie het.

............
Ek is innig dankbaar vir die voorreg om saam met sulke begaafde en bekroonde kunstenaars te mag optree en die verhoog met hulle te mag deel, en dit bowendien in die Drostdy-teater waarvoor ek ’n baie sagte plekkie het.
..............

Julle produksie lê op die kruispunt tussen musiek en digkuns. Beslis is woorde klankryk en musikaal, en met radiomense en sangers betrokke kan dit nie anders nie. Wat kan mense verwag as hulle kaartjies wil koop?

Ek dink mense kan verwag om amper as’t ware in ons voorhuis ingenooi te word. Die vertoning sal ’n kombinasie wees van gedigte en musiek. Ons sal, ofskoon die konsep nog gefinaliseer moet word, na alle waarskynlikheid werk met temas en dan ons eie liedjies en gedigte gebruik wat tot daardie temas spreek. Ons soek na toeganklike woorde wat gewone mense raak. Hierdie woorde vind ons dikwels in ’n ruimte iewers tussen die Hertzogprys en loslit omgangstaal. In daardie braak ruimte – amper-heilig, ongekunsteld en aards – lê daar woorde, sommige onder stof, wat duidelik spreek tot elke faset van ons lewens, die rou materiaal van die lewe. Afskeid, verlies, familie, gesin, ons kontrei, ons land en sy mense, die see, seisoene, die natuur, drome, hoop, vreugde, en somtyds selfs liefde. Ons sal ouer gedigte betrek sodat die huidige in gesprek tree met die verlede. Die idee is om outentiek en sonder enige pretensie ons liefde vir musiek en taal ten toon te stel en dit met die gehoor te deel. Vir meer inligting oor die vertoning, besoek gerus https://woordfees.co.za/program/onder-woorde.

Hoe oud is jou dogter wat betrokke is? Is dit ’n produksie wat vir die hele gesin bedoel is, of is dit eerder geskik vir volwassenes? Miskien kan jy ook iets van haar rol in die opvoering(s) vertel.

Karla is 10 jaar oud. Ek en sy sal ’n liedjie saam sing. Die liedjie, wat op my CD verskyn, se naam is “pers trapfiets”. Ek het dit vir haar geskryf nadat ons een Sondagmiddag gaan fietsry het langs die Eersterivier. Tydens die bekendstellingskonserte van die CD, wat ook by die Drostdy-teater gehou is, het sy die liedjie saam met my gesing. Dit het groot aftrek gekry en ons doen dit daarom weer.

..............
Karla is 10 jaar oud. Ek en sy sal ’n liedjie saam sing. Die liedjie, wat op my CD verskyn, se naam is “pers trapfiets”. Ek het dit vir haar geskryf nadat ons een Sondagmiddag gaan fietsry het langs die Eersterivier. Tydens die bekendstellingskonserte van die CD, wat ook by die Drostdy-teater gehou is, het sy die liedjie saam met my gesing. Dit het groot aftrek gekry en ons doen dit daarom weer.
...............

Sy sal ook een van my gedigte voordra. Dit is interessant dat Karla 10 en Nic (amper) 80 is. Dit is wonderlik dat ons ons liefde vir musiek en gedigte kan vier binne die raamwerk van hierdie wye ouderdomsverskille. Dit is werklik ’n viering wat oor geslagte heen strek. Die hele gesin is welkom. Die ou heel kleintjies sal dalk nie soveel baat by die vertoning vind nie, aangesien dit moontlik bo hulle verbale vuurmaakplek sal wees. Ouer kinders in die laerskool, asook tieners en hoërskoolleerlinge, sal baie aanklank vind by die vertoning. Veral Deon se liedjies behoort groot aftrek by hulle te kry. Vir die ouer gehoor, wat bekend is met Nic en sy formidabele werk in onder meer Nic se goed, sal daar ook vele raakvlakke wees wanneer hy die gedigte so mooi vertolk en voordra. Almal tussenin is uiteraard ook baie welkom.

Praktiese besonderhede

Die produksie word by drie geleenthede aangebied by die Drostdy-teater in Stellenbosch, naamlik:

  • 13:00 Maandag 10 Oktober 2022
  • 10:00 Dinsdag 11 Oktober 2022
  • 19:30 Sondag 16 Oktober 2022.

Die Drostdy-teater het twee prysklasse: R160 en R200 (bespreek), en R190 en R230 (by die deur).

Kaartjies is aanlyn te koop by Webtickets asook by Webtickets-verkoopspunte in Pick ’n Pay-takke.

Die Woordfees se kaartjieskantoor is geleë in die Erfurthuis, Ryneveldstraat 37.

As julle ons kom ondersteun, sal ons dit werklik opreg waardeer. Vertel wyd en syd oor die vertonings en hou vir ons duim vas!

Lees ook:

Kaap: ’n onderhoud met Hans Pienaar

Toyota US Woordfees 2022 is "Wild": ’n onderhoud met Saartjie Botha

word wakker

’n Tomahawk van ’n les

hang vir my

vroegmôre

Drie (on)tug vrae

 

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top