’n Tomahawk van ’n les

  • 17

Prent: kokos_Design, https://pixabay.com/photos/tomahawk-pork-steak-tomahawk-steak-6175482/

’n Paar jaar gelede, voor Covid, moes ek Durban toe reis vir besigheid. Ek het vir die nag oorgeslaap by ’n baie bekende hotel. Ek was opgewonde oor die vooruitsig van ’n kamer vir die nag met ’n uitsig oor die see. Ek het kollegas vir aandete by die hotel ontmoet. Die kelner, ’n maer kêrel met ’n blink kuif en ’n gladde mond, het aangedring dat die steak, ’n Tomahawk, iets heel besonders is wat ’n probeerslag regverdig. Hy het my oortuig. Of liewer, ek het hom toegelaat om my arm te draai. Groot was my teleurstelling toe die befaamde Tomahawk by my aankom.  Om mee te begin, was dit gewoon té groot om enigsins aptytwekkend te wees. Bowendien was dit uiters swak gaar gemaak (dit was nog bykans hard gevries in die middel) en het na kerrie geruik en ook vaagweg na kerrie geproe. Ek was heel afgesit. En ook effens geïrriteerd, selfs kwaad. Deels omdat die arme Tomahawk so onregverdig opgehemel is, maar ook omdat ek gevoel het die vleis is traak-my-nie-agtig, dalk selfs minagtend en sonder die nodige respek, voorberei. Ek moet, in alle billikheid, byvoeg dat ons is my kontrei bederf is met goeie vleis wat liefdevol berei is, en ek was derhalwe heel moontlik bevooroordeeld. Ek het die kos, na ’n paar happe, onverwyld teruggestuur en, ten spyte van die bestuurder se herhaalde versoeke en beste pogings, besluit om niks verder te bestel nie. Ek het my voorgeneem om nooit weer by die hotel te eet nie. Ek het honger gaan slaap in my kamer met ’n uitsig oor die teleurgestelde Indiese Oseaan. Ten minste was die volgende môre se ontbyt heelwat beter.

Ek het onlangs by dieselfde hotel oorgeslaap. Ek het besluit om vinnig iets te ete te kry, nog ’n bietjie in my kamer te werk en vroeg te probeer inkruip. Ek is na dieselfde restourant waar die Tomahawk petalje homself vroeër afgespeel het. Ek het nie weer die blink kelner raakgeloop nie. Ek het rondgekyk en die kerrie-buffet het verruklik gelyk. Ek het vir my vier verskillende kerries opgeskep met rys, appelkose, poppadoms en vars gebakte, warm naan brode. Dit was ’n ete wat ek nog vir lank sal onthou. Die maan het ’n spoor van silwer oor die stil baai gestrooi. Die aandlug was geurig, vriendelik, verwelkomend. Vergete was die Tomahawk terwyl die komplekse geure van verskillende kerries ’n optog deur my mond gehou het.

Toe ek tevrede terug stap na my kamer, wat die keer sonder ’n see-uitsig was, het ek gewonder wat the moral of the story is.

.........
Miskien dit: mense is soos restourante – om gelukkig te wees met hulle moet jy nét van hulle verwag wat hulle kan gee. As jy méér as dit verwag, is die potensiaal groot dat dit in trane gaan eindig. Moet dus nie ’n steak bestel in ’n restourant wat in kerrie spesialiseer nie.
.........

Miskien dit: mense is soos restourante – om gelukkig te wees met hulle moet jy nét van hulle verwag wat hulle kan gee. As jy méér as dit verwag, is die potensiaal groot dat dit in trane gaan eindig. Moet dus nie ’n steak bestel in ’n restourant wat in kerrie spesialiseer nie. Moet ook nie ’n goeie steak daar verwag of soek nie. Want dán soek jy moeilikheid.

Daarbenewens geld dieselfde dalk ook met betrekking tot die skep van verwagtinge, by onsself en ook by ander. Dikwels is ons ons eie blinkkuif-kelner of, erger nog, is ons daardie persoon vir ander.   

  • 17

Kommentaar

  • Hans Richardt

    Blink verwagtinge is 'n probleem waarteen gewaak moet word te alle tye. Gewoonweg moet mens altyd bietjie skepties wees en laat die eindresultaat jou verras.

  • Rozelle Blackie

    In die kol. Ek het hierdie skrywe só geniet. Dankie, Willem. Weereens ‘n meesterstuk.

  • Sjoe, dis darem BAIE waar! 'n Les om te onthou.
    Hemelse Vader, help my om op te dis waarvoor U my geroep het, asook my verwagting van ander mense!

  • Tilla Steenkamp

    Ai, hoe waar is hierdie nie? Hoe maklik stel mense wat hulself uitgee vir tomahawks 'n mens nie teleur nie? En eintlik is die lewe vol wonderlike geurige kerries ...
    Baie goed vertel, Willem de Swyger.

  • Man ... Dit is darem nou so raak geslaan soos 'n stuk medium rare steak ... In 'n steakhouse!
    Ware en wyse kennis. Dankbaar, Willem!

  • The moral of the story is, as jy in Durban kom en jy moet hotel- of restourantkos eet, bestel 'n kerriegereg. As jy lus is vir 'n Tomahawk, braai hom self. Sorg net dat jy nie alleen is om hom op te eet nie, want dis 'n allemintige stukkie vleis.

  • Hans Richardt

    Angus, bly om te sien jy skop nog. Lyk my ons is verban hier op LitNet, Briewebus.
    Kerrie maak my siek en gee my nare gevolge.

  • Hans, jy het dan nog nie die regte kerrie geëet nie. Willem de Swyger se skrywe het my lusgemaak vir braai, en ek het vir my lekker Wagyu-steak gekoop. As ek hier in Durban skop, sien jy net water spat. Ons verdrink alweer; dis waarom ek Orania toe wil trek waar dit net so gedrup-drup het met die sondvloed. Net jammer julle is so bang vir die dywel en die attihiste.

  • Kom mos nou daarvan wanneer jy jou bedrewendheid met die vreemde kossies in die openbaar tentoonstel. "Tomahawk"-steak; verbeel jou! – wat kos die been? Wat van die lekker 't-bone' met sy dik pens, mieliepap en tjips. Jare gelede daar in die restaurant in die (ou) Fonteine en die "Hamburger Hut" onderkant Skinnerstraat in Pretoria daaraan gesmul. Waar's daai dae – smag nou nog daarna.

    Ons eie kos-kultuur word ook so uitgewis, getransformeer tot buitelandse "scrap".

  • Stem saam. As jy in Durban kuier, eet jy hoofsaaklik maar kerrie. Wees ook versigtig watter restaurant. Hier is nie juis "goeie" vleisrestaurante nie. Berei net jou pens voor die kuier. Oefen eers op 'n paar samoosas voor jy regte kerrie aanpak. 'n Ordentlike kerrie brand jou twee keer.

  • Hans Richardt

    Angus en Raed-na-Gael, ek dink nog steeds dat lekker "butterfly-skaaptjops", oor 'n warm vuur gebraai en in 'n toeknyprooster opgehang dat die vet afdrup, in Calvinia die lekkerste smaak saam met vars knoffelbrood. Wat voor altyd neuk met pap en sous? Karootjops met net sout op, want die kruie is in vleis.

  • Beste Hans,
    Stem saam; dit smaak ook lekker, maar waarom juis in Calvinia? Vlug jy nou uit Orania, en is jy dalk op pad Weskus toe? Ek sal ook nie daar tuis voel nie; klink te veel na Calvyn, en dit laat my hare rys.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top