hang vir my

  • 10

Foto: Canva.com

hang vir my
hang vir my
die sterre
(helder soos lanterns)
aan die donker
van die hantam
se wye hemelhalfrond

spin vir my
weef vir my
(met jou vaardige vingers)
die melkweg
se wit wol
in ’n ragfyn koord
wat ek aan my hart
vas kan knoop
in my om kan dra
oral waar ek gaan

verf vir my
die naghemel
(se wit spatsels)
met jou donker oë
sodat die lig
steeds daarin
behoue sal bly
selfs na sonsopkoms

plant vir my
die wit lelie
(van ’n maanliggedig)
in die sagte kleigrond
van jou hart se vleiland
wat stil sal blom
en soms sal sing

  • 10

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top