vroegmôre

  • 3

Erkenning: https://pixabay.com/photos/sunset-tree-field-sun-dawn-3209679/

vroegmôre
vroegmôre
se natvars winterlug
soek krake in die nag
styf lê ek agter jou rug
tevrede
warm
vergenoeg
jou asemhaling is diep
onbewus van die wrede
woedende wêreld wat wag
net buite papierdun ruite –
hier is ek naby
hier kan ek jou bewaak
hier is jy veilig
hierdie beeltenis bewaar ek
bêre dit diep weg
ek wil nêrens anders
eerder wees nie
ek weet goed
dat ek jou nie
vir altyd
sal kan beskerm nie
want ’n sirkel, my kind,
het gewoon
té veel skerphoeke
maar, vir nou, buig ek
die skerphoeke
se skerp om
vyl hulle ystersnyseer
met swak hande stomp
terwyl die dag
stadig syfer
deur die krake
in die nag

  • 3

Kommentaar

  • Treffend: "'n sirkel, my kind, het gewoon te veel skerp hoeke."
    Lief die wyse waarop jy deur herhaling beelde afwissel, die winterlug soek die krake in die nag, maar die dag syfer deur die krake in die nag.
    Mens is deurgans bewus van onheil wat wag buite die "papierdun" beskerming. Selfs in 'n pa se beskerming is nie gewaarborg nie. Vir nou is jy veilig.
    Pragtige vers.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top