’n Vuil vinger onder jou neus in die lug. ’n Geskeurde UCook-kartonboks met ’n bedelaarsleuen op. ’n Klein Checkers-sakkie vol sonde. ’n Teregwysing. Dít is die lewe van Babyboy Kleintjies.
Concerning the life of Babyboy Kleintjies was 60 jaar gelede bloot ’n gedagte in die briljante brein van Athol Fugard. Hierdie jaar, met die hulp van sy talentvolle vrou, Paula Fourie, kry die verhoogstuk lewe. Die drama speel hoeka af onder ’n brug in einste Stellenbosch – en dit is die skreiende teenpole van superryk en brandarm van dié dorp wat die banke van die Eersterivier die perfekte agtergrond maak vir Fugard se waarskynlike swanesang. Dié is ’n laaste middelvinger vir die rykes wat anderpad kyk wanneer die behoeftiges en haweloses nader staan vir ’n aalmoes.
Drie brugslapers se aand word omvergewerp deur die verskyning van nog ’n bergie, Mal Marie. In haar hand is ’n Checkers-sak met ’n pasgebore baba in wat sy op die tip in Devon Valley opgetel het. Sy doop die klein seuntjie Babyboy. Die versugting van Marie om ’n beter lewe vir haarself en die weggooikind te bewerkstellig, loop onafwendbaar uit op tragedie. Die “fourth wall” word afgebreek en die gehoor kry ’n mondvol van die akteurs. Daar is geen subtiliteit in die teregwysing nie. Jy moet sien en hoor en vóél wat swaarkry beteken, net voor jy in jou duur 4x4 klim om na jou duur huis te ry. Hier is geen plek op die verhoog óf aan die ander kant van die vierde muur vir “Christian leftovers” nie – die spasie word oopgebreek vir ernstige introspeksie.
Nie almal wat die stuk gaan kyk gaan van hierdie teregwysing hou nie, sekerlik nie. Maar verdien ons dit? Gewis.
Na afloop van die laaste kleedrepetisie voor die fees begin, sit Fugard tjoepstil in sy regisseurstoel. Hy is duidelik aangedaan. ’n Bittersoet oomblik.
#ToyotaUSWoordfees2022 #WildvirWoordfees #LitNetInstaIndrukke #nadinedoenwoordfees @nakadien #concerningthelifeofbabyboykleintjies #atholfugard #woordfees @woordfees
Klik hier vir nog inligting oor die produksie op die US Woordfees se webtuiste.
Lees ook:
’n Bedrywige Woordfees vir Paula Fourie met Taliep, Babyboy Kleintjies en Athol