Toyota US Woordfees 2022: Firefly in die Baxter – ’n resensie

  • 0

Sylvaine Strike en Andrew Buckland in Firefly (foto: verskaf deur die Baxter)

Al is ’n mens huiwerig om dit te erken, wil dit voorkom asof daar ’n piepklein silwer randjie doer ver op die teaterhorison te bespeur is. Afgelope maand was daar weer geleentheid om sowel die Fleur du Cap- as die Fiësta-toekennings te vier. Die KKNK het vir die eerste keer in twee jaar afgeskop en die 10de Silwerskermfees kon ’n nievirtuele gehoor in The Bay Hotel onthaal.

So sit ek ook vir die derde keer in een maand saam met ander gehoorlede in die Baxter-teater. Ek moet bieg, dit is heerlik en die verandering word met ope arms verwelkom.

........
Firefly is tans by die Baxter Flipside-teater te sien, met regie deur Toni Morkel, spel deur Andrew Buckland en Sylvaine Strike en klavierbegeleiding deur Tony Bentel. Dié stuk is vir die Toyota US Woordfees in 2021 geskep (uitgesaai op DStv), maar die Baxter-speelvak is die eerste lewende aanbieding van die werk.
.........

Firefly is tans by die Baxter Flipside-teater te sien, met regie deur Toni Morkel, spel deur Andrew Buckland en Sylvaine Strike en klavierbegeleiding deur Tony Bentel. Dié stuk is vir die Toyota US Woordfees in 2021 geskep (uitgesaai op DStv), maar die Baxter-speelvak is die eerste lewende aanbieding van die werk.

Al val die genre nie noodwendig in alle kykers se smaak nie (die stuk maak gebruik van clowning-konvensies as vertelstyl), is dit moeilik om nie daardeur op reis geneem te word nie. Firefly word aangebied deur die presiese hand van teaterveterane. Die toneelstuk vertel ’n verhaal van onverwagse liefde wat deur ’n bulderende rivier verdeel word. Die verhaal bevat al die nodige bestanddele om ’n gehoor mee te bekoor: liefde, verlies, jaloesie, wraak en hartseer. Dit is in alle opsigte ’n “well made play” met ’n “netjiese” verhaallyn, maar die eenvoud van die narratief vereenvoudig geensins die aanbieding nie. Buckland en Strike onderskei met finesse alle identifiserende elemente van hul verskeie karakters, van hul fisieke gewoontes tot noukeurige stemnuanses, wat aan die redelik eenvoudige storielyn alle nodige tekstuur verskaf. Voeg daarby meesterlike klavierspel deur Bentel, en Firefly is werklik ’n magiese verbeeldingsreis.

..........
Firefly herinner my weer eerstehands aan die wonder van teater as jy sien hoe die groter meerderheid van die gehoor (almal volwassenes) na afloop van die produksie op die verhoog agterbly en verwonderd die stel ondersoek.
.............

Firefly herinner my weer eerstehands aan die wonder van teater as jy sien hoe die groter meerderheid van die gehoor (almal volwassenes) na afloop van die produksie op die verhoog agterbly en verwonderd die stel ondersoek. Alhoewel ’n mens dit nooit sal kan bewys nie, sou mens kon spekuleer dat hul inspeksie van hierdie eintlik eenvoudige verhooginkleding getuig van ’n poging om net ’n klein wyle langer vas te hou aan die reis wat hul pas saam met die spelers meegemaak het. Dit is juis hierdie oomblikke wat vir my die behoefte aan teater bevestig – iets wat ons die afgelope paar jaar so verskriklik tekort aan gehad het – dat ’n mens onskuldig en geheel en al meegevoer kan raak met ’n liefdesverhaal. Dat jy kan inkoop op die reis wat nét jy saam met jou medegehoorlede en die spelers op daardie dag meemaak, want môre is dit weer anders.

Gegewe die silwer randjie waarvan daar vroeër getuig word, kan ’n mens net hoop dat Firefly die kans gegun sal word om nog by vele geleenthede gehore te bekoor. Vir nou kry Kapenaars tot 16 April 2022 by die Baxter ’n beurt. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets.       

Lees ook:

Toyota US Woordfees 2021 | Ferine and Ferase

Press release: Andrew Buckland and Sylvaine Strike star in Firefly at The Baxter

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top