Toyota Stellenbosch Woordfees 2026: So speel die boere braai-braai so ...

  • 0

Foto van Bertus Basson: ©Lukas Stander, 2026

Maryke Roberts:

So met Erfenismaand en lekker tradisionele braaigeregte nog vars in die geheue, is Speelkamersessies met Bertus Basson net die manier om ons koserfenis eerstehands deur die oë en interpretasies van ’n bekroonde sjef te geniet.

Bertus, wat bekend is vir sy agt uiteenlopende restaurante en TV-reekse soos In die sop, Ultimate Braaimaster en Kokkedoor, bied vanjaar weer sy gewilde Speelkamersessies aan. Kom beleef ’n kookdemonstrasie in sy nuwe Basson & Co-restaurant (voorheen Eike), waar hy spesialiseer in eg Suid-Afrikaanse braaigeregte met ’n kreatiewe kinkel. Hy gaan nie net wys hoe om met kos te toor nie – gaste sit ná die demonstrasie ook aan by ’n heerlike feestafel.

Vrae vir Bertus:

MR: September en Oktober plaas die kollig op ons koserfenis. Hoe balanseer mens die nostalgie van tradisionele Suid-Afrikaanse braaikultuur met die behoefte om dit kulinêr te vernuwe sonder dat dit sy essensie verloor?

BB: Party dinge hoef nie altyd vernuwe te word nie. As ’n mens kyk na Italiaanse en Franse geregte, is dit al vir eeue dieselfde. Ons moet genoeg trots hê om ons geregte dieselfde te hou.

MR: Eike was bekend as ’n fynproewersrestaurant wat Suid-Afrikaanse bestanddele gevier het. Watter nuwe filosofiese of kulinêre verskuiwing verteenwoordig die hernoeming en nuwe fokus op tradisionele braaigeregte by Basson & Co?

BB: Basson & Co is ’n steakhouse. Ons fokus nog steeds op waar die bestanddele vandaan kom, en daar is ’n sterk fokus op nostalgie – kos waarmee ons grootgeword het. 

MR: Die term speelkamer suggereer ’n plek van onbevange kreatiwiteit. Hoe benader jy hierdie sessies anders as die daaglikse dinamika van ’n kommersiële restaurantkombuis?

BB: Die Speelkamers het ’n baie persoonlike konneksie tussen ons en die gaste; hulle word deel van die kookproses. Dit gee my ook die geleentheid om meer te vertel oor die geregte en bestanddele – iets waarvoor daar nie altyd tyd is met ’n gewone ete nie. 

MR: Tydens die Speelkamersessies staan die gehoor nie net en kyk hoe jy kook nie, maar hulle sit daarna saam aan by ’n feestafel. Watter rol speel gemeenskaplikheid en die “feestafelervaring” in die manier hoe ons Suid-Afrikaanse kos en storievertelling beleef?

BB: Ek is mal oor feestafels en deel. Ek dink dit herinner ’n mens aan saamkuier, die Sondagmiddagetes van ons grootworddae. 

MR: Die Woordfees is tradisioneel ’n viering van die geskrewe en gesproke woord. Hoe sien jy die verband tussen stories, taal en die geregte wat jy tydens hierdie demonstrasies berei?

BB: Die grootste deel van kookkuns is die ongeskrewe nostalgie wat aangegee is van geslag tot geslag. Sommige van dit het dan resepte geword, wat weer aan ons kinders gegee word. 

MR: Braai word dikwels gesien as ’n baie toeganklike, alledaagse kookmetode. Watter spesifieke tegnieke of bestanddeelkombinasies gaan jy in hierdie sessies gebruik om die gehoor se idee van wat “op die kole” moontlik is, te herdefinieer?

BB: Ons gaan fokus op verskillende tipes rasse beesvleis. Ek gaan ook wys hoe feestye en braai hand aan hand kan gaan.

MR: Jy besit en bestuur agt restaurante en is ’n bekende gesig op die kassie en het ook al verskeie toekennings as aanbieder ontvang. Waar vind jy die vars inspirasie om selfs in ’n besige skedule nog nuwe spyskaarte en Speelkamer-konsepte uit te dink?

BB: My kop is ’n baie besige plek!

MR: Wat hoop jy neem gaste saam met hulle huis toe ná ’n 120 minute sessie en ete by Basson & Co – behalwe natuurlik ’n vol maag?

BB: Eerstens wil ons graag hê hulle moet ’n klein bietjie meer trots-Suid-Afrikaans word. Inspirasie om nuwe geregte aan te pak. Ons hoop ook om die mans te inspireer om by die huis te kook. 

........
Eerstens wil ons graag hê hulle moet ’n klein bietjie meer trots-Suid-Afrikaans word. Inspirasie om nuwe geregte aan te pak. Ons hoop ook om die mans te inspireer om by die huis te kook. 
.........

Lees ook:

Toyota Stellenbosch Woordfees 2026: ’n onderhoud met Bibi Slippers oor die Easy Equities Skrywersfees

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top