Naomi Meyer praat met Frieda van den Heever oor een van haar musiekproduksies op vanjaar se Woordfeesprogram. (Daar is ook ’n ander een waarby Frieda betrokke is, waarvan sy in die onderhoud vertel.)
Frieda, jy is ’n kunstenaar, ’n radio-omroeper en ’n digter, maar jy is ook iemand wat trauma oorleef het. Het die pyn wat jy beleef het, vir jou ’n wegspringplek geword waaruit jou musiek ontspring? Dalk het dit niks te doen met hierdie Woordfeeskonsert nie, maar tog laat die naam Met woord en lied my dink alles ontspring vanuit die ruimte van die self – en as die self gewond is, moet dit tog ’n rol speel. Of hoe?
Ja, ek skat Leonard Cohen se woorde: “If you can’t get rid of your pain, make it your offering” was ook op my van toepassing. Dit het egter nie net my aanbod geword nie, maar een van my grootste vreugdes. Ek was altyd op een of ander manier besig met woorde en musiek in alles wat ek aangepak het, maar ek het nooit as solo-kunstenaar opgetree, of my brood verdien uit skryf en sing nie. Dit was net ’n passie, alhoewel my man my altyd probeer oortuig het om dit wel te doen. Toe luister ek eers na hom na ek hom nie meer kon “hoor” nie. Ek moes seker eers op ’n punt kom waar ek gevoel het ek het niks meer om te verloor nie.
Ek wou eintlik net vra wat kan mense verwag wat na Woord en lied kom luister, so dis my volgende vraag. Wat is die woord; wat is die lied? Watter woorde; wie se liedere? As jy moet raai, van watter ander soort musiek sal mense hou wat na julle musiek kom luister? En dalk kan mense wat nie gewoonlik na die soort musiek wat julle maak, luister nie, ook aan iets nuuts blootgestel word. Kan jy iets van die aard van julle musiek onder woorde bring?
Die woord is die poësie wat ek voorlees / vertolk tussen die liedere wat die koor, onder leiding van Antoinette Huyssen, sing. Sy het met groot noukeurigheid omgegaan om ’n wonderlike program saam te stel. Dis ook die eerste keer dat hierdie koor ’n eksklusief Afrikaanse program aanbied. Daar is soveel genres van musiek hier betrokke dat ek dit nie sal probeer vasbind nie. Om koor te sing (of op hierdie stadium van my lewe: ’n koor te hoor!) is een van die plekke waar die lug vir my dun is tussen hemel en aarde. Dis ’n fees om na hulle te sit en luister.
.......
Daar is soveel genres van musiek hier betrokke dat ek dit nie sal probeer vasbind nie. Om koor te sing (of op hierdie stadium van my lewe: ’n koor te hoor!) is een van die plekke waar die lug vir my dun is tussen hemel en aarde. Dis ’n fees om na hulle te sit en luister.
..........
Die program sou definitief op sy eie kon staan, sonder gedigte tussenin, maar ek hoop die asems tussen die klanke sorg ook vir ’n andersoortige ervaring wat mense se senuweestelsels en besige breine lekker tot bedaring kan bring.
Wie is die koor wat saam met jou optree? Hoe het julle op hierdie item besluit?
Die Kaapstadse Kamerkoor / Cape Town Chamber Choir. Ek ken ’n heel paar mense in die koor en het nog altyd groot respek gehad vir hulle – as mense én sangers – en toe die versoek van hulle kant kom om saam te werk, was dit nie iets waaroor ek lank hoef te getob het nie.
Watter items op die Woordfeesprogram trek jou aandag?
Ek het nog nie tyd gehad om die program te fynkam nie, maar ek kan nie wag om Prima te gaan kyk nie. Van my heel gunstelingmense en -kunstenaars tree daarin op – Dean Balie en Bianca Flanders, met Ramon Alexander en die US-blaasorkes. En Janine Neethling het die komposisie en verwerkings behartig. Wat kan fout gaan!? Laudo Liebenberg en Frank Freeman is ook ’n wenkombinasie. Dan probeer ek altyd soveel moontlik van die dansproduksies kyk – dis waar ek afskakel en meeleef, waar ek nie serebraal nie, maar sellulêr geroer word.
Wanneer tree julle op en wat is die praktiese reëlings vir julle optrede? Kostes, ruimte, tyd?
Ons tree 9 Oktober 18:30 in die Fismer-saal (US Konservatorium) op. Kaartjies is beskikbaar by Quicket teen R195–R250 en by die deur teen R225–R280.
Ek tree ook saam met Coenie de Villiers, Deon Meyer en Mauritz Lotz op in Stille vuur. Daar is nog kaartjies oor vir een van die vertonings op 4 Oktober 18:30 in die HMS Bloemhof-sentrum.
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2026: Ervaar die helende kragte én hemelse geure van laventel


