
https://woordfees.co.za/program/n-laventel-ervaring/
Kom beleef Canettevallei se laventellanderye in volle blom tydens vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees!
Die laventelboer Ingrid de Waal vertel meer oor laventelsoorte, laventelprodukte en die helende waarde daarvan. Na afloop van die praatjie demonstreer sy hoe om jou eie bossie laventel te pluk en te laat hou. Tydens dié sensoriese en terapeutiese ondervinding wat jou in Moeder Natuur anker, sal jy oorrompel word deur die geur en kleur van die blomme, die klanke van die plaas en vir ’n oomblik van die alledaagse of jou troebel gemoed vergeet. Alle toerusting word verskaf – bring slegs ’n sonhoed en kamera saam. Die prys sluit ’n laventellimonade in.
Ingrid, ’n voormalige Frans dosent aan die Universiteit Stellenbosch, het haar boerderyreis sowat twee dekades gelede op die plaas Canettevallei in die Stellenboschkloof begin toe sy swanger was met haar tweede dogter. Aanvanklik het sy verskeie handgemaakte produkte en tradisionele Kaapse moskonfyt gemaak, maar in 2005 het sy en haar man Danie besluit om laventel te plant om hul voorgenome proelokaal en wynhandelsmerk te komplementeer. In daardie stadium was laventelboerdery nog baie onbekend in Suid-Afrika en was daar min raadgewers of plaaslike inligting beskikbaar, wat gemaak het dat Ingrid alles self moes aanleer en raad moes vra by Franse laventelboere.
Haar eerste olie-oes het in 2007 plaasgevind, waarna sy haar eie handelsmerk geregistreer en laventelolie in 10 ml botteltjies aan gesondheids- en geskenkwinkels begin verkoop het. Deur ’n benadering van “klein treetjies” te volg en sonder om skuld aan te gaan, het die besigheid organies gegroei.
Haar harde werk is in 2015 bekroon toe sy die DAFF Wes-Kaapse Vroue Entrepreneur van die Jaar-toekenning in die kommersiële afdeling gewen het. Met die wengeld het sy ’n seepfabriek ingerig om haar gewilde handgemaakte laventelseep te produseer. Vandag bewerk sy twee hektaar laventel, kweek haar eie steggies en vervaardig ’n wye reeks produkte wat wissel van laventelrys en -heuning tot kulinêre laventel en konfyte.
Vrae vir Ingrid:
MR: Watter spesifieke laventelsoorte kweek julle op Canettevallei, en hoe verskil hul geure en toepassings van mekaar?
IDW: Ons onderskei tussen olievariëteite en tuinvariëteite. Ons boer met twee soorte – een tuinvariëteit Lavandula dentata (Franse laventel in die volksmond), en een olievariëteit Lavandin abrialis. Ons gebruik nie Lavandula dentata vir die distillering van olie nie. Die rede is tweeledig: 1) die opbrengs per hektaar is te klein om finansiële sin te maak en 2) die olie is baie hoog in kamfer en mentol, wat dit té medisinaal maak en dis nie die maatstaf wat die parfuumbedryf wil hê nie. Ons oes hierdie variëteit net vir vars en droë bossies; die blomkoppe droog ons vir confetti of mense meng dit in hul badsout in. Die tuinvariëteit lok toeriste na die plaas en mense kom ook graag vir fotosessies, en dan natuurlik vir ons jaarlikse “Pluk jou eie laventel”-aktiwiteit.
Ons olievariëteit Lavandin abrialis word uitsluitlik gebruik vir die distillering van vlugtige olie en nie vir toerisme nie. Ons droog dit ook op alternatiewe jare en gebruik die droë blommetjies (laventelrys) om ons lekkerruiksakkies mee te vul.
MR: Wat is die beste manier en tyd van die dag om ’n bossie laventel te pluk sodat die geur en kleur die langste behoue bly?
IDW: Ons pluk die middelstele. Dit is die sterkste en langste stele en maak die mooiste bossies. Daar is nie ’n spesifieke tyd van die dag wat beter is nie.
MR: Hoe sorg ’n mens dat ’n geplukte bossie laventel tuis reg gedroog word sonder dat die blommetjies verwelk of hul geur verloor?
IDW: Hang dit onderstebo direk nadat dit gesny is, dan bly die stele mooi reguit. In ’n trek; nie in direkte sonlig nie – die son bleik die blomme. Dan kan jy jou bossie vir ’n jaar behou en uitstal.
.......
Hang dit onderstebo direk nadat dit gesny is, dan bly die stele mooi reguit. In ’n trek; nie in direkte sonlig nie – die son bleik die blomme. Dan kan jy jou bossie vir ’n jaar behou en uitstal.
........
MR: Watter helende of terapeutiese eienskappe van laventel benut jy die meeste in jou alledaagse lewe en produkreeks?
IDW: Vir sonbrand. Laventelolie is anti-inflammatories en gee onmiddellike verligting vir rooi- en seergebrande vel.
MR: Waarvandaan kom die idee om ’n laventel-latte te bedien, en watter tipe laventel gebruik ’n mens om mee te kook of te bak?
IDW: Ons gebruik ons olievariëteit Lavandin abrialis as kulinêre kruid. Dit is naaste verwant aan ment en oral waar jy ment kan gebruik, in soet- of soutgeregte of drankies, kan dit met laventel vervang word. Die laventel-latte is Isabella van ons opwip-koffiewinkeltjie se idee.
MR: Hoe beïnvloed die verskillende seisoene en blomtye die tipe laventelprodukte wat op die plaas gemaak kan word?
IDW: Ons Lavandula dentata blom vir vyf maande in die winter en vroeë lente (Mei tot einde September), terwyl ons olievariëteit vir vyf weke tydens die somer blom en dis wanneer ons olie gedistilleer word. Aan die einde van die lente word ons heuning uitgehaal, direk nadat ons laventel klaar geblom het. Tydens die wintermaande bou ons voorraad op van droë laventelbossies en droë blomkoppe, sodat ons regdeur die jaar voorraad kan hê. Dit kos ’n bietjie beplanning en raak elke jaar meer en meer, omdat ons hoop ons besigheid gaan groei en dan meer gaan benodig.
MR: Watter eenvoudige wenke het jy vir iemand wat self laventel in hul eie tuin wil plant en onderhou?
IDW: Knip gereeld die droë blomme uit en snoei met ’n streng hand ongeveer een derde terug aan die einde van elke blomseisoen. Laventel hou nie van te veel nattigheid rondom die wortels nie en verkies goeie dreinering.
MR: Hoe maak julle die besondere laventelheuning op die plaas, aangesien laventelblomme redelik min nektar bevat?
IDW: Ons oes verskriklik min, omdat laventel min nektar bevat – nooit meer as 100 potjies per jaar nie. Dit verkoop alles binne een maand uit, ten spyte van die hoë prys.
MR: Wat is die verskil in die gebruik van vars laventel versus gedroogde laventelrys in tuisgemaakte produkte soos lekkerruiksakkies?
IDW: Dit is belangrik om die regte soort laventel te gebruik. Omdat tuinvariëteite nie eintlik olie bevat nie, is dit nie die regte soort laventel om te gebruik vir laventelsakkies nie. Die geur is weg na ses maande. As die regte soort variëteit gebruik word (olievariëteite), bly die geur maklik tot 10 jaar of langer behoue. Dit moet altyd in ’n droë vorm binne die sakkies ingaan.
MR: Wat hoop jy neem besoekers vandag saam met hulle huis toe na hierdie sensoriese ervaring op die plaas?
IDW: Ek hoop dat mense sal in-zoom op hul sintuie; hul oë, ore, neuse en smaakknoppies doelbewus sal laat werk en daarop fokus. Die laventelervaring is ’n diep, ankerende aktiwiteit, omdat jy jou sintuie op ’n intense manier aktiveer. Dit is bewys dat wanneer jy jou sintuie in ’n natuurlike omgewing aktiveer, dat dit ’n ontspannende en terapeutiese effek het op mense. Dit anker mense diep aan Moeder Natuur. Die aktiwiteit gaan fokus op die sintuie: ruik, hoor, sien, voel en proe. Ons gaan ook laventelgegeurde happies aanbied vir die proe.
- Die ervaring op 5, 7 en 8 Oktober om 9:00 duur 75 minute (praatjie 15 minute, daarna vry om laventel te pluk) en kaartjies kos R185. Bespreek by https://woordfees.co.za/program/n-laventel-ervaring/.
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2026: Krapp se laaste band – ’n onderhoud met Carel Nel

