Om ’n paar dae lank by die Toyota Stellenbosch Woordfees rond te hang, is altyd lekker. Ek deel graag van my herinneringe.
Fiksiefees

Die Fiksiefees op Vrydag 9 Oktober was interessant. Ek het vooraf gewonder: Hoe gaan Bibi Slippers en Susan Booyens ons drie uur lank laat stilsit?
Hulle het. Dit was pret. (Daar was darem twee kort pouses ook!)
Elkeen van die skrywers het aan meer as een aktiwiteit deelgeneem. Hulle moes hul eerste sinne deel, so ook hul laaste sinne. Hulle moes die eerste sin van Karen Brynard se Plaasmoord raai, en die laaste sin van PG du Plessis se Die fees van die ongenooides.
Tussendeur het almal die geleentheid gekry om oor hul nuutste boeke te praat. Dié geleentheid was dus inderdaad ’n miniboekfees, nie bloot ’n praatjie nie.

Bibi Slippers het die program saamgestel en was een van die aanbieders.

Susan Booyens was die medeaanbieder.

Hulle het Deon Meyer ingekatrol as Die Grote. Lekker. Deon is so rustig en so deksels intelligent. Verder het hy ’n warm verhoogpersoonlikheid; van die verhoog af is daar altyd tyd vir aanhangers.
Die ander deelnemers noem ek alfabeties, volgens hul voornaam.

Allan Grootboom (Die vuur huil)

Anton Roodt (Aan die hemeltrans)

Carel van Rooyen (Vreemde vos)

Daniël Lötter (Douwenis)

Elmarié Dercksen (Wat die witbors wou sê)

Irna van Zyl (Kanniedood)

Martin Steyn (Blinde kol)

Michèle Meyer (Einde en begin)

Theolla Langehoven (Soetroos van Saron)

Zelda Bezuidenhout (Mei en alles daarna).
Elkeen het tyd gehad om interessante goed oor hulle boeke te sê. My lysie van boeke wat ek graag wil lees, het al weer langer geword.
Die verhoog is versier deur ’n maatskappy wat goeters verkoop. Hulle naam? Goeters. Ja, dis wat hulle hulself noem. As jy dus goeters vir jou huis soek, besoek Goeters.
Diereriem

Op 10 Oktober het Thys Human vir Etienne van Heerden ingevra oor Diereriem, Van Heerden se nuwe roman wat deels op Stellenbosch afspeel.

Human het breedweg die agtergrond geskets, ander resensente aangehaal, verbande getrek met vorige Van Heerden-roman en, belangrik, vir Van Heerden die geleentheid gegee om deeglik te antwoord.

Ek ken Van Heerden, so ek is nie heeltemal onpartydig nie. Vir my was dit gewoon lekker om na hulle te luister. Gelukkig het Lara Aucamp, ’n goeie vriendin en gereelde feesmaatjie, saamgekom om ’n opinie te gee. Sy was diep onder die indruk van die filosofiese antwoorde wat Van Heerden so rustig verskaf het.
Die Nederlandse Borrel
SASNEV, die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere, doen al baie jare baie goeie werk om Nederlands aan Suid-Afrikaners bekend te stel, sonder om opdringerig te wees.
Een maal ’n jaar word ’n “borrel” gehou. Dit is nou wanneer glase gevul word met enige iets wat jou siel laat bruis.
Spier het ’n wonderlike Cap Classique gehad by dié geleentheid, maar ek moes bestuur en het bloot ’n slukkie by Lara gesteel.
Die Borrel is ’n wonderlike geleentheid om ou bekendes raak te loop en nuwe mense uit België en Nederland te ontmoet.
Maryke en Clifford Roberts het reeds deeglik verslag gedoen oor die Borrel en die tweede Groot Diktee. Ek gaan nie probeer meeding nie.

Hier is, van links: Jan Schinkelshoek, wat aan die einde van die jaar uittree as voorsitter van Zuid-Afrikahuis, Cornelieke Keizer, die nuwe konsul-generaal van die Koninkryk van die Nederlande in Kaapstad, en Jan Mutton, die voorsitter van SASNEV. Jan was eens die ambassadeur vir België.
Keizer doen reeds moeite om Afrikaans aan te leer, al is sy maar nog baie onlangs in dié pos aangestel. Sy het ’n hele paar paragrawe in verstaanbare Afrikaans gelewer.
Dit was ook goed om Peter ter Horst te beleef. Hy neem in Januarie 2027 oor as voorsitter van Zuid-Afrikahuis, maar dit is sy joernalistieke werk wat my interesseer. Hy was naamlik tien jaar lank in Suid-Afrika as korrespondent vir NRC Handelsblad, wat vandag beter bekend is as nrc.nl en steeds ’n leidende Nederlandstalige nuusblad is. Hy het sy kort toespraak in goeie Afrikaans gelewer.
Kuns
Ek het ook na talle kunsuitstallings gaan kyk.
By die Oude Leeskamer is ’n groot aantal stillewes uitgestal onder die interessante titel Anything but static.
In die stadsaal was daar ’n baie groot uitstalling van talle bekende, kontemporêre kunstenaars se werke.
In die kunsmuseum van die Universiteit Stellenbosch was ’n uitstalling wat deur personeel van die universiteit gekureer is. Enige personeellid kon werke kies uit die universiteit se permanente versameling en vertel waarom hulle die stuk wou laat uitstal. Ek het dit geniet: Goeie kuns en die stories agter hul keuses was vir my interessant.
Een vlak boontoe was ’n Maggie Laubser-uitstalling wat my asem weggeslaan het. Ek ken haar kuns, maar om soveel van haar werke bymekaar te sien, uitgestal volgens tema, was besonders. Ek kon haar veranderende style oor die jare mooi waarneem.
En dan was daar Daniel Naudé se foto’s. Hy is beroemd vir sy portrette van beeste en het al ’n boek gemaak saam met Cyril Ramaphosa oor hierdie gedeelde liefde. In die kunsmuseum was ’n mooi tentoonstelling van sy dierfoto’s in grootformaat (dink Hasselblad se vierkantige negatiewe). Wonderlik.

Die foto’s wat my egter totaal gefassineer het, was Naudé se mikrofotografie van motte en bye. Ek het Lara gevra om langs die een foto te staan om die skaal te toon. Die detail op daardie foto’s is gewoon verbysterend. Langs elkeen van die foto’s is die “modelle” uitgestal – piepklein insekte, lank al oorlede. Tog kon Naudé hulle aan die kyker toon of hulle steeds rondvlieg. Ek het baie lank die detail staan en bewonder.
Grootmense, klein mensies en annerlike dinge
Om rond te loop by die Woordfees is ook ’n sosiale geleentheid. Ek het soveel mense weer gesien en kon oral geselsies aanknoop.
Hier is ’n lukrake klompie goed wat my aandag getrek het.

Vir my was die handgeskrewe gedigte van Tom Dreyer, wat opgeplak is buite die EasyEquities Skrywerskamer, baie besonders. Dreyer, vanjaar se Hertzogpryswenner, het gedigte daar opgeplak vir mense om te geniet.

Dit was ook goed om te sien hoeveel moeite die Woordfees vir kinders doen. Buite die EasyEquities Skrywerskamer het ek byvoorbeeld vir Vicky Davis afgeneem wat vir kinders voorlees. Dit was gratis. Die kinders kon gewoon kom sit en luister – met talle grootmense wat ook rondgehang het. Daar was elke dag so ’n geleentheid wat deur LAPA Uitgewers aangebied is.
Selfies in die tyd van KI
Net om te bewys dat ek wel daar was, en nie bloot ’n bot gevra het om idees uit dink nie, deel ek ook drie kiekies wat ander van my geneem het.

Melt Myburgh het my saam met Janke Mostert afgeneem. Sy is ’n goeie musikant en is op Instagram bedrywig onder verskillende name. Haar nuutste Insta-projek is Jantjie Krog – vind haar @jantjiekrog vir uitdagende idees oor die alledaagse.

Ek het toe vir Janke gevra om my saam met Melt Myburgh af te neem.

Net voor ons Erentia Bededeker se kortfilm The stonemason gaan kyk het, wou ek ’n foto van Lara Aucamp en Adéle Changion neem. Hulle sê toe: Kom sit tussen ons. Waarom nie? Ek is nie slim met selfies nie. Lara het hierdie kiekie geneem.
Lees ook:
SASNEV-borrel: Dit bruis en borrel in Afrikaans en Nederlands by Toyota Stellenbosch Woordfees 2026
Tweede diktee vir Afrikaans tydens Toyota Stellenbosch Woordfees gehou

