
...
Wat die dinamika in ANC-geledere betref, was die vraag volgens Leon of die sosiaal-demokrate of die rasgebaseerde nasionaliste in die party die botoon sou voer. Interessant genoeg was adjunkpresident Paul Mashatile en ANC-voorsitter Gwede Mantashe albei ten gunste van nouer samewerking met die EFF en MK.
...
Tony Leon se jongste boek Being there: backstories from the political front is voorwaar goeie leesstof vir enigiemand wat meer wil weet van die totstandkoming van die regering van nasionale eenheid (RNE). Hy was immers eerstehands betrokke by dié proses as deel van die DA se onderhandelingspan, nadat hy as’t ware van buite die aktiewe politiek deur DA-leier John Steenhuisen teruggeroep is om diens te lewer aan die DA, met sy kennis en ervaring van die post-’94-RNE wat nie lank gehou het nie.
Leon is ’n uitstekende skrywer, en met hierdie stuk wil ek slegs ’n paar indrukke weergee van sommige van die interessantste perspektiewe in die boek, spesifiek aangaande die vorming van die RNE.
Die ANC se 40% steun in Mei 2024 was inderdaad ’n waterskeiding in die Suid-Afrikaanse politiek sedert 1994. Dit het ’n verswakte ANC genoodsaak om in te stem tot ’n soort koalisie met die DA, aangesien die party nie langer oor ’n volstrekte meerderheid in die parlement beskik het nie. Die groot doring in die vlees van die ANC was die onverwagte opkoms en prestasie van MK, wat deur Leon as “Zuma se wraak” op die ANC beskryf word. Volgens Leon het MK sy prestasie – veral in KwaZulu-Natal – waarskynlik aan Russiese befondsing te danke, en met die party se nasionale steun op 14,6% is nie slegs die ANC se kaartjie deurmekaar geskud nie, maar ook dié van Julius Malema se EFF, wat tans volgens alle aanduidings vir oorlewing veg.
Leon gee in ’n groot deel van sy boek ’n soort bal-vir-bal-kommentaar op elke dag se gebeure en die gepaardgaande onderhandelinge tussen die ANC en die DA. Daaruit is dit duidelik dat die onderhandelinge rakende die vorming van die RNE geen maklike taak was nie. Trouens, dit was gelaai met politiekery, mededingende ideologieë en sterk politieke persoonlikhede wat aan albei kante betekenisvolle rolle gespeel het.
Ingevolge die Grondwet was daar ’n voorgeskrewe tydsraamwerk, en dit het geweldige druk op die onderhandelaars geplaas. Dit was uiteindelik ook deurslaggewend in troefkaarte wat tot op die laaste oomblik teen die bors gehou is – en hier het president Cyril Ramaphosa die tydsbeperkinge tot in die laaste ure, selfs minute, van die onderhandelinge tot sy voordeel benut.
Wat die dinamika in ANC-geledere betref, was die vraag volgens Leon of die sosiaal-demokrate of die rasgebaseerde nasionaliste in die party die botoon sou voer. Interessant genoeg was adjunkpresident Paul Mashatile en ANC-voorsitter Gwede Mantashe albei ten gunste van nouer samewerking met die EFF en MK. Wat sake uit ’n DA-oogpunt bemoeilik het, was dat die ANC, terwyl daar daagliks met die DA onderhandel is, ook onderhandel het met ander partye – en dit sonder die medewete of insae van die DA se onderhandelaars. Daarbenewens was die ANC ook in gesprek met sy alliansievennote, die SAKP en Cosatu, wat allesbehalwe pro-DA was.
Die onderhandelinge, wat op 3 Junie 2024 ’n aanvang geneem het, het volgens Leon gou getoon dat Gwede Mantashe die onbetwiste leier van die ANC se onderhandelingspan was. Aan DA-kant was Helen Zille die voorste onderhandelaar nadat die party se federale uitvoerende gesag, die FedEx, ingegryp en haar aan die stuur van sake geplaas het.
Dit was vir Leon gou duidelik dat Mantashe en Zille in hulle onderskeie partye baie gesag dra. Zille se gesag het egter nie verhoed dat Leon soms ernstig met haar oor taktiese aspekte verskil het nie. Daar was dikwels ’n mate van onvrede tussen dié twee – hoewel nooit tot nadeel van partystandpunte nie. Intussen het Cyril Ramaphosa en John Steenhuisen grootliks buite die daaglikse onderhandelinge gebly, maar daar moes wel gereeld kontak tussen hulle wees, sodat Ramaphosa ingelig en oortuig kon word om in te stem soos sake ontvou het.
Wat Leon duidelik baie gepla het – en wat hy meermale noem – is dat die ANC-onderhandelaars telkens laat was. Sy kritiek betrek Ramaphosa ook in die besonder, veral in die lig daarvan dat hy in 2018 sélf die belangrikheid van tydsbestuur benadruk het.
Na weke van onderhandelinge en 10 konsepooreenkomste is daar op ’n belangrike beginsel ooreengekom: Die RNE sou “breedweg proporsioneel” saamgestel word ooreenkomstig die partye se verteenwoordiging in die Nasionale Vergadering. Ramaphosa het egter op die nippertjie vanuit die Presidensie ’n wesenlike verandering aangebring – die RNE moes “ware inklusiwiteit” weerspieël en nie net op voldoende konsensus tussen die ANC en die DA berus nie. Die DA het dit as iets beskou wat nie in goeder trou gedoen is nie, en Zille het die media dienooreenkomstig ingelig. Die tydsdruk het egter die oorhand gekry – en die res is geskiedenis.
Die DA was duidelik nie bewus van Ramaphosa se onderhandelinge of planne met ander partye nie, en die beginsel van “ware konsensus” was inderwaarheid bedoel om voorsiening te maak vir die insluiting van ’n veeltal kleiner partye in die RNE – alles daarop gemik om die DA se invloed in die kabinet te beperk of te marginaliseer.
...
Die feit dat ander partye, sonder enige kennisname van die DA, ook by die RNE ingetrek is, was ’n bitter pil vir die DA en het tot ’n bekgeveg tussen Zille en haar eweknie in die ANC Fikile Mbalula gelei.
...
Die feit dat ander partye, sonder enige kennisname van die DA, ook by die RNE ingetrek is, was ’n bitter pil vir die DA en het tot ’n bekgeveg tussen Zille en haar eweknie in die ANC Fikile Mbalula gelei. Dit het egter niks aan die uiteinde van sake verander nie. Van ANC-kant het dit duidelik gemaak dat die RNE ’n ANC-inisiatief was en dat hulle nie sou toelaat dat enige ander party die nasionale agenda gyselaar sou hou nie.
Tog was die DA op 22 Junie steeds vol moed dat daar 15 ANC-lede in die kabinet sou wees en nege vir die DA – gebaseer op 56% ANC-steun en 30% steun vir die DA – en dat die res aan partye soos die IVP sou gaan. In daardie stadium het die DA weliswaar bewus geraak van planne om kleiner partye as kabinetslede by die RNE in te bring, maar selfs die gedagte van vyf kleiner partye as deel van die RNE was vir die DA se onderhandelaars hoogs onaanvaarbaar. Daar is sterk beswaar aangeteken in ’n skrywe aan Ramaphosa oor dié moontlikheid. Vanuit DA-geledere het dit duidelik geword dat Ramaphosa die doelpale vir ’n nuwe kabinet veel verder geskuif het as wat die DA se onderhandelingspan geantisipeer het – en dat die ANC veel meer as sy sin gekry het.
’n Ander uiters belangrike en interessante saak wat Tony Leon belig, is die wyse waarop die toekenning van kabinetsposte uitgespeel het. Ramaphosa wou aanvanklik slegs drie kabinetsposte aan die DA toeken. Vir die DA was dit onaanvaarbaar, en die party was bereid om sy steun aan die skepping van ’n RNE te onttrek. Ná sterk beswaar deur die DA se onderhandelaars is daar, by wyse van ’n toegewingsaanbod, ses kabinetsposte aan die DA voorgestel. Ook dit was nie vir die DA aanvaarbaar nie – ofskoon daar sterk verskille in DA-geledere oor die aanvaarbaarheid van die aanbod bestaan het. Selfs Alan Winde, volgens Leon een van die meer optimistiese lede van die DA se onderhandelingspan, het dit as onaanvaarbaar beskou, terwyl Siviwe Gwarube weer ten gunste van voortgesette onderhandelinge met die ANC was. Uiteindelik was daar konsensus dat verdere gesprekke met die president nodig was. Ramaphosa, egter, was woedend oor die DA se besware.
Wat verrassend was, is dat die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging onder die ses voorgestelde kabinetsposte was. Dit sou die DA toegang gee tot besluite oor die bestuur van die ekonomie, en Leon argumenteer tereg dat ’n DA-minister met ’n vryemarkgerigte ingesteldheid in dié portefeulje verreikende gevolge kon inhou. Die aanbod is egter ’n paar dae later, op 24 Junie, teruggetrek nadat Mashatile en Mantashe hulle besware daaroor by Ramaphosa geregistreer het. Dit is waar die kabinetspos van Landbou in die prentjie gekom het – ofskoon Toerisme aanvanklik aangebied is, maar summier van die hand gewys is. Steenhuisen was bereid om in die Landbou-portefeulje te dien, omdat daar geoordeel is dat ’n goeie vertoning in dié departement die DA se kiesersteun kon versterk.
As ’n voetnoot kan ’n mens hierby voeg dat die DA ’n soort troosprys vir Handel, Nywerheid en Mededinging gekry het toe die party die geleentheid gegun is om een van sy lede as een van twee adjunkministers in dié portefeulje te benoem. So is Andrew Whitfield, wat onlangs deur Ramaphosa afgedank is, as adjunkminister in die portefeulje aangestel. Dit verklaar waarskynlik iets van die DA se onlangse hewige reaksie toe Whitfield, sonder raadpleging van die DA, deur Ramaphosa uit sy amp verwyder is.
Leon verwys ook spesifiek na Whitfield se latere rol as adjunkminister, met besondere verwysing na hoe hy in Januarie 2025 sterk beswaar aangeteken het teen “drakoniese wetgewing” wat beleggings vanuit die buiteland sou ontmoedig. Dieselfde beginsel was van toepassing op regsfirmas, in die lig van vereistes rakende swart bestuur en eienaarskap. In kort: Ideologies-gedrewe swart bemagtiging in die portefeulje van Handel, Nywerheid en Mededinging was in die kern van die verskille tussen die ANC en die DA. Dit het waarskynlik ’n beduidende rol gespeel in Whitfield se onlangse afdanking deur Ramaphosa, asook – natuurlik – sy omstrede besoek aan die VSA sonder Ramaphosa se goedkeuring.
Nadat ses kabinetsposte teen einde Junie deur die DA aanvaar is, en Steenhuisen sélf die Landbou-portefeulje opgeneem het, was Leon se gevolgtrekking dat die hele proses geen perfekte uitkoms was nie, maar dat die EFF en MK ten minste uit die kabinet gehou is. Die DA se onderhandelaars was ook daarvan oortuig dat die ANC ’n party is met afnemende steun, en dat hulle deelname aan die RNE juis daartoe sou bydra. Leon sélf het ook geglo dat deelname aan die RNE die DA verder sou neem in die rigting van broodnodige hervorming, en dat dit politieke sentriste in Suid-Afrika nader aan mekaar kon bring.
...
Wat duidelik uit Tony Leon se mededelings spreek, is dat die vorming van die RNE geen geringe taak was nie.
...
Wat duidelik uit Tony Leon se mededelings spreek, is dat die vorming van die RNE geen geringe taak was nie. Dit het die energie van die onderhandelaars getap. Daarby kan toegevoeg word dat die ANC alles in sy vermoë gedoen het om die DA se invloed in die uitvoerende gesag sover moontlik te beperk. Dit was, volgens Leon, onder andere duidelik uit die feit dat ANC-voorsitters in al sewe kabinetsklusters aangestel is – ofskoon ’n enkele DA-kabinetslid Dion George as medevoorsitter van die kluster vir internasionale samewerking, handel en veiligheid aangewys is. ’n Ander medevoorsitterskap in een van die ses ander klusters is ook aan die IVP toegeken. Die DA is ook effektief gemarginaliseer deur die aanstelling van 32 ministers (twee meer as tevore) en 43 adjunkministers. Daarmee staan die DA se aandeel in die kabinet op ongeveer 18%.
Daar is nog veel meer in Tony Leon se boek waaroor gerapporteer kan word. Met die skrywe daarvan vroeg in 2025 het hy tereg aangevoer dat dit nog te vroeg is om te kan oordeel of die samehorigheid binne die RNE sterk genoeg gaan wees. Sou die DA in die toekoms onttrek, argumenteer hy, sal die gevolge verreikend wees. Die DA loop selfs die risiko dat so ’n stap hom op die pad van selfvernietiging kan plaas. Dit is ook ’n stap wat slegs een keer gedoen kan word. Daarom het die gedagte posgevat dat die DA eerder uit die kabinet gestoot sal moet word, as om self uit te tree. Beskuldigings dat die DA ’n parallelle regering probeer vorm sal altyd opduik, en soos die tyd verloop, sal daar ongetwyfeld baie kwessies ontstaan wat groot uitdagings en moontlike konflik kan meebring – waaronder veral die Nasionale Gesondheidsversekering.
Leon voer egter ook aan dat die DA dit nie kan bekostig om gesien te word as ’n gewillige agent van ANC-beleid nie – ofskoon deelname aan die RNE die alternatief van ’n ANC-MK-EFF-koalisie verhoed het. Terselfdertyd wys hy tereg daarop dat die RNE altyd ’n brose soort koalisie sal wees. Sy treffende woorde op bladsy 154 vat die DA se posisie en uitdagings in die RNE goed saam:
[W]orking alongside previous political opponents for the benefits of the public weal. But not at all costs. There is a very fine balance, and great wisdom is needed to strike it. An eyes-wide-open optimism – despite the early challenges – is the best approach.
Meer oor die boek:
Title: Being there: backstories from the political front
Author: Tony Leon
Publisher: Jonathan Ball Publishers
ISBN: 9781776193813
Lees ook:
Can South Africa’s Government of National Unity mend a fractured democracy?
’n Regering van Nasionale Eenheid op soek na rigting (30 Junie 2025)
Dinkskrum: Is die eenheid in die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) op valse optimisme gebou?

