Tom Gouws (1961–2018)

  • 1

Gebore en getoë

Thomas Gouws is op 2 Augustus 1961 op Mafikeng in die destydse Bophuthatswana gebore as die sesde van sewe kinders van die Gouws-gesin.

Hy was op skool ’n uitblinker net verskeie toekennings, met onder andere die toppresteerder van die Hoërskool Mafikeng. Hy het op skool die hoofrol in verskeie konserte en operettes vertolk en ’n goue nasionale diploma verwerf vir redevoering en debattering. Hy was hoofseun aan die hoërskool, het erekleure vir akademie verwerf en was voorsitter van die ACSV en ander jeugorganisasies. Hy was ook gekies as Rotariërstudent en het ’n landwye leierskapkursus bygewoon.

Tom het aan Renée Marais (Beeld, 15 Augustus 1991) vertel dat hy as kind reeds in die letterkunde begin belangstel het: "Miskien toe ek so 10, 11 jaar oud was en in die houtwerkklas ’n boekrakkie moes maak. Ek kon nie, en ek wou nie. Ek het gesit en met woorde iets probeer maak wat net so mooi kan wees.

"Die onderwysers het my dikwels maar laat begaan; hulle het in elk geval geweet watter soort boekrak ek sou maak. Dit het nie vir my oor boekrakke gegaan nie, maar oor verdomde boeke! Om vir myself ’n wêreld te kon skep was vir my belangrik."

Hy was ’n ywerige leser en het letterlik die hele biblioteek op Mafikeng deurgelees. "Ek is partykeer weggejaag omdat ek twee keer op een dag boeke kom uitneem het!"

Hy het in 1979 aan die Hoërskool Mafikeng gematrikuleer.

Verdere studie en werk

In 1980 is Tom na die Potchefstroomse Universiteit vir CHO (vandag die Universiteit van Noordwes) waar hy hom ingeskryf het vir die BA-graad met Afrikaans-Nederlands, Wiskunde en Algemene Taal- en Literatuurwetenskap as hoofvakke. Hy het in 1982 sy graad verwerf. Tydens sy voorgraadse studiejare openbaar Tom steeds die veelsydigheid wat hom op skool onderskei het. Hy was betrokke by formele koorafrigting, muurbal en redevoering en het ook rolle vertolk in teaterproduksies van die studente. Hy was ook betrokke by die afrigting van die eerstejaarskonsert.

Hy het ook in sy voorgraadse jare meegewerk aan ’n projek van die RGN (Raad vir Geesteswetenskaplike navorsing) oor "Die christelike gegewe in die Afrikaanse letterkunde". In 1985 het hy vergunning gekry om die HOD (N) en die eerste fase van sy deeltydse honneurskursus gelyktydig te begin. Die HOD (N), met spesialisering in remediërende onderwys, het hy in 1983 verwerf.

In die 1980's het Tom reeds sy debuut as skeppende skrywer gemaak. Sy klug, Die kat kom weer, is in 1987 in ’n landwye kompetisie as die wenner van die ATO-prys aangewys. Dit is ’n jeugdrama wat opgeneem is in die versamelbundel van Elise van Wyk, Van die banke op die planke. Vroeg in 1988 is Sien jy die goudson Siener, ’n hoorspel, oor Radio Suid-Afrika uitgesaai, terwyl sy vroeë dramas Ons moet nie en ’n Paspop vir Pappa (geleentheidstukke vir swart teater) albei deur amateur-toneelgroepe opgevoer is.

Met die ingang van 1984 het Tom sy onderwysloopbaan begin by Potchefstroom Gimnasium waar hy veral Afrikaans en Wiskunde onderrig het. Hy was ook diensdoende koshuispersoneellid en aktief betrokke by redenaars-, debat- en toneelafrigting en die skoolkoerant. In 1984 het hy ook sy honneursgraad in Afrikaans-Nederlands verkry.

Na ’n jaar as onderwyser het Tom in 1985 verskuif na die Potchefstroomse Universiteit waar hy aangestel is as junior lektor in die Afrikaans-Nederlandse departement. Hy het, ook in 1985, sy MA-graad oor Antjie Krog met lof geslaag en in 1985 én in 1986 het die universiteit akademiese erekleure aan hom toegeken. Hy is in 1986 na die Vaaldriehoekkampus van die Pukke waar hy die letterkunde-afdeling op sy skouers geneem het.

Tom het in 1988 van standplaas verander en is na die Universiteit van Pretoria se Afrikaanse departement waar hy later tot senior lektor bevorder is. Hy het in 1988 sy doktorale studie voltooi met die proefskrif Die transskriptuele lees: hiaat, haplografie en transkripsie in die poësie van Breytenbach, Krog en Cloete - ’n logolinguale lesing. Hy het ook aan ’n tweede doktorsgraad begin werk – (Ont)mitologisering van die Afrikaner in die Afrikaanse prosa.

Soos altyd was Tom nie net betrokke by die akademie nie, maar het hy steeds ’n leidende en aktiewe rol in die gemeenskap gespeel. Hy het by verskeie vakkongresse en leeskringe as spreker opgetree, en het ook vertolkingswerk en spraakprogramme gelewer. Die onderrig van letterkunde op skole het hom baie na aan die hart gelê en hy het op deurlopende basis kursusse vir leerders en onderwysers aangebied. Hy was ook groepleier vir ’n kursus in skeppende skryfwerk (aan die UP) en goeie gewilde prosa (aan die Pukke). Hy was ook voorsitter van die Pretoriase werkgemeenskap van die Afrikaanse Skrywerskring. Hy was ook kanselier van die Graduate Academy of Southern Africa.

In 1984 is Tom met Retha Fourie, ’n maatskaplike werker, getroud en die egpaar het ses kinders gehad. (Drie kinders is voor geboorte oorlede). Hy het in 1993 tot bekering gekom. Hy het later sy loopbaan as akademikus opsygeskuif om hom toe te lê op die bediening van die Woord. Hy het ’n betrekking aanvaar by die JC Group of Companies en het ook weer voltyds begin skryf. Hy het ook op die direksies van die maatskappye Foundation Publications en Plumbline Productions gedien. Hy het aan die stuur gestaan van Elijah Africa, ’n internasionale bedieningsnetwerk. Nadat hulle op ’n plasie naby Hartbeespoortdam gewoon het, het hy, Retha en hulle jongste seun in 2016 na ’n sekuriteitswoonbuurt oos van Pretoria getrek.   

In 1991 (op die ouderdom van 29 jaar) het hy diens aanvaar as professor en hoof van die Afrikaanse departement aan die Universiteit van Bophuthatswana. Hy het aan René Marais vertel dat dit nie net is wat hý daar gaan doen nie, maar ook wat dit aan hom gaan doen. "Die geleentheid en gesindheid vir Afrikaans is baie positief; dit is ’n groeipunt vir Afrikaans. Die moontlikhede vir die ontwikkeling van Afrikaans maak my baie opgewonde. Vir my persoonlik is die verhuising ’n terugkeer na die ruimte van my jeug, en dit is belangrik dat ek nou moes terugkeer. Ek is eintlik maar ten diepste ’n Motswana! Vir my as mens lê daar veel nog om te ontsluit, ook op skeppende gebied."

Hy het verder aan Marais verduidelik dat hierdie universiteit sterker ingestel was op die gemeenskap as die ander universiteite waar hy gewerk het. "Die sosiale verantwoordelikheid van die akademie is vir my ’n absolute prioriteit. Ek is ook in vakverband sterk gemeenskapsgerig ingestel. Daar is ’n welwillendheid hier wat my opgewonde maak, en die behoefte aan die ontwikkeling van Afrikaans is groot. Ons het baie planne."

Hierdie verskuiwing van Tom het gekom in die jaar ná die verskyning van sy eerste digbundel diaspora in 1990. Vir Tom was diaspora nie soseer geïnspireer deur die politiek nie, maar was dit eerder revolusionêr, "in die etimologiese sin daarvan, as revolve, draai, verander. Verandering is vir my die enigste konstante wat daar is. Verandering natuurlik op politieke vlak, waar ons ook as ’n samelewing in oorgang is, maar ook revolusie in die sin van die persoonlike revolusie, dat jy die beperkinge van die self moet deurbreek om geboorte te kan gee aan ’n wyer self."

In Transvaler van 11 April 1991 het René Marais geskryf dat diaspora in baie aspekte knap en vernuftig is wat bewys lewer van Tom Gouws se vermoë as digter om met die woord, die taal, die beeld en die digterlike tradisie om te gaan.

"Die bundel is egter ook besonder ambisieus gekonsipieer, wat tot gevolg het dat eenvoud ten koste van verwikkeldheid ingeboet word. ’n Mens kry die indruk dat die bundel laag op laag van betekenis 'gelaai' word. Dit is waarskynlik die rede waarom ek in die bestudering van die bundel meermale beïndruk, maar selde ontroer gevoel het. En die vermoë om sy gehoor te ontroer, is myns insiens ’n belangrike kenmerk van die ware kunstenaar, ongeag of hy/sy skrywer, skilder of musikus is."

Oor diaspora was daar net soveel menings as wat daar resensies was. In Insig (Maart 1991) skryf Daniel Hugo dat diaspora "fluks help om die hoofpad van die Afrikaanse poësie te plavei na ’n kripties-akademiese onderwêreld. Dis ’n bundel dié wat van die (Griekse) titel af met woordeboeke en ensiklopedieë gelees moet word. Elke opgetekende vernuf-poëtiese tegniek word oorbewus – maar soms verbluffend vaardig – aangewend: betekenisverletterliking, die anagram, palindroom, apokoinou, intra- en intertekstualiteit, meta-poëtiese ikone, ensovoorts. (...)

"Tom Gouws se verstegniese vaardigheid en uitgestalde belesenheid is in te veel gevalle oëverblindery. Hy het in diaspora ’n 'fyn net van die woord' geweef en daarmee in 'baie waters' gevis, maar net té min 'blink en vet visse' land toe gebring. Hoe fassinerend (en tydrowend) die lees van hierdie soort poësie mag wees, laat dit ’n mens tog verlang na die akademies-ongekontamineerde talente van digters soos Ingrid Jonker en GA Watermeyer, beide saliger. Hoe dit ook al sy, diaspora is ’n indrukwekkende debuut."

TT Cloete (Beeld, 22 April 1991) het sy bespreking afgesluit: "Hierdie belangrike debuut spreek vir homself. Alles is nie goed nie (daar is baie hinderlike alliterasies, of ’n soms te kompakte vers), maar die verdienstes gaan ver bo die kleiner gebreke uit. Selde verskyn daar ’n debuut wat so heg en die keuse van die gedigte so goed gemotiveer en afgerond is, en selde het ’n debuut soveel gedigte van dimensie."

Rapport (24 Februarie 1991) se resensie is deur FR Gilfillangeskryf wat van mening was dat die lees van hierdie bundel ’n "groot vermoeienis" was. "’n Mens vra jou af of die uitgewer Tom Gouws nie ’n guns sou bewys deur hom af te raai om so gou te publiseer nie. Teenoor die debutant het die uitgewer ’n verantwoordelikheid."

Oor die uiteenlopendheid van die kritici het Tom aan René Marais (Beeld, 15 Augustus 1991) gesê dat hy dink sommige van die resensies was nie onbevooroordeeld nie en dat hy dit betreur: "Dit sou vir my baie sleg gewees het as daar ’n resensie verskyn het wat gefundeerd kon uitwys dat die bundel swak is. Dit het nie gebeur nie. Gelukkig is dit die resensent wat moet saamleef met wat hy gesê het, en nie ek nie! Maar ek is tog in ’n mate teleurgesteld omdat van die resensente hulle soms aanmatig om tussen die leser en die boek te kom staan.

"Die ontvangs van diaspora het veel gesê van die Afrikaanse literêre kritiek en die stelsel waarbinne resensies bedryf word. Daar is ’n groot mate van voorskrywing in plaas van beskrywing. Dit is jammer."

Of die kritiek hom skade berokken het, was Tom se reaksie: "Ek het positiewe en negatiewe en tussenin resensies gekry. As jy net glo wat ander mense oor jou of jou werk sê, is jy verlore. Goeie kritiek kan jou te selfingenome maak, en negatiewe kritiek kan jou kelder. Ek het genoeg geloof in my skryfwerk dat die kritiek my nie veel raak nie."

Renée Marais wou by Tom weet of hy dink die lesers het verstaan wat hy in diaspora wou sê. Tom se reaksie hierop was dat die kwessie van verstaan, ’n moeilike ding is. "Die kritici het nogal gehamer op die intellektuele moeilikheidsgraad van die poësie. Ek dink egter mense kyk die motto van Gerrit Achterberg voor in die bundel mis. Dit lui: 'Een preleven, niet te verstaan, zal eenmaal zamevallen met onze kennismaking diep in die taal'.

"Jy moenie alles in die bundel verstaan nie, want nie alles kán jy verstaan nie. Eliot het gesê: 'Genuine poetry can communicate before it’s understood'. Maar meer: diaspora hou ook ’n versplintering van taal en betekenis in. Om egter na jou vraag terug te kom: ek word wyd gevra om te praat oor diaspora, by leeskringe veral, en die bundel verkoop goed, wat vir my sê dit word deur die algemene publiek gelees. Ek het gevind dis dikwels die nie-akademiese leser wat die bundel verstaan, miskien omdat hy/sy nie ’n bepaalde verwagtingshorison op die teks afdruk nie, soos ek gemeen het sekere kritici wel gedoen het."

Vyf jaar ná die verskyning van Tom se debuutdigbundel verskyn sy volgende een onder die titel troglodiet (grotbewoner). Oor die bundel het AP Grové (Insig, Oktober 1995) geskryf: "’n Bundel waarin die aard en sin van die digterlike werksaamheid deurlopend die aandag vra, terwyl die grot en die grotbewoner wat deur die bundeltitel aan die orde gestel word, ten nouste daarmee verband hou. Die digter word trouens by tye die troglodiet wat vanuit die 'grot' van sy omstandighede trag om die skepping in sy ontstaan en groei te peil en te beskryf."

Grové het sy bespreking afgesluit deur te sê dat troglodiet ’n ernstige en weldeurdagte bundel is met ’n aantal pakkende gedigte. "Op meer as een plek word vindingryk intertekstueel gewerk. En tog maak die bundel as geheel ’n afgeleide indruk. Telkens stuit die leser op naklanke van veral Opperman, Van Wyk Louw en Cloete, wat veral op die duur die indruk laat dat Gouws deur die oë van ander na die wêreld kyk. Tipies van die postmodernisme, sal iemand dalk ter verdediging sê ..."

In Volksblad (4 Desember 1995) skryf Bernard Odendaal dat Tom Gouws in troglodiet klaarblyklik tot die besef gekom het dat die manier waarop hy sy letterkundige en algemene kennis, asook sy digvaardighede in sy eerste bundel aangewend het, die rede kon wees dat diaspora nie so goed ontvang is nie. Dus is troglodiet meer toeganklik, hoewel nie noodwendig minder kennisryk en vaardig nie.

Odendaal gaan voort: "Met vaardigheid en grootliks met effektiwiteit word ’n groot verskeidenheid poëtiese tegnieke en vormgewingsprinsipes benut. Om maar net by die gedig- en strofevorme stil te staan: Daar is vrye verse te vind, maar ook vaste vorme soos die sonner, die moeilike villanelle, die sinkwyn (Engels 'cinquain') en die haikoe; en strofevorm soos die koeplet, kwatryne met kruis- of omarmende ryme, langer strofes met paarryme of afgewisselde strafryme of verspringende ryme.

"In ’n bundel waar dit juis gaan om die verkenning van die samehang-in-verskeidenheid in die skepping, is die verstegniese vaardigheidsvertoon myns insiens funksioneel. (...) Daar is genoeg in die bundel om my te oortuig van die belofte wat Gouws se digterskap inhou. En die tekens is daar dat hy mettertyd die juk van die Opperman/Cloete-tradisie van hom sal afwerp."

Vir Joan Hambidge (Die Burger, 8 November 1995) het die pragtige Boesmanskets van Estelle Marais opgeval. "As kritikus het dié digter al vele interessante opmerkings gemaak oor Boesmantekste in Afrikaans. Sy bundel gee ’n moderne poëtiese antwoord hierop. Die bundel het as voorganger veral DJ Opperman se Dolosse; ook die invloed van TT Cloete se Met die aarde praat is opvallend.

"In hierdie bundel word die mens se plek op die aarde beskou; die geboorte van kinders, die dood van ’n vader waargeneem. (...) Dit is ’n bundel wat ook intertekstueel antwoord op voorgangers soos Van Wyk Louw ("Onsuiwer wiskunde"), Eybers in "Wes-Transvaal" en Opperman ("Uiteraard ken die buffel metafisika". Die digter se poëtika is telkens anders: nie alleen verskil hy oor ’n bepaalde lewensfilosofie nie, maar sy gedigte is ryger. Trouens, ’n digter stel homself bloot wanneer daar direkte vergelykings opgestel word, maar dit word dan ook hier die moderne, siniese wêreld teen die ouer, geborge wêreld. (...)

"troglodiet is ’n bundel wat spreek van baie navorsing en nadink oor die poësie. Vir my gevoel is die opset net té ambisieus vir ’n jong digter wat met sy tweede bundel ’n grootse kartering van die kosmos wil gee. Te veel gedigte se poëtika gaan mank aan digterlike tug. ’n Mens wil saam met Gouws sê: 'digters moet dig met hul oor teen die grond'. Verder is die invloed van Cloete steurend: in stelwyse én in die kosmiese blik. Enkele verse is wel baie goed, maar as geheel is die bundel teleurstellend. Dit is jammer om ’n bundel van hierdie aard te sien misluk."

In Beeld van 28 Augustus is Gerda Dullaart opgewonde oor troglodiet. "Tom Gouws werk veral met idees van groei. Dit begin styl opdraand by die skepping en die ontwikkeling daarvan, en stu vooruit na die mens en beskawing. Die positiewe en konkrete word dan getransformeer wanneer verse van dood en geboorte mekaar balanseer, tot daar oorgehel word na die mens se geestelike evolusie binne die grot van sy kop, die onbekende pad vanaf graf terug na baarmoeder, verval en verweer en die spiraalsiklus terug na God toe. Totdat die laaste gedig hoë note van rypwording trompetter: God wat in die eerste verse kwaai en magtig geskep het, is hier intieme kiem binne-in die mens. (...) In al hierdie ontwikkelings groei die leser saam en word ingewy en gesalf om deel te kan neem aan die klaarte van die einde, sodat die bundel ’n verrykende ervaring is."

Bernard Odendaal (Volksblad, 14 Oktober 2002) beskryf Tom Gouws se derde bundel, Syspoor (2002), as ’n besonder boeiende leeservaring en sy beste bundel tot op daardie datum – ’n bundel wat baie goeie tot uitstekende verse het. Hierdie verse is goed deurgewerk sodat die bundel in sy geheel ’n hegte eenheid vorm.

"Die verskillende betekenismoontlikhede van die meerduidige bundeltitel is, in die idioom van die bundel self om soos goue drade deur die bundel te volg en op talle plekke verknoop. Syspoor sinjaleer eerstens, soos reeds uit die Robert Frost-aanhaling as bundelmotto blyk, die minder gebaande weg van die ware christelik-religieuse lewenswyse. (...)

"Tweedens word die stigmata van die lydende Jesus, en die spreker se identifikasie daarmee, deur die bundeltitel betrek. Dié motief is prominent in die sesde afdeling, 'Syspoor', geskryf na aanleiding van die vroeë dood van die digter se seun.

"Aansluitend hierby dui die bundel in die derde plek op God se 'spoor': Die wil en die waarheid van God soos die digter dit kunstig 'in brokaat' moet weef (voorskrif). (...)

"Die bundeltitel slaan vierdens op die dwaalspoor van religieuse afvalligheid, skynheiligheid en geloofsverstarring, soos ’n mens uit veral die satiriese vierde afdeling aflei. (...)

"In die vyfde plek word die gegewe van die sykaravaanroete deur die bundeltitel betrek, soos dit in enkele gedigte in die eerste afdeling neerslag vind. (...) Vervleg hiermee is in die sesde plek die deurlopende motief van die poësie as kunstig geweefde syweefsel.

"Heelwat is oor die rykdom aan intertekstuele aanknopings in Gouws se vorige twee bundels geskryf. Veral die verwantskap met dié van TT Cloete het soms skerp kritiek ontlok. (...) Die bundel getuig weer van Gouws se belesenheid en sy (hoofsaaklik eerbiedige) bewustheid van die literêre tradisies waarbinne hy skryf. (...)

"Myns insiens moet die intertekstualiteit gesien word as ’n integrale meeklank van die Gouws-styl en -tegniek. Verkieslik moet ’n  mens ’n bewuste literêrheid as een van die belangrikste kenmerke van sy digterskap aandui. Die benutting van ’n uiteenlopende versvorm hang hiermee saam. Gouws lewer in die opsig ’n besondere bydrae tot die Afrikaanse religieuse poësie, wat steeds ’n relatief groot lesersbelangstelling geniet.

"Neem ’n mens die verwikkelde, maar beheerste verskuns van Syspoor as maatstaf, verdien dié deel van ons poësieskat al die aandag van die leserspubliek."

Fanie Olivier het in Beeld van 23 September 2002 die mening uitgespreek dat die kokon/sy-metafoor in die laaste twee afdelings volledig en diep-persoonlik uitgespin word. "Dit is as bekentenis en belydenis roerend, maar word weer te selde aangrypend poësie. Niemand kan oor die egtheid van die gevoelens twyfel hê nie, en tog is die versvormgewing net nie van dieselfde kwaliteit nie. Is dit dalk presies waaroor die Nederlandse Tagtigers ’n eeu en ’n kwart gelede al so heftig beswaard gevoel het?

"Miskien is daar in Syspoor net te veel gedigte en te veel eenselwigheid, waardeur die brokke skitterende poësie wat in hierdie bundel aanwesig is, nie tot hul reg kom nie. Om metafories te praat: uiteindelik is dit nie die sy op sigself wat as wonder voortbestaan nie, maar juis as gevolg van en wat die vakmanne daarmee gemaak het."

In haar bespreking van Syspoor het Joan Hambidge (Rapport, 25 Augustus 2002) dit hoofsaaklik gehad oor die feit dat Tom Gouws "steeds op sy betigtende pad aandreun. Die roede word swaar ingelê in Syspoor. Met spirituele ontwaking mag ’n mens nie foutvind nie. As dit egter ten koste van ander gemaak word, moet ’n vraagteken neffens ’n vers geplaas word." Dan haal sy enkele verse aan waarin die digter die "vinger" na onder andere TT Cloete en Daniel Hugo wys. Vir Hambidge is dit jammer, aangesien die bundel werklik ’n "handvol gawe en afgewerkte verse bevat en ’n bundel is waarin die digter se spirituele inkeer verwoord word."

Tom is in 2005 die wenner van die nagtegaalprys vir nuut geskrewe verhoogtekste met sy tweede drama Nag van die lang messe. Die beoordelaars het hierdie drama beskryf as "teater van geweld" en het voorspel dat dit skokgolwe "verder as die grense van teaters tot gevolg sal hê.

Tom self het gesê dat Nag van die lang messe sy eerste volwaardige drama is en dat hy hoop dat "dit ’n impak op Afrikaners sal hê, dat dit hul harte sal draai. Ek hoop ook dat dit hul sal laat besef wat hul skeppingsdoel is, waarom hulle in Afrika is en waarom daar so baie struikelblokke is om te oorkom. Ek is in ’n stryd gewikkel met die kollektiewe kwessies van die Afrikaner en hoop dat my drama ’n soort katarsis sal veroorsaak."

Vir Jeanne Goosen, een van die keurders, was die drama ’n "totale aanslag op die Afrikanerdom" en vir die uitgewer Frederik de Jager, ’n ander keurder, het dit ’n "historiese blik op die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse toestand" gebied.

Nag van die lang messe is in 2006 deur Genugtig! Uitgewers gepubliseer en is ook in 2006 by die KKNK opgevoer onder die regie van Nico Luwes met Gerben Kamper in die hoofrol.

In 2010, agt jaar ná die verskyning van Syspoor, verskyn Tom se volgende digbundel onder die titel Ligloop. In hierdie bundel is daar gedigte wat al in 1996 geskryf is en op LitNet wou Bibi Slippers by Tom weet hoe hy te werk gaan wanneer hy ’n bundel aanmekaarsit.

"Ek skryf poësie vandat ek ’n jong seun was (ek het in die destydse jeugtydskrif Patrys gedebuteer!). Voor die publikasie van my debuutbundel, diaspora, het ek nie minder nie as sewe volledige bundels geskryf, as vingeroefeninge, en om my eie stem te kry. Uit dié versameling haal ek soms die kiemsel van ’n gedig of ’n beeld wat uiteindelik sy lê in ’n nuwe bundel kry. (Een so ’n onopgesmukte gedig, wat ek as 14-jarige geskryf het, het só selfs ’n plek in Groot verseboek gekry.)

"Gedigte lê familie uit met mekaar, en uit die groot versameling tekste wat ek in my lewe geskryf het, én voortdurend skryf, kom daar op ’n stadium ’n ordeningsbeginsel (gewoonlik die idee ten grondslag van die bundel, en gewoonlik saamgetrek in die titel) wat die gedigte versamel. ’n Bundel is ’n versamelnes van tekste wat kan saamspeel en -kweel.

"Net voor die publikasie van Syspoor (2002) het ek nie net uit die letterkunde nie, maar ook uit die formele akademie beweeg. Dit was ’n geweldig moeilike besluit om uit ’n goeie en gevestigde loopbaan te gaan, maar die benoudheid van die Afrikaanse letterkunde en die gekkighede van die breër onderwyssisteem het my onder die kluite gelê. Ligloop was toe al bykans 90 persent voltooi, en ek het dit in ’n laai gegooi en net gelos, alhoewel ek steeds bly skryf het. My kinders, oudstudente en poësieliefhebbers het my uiteindelik so ver gekry om die stof van Ligloop te blaas. Met die publikasie van Ligloop was die manuskrip van my volgende bundel dus reeds bymekaargesit en gereed om na die keurders toe te gaan."

Marius Crous (Die Burger, 1 November 2010) skryf dat Tom Gouws in Ligloop weer net sy reputasie as ’n belese digter wat verbande tussen tekste kan lê en met hierdie tekste in gesprek kan tree, gestand doen. "Opvallend in die bundel is die gebruik van die ligmotief – in aansluiting by die titel, die sterk ingesteldheid op kleur, die invloed van drome, die weefmotief en die gesprek met God.

"Die titel van die bundel (net soos die skildery voorop) suggereer die soeke na lig en die verkennende inslag van die lig, maar dit kan ook letterlik verwys na die manier van loop; net soos in die geval van die witlig in een van die motto's voorin. (...)

"Gouws se vierde bundel is ’n vonds en sal die leser vir lank besig hou. Dit is ’n vernuftige, heg gekomponeerde bundel wat vele fasette van die eietydse poësie illustreer."

Vir Joan Hambidge (Volksblad, 16 Oktober 2010) is dit ’n "ryk geskakeerde bundel bedoel vir die ernstige poësieleser. Veral die verse oor Vermeer is aangrypend. (...) Ligloop is ’n bundel oor die 'verskeie teksture van die landskap van die self', soos die digter skryf in 'die geograaf' (p 29). Die invloed van DJ Opperman en die maskers van die digter word aanskoulik geïllustreer in die slotgedig wat ons as ’n visioen kan lees. Die verwysings is goed verwerk en vorm en inhoud word één in hierdie ontroerende bundel."

Op LitNet skryf Zandra Bezuidenhout: "Wanneer ’n digter-denker soos Tom Gouws aan die woord is, kom lesers gou agter dat hulle inderwaarheid met ’n siener te make het. Sy blik op die synstoestand van die mens is uiteraard ryk, verwikkeld en gevarieerd, maar genadiglik ook verrassend helder. Die temas is enersyds eenvoudig en kan gereduseer word tot aspekte van 'lig', 'loop' en 'ligloop', maar dit is so kundig verweef dat ’n mens verstom staan oor die misterie en impak van die bundel in die geheel. (...)

"Gouws se diepte aan ervaring en sy verwoording van die lewensgang is ontroerend, maar terselfdertyd ’n genot om te lees en oordink. Baie lesers sal met die inhoud kan identifiseer, want is ons nie almal op weg, soekend na die ligmomente wat ons bestaan draaglik maak nie? (...)

"’n Bundel wat soveel genoegdoening verskaf en tot beide die geoefende én minder ervare poësieleser behoort te spreek, verdien ’n saluut. Ek het dit met ’n gevoel van dankbaarheid gelees, herlees, en onwillig neergesit, omdat Tom Gouws ’n hele wêreld op ’n besondere manier oopmaak. Miskien wil ons almal soos die spreker of die godeseun in sy gedigte leer ligloop – 'gewigloos' – en droomgesigte opteken as gedigte. En die ’nuwe hemel', so sê die spreker in 'visioen van thomas op patmos' (91), is 'in hierdie global village [...] onder konstruksie'."

Tom se laaste bundel voor sy voortydige afsterwe in 2018 was stigmata wat in 2012 deur Protea Boekhuis uitgegee is.

Op Versindaba het Louis Esterhuizen met Tom Gouws gesels oor stigmata. Hy het vir Tom uitgevra oor die voorblad van die bundel – ’n dooie voël met ’n skuifspeld. Tom het verduidelik: "Die voorblad is met baie sorg gekies. Benewens dat voëls een van die belangrike temas van die bundel is, word dit ook deurgaans gemetaforiseer. In ’n sekere opsig is die dooie voëltjie op die voorbeeld dus – soos jy tereg opmerk – ’n versinnebeelding van die artefak. Alle tekste bestaan eers as ’n leser dit laat realiseer, of dan: laat vlieg. ’n Goeie gedig vlieg. As jy op die hermeneutiese operasietafel die lewe daarvan probeer dissekteer, sterf dit dikwels. Maar dit beteken nie altyd die detailmeganika wat  lewe moontlik maak, is onbenullig of onbelangrik nie.

"Die skuifspeld is ’n baie belangrike simbool dwarsdeur die digbundel, onder andere as ’n simbool om los dinge byeen te bring en betekenis as ’t ware bymekaar te hou. Hier veroorsaak dit ironies genoeg terselfdertyd ook die dood van die voëltjie, maar binne ’n teksmaakproses word dit 'aangeheg' tot die nuwe lewe van die groter gesprek of teks. In die voorlaaste gedig van die bundel, ‘val’, wat handel oor ’n skuifspeld wat val, word die ganse kosmiese kataklisme wat die 'skaamspleet van die skuifspeld' meegebring het, verbeeld, tot by sy oorsprong in die tuin van Eden. In die lig van die voetnota by hierdie gedig word die skuifspeld een van die basiese taksonomiese objekte van evolusie, wat ek probeer verreken in my persoonlike worstelstryd tussen geloof en wetenskap. Só word Darwin, byvoorbeeld, ‘aangeheg’ aan Jesus, en uit die ongemaklike jukstaposisie ontglip die gedig. Skryf word toenemend vir my ’n kwessie om te probeer verstaan wat ek dink – how can I know what I think before I see what I say?"

Louis wou weet of daar vir Tom ’n bewustelike terugskryf en gepaardgaande herkontekstualisering van vorige skryfsels met dié nuwe publikasie was en hoe hy stigmata binne sy oeuvre sou plaas. Tom het hierop geantwoord: "Ek skryf heeltyd teen ’n tradisie in – daarom haal ek Hendrik Marsman aan wat dit so raak geformuleer het: 'wie schrijft, schrive in den geest van deze zee / of schrijve niet'. In daardie see van literêre tradisie is ook my vorige digbundels, my lewe, my skryfsels, en so meer. Eintlik is ek besig met een groot digbundel, of soos TS Eliot gesê het: 'In my beginning is my end, / In my end is my beginning'. So is derhalwe ook die kiemsel van ’n volgende bundel reeds as saadgedagtes in ’n vorige bundel aanwesig. Ek het byvoorbeeld gedigte uit stigmata gehaal wat beter pas by die volgende bundel waaraan ek tans werk. Die een bundel stort vir die volgende sy boodskap uit. Ek glo dat al die bundels wat ek moet skryf, reeds binne my is, soos ongebore kinders. Psalm 147:13 sê mooi hiervan: 'Hy het jou kinders binne-in jou geseën.'

"In my oeuvre is stigmata ’n baie bewustelike verruiming van tematiek en tegniek. ’n Mens kan dit seer seker ook lees as getuienis van my uitdeinende geestelike belewenis. Ek was met die bundel baie bewus van die Skrifgedeelte in Filippense 3:10 wat praat van 'die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word'.”

Vir Louis Esterhuizen het Tom Gouws oor die vermoë besit om ’n baie treffende satiriese vers te skryf. Hy het hiermee ’n hoogtepunt bereik in die afdeling 'die halwe sekerheid van voëls'. Hy wou by Tom weet hoe hy die rol van die satirikus in die digkuns sien.

Tom se reaksie was dat hy homself nog nooit as ’n satirikus gesien  het nie. "Maar ja, by nadenke sou ’n mens van die gedigte dalk satiries in toonaard en houding kon tipeer, maar dit was geensins ’n bewustelike posisie wat ek ingeneem het nie. Deel van die digter se funksie in die samelewing, dink ek, is om ’n profetiese stem te wees, wat ook ’n noodwendige verantwoordelikheid het om die valshede van die tyd voorop te stel en met ’n angel daarop kommentaar te lewer, wat dit dan seker satiries maak, ja."

Vir Karen de Wet (Volksblad, 13 Oktober 2012) staan hierdie vyfde bundel van Tom Gouws stewig in die teken van sy digterskap "en dra dit onmiskenbaar daardie eerste vingerafdrukke van die digter van diaspora. Elke voël sing soos hy gebek is en graag oor die eiendom waar hy koning kraai – baie digters het immers al sedert Opperman hieroor mantels na alle kante gedraai. Wat bly is die feit dat styl en tematiek in ’n digter se oeuvre verraderlike kan wees: vír of téén jou tel.

"In stigmata stal Gouws opnuut sy vernuf met woorde, met die máák van van woorde en verse, ten toon. En dikwels ongetem sodat dit soms in die rigting van oorversadiging beweeg. Die lys is lank en van die visse wat in die net beland, blink – soos in die stralende gedig 'glief'. En wanneer die digter sy mes tussen die ribbe van dié woordmakery inkry, vind dit die weerlose hart... (...)

"Gouws is bekend om sy ontginning van religie en die religieuse. Dit is hierdie gedigte in die sterk slotafdeling wat die leser waarskynlik die langste by sal bly. Hier loop die digter blootsvoets op die snykant van die lem met teks wat spreek en aangryp, wat die brein laat kantel, die hart laat ruk.

"Die herinklee van historiese of religieuse gebeurtenisse of mense is nie onbekend in literêre korpusse nie, maar doen gerus ekstra moeite om Gouws se gedigte, soos 'jane hunt', die onthutsend lieflike drietal verse in 'ontmoetings' en 'lykkleed van turyn' te lees."

Johann Lodewyk Marais skryf in Tydskrif vir Letterkunde (2013): "In sy jongste bundel, stigmata (2012), sit Gouws sy dikwels verwikkelde, barokstyl-poësie vol literêre verwysings en met ’n duidelik Christelik-religieuse en kontemporêre inslag voort. Die titel stigmata betrek die tradisie van die verbeelde verskyning van wondtekens soos dié van die gekruisigde Christus op die liggame van sekere heiliges en godvrugtige mense. In stigmata geskied die verbeelde voorstellings in en deur middel van taal en word die digter se lewens- en wêreldbeskouing binne die kader van ’n diskoers rondom verskillende vorme van verwonding gevoer. In die twee programgedigte, 'verbeelding' en 'ars poetica', word klem gelê op die onontwykendheid van skryf en ná-skryf binne ’n literêre/geskrewe tradisie. (...)

"Hierdie bespreking is ’n voorlopige verkenning van ’n diepsinnige bundel in ’n groeiende oeuvre wat akademiese aandag verdien. Veral belangrik is die plasing van Gouws se gedigte binne ’n bepaalde lewens- en wêreldbeskouing, wat tot dusver nog nie behoorlik in die Afrikaanse kritiek aandag gekry het nie. Die klem behoort nie net te val op die wyse waarop Gouws literêre tegnieke in sy gedigte benut nie. Hy gee in stigmata genoeg leidrade om op so ’n speurtog te gaan, wat tot verdere insig in die diepte en reikwydte van sy werk sal bydra. Die digter se liefde vir die woord en die letterkunde sal seer sekerlik uit so ’n omvattende studie blyk. Tans is die grootste gevaar vir Gouws se digkuns waarskynlik juis hierdie verliefdheid op die gevormde literatuur, wat die ontplooiing van sy idiolek aan bande lê."

Tom het in 1993 tot bekering gekom en het tydens die Nasionale Leeskringseminaar op Welkom in 1996 groot opskudding veroorsaak toe hy tydens die afsluitingstoespraak in die openbaar bely het dat hy die opgestane Christus persoonlik leer ken het.

Die tydskrif Finesse (Desember 1998) het met Tom gesels oor die veelbesproke toespraak en oor die pad wat hy saam met God geloop het.

Tom het vertel: "Ek is in 1977, op sestien, wedergebore met aardskuddende gevolge. Met ’n bumper-sticker, "Jesus leef!", op my fiets was ek onstuitbaar entoesiasties vir Christus. In my matriekjaar is ek amper deur die kerk uitgeskop omdat ek tydens ’n erediens opgestaan en aan die dominee gesê het hy mislei die gemeente.

"Ek is daarna na die PUK om te leer wat christelikheid nié is nie. Deur al die jare wat ek studeer, skoolgehou en doseer het, het ek deurgaans gevoel die waarheid word verdoesel deur mense se opinies van God. Eers baie later in my lewe het ek gelees Christus het gesê ons maak die woord van God kragteloos deur ons oorlewering.

"Net na my doktorale proefskrif, waarin ek ’n christelike literatuurteorie ontwikkel het, is ek aangestel by die Universiteit van Pretoria. In dié tyd verval ek in ongehoorsaamheid aan die wil van God. Jy verhard jou hart teenoor God, en die noodwendige gebeur – jy hoor nie meer die stem van die Heilige Gees nie. Later kan jy niks geestelik meer onderskei nie, want die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie, dit is vir hom dwaasheid; hy kan dit nie verstaan nie. Soos dit al hoe donkerder in my geword het, het God al verder in filosofiese konsepte versink, al hoe vreemder begin word, en ver. Ek het Christus begin ontken as die enigste weg na God toe, die enigste waarheid. Hy was ’n onkenbare, vreemde God.

"Intussen het my loopbaan sterk momentum begin kry – ek het wyd opgetree en baie geskryf. Ek is aangestel as professor en hoof van die Departement Afrikaans, later was ek viserektor en met tye het ek waargeneem as rektor – die lewe was opwindend en uitdagend. Tog het die akademiese, maar veral die literêre scene my siek gelaat: die dekadensie en gebrek aan etiek, die totale uitsigloosheid van die letterkunde, die nutteloosheid en sinloosheid. Diep binne my was ’n verskriklike hunkering na sin en betekenis, na waarheid, ’n dwingende begeerte na Oorsprong.

"In 1993 reis ek en my gesin na Grahamstad. Dié reis word ’n letterlike hellevaart waar ons uitgelewer is aan die magte van die duisternis. Die laaste strooi was toe die voorband van ons kombi op ’n gevaarlike bergpas bars en ons op millimeters na oor ’n afgrond wieg. Toe ek op my knieë voor God neersak en na Hóm roep, het Hy dadelik geantwoord en in my gees Numeri 22:31–32 ingegee. Ek was op ’n syspoor en nie op God se spoor nie. Ek het opgestaan, omgedraai en na my Pa teruggekeer. In die grot waarbinne ek gedink het Hy nog begrawe lê in doeke van menslik oorlewering, het ek ’n lewende Persoon gevind:

Aanraaklied

In die lente van my drie-en-dertigste jaar
keer ek versigtig terug na die leë grot,
Ongewoond aan die donker soek my oë
na die slapende Seun van God.

Vir die liggaam wat gebreek in bloed gestol
op kliptafels lê, bring ek bewoë ’n salf van spesery.
Hom wil ek saggies met trane en met woorde was
en toevou in die weefsels van my sagste sy.

Binne aarsel die intieme reuk van dit wat bederf,
in my groei swart stilte amper onuithoudbaar.
Dan hoor ek Hy sê my naam, soos vir een wat sterf.

In die grot staan ek verblind voor Hom, nat en naak.
In die lente van my drie-en-dertigste jaar
voel ek hoe Hy versigtig aan my raak.

(Uit: Syspoor)

"Ek het geweet dat niks ooit meer dieselfde kan wees nie – ek was ’n brandhout uit die vuur geruk en ek moes my skeppingsdoel by God uitvind. In ’n kort tydjie het Hy my in ’n vinnige leerskool gesit en my geleer om in intimiteit met Hom te beweeg, sy stem te hoor en sy wil te onderskei.

"Die toespraak in Welkom het God aan my gedikteer. Hy het Job 29:21–25 as belofte gegee van wat sou gebeur, en dit het presies so plaasgevind. Daardie dag was ’n Goddelike ervaring. (...) God is besig om in krag te beweeg; dit is vir my die grootste voorreg om ook een van die draers van die waarheid te wees."

In sy toespraak, “Loslit 2000?”, het Tom onder andere gesê dat om te skryf, is onlosmaaklik gekoppel aan die genade om iets van die Kreatiewe Een, die Skepper, die Instandhouer, en die Woord se durende staat weer te gee. "Deur die jare het verwoording die voortstuwende krag van skrywers geword – hulle het die verwoorders van verwoording geword en vergeet dat hulle hier is omdat God is, sonder ’n verlede of ’n toekoms, maar ’n durende is. (...)

"Aan hierdie sinlose sisteem het ek bykans 15 jaar my energie, my bestaan en my tyd gewy. En aktief daaraan meegedoen, en gevloek die wind in, dat die oneindigheid nie antwoord gee nie. Ek het dit selfs tot bloudruk probeer maak. (...) En ek, oorspronklike troglodiet, grotbewoner, 33 jaar en loslit, wat na buite toe gestorm het om teen die oneindigheid te skree, het teruggekeer na die grot om hulde te bring aan ’n dooie God."En toe het hy afgesluit met "Aanraaklied".

Oor ’n boek wat sy lewe verander het, het Tom aan Elize Parker (Sarie, September 2003) vertel: "En spys het uit die eter gegaan en soetigheid uit die sterke.” Dit was die eerste woorde wat ek as vyfjarige op my eie uit ’n dik, swart boek gelees het. En die krag van Simson het deur my gebruis toe die dooie letters soos leeus voor my opstaan. Van daardie dag af het taal my onstuitbaar bemagtig. Elke fase het sy kopswaaiboeke gehad: as haasbek was dit Abdoltjie van Alba Bouwer; Rousseau se Fritz Deelman-reeks in my jonglatdae. Rauchter se Ode to Billy Joe het my laat proe aan die soetigheid van die dromende dye. Watermeyer se Sekel en simbaal en Breytenbach se Huis van die dowe was besonders. Maar Jack Deere se Surprised by the voice of God en Surprised by the power of the Spirit het my my kop laat verloor. Soos ek was Deere ’n professor wat op ’n goeie dag die realiteit van Jesus Christus leer ken het, en skielik het alles anders geword. En ineens was ek weer ’n seuntjie met ’n dik, swart boek in die hand waaruit die dooie woorde opgestaan het en die soet soos lewe in my kom lê het. Van toe af het ek ’n karakter geword in die verhaal wat God besig is om te skryf."

Op 25 Julie 2018 is Tom Gouws oorlede. Hy is op daardie Woensdagaand in sy huis op ’n landgoed oos van Pretoria vermoor nadat hy, sy vrou, Retha, en jongste seun, Josua, hulle in vyf gewapende mans vasgeloop het toe hulle by die huis gekom het.

Retha het vertel dat hulle haar gedwing het om op haar knieë te staan en haar hande vasgebind het toe Tom op hulle afgestorm het. Hy is oor die kop geslaan en daarna in die rug geskiet. "Hy het reg langs my op die kombuisvloer geval. Ek het gesien hy is dood," het Retha vertel (Volksblad, 27 Julie 2018).

Die rowers het daarna gevlug. Josua was vasgebind in die boonste vertrek van die huis. Hy het daarin geslaag om los te kom en hulp by die bure te gaan soek. Tom sou op 2 Augustus 57 jaar oud geword het.

’n Gedenkfees is op 31 Julie 2018 op Die Druiweplaas in Zwavelpoort in die ooste van Pretoria gehou. Sy ses kinders, Tom, Anjo-Marie, Margreet, Daniël, Emma-Maryn en Josua het elkeen iets oor hulle pa gesê. Hy is daarna veras.

Huldeblyke:

  • Retha Gouws: "Ons het op die kampus van die Pukke ontmoet en was baie verlief. Ek glo dinge gebeur soos dit moet gebeur en dis iets wat hy ook geglo het. Ek is seker hy wou nie nou sterf nie. Tom het absoluut sy lewe in die Here se hande gesit en hy het gevoel die Here het beheer oor sy lewe en dit is wat ons glo." (Volksblad, 27 Julie 2018)
  • Angelique van Niekerk, hoof van Afrikaans en Nederlands se departement aan die UV: "Gouws was ’n inspirerende en begaafde studieleier. Hy was ook ’n hoogs begaafde digter en dikwels waagmoedige resensent, die soort figuur wat die letterkunde op talle terreine verryk het. Sy dood is ’n geweldige verlies en die manier waarop dit gebeur het, vervul ons met afgryse en weersin." (Volksblad, 27 Julie 2018)
  • Professor Jan Buscop, vriend en eertydse kollega: "Verslaenheid heers onder sy vriende en almal wat hom geken het. Hy was ’n familieman, baie gelief en het ’n hart vir mense gehad. Tom het in 2003besluit om sy passie te begin uitleef en betrokke geraak by die bediening, spesifiek met die vestiging van huisgemeentes. Hy was steeds daarby betrokke, maar het nog gereeld geskryf, gedig en geresenseer." (Volksblad, 27 Julie 2018)
  • Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns: "Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns betreur die dood van Tom Gouws, vooraanstaande letterkundige wat in sy huis in Pretoria vermoor is. Gouws was besig om ’n belangrike bydrae oor die digter Breyten Breytenbach vir ’n publikasie van die Akademie te skryf. Die redakteur van die publikasie, Francis Galloway, het gesê dat hy onderneem het om die bydrae 'binne dae' te lewer. Die misdadigers is weg met ’n rekenaar waarop die bydrae waarskynlik geberg is.”

    "Tom Gouws was ’n briljante student aan die destydse PU vir CHO, tans die NWU, waar hy later ook sy eerste akademiese pos in die Departement Afrikaans en Nederlands beklee het, het sy eertydse departementshoof, Jacques van der Elst, gesê. Hy was later ook verbonde aan die Universiteit van Pretoria en die destydse Universiteit van Boputhatswana in Mafeking. Sy oorlye is ’n groot slag vir sy gesin, maar ook die literêre wêreld verloor ’n sleutelfiguur.

    "Gouws het nie net naam gemaak as akademikus nie, maar was ook skeppende kunstenaar. Hy het as digter met die bundel diaspora gedebuteer. Nog digbundels het gevolg asook ’n drama. Tom Gouws was ’n meningsvormer in literêre kringe en is benewens digter en dramaturg ook die skrywer van talle akademiese artikels en resensies in wetenskaplike tydskrifte en koerante. Tom Gouws het ’n hoofrol gespeel in die ontdekking van jeugdige literêre talent met sy beoordeling van die Akademie se jaarlikse Poortkompetisie vir skoliere en studente." (LitNet)

  • Johann Lodewyk Marais: "Tom Gouws (1961–2018) was ’n enigmatiese en veelsydige mens wat as ’t ware in verskillende wêrelde geleef het. (...) Sy heg gestruktureerde, intellektualistiese bundels het getuig van wye belesenheid in verskillende dissiplines en ’n voortsetting van elemente van die poetica van sy Potchefstroomse mentor, die befaamde digter en akademikus, prof TT Cloete. (...) Al vyf sy bundels getuig van Gouws se voorliefde vir die gebruik van tradisionele verstegniese hulpmiddels, wat hy in versvorme soos die ballade, sonnet en villanelle aangewend het asof hy sy vaardigheid telkens self uitdaag. (...)

    "As resensent en kritikus was hy nie bang om met groot selfvertroue gedurfde evaluerings te maak wat soms teen die heersende opvattings ingegaan het nie. Sy resensies in die pers het van hooggestemde lofprysings tot totale debunking gewissel. (...) Gouws het hom in talle gedigte bemoei met bekendes wat op onnatuurlike wyse aan hul einde gekom het en as ’t ware letterlik lykgedigte (soms sélf literêre lykskending?) oor hulle geskryf. (...)

    "En, asof hy dit kon voorspel het, verklaar hy in een van sy gedigte 'hier te lande doen die dood goed besigheid met digters' (troglodiet, p 59). Sy laaste bundel, stigmata, het die tema van verwonding deurvors asof Gouws as gekwelde mens ’n poëtiese voorbode sou kon gehad het. Danksy die veelkantigheid van sy bydrae as digter, akademikus en godsman verdien hy om onthou en verder krities verken te word." (Die Burger, 4 Augustus 2018)

  • Tom Gouws, oudste seun: "Wees ’n anker vir ander mense. Gebruik soms jou laaste geld en gaan skep ’n herinnering. Braai baie. Dit is ’n paar van die wyshede wat ek by my pa geleer het. Die lysie was lank. (...) Hy was baie lief vir ons ma, Retha, sy kinders en kleinkinders en ook vir eet en uiteet, musiek, tuinmaak, blomme, boeke en om te reis. Wat ’n voorreg om Pa te kon ken en 30 jaar te geniet. Al my liefde – en ek sien regtig daarna uit om Pa weer te sien." (Die Burger, 1 Augustus 2018)
  • Daniël Gouws, jonger seun: "My pa was die grootste man van sy generasie. Die afgelope drie jaar het my pa sy hele siening oor die dood verander. My pa het alles in God se hande geplaas. Dit is nie ’n dag waarop ons moet treur of haat nie. Dit is ’n dag van versoening van die Here." (Die Burger, 1 Augustus 2018)
  • Versindaba-redaksie: "Dis met groot skok en leedwese dat ons verneem het van die sinnelose moord op Tom Gouws, een van Afrikaans se vernaamste digters en as resensent ’n gereelde bydraer tot Versindaba. Gewis sal sy entoesiastiese deelname en gewaardeerde ondersteuning gemis word."
  • Louis Esterhuizen:

    Spiegel im spiegel
    Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld,
    maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is.
    – 1 Kor. 13: 12

    Hoe futiel is dit nie – ’n spieël
    wat in ’n  ander reflekteer en selfsaam
    die een aan die ander
    wys –

    ’n man en sy gesin kom tuis
    sewe rowers wag hulle in: drie met wapens
    vier daarsonder
    goedsmoeds en trompop
    is nie woorde
    van verdriet nie, want hulle
    reflekteer
    mekaar nie, maar verklaar tog

    die man op die kombuisvloer in eie bloed
    sy vrou op haar knieë langs hom, rewolwer teen die kop
    vir ʼn selfoon
    en ’n  skootrekenaar
    terwyl buite die tralies
    ’n amperse volmaan hierdie raaisel
    buig tot eendag van aangesig
    tot aangesig

    soos musiekstukke wat mekaar terugkaats
    as treursang vir ʼn digter.
    Maar in godsnaam, hoe futiel
    is dit nie.

    “In memoriam: Tom Gouws, 25.07.18” (Versindaba)

  • Clinton V du Plessis:

    Verwond
    (Vir Tom Gouws)

    In die begin was die woord
    en in Stigmata, die skrywes juis óók oor die dood.

    In hierdie land moet jy leer om lig te loop
    katvoet, rats,
    die rot,
    die roes,
    die roof
    te (probeer) ontduik,
    grotbewoner word,
    ten einde te oorleef.

    Hier op God se kleinhoewe
    bestaanboer jy met vers, brand jy jou kers,
    in Afrika, vir Afrika.

    Maar, lewensgevaarlik word die besit van:
    Handsak.
    Selfoon.
    Skootrekenaar.

    En Iewers in hierdie droewe land is die geheue
    van jou skootrekenaar nou reeds skoongevee
    gestroop van gedig, van vers, van woord.
    “En al wat bly, die koeëlwond en jou stil mond.” (Versindaba)

  • De Waal Venter:

    Huldigingshaikoe aan Tom Gouws

    Somer het gebreek,
    blare hang leeg en stil –
    hy verken verder. (Versindaba)

  • Marlies Taljard: "Ons het een van die mees begaafde Suid-Afrikaners verloor. Ironies word daar in Nederland meer gewag gemaak daarvan as in Tom se vaderland. Tog sal Tom deur sy werk ’n kosbaarder nalatenskap laat as die sogenaamde Groot Kanonne wie se dood tot vervelens toe op die voorblaaie van koerante en op die internet uitgebasuin word. Rus in vrede, Tom." (Versindaba)

Publikasies

Publikasie

diaspora

Publikasiedatum

1990

ISBN

9780798631143 (sb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Om beter te kan sien: ’n gids tot visuele geletterdheid. Saam met Maritha Snyman

Publikasiedatum

1994

ISBN

0799321389 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Geletterdheid

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

troglodiet

Publikasiedatum

1995

ISBN

9780798134699 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Syspoor

Publikasiedatum

2002

ISBN

0798142782 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Nag van die lang messe: ’n drama in vier bedrywe

Publikasiedatum

2006

ISBN

0958488010 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Genugtig! Uitgewers

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Nagtegaal-prys vir nuutgeskrewe verhoogtekste 2005

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ligloop

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780798152396 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

ATKV-prys vir poësie 2011

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

stigmata

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780798156318 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Tom Gouws as samesteller:

  • Bloudruk: erotiese kortverhale. Pretoria: Van der Walt, 2001 [ISBN 9780799321869 (sb)]
  • Granaat: 50 eietydse essays. Saam met PH Roodt. Kaapstad: Juta, 1992 [ISBN 9780702127106 (sb)]
  • Kort-kort:75 ongebundelde kortkortverhale. Saam met PH Roodt. Pretoria: Van der Walt, 1990 [ISBN 0799315834 (sb)]
    • Potgieter, V: Die rol en betekenis van die interne vertellers in die bloemlesing Kort-kort (samestellers Tom Gouws en PH Roodt). Pretoria: Universiteit van Pretoria, 1992
  • Kortgolf: 25 kortkortverhale. Saam met PH Roodt. Pretoria: Van der Walt, 1993, 2002 [ISBN 0799319325 (sb)]
    • Kortgolf, saamgestel deur Tom Gouws en PH Roodt: eerste taal: ’n studiegids. Johannesburg: Guidelines, 1996

Artikels oor Tom Gouws beskikbaar op die internet:

Artikels en videos deur Tom Gouws beskikbaar op die internet:

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 1

Kommentaar

  • Liewe Tom was so 'n mooi mens. So 'n groot mens. So 'n mens van hier, van ons almal, vir ons almal.

    Jammer dat die wreedaardigheid hom af gesny het.Jammer dat hy so baie -ismes in een oomblik in die oege moes staar, min wetende hoe jy as mens die geweldsoorlog kan oorleef.

    Geweld in woorde kon hy nog doen, maar geweld in staallope is onbegonne vir diegene wat 'n ander oorlog wou/sou moes doen.

    fok

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top