Om ’n wilde perd te vang: Tom Gouws in gesprek met Bibi Slippers

  • 6

Dag Tom! Ek waardeer dit so baie dat jy die tyd neem om met my te gesels. En ek wil sommer onmiddellik met die tema van tyd in die huis val. Ek sien in Ligloop is daar gedigte opgeneem wat so lank gelede as 1996 geskryf is, terwyl Syspoor in 2002 verskyn het. Hoe lank het dit geneem om Ligloop die lig te laat sien, en kan jy ons ’n bietjie meer vertel oor die proses van bundel-maak – werk jy aan meer as een projek gelyk, of bundel jy bloot gedigte rondom ’n sekere tema wanneer jy genoeg het?

Ek skryf poësie vandat ek ’n jong seun was (ek het in die destydse jeugtydskrif Patrys gedebuteer!). Voor die publikasie van my debuutbundel, diaspora, het ek nie minder nie as sewe volledige bundels geskryf, as vingeroefeninge, en om my eie stem te kry. Uit dié versameling haal ek soms die kiemsel van ’n gedig of ’n beeld wat uiteindelik sy lê in ’n nuwe bundel kry. (Een so ’n onopgesmukte gedig, wat ek as veertienjarige geskryf het, het só selfs ’n plek in Groot verseboek gekry.)

Gedigte lê familie uit met mekaar, en uit die groot versameling tekste wat ek in my lewe geskryf het, én voortdurend skryf, kom daar op ’n stadium ’n ordeningsbeginsel (gewoonlik die idee ten grondslag van die bundel, en gewoonlik saamgetrek in die titel) wat die gedigte versamel. ’n Bundel is ’n versamelnes van tekste wat kan saamspeel en -kweel.

Net voor die publikasie van Syspoor (2002) het ek nie net uit die letterkunde nie, maar ook uit die formele akademie beweeg. Dit was ’n geweldig moeilike besluit om uit ’n goeie en gevestigde loopbaan te gaan, maar die benoudheid van die Afrikaanse letterkunde en die gekkighede van die breër onderwyssisteem het my onder die kluite gelê. Ligloop was toe al bykans 90 persent voltooi, en ek het dit in ’n laai gegooi en net gelos, alhoewel ek steeds bly skryf het. My kinders, oudstudente en poësieliefhebbers het my uiteindelik so ver gekry om die stof van Ligloop te blaas. Met die publikasie van Ligloop was die manuskrip van my volgende bundel dus reeds bymekaargesit en gereed om na die keurders toe te gaan.

Skryf is om elke vroegoggend ’n wilde perd te gaan vang en by jou skryftafel tot rus te bring. Dit vra ’n absoluut doelgerigte poging. My kop zoem gedurig soos ’n bos vol bye en ek moet dan my verbeelding karteer, dus is dit ’n voortdurende proses eerder as ’n tref-en-trap-diggeleentheid. Ek bly ook gedurig die verse snoei, selfs na publikasie. En soos ons weet – alle snoei is groei. Daar kom dus nie ’n einde aan tekste maak nie.

Tom Gouws

Met die lees van Ligloop is dit opvallend dat baie van die gedigte geskryf is terwyl jy in verskillende wêrelddele op reis was. Buiten ’n ligloper, is jy ook ’n ywerige rondloper? En is die konsep van die “reis” (ek dink eintlik spesifiek aan die Engelse woord journey, soos hy teenoor destination/bestemming staan), ’n belangrike een binne die konteks van jou digterskap? 

Ek het die voorreg gehad om baie te reis, en elke reis was vir my ’n eiesoortige quest met ’n bepaalde opgaaf. So het ek byvoorbeeld regoor die wêreld gereis om elke liewe skildery van Vermeer met my eie oë te sien, net soos een van die karakters in Thomas Harris se Hannibal. Reis is altyd ’n konfrontasie met onsekerheid op alle vlakke, en derhalwe buit ek die situasie uit deur myself altyd in ’n vreemde land doelbewus te laat verdwaal, sodat ek die opgepikte broodkrummels op pad na die huis toe opnuut kan versin en met ’n witbrood verse onder die arm by die huis kan aankom. Ek is ’n lanterfanter van formaat.

Maar dan moet ek dit ook sê: reis is dikwels geromantiseerd en overrated. Daar is baie dinge daaraan wat sleg is. Hoe ouer ek word, hoe meer is ek aan my persoonlike ruimte geheg, en derhalwe reis ek fisies minder, alhoewel die kopreise meer word. En ek cash skaamteloos in op boeke, films, en ander mense se reiservarings - iemand met verbeelding kan maklik op ’n ander se onkoste reis.

Hierdie jaar se Woordfees-tema fokus op identiteit, en suggereer die meervoudigheid van identiteite. Hierdie tema word ook in Ligloop ontgin. Jy haal byvoorbeeld vir Bakhtin aan in die motto van die gedig “ek is thomas gouws”: “We are the voices that inhabit us.” Dig jy (as akademikus) opsetlik rondom die tema, met identiteit-diskoers as basis, of vind die identiteitsondersoek outomaties opslag in jou gedigte?

Die soeke na my ware identiteit is miskien een van die belangrikste aspekte van my lewe, en sal desnoods reflekteer in my poësie, asook my ander skryfwerk. (In my drama Nag van die lang messe is my identiteit as Afrikaner in Afrika byvoorbeeld die onderliggende stramien.) Om langsamerhand in jouself tuis te kom is my diepste begeerte. In die naspeuring daarvan het ek uitgevind dat elke mens ’n unieke, eie Godgegewe identiteit het wat jy voor die grondlegging van die wêreld reeds besit het. Die skending van hierdie “beeld van God” waarin jy geskep is, het veroorsaak dat alle mense ’n vals identiteit koester. Die woordjie sonde is in die oorspronklike taal hamartia en beteken “om jou merk te mis”. Sin is a mistaken identity. Ek het ook uitgevind dat jou diepste wond dikwels jou hoogste roeping verhul, en dit het my tot ’n naspeur van hierdie geheimenis gelei. My bediening is daarop gerig om mense in hul Godgeroepe identiteit te laat opstaan.

Uiteraard is daar baie stemme wat meepraat in die totstandkoming van ’n identiteit, en ja: we are the voices that inhabit us. Hierdie polifonie moet egter tot sin besweer word, maar dit kan jy eers doen as jy die oorspronge probeer agterhaal het. (Die gedig “oorsprong” in Ligloop handel hieroor, maar die hele bundel is ’n getuienis van dié naspeuring, op verskeie vlakke.) Anders as die postmodernistiese filosowe glo ek die mens is ’n logoserende  wese en sinsoekende maker wat sy identiteit verkry deur “dia-logos” met God, die Al-Logos.

Ek beskou myself nie as ’n akademiese digter nie, alhoewel mense seker met my daaroor sal verskil, maar alhoewel my ingesteldheid tot kenne dalk intellektueel is, is my lewensingesteldheid meer mistiek, wat ’n ander vlak van kenne is.

Om die gesprek rondom reis en identiteit bymekaar te trek: Sou jy sê dat die veranderende landskappe waarin die reisiger hom of haar bevind, ook ’n invloed op sy/haar identiteit het? Indien wel, hoe verwoord jy hierdie proses in jou digkuns? 

Die werklikheid is vir my dikwels nie meer nie as ’n fluïede konseptuele orde. Dus sal die veranderende landskap eintlik die bloudruk wees van my verwagting en ervaring, ook van my dromende denke. Deel van my betekenisraam is die geloof dat die wêreld, soos ek dit ervaar, ’n God-artefak is waarbinne my waarneming en interpretasie van die wêreld aksies is wat binne my unieke konseptuele orde geïntegreer moet word. Daar is egter vir my ’n standhoudende middelpuntsoekende krag wat altyd heenwys na Oorsprong, in alles. Ek is nie oorgelewer aan taal, soos die dekonstruktiviste beweer nie – taal is my instrument tot singewing. As kennende subjek wat bymekaar maak en orden en dit tot sin besweer, is die antwoord op jou vraag dus ja - die veranderende landskappe waarin die reisiger hom of haar bevind, moet ipso facto ’n invloed op sy/haar identiteit hê, maar is dikwels nie veel meer nie as ’n spieël waarin hy/sy kyk.

Terwyl ons nou oor “journeys” praat, ’n ietsie oor jou persoonlike digterlike reis. Ek was baie geroer deur die aanhaling uit A widow for one year by die gedig “wyding”: “[R]eading Yeats discouraged … (him) from even trying to be a poet; … (his) were the tears a writer cried whenever a writer heard something better than anything … (he) could have written.” Dit het my laat wonder met hoeveel pyn jou gedigte gebore word en opgroei. Put jy plesier uit die skryf van gedigte, of wond jy jouself met elke woord? En is dit goed om hiperkrities teenoor jou eie werk te staan, of loop ʼn mens gevaar om jouself in die proses doodstil te sensor? 

Ek is ’n baie groot aanhanger van John Irving, ook van Yeats. Die aanhaling gaan vir my meer oor die onmag wat ’n digter ervaar as hy lees wat ’n ander digter besonder vaardig verdig het, en die besef: ek sal nooit só kan skryf nie. Ek glo dat hierdie verlatenheid van onvermoë juis miskien die desperate dryfveer is om wel ietsie oorspronkliks te kan sê, al dink jy, en andere, dis bloot ’n poepie teen die donder in. Die onvermoë word die impuls om aan te hou probeer om goud uit strooi te spin.

En ja, skryf is vir my ’n pynlike proses, maar weliswaar gaan dit altyd gepaard met oneindige verwondering. Derhalwe is my nuwe bundel se titel Stigmata. Een van die openingsgedigte, “ars poetica”, probeer dié paradoks só verwoord:

elke gedig is terminaal aan taal                                                    
in die sluikhandel van woorde                                   
binne versreëls wring die ongehoorde                                           
uit elke metafoor sypel water en bloed                      
dowwe spoor krapmerk stom sinjaal                                   
latwerk van rooftekstiel op fibreuse grein                   
fantoomflitse van ’n verbeelde voet                                    
’n klad ’n fluistering wat nahuiwer                             
oorblyfsels in gedwonge stilte verswendel
veilig verseël in die verdigsel
die geheime grammatika van kneusing                       
laat die wonde binnensmonds sing                                      
glansende parspoëtika van pyn                                 
weefsel van wond en wonder.     

Die laaste afdeling van Ligloop lees byna as ’n tipe spirituele stamboom. En byna alle inskrywings op die internet oor Tom Gouws maak melding van jou vrou en ses kinders. My vraag is tweeledig: Eerstens – ek neem aan dat jou familie vir jou baie belangrik is, en ek wil weet hoe jy die eensaamheid of afsondering (wat gewoonlik as ’n essensiële deel van die digterlike proses beskou word) balanseer met die intimiteit en eise van ’n groot familie. Tweedens: Wie sien jy as jou digterlike familie? Wie is jou stamvaders en sibbe in die digkuns, en het jy enige poëtiese nasate van wie jy weet? 

Ja, die laaste afdeling van Ligloop kan jy onder andere as ’n ontvouende spirituele stamboom lees. ’n Baie groot deel van my geestelike en fisiese identiteit is dat ek geroep is as ’n vader. Ek en my vrou, Retha, het ook drie seuns wat voor geboorte gesterf het, dus het ons altesaam nege kinders.

Die gebrek aan vaderskap is myns insiens die grootste rede vir gebrekkige persoonlike identiteit, en omdat die oproep van ’n identiteit ’n kernaspek van my persoonlike roeping is, is ek my hele lewe in die een of ander wyse daarmee besig.

’n Groot gesin soos ons s’n, asook die dwingende aanspraak van ’n wêreld wat durend om vaderskapbemoeienis op alle vlakke vra, plaas uiteraard geweldig stremming op jou persoonlike ruimte en tyd.

Die tweede deel van jou vraag: ek glo aan digterlike families, ook in Harold Bloom se teorie oor the anxiety of influence. Die eerste twee digters wat ek stukkend gelees het, was GA Watermeyer en Breyten Breytenbach, en hulle klop nog steeds in my binnebloed. Maar ek meen Opperman en Cloete was my digvoorvaders by wie ek vakleerlingskappe moes voltooi en wat my veral van versifikasie geleer het. Ek het enorme respek vir albei, maar moes hul invloed met bloed en bottelstukke oorkom om my eie stem te kry, iets wat ek nie net onbewustelik mee geworstel het nie. Maar dis miskien Totius, Van Wyk Louw en Cussons as geestelike digters by wie ek ongesiens die meeste aanleun. Totius se intreerede in 1902, “De dichter als ziener”, bly vir my ’n credo.

Sibbe? Dit sou verwaand wees om te dink dat daar navolgers is wat hul taalbeiteltjies op my gewaande oeuvre skerpmaak. En daarmee saam - ware digterlike vaderskap het die vermoë om die sibbe hul totaal eie stem en identiteit te laat ontdek.

Christenskap speel duidelik ’n belangrike rol in jou identiteit-konstruksie. Ek het gewonder oor die figuur Elia wat sentraal staan in die derde afdeling van Ligloop. Wat is die verhouding tussen Tom en Elia, en waarom is Elia vir jou so belangrik?

Christenskap het so ’n godsdienstige tag waarmee ek moeilik identifiseer. Ek is glad nie godsdienstig nie, maar het ’n lewende verhouding met die lewende God.

Elia staan sentraal in die bundel, omdat hy ook ’n ligloper was, en sy lewe getransponeerd in Afrika baie interessante jukstaposisies kon oplewer.

Ligloop bevat heelwat verwysings na die skilderkuns, en veral na die werk van Vermeer. Is jy ’n kunskenner, of van waar jou belangstelling in die visuele kunste? 

Ek is nie ’n skilderkunskenner nie, nee; hoogstens ’n waardeerder van die visuele en ander kunste. Daarmee saam het ek ook ’n spesifieke voorliefde vir die beeldgedig en die retoriese dinamika tussen visuele kunswerk en woordkunswerk.

Ek het nou die dag die volgende aanhaling van Ronnie Belcher gelees: “Poësie is in ’n afwaartse spiraal. Daar is groot onkunde oor wat ’n gedig is. Digters is lui. Die rymwoorde, veral eindrymwoorde, is die belangrikste en plofbaarste in ’n gedig. Deesdae eindig reëls sommer op woorde soos endit en want” (2003). Ek weet daar is baie digters wat met hom sal verskil, maar ek sien dat rym nogal ’n belangrike stylmiddel in jou digkuns is. Waarom rym jy soms, en hoe red ’n mens ’n rymende gedig van voorspelbaarheid en rymdwang?

Al my gedigte is “voortgeplante mutasies/ van die skeppende Een se verstommende veelvoud van vorm,” sê die openingsgedig van troglodiet, en die slotgedig sê: “U bind/ my soekend in u fassinasie met verhulde vorms”. Gedigte kom bied hulle aan in absoluut bepaalde vorm, en dit sluit dikwels die borstrok van rym in. Die beperking wat rym en klassieke vorm vereis, is vir my deel van die soeke na die oorspronklike vorm waarbinne die inhoud gestalte moet kry. Dis nie soseer ’n klassieke bewussyn as wat dit ’n argeologiese soektog (soos Foucault dit bedoel het) is nie. Rym is ’n ongelooflike stilistiese element in ’n gedig, maar min digters het dit werklik tot ’n kuns vervolmaak – ek probeer steeds. As rym na voorspelbaarheid en dwang ruik, is die dood in die pot vir die gedig. Maar dan ook: rymdwang en rymelary is gevaarlike woorde om gedigte krities mee te takseer, en ’n mens moet baie seker maak van die funksionele en ikoniese waarde van rym in ’n gedig voor jy dit só afmaak.

En op ’n ligter noot: Het jy al die Woordfees-program onder oë gehad, en is daar iets waarna jy spesifiek uitsien?

Ek is so besig met ons eie produksie dat ek nie ’n oog oor die program gegooi het nie, moet ek tot my skaamte erken. Maar ek dink ons produksie gaan ’n happening wees. 🙂 Dit is getiteld Vergesigte Vermeerder in vers en fuga.

  • 6

Kommentaar

  • Hierdie man se digtalent is baie onderskat. En nou is hy sinloos vermoor. Net 'n deeltjie statistiek. Ons is almal armer.

  • Is daar enige iemand anders wat iets gaan se oor Tom se wrede onnodige dood? Dis om van siek te word. Wat 'n wonderlike wonderlike samelewing. Geskep, geskape en vervolmaak in Suid-Afrika. Demokrasie 24 jaar, misdaad, moord, geweld vier hoogty. Gaan die literêre gemeenskap maar net stilbly hieroor? Is dit nie tyd dat ons gaan praat met die 'agbare' regering nie? Wat gaan in die agtergrond aan en wat motiveer hierdie gruweldade?

  • Ek onthou Tom Gouws as meelewende studieleier en ont-dekker. Ons is beroof van 'n groot gees en ek ween saam met sy nagelates.

  • Sy dood laat my stom. Gaan ons op die wyse al ons skrywers en digters aan die dood afstaan? Hy is nie die eerste en gaan vir seker nie die laaste een wees nie. Sterkte aan sy familie wat die sinnelose daad moet verwerk.

  • Lorette.Botha.Van Der Gryp.

    Wat 'n groot verlies vir sy families. So bitter onnodig. Vader wees asb die trooster in die rou tyd wat voor lê. In Jesus naam. Amen.

  • Alida Coetzee

    Tom Gouws was oneindig lief vir God en hy is net geroep tot hoër diens! Hy geen vrees vir die dood gehad nie ... "die dood is uitgeklee" het hy gesê!
    Hartseer is dit verseker!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top