Ligloop: 'n Genoeglike roete deur 'n "lap van lig"

  • 0

Ligloop
Tom Gouws
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798152396
Prys: R152.50

Klik hier en koop Ligloop nou van Kalahari.net!

Wanneer ’n digter-denker soos Tom Gouws aan die woord is, kom lesers gou agter dat hulle inderwaarheid met ’n siener te make het. Sy blik op die synstoestand van die mens is uiteraard ryk, verwikkeld en gevarieerd, maar genadiglik ook verrassend helder. Die temas is enersyds eenvoudig en kan gereduseer word tot aspekte van “lig”, “loop” en “ligloop”, maar dit is so kundig verweef dat ’n mens verstom staan oor die misterie en impak van die bundel in die geheel.

In hierdie versameling verse gaan dit in hoofsaak om die menselewe wat ’n bepaalde loop of trajek het; dat dit eindig is, en saamhang met die strewe na ’n ligdeurdrenkte beweging, ’n reis wat ideaal gesproke lig en sonder bagasie voltrek moet word, “los van als wat jy moet toegrendel en diefdig/ sluit”, omdat besit jou “in hegtenis neem” en vasheg, sodat die spreker sê: “los van mot en roes leer loop ek lig” (“bruikleen”, 45). Ook die skeppende kunstenaar beleef die verrukking van lig en ligtheid wanneer daar in sy metaforiese proses van transkribering “iets Goddeliks gebeur en íneens dooie letters illumineer”, of die weefster met haar “vlindervingers tekstiel met siel verweef ...” tot “iets onverklaarbaar [...] ligtend aan die garing kleef” (“oorsprong”, 15). So is dit ook met die digter, want sy woordwerk is ’n deurlopende weefproses totdat die artefak van die gedig (en die lewe as kunswerk) uiteindelik “kant en klaar tril” (“die kantklosser”, 18).

Gouws predik nie, maar sy verse is by implikasie ’n pleidooi vir die ligte tred, om ligvoets in en deur die Lig te loop, met ’n sekere waaksaamheid waardeur die mens “ligloop” vir ’n futiele vasklou aan alles wat tydelik en aardgebonde is. In dié verband kan “bruikleen” (45) as voorbeeld van aflegging saamgelees word met “pa se tent” (41), ’n gedig oor die geborgenheid van ’n vader se liggaamlike nabyheid wat eindig met die besonder beeldende slotreël: “in onse pa se tent van lap en lyf” – op sigself ’n teken van tydelikheid en voorlopigheid. In aansluiting hierby vorm die aftakeling van die ouerwordende liggaam in “advent” (44) ’n manlike teenhanger vir Antjie Krog se verse in Verweerskrif (2006), met die verskil dat Gouws ’n religieuse dimensie invoer, soos wanneer die “vleestent” van die indertydse bruidegom deur die Bybelse bruidegom ingeënt en herskep word.

Die bundel kan dus bestempel word as uitermate ligsensitief, want feitlik alle betekenisse van die woord lig word ontgin en in kombinasie met ander begrippe en woorde gebruik, soos die vondste ligweefsel, liggedig, ligfilament en ligsag. Daarby word die lig teenoor die donkerte gestel (twee van die bundelmotto’s sinspeel reeds daarop), soos in “camera obscura” (23), waar lense op ’n magiese wyse “die buitelig laat binneval deur spieëlruite” en “die lig in die donker tent gefiltreer” word. Die oorkoepelende tema(s) van lig en loop, en die vele geledinge daarvan, word dus behendig deur die bundeltitel Ligloop vasgeknoop. Sodoende word ’n oorbekende term ontyk waar dit in bundelverband ’n dubbelsinnigheid verkry wat Gouws tot voordeel van sy poësie aanwend.

Die filosofiese onderbou en die Christelike etos wat in die gedigte ingeweef word, is reeds boeiend, maar die tegniese vernuf waarmee die digter abstraksies op uiteenlopende wyses konkretiseer, verdien besondere vermelding. Ewe prominent is die plek wat Gouws aan digterskap en taal toeken, en die wyse waarop dit aansluit by die droom en geïnspireerde ontwaking, sowel as by die selfkonfrontasie waar die sirkulerende spieël-motief aan bod kom, onder andere in “ontmoeting” (42) en “ek is mietjie gouws, profetes” (80).

In die lang openingsafdeling, “delftse doek”, wat gebaseer is op ’n aantal skilderye van Vermeer, vorm die sterk visuele element ’n gepaste aanset tot die daaropvolgende vyf afdelings. Daar moet in gedagte gehou word dat Vermeer by uitstek die skilder van lig was – wie ken nie die misterieuse ligval in “Blik op Delft” of “Vrou met ’n pêreloorring” en ander topstukke van dié Nederlandse meester nie. Dit is juis in die ligval dat die spreker in “oorsprong” (15) iets herken waardeur hy aangegryp word, omdat dit vir hom ’n element van die Goddelike versinnebeeld:

uit die skilderye gloei ineens ’n dieper lig, so verskriklik teer,
my oë brandherken die vleesgeworde vergesigte van vermeer.

Gouws se hantering van vormvaste vers staan sterk en klink meestal nie oudmodies nie, hoofsaaklik danksy die ruim aanwending van enjambemente, waardeur die gedigte ’n soepelheid en vaart verkry, soos in “1. oënskoulik meisie met rooi hoed” (26) met sy kwistige gebruik van eindrym:

vir eeue al wag die meisie oënskoulik nonchalant
vir my. kyk verby dit wat oënskoulik flambojant
is, sê haar oë, en sien hoe die kunstenaar se hand
my dieper self weggesteek het aan die onderkant
van die skildery. [...]

Net hier en daar, maar veral in hierdie afdeling, word die vloei belemmer deur ’n effens geforseerde woordorde en ooglopend bedagte strofebou en rym, terwyl ’n gedig soos “die geograaf” (29) ietwat oorvol aandoen en “die astronoom” (32) swaar dra aan beskrywings soos “oergalaktiese verbeelding”, “triljoene ligtrillende strooihalms” en “sonore konsonansie”.

Die titel van die tweede afdeling, “tentatief”, sou ewe goed as bundeltitel kon funksioneer, omdat dit die voorlopigheid van alles so goed saamvat (“tent” en “tentwoning” resoneer hierin), maar Ligloop was waarskynlik die beste keuse vanweë die meerdere betekenisvalensies daarvan. Die tydelikheid van die “tent” word mooi belig in die omdigting van Jes 38:9-22 in “lied van Hiskia” (54), waarvan strofes 1, 3 en 6 vervolgens aangehaal word:

voor tyd begin, het U my versigtig aanmekaargeweef,
elke been geskik in die skaamte van die skoot;
my dae opgeskryf, in my gespreek en my laat leef.
U skuil in my teen die taal en tongval van die dood.

 *

U wil my afbreek soos ’n herderstent,
my lewe oprol soos ’n wewer met sy weefsel doen.
vrygewig gee U my die dood present.
dit is voorwaar u welwillendheidseisoen,

*

die doderyk kan u nie prys nie, maar ék,
die lewende, die léwende, dié sal U eer,
op snaarinstrumente speel en die môrester wek,
met ’n vyekoek soetsalig op elk verbeelde sweer.

Gouws se diepte aan ervaring en sy verwoording van die lewensgang is ontroerend, maar terselfdertyd ’n genot om te lees en oordink. Baie lesers sal met die inhoud kan identifiseer, want is ons nie almal op weg, soekend na die ligmomente wat ons bestaan draaglik maak nie?

Die oorwegend diepsinnige toon word gebalanseer deur enkele blyke van humor, soos in die skitterende (en nogal stouterige) “resep vir sinlike soesji”(53) en “kaapse straatprediker oor elia et al op straat” (75) in die tweede en derde bundelafdelings onderskeidelik. Ongelukkig is laasgenoemde gedig ’n minder geslaagde weergawe van die Kaapse spreektaal en mis dit die outentisiteit van digterstemme soos Adam Small of Peter Snyders. In “elia en die baälprofete” (70) en “elia en die voortrekkermomument” (72) sal lesers weer eggo’s hoor van die satirikus MM Walters (lees gerus sy onlangse bundel Braillebriewe), maar Gouws se werk laat klink tog ’n eiesoortige bydrae.

Ter illustrasie van die komiese kant van die bundel word die genoemde “resep vir sinlike soesji” hier aangehaal – vir die lekkerte, maar ook omdat die gereggie so mooi op die bladspieël lyf kry:

vat ’n soesji-grasmatjie
rietjies dungerolde begeerte
gooi ’n laken gestyfde papier
’n asemdun seegrasvelletjie oor
soesji-rys taaiklewerig soos liefde
’n sagte huiwering van suiker en asyn
in die vingervoortjie met ’n ferm kreefstokkie
verseël en dek toe met seersoet gemmerrepies
bedien met maki saki-wyn en komkommerpuree

laat die rys die rys ontmoet

soja.

Intertekste vorm ’n konstituerende element van hierdie bundel, aangesien soveel van die gedigte by grasie van bestaande werke beslag kry. Die afdeling “jerusalemgangers revisited” skakel byvoorbeeld met Antjie Krog se bundel Jerusalemgangers van 1985. Daarby gee die groot aantal motto’s, voetnote en subtitels, asook verskeie gedigtitels en die boustof as sodanig, blyke van die digter se uitgebreide verwysingswêreld en sy vermoë om tekste met mekaar te verweef – al noop die vreemde name die leser om flink na te slaan. Gelukkig maak die internet dit maklik en interessant; dis ’n plesier om in ’n oogwink weer na die betrokke skilderye van Vermeer te kyk of met (vir baie Suid-Afrikaners) betreklik onbekende digters soos die Brasiliaanse Murilo Mendes, die Russiese Sergei Esenin, die Mexikaanse Díaz Mirón en die Sweedse Gunnar Ekelöf kennis te maak. Daarby raak Gouws ook aan figure soos Anna Achmatowa, William Butler Yeats, Breyten Breytenbach, Johannes Kerkorrel, Donald Justice, Hermann Hesse, GA Watermeyer, Peter Blum, Adam Small, AG Visser, Antjie Krog en meer. Soms is dit ’n huldebetoon, naskrywing, vertaling of hersirkulering van die ouer teks, of tree die digter met sy voorgangers of tydgenote in gesprek. Dit sal ook die moeite loon om die vermelde Bybelgedeeltes na te slaan; nie alleen werp dit lig op die voedingsbron van sekere gedigte nie, maar dit bring ’n mens onder die indruk van die vaardigheid waarmee die digter sy “geleende” stof binne die groter tekstiel van tekste verwerk en inwerk. ’n Interaktiewe betrokkenheid aan leserskant maak van passiewe lesers deelnemers; hulle is beter toegerus om te interpreteer en om medeskeppers van die teks te word, wat aan die leeshandeling ’n postmodernistiese hupstoot gee.

Daar is soveel in hierdie bundel wat boei en verras dat ’n mens met huiwering enkele besware onder die aandag bring, soos dat Gouws soms te doelbewus poëties skryf en nie oral die nodige snoeiwerk aanbring nie. Een voorbeeld is die deels gawe gedig “pa se tent” (41), waar beeldryke seggings (“die nag kraak soos kurk”) te staan kom tussen die onkruid van minder oortuigende woordsamestellings (banglaggerig), ooglopend bedagte effekte (“sy been sy pendulumswaai” gevolg deur “die sterre aspaai”), oortollige woorde (“naderkruipende najaarskilte”; “verskriklike alles”) en gevalle waar die natuurlike taalritmiek nie geïnkorporeer word by die loop van die onderskeie gedigte nie, sodat die kunsgehalte van die vers aangetas word. Self hou ek ook nie van die hebbelikheid van bepunting tussen sinne sonder die gebruik van hoofletters daarna (à la TT Cloete) nie, maar dit is die digter se prerogatief om te besluit hoe hy dinge wil beteken of pouseringe wil suggereer.

Die meeste verse is egter knap afgerond en vars verwoord. ’n Mens dink hier aan die vindingryke “allerliefste, ek stuur vir jou ’n elektroniese duif” (59), Gouws se eietydse antwoord op die bekende Breytenbach-gedig met sy “rooiborsduif”; of die ysingwekkende “naglied van johannes kerkorrel” (62). Ewe treffend is ’n groot aantal verse van ’n heel ander toonaard, soos “die kantklosser 2” (35) met sy poëtikale toespeling; die kompakte “moeder theresa gee boedel oor” (47), waarin dié uitdrukking sinvol verletterlik word; die pragtig vloeiende “planting” (52), waar die opslagloot in die Israeliese woestyn tot ’n “ligkrans langsaam soos ’n jaarring [groei]”; en die slotvers met sy elektroniese visioen waar die nuwe Jerusalem as ’n “lap van lig [...] op ’n transparante silikonsee” voorgestel word. Lesers sal self meer gedigte kan uitsonder.

’n Bundel wat soveel genoegdoening verskaf en tot beide die geoefende én minder ervare poësieleser behoort te spreek, verdien ’n saluut. Ek het dit met ’n gevoel van dankbaarheid gelees, herlees, en onwillig neergesit, omdat Tom Gouws ’n hele wêreld op ’n besondere manier oopmaak. Miskien wil ons almal soos die spreker of die godeseun in sy gedigte leer ligloop – “gewigloos” – en droomgesigte opteken as gedigte. En die “nuwe hemel”, so sê die spreker in “visioen van thomas op patmos” (91), is “in hierdie global village [...] onder konstruksie”.

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.

Top