#TimesUp

  • 5

Oprah Winfrey (Foto: Youtube)

Swart aandrokke, swart-en-wit borsspelde en aktiviste wat saam met bekende aktrises vir foto’s poseer – hierdie was die beelde wat die 2018 Golden Globes domineer.

En op enkele uitsonderings na het al die wenners in hul toesprake verwys na die #TimesUp-beweging, wat algemeen beskou word as die natuurlike volgende stap in die #MeToo-veldtog wat laat in 2017 van stapel gestuur is. Wat is #TimesUp? Kortliks is dit deel van die strategie om die vraag te beantwoord of #MeToo ’n oomblik of ’n beweging is.

Aktivisme, lank die stiefkind van die meeste samelewings, begin nou sexy word. Aktrises en modelle (en Oprah) begin strategieë uitwerk met aktiviste om ’n daadwerklike verskil te maak aan die kwessies wat saak maak. In hierdie geval is dit verskeie aspekte van diskriminasie teen vroue. Dit als is natuurlike uitvloeisels van die Women’s March-beweging wat verlede jaar Januarie met soveel sukses dwarsoor die wêreld, maar veral in Amerika, plaasgevind het.

Waar die Women’s March en #MeToo gefokus het op visuele bewusmaking op sosiale media en in die strate, is #TimesUp die ouer suster wat geleer het om haar vuiste te bal en seker te maak elke hou wat val, het trefkrag. Daar het duidelik heelwat beplanning hier ingegaan, met strategiese fokuspunte en aksieplanne. En fondsinsameling. Ernstige fondsinsameling. Want #TimesUp se belangrikste strategie fokus op litigasie en regshulp. #MeToo kon dalk nog afgemaak word as “hy sê, sy sê”, maar dis feitlik onmoontlik om ’n hofbevel te verontagsaam of te probeer bestry.

#TimesUp fokus op diskriminasie in ongelyke betaling op grond van geslag of kleur, op seksuele teistering en op beskerming van die tradisioneel meer weerlose LGBTQI-gemeenskap. Hulle fokus ook baie spesifiek op die hotelbedryf, seisoenswerkers op plase, personeel in restaurante, en huishulpe, almal beroepe wat tradisioneel hoë risiko en lae beskerming vir werkers inhou. Interessant genoeg is die risiko vir hierdie werkers ook die tema van TV-reekse soos American Crime, waarvan die derde seisoen so pas op televisie was.

Ongelyke betaling het hierdie week ook in Brittanje onder die loep gekom toe ’n gewilde BBC-aanbieder bedank het nadat sy uitgevind het haar manlike eweknie verdien aansienlik meer as sy.

Alhoewel #TimesUp in Amerika ontstaan het, spreek dit kwessies aan wat vroue dwarsoor die wêreld raak. Met ondersteuners soos Meryl Streep, Oprah Winfrey en ander kan dit net van krag tot krag gaan.

Die Golden Globes is klaar, maar ek vermoed dat ook die Tony’s, Emmy’s en Oscars nog heelwat geleentheid vir glansaktivisme bied.

Meer as die kameraderie onder vroue, die modestellings in swart en die toenemende verpolitisering van glansgeleenthede in Hollywood, sien ek uit na die regspresedente wat hieruit kan voortspruit. Die Trump-administrasie doen hulle bes om elke siviele beskerming wat aan weerlose groepe gebied word, hulle te ontneem. #TimesUp is ’n geleentheid vir elke persoon wat omgee vir burgerregte, om betrokke te raak by ’n volskaalse, georganiseerde terugbaklei teen die boelietaktieke van die regering.

Wat egter van ons hier in Suid-Afrika?

#MeToo het, anders as in feitlik elke ander land, nie regtig posgevat nie. Jennifer Ferguson is die enigste bekende persoon wat vorendag gekom het met aantygings van seksuele geweld. Ek vind dit moeilik om te glo dat daar nie ander gevalle was nie. My vermoede is dat die dawerende stilte waarskynlik die gevolg is van ’n te klein bedryf wat deur slegs ’n paar persone in magsposisies beheer word, eerder as die gevolg van ordentlike mense wat grense respekteer. Om ’n beskuldiging teen een van daardie persone in magsposisies te maak, beteken waarskynlik professionele selfmoord.

Ons burgerregte-organisasies is verder tot groot mate in kompetisie met mekaar om uit dieselfde klein poel befondsing te bekom. Oorlewing is belangriker as samewerking. Bewegings soos #TimesUp plaas verdere druk op ons aktiviste, want geld wat andersins potensieel hierheen sou vloei, word nou in Amerika vir Amerikaanse aktivisme gebruik. Boonop kry die Amerikaanse aktiviste meer mediablootstelling, iets waarvan borge baie hou, omdat hulle toegang het tot ’n groter poel glanspersoonlikhede wat bereid is om standpunt in te neem.

Bitter min van ons plaaslike glanspersoonlikhede het die moed van hul oortuiging om hul nek uit te steek, en waarskynlik met goeie rede. Onthou nog die debakel toe Charlize deelgeneem het aan die “Real men don’t rape”-veldtog? Dis blykbaar altyd jagseisoen op ’n Afrikaanse vrou met ’n opinie. Boonop is die meeste se openbare beelde gegrond op ’n heilsame, ordentlike, nice, “don’t rock the boat”-persoonlikheid.

Dis nog nie #TimesUp vir Suid-Afrikaanse mans in magsposisies nie. Terwyl ons wag vir die gety om te verander, en terwyl ons werk daaraan om te verseker dit verander, hou ons met gretigheid ’n vinger op die internasionale #TimesUp-pols.

Want een ding is seker, #TimesUp gaan hier kom land.

Lees ook:

#MeToo: ’n oomblik, ’n veldtog of ’n blywende verandering? 

Bettina Wyngaard 
Rubrieke 

"Solank as wat vroue se pyn afgemaak word as wolhaarstories, gaan slagoffers huiwer om na vore te kom onmiddellik nadat ’n aanval gebeur het, of later."

  • 5

Kommentaar

  • Dalk net nie genoegsaam ondersteuning deur vroue vir mekaar nie. As vroue mekaar nie ondersteun nie, hoekom sal mans?

  • Een-honderd persent in die kol, Bettina!

    "Dis blykbaar altyd jagseisoen op ’n Afrikaanse vrou met ’n opinie."

    Absoluut. Want Afrikaanse mans met klein egokies voel bedreig, en die "Pak hom Pappie"-vroutjies is jaloers ...

    Daar is wel Afrikaanse mans wat gemaklik met hulleself is om na Afrikaanse vrouens met opinies te luister, maar hulle is ongelukkig in die minderheid.

  • Feminisme is besig om 'n anti-manlike venynige aktiviste-organisasie te word, nie ten doel vir vroue-gelykhede nie, want hulle non-aksies is net woorde deurgaans, ten doel vir selfverheerliking en promovering van die betrokke aktivis.
    Diegene wat dit wil aandurf, kan gerus na die volgende skakel op YouTube kyk:
    Ben Shapiro: Why The Golden Globes was a disaster:
    https://www.youtube.com/watch?v=AForm2ghzFs

  • Wat baie aanhangers van feminisme onbewus oor is, is dat Lesbiërs merendeels die voortou daarin neem:
    “According to Judy Rebick, a leading Canadian journalist and political activist for feminism, lesbians were and always have been at the heart of the women's movement, while their issues were invisible in the same movement.”[5]
    Jare lange gerugte het dit dat Oprah gay (‘n lesbiër) is. Bevestig hierdie YouTube skakel dit wel? https://www.youtube.com/watch?v=0MSGU2J49Ik

  • Onthou julle die geliefde "Judge Judy" TV programme? Laas jaar is daar 'n onderhoud met haar oor "feminism" gevoer, waarin sy as vrou in die regte, nooit gevoel dat sy ooit deur die manlike geslag benadeel was nie, en dat sy ondervind het dat die manlike geslag haar sukses in haar beroep op gelyke voet aanvaar het. Sy gee ook haar opinies weer rakende "Feminism".
    Judge Judy destroys "Feminism": https://www.youtube.com/watch?v=71TsgQavVkM

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top