#MeToo: ’n oomblik, ’n veldtog of ’n blywende verandering?

  • 1

Toe Ashley Judd die eerste keer teenoor ’n joernalis oopgemaak het oor die seksuele teistering wat sy met Harvey Weinsten moes deurmaak, het sy waarskynlik in haar agterkop gehoop dat dit van sy ander slagoffers sal aanmoedig om ook na vore te kom.

Ek twyfel egter dat sy kon voorsien het dat ander vroue in hul derduisende regoor die wêreld sou oopmaak oor hulle ervaringe aan die hand van ander mans, in ander kontekste. Ek twyfel of sy kon voorsien het dat sy lidmaatskap van die Academy opgeskort sou word, en dat daar nou druk is om Roman Polanski, Woody Allen en Bill Cosby ook uit te skop.

Op sosiale media het vroue onder die #MeToo-hutsmerk hul eie ervarings begin deel. Ek het ook, na baie wik en weeg. Gewoonlik besluit ek binne oomblikke watter status ek gaan pos, en doen dit sonder om twee keer te dink. Hierdie keer nie. Hierdie keer het ek minstens vier verskillende weergawes begin pos, en dit elke keer uitgevee. Ek het uiteindelik op ’n eenvoudige swart-wit foto met die woorde “Me, too” besluit. Maar dit het my aan die dink gesit. Ek is nie ’n wilting wallflower wat my menings vir myself hou nie, selfs wanneer ek weet dit gaan negatiewe reaksie uitlok. Hoekom het twee eenvoudige woorde my amper gestuit? As ek gehuiwer het, wat van ander vroue wat minder geredelik uitpraat? Wat van ander vroue (en mans) wat steeds die trauma van wat met hulle gebeur het, probeer verwerk? En wat presies beteken dit wanneer mense daai twee woorde op hul sosiale media plaas?

“Me, too” sonder die hutsmerk is nie ’n nuwe idee nie. Gedurende 2006–2007 het Tarana Burke, ’n Amerikaanse aktivis, ’n ondersteuningsnetwerk vir minderbevoorregte swart slagoffers van seksuele geweld en seksuele uitbuiting geskep in gebiede waar daar gewoonlik nie ’n spesialis sentrum is om slagoffers te help nie.

Hierdie week het Burke se breinkind met ’n hutsmerk viraal versprei. Binne 24 uur het, volgens Facebook, 4,7 miljoen gebruikers die hutsmerk gebruik, met meer as 12 miljoen statusse, kommentaar en reaksies. Vir dieselfde tydperk het 825 000 Twitter-gebruikers die hutsmerk gebruik. Dit is ook wyer gebruik, om alle vorme van seksuele teistering, onvanpaste opmerkings, vuil grappe ens in te sluit.

Dis hartverskeurend hoeveel vroue een of ander vorm van gedwonge seksuele aandag moes verduur. Dis veral hartverskeurend om te besef hoeveel vroue nie daaroor kan praat nie. Soos een persoon in ’n Facebook-kommentaar opgemerk het: “Net omdat ek nie #MeToo op my blad sit nie, beteken nie dit het nie met my gebeur nie.”

Ek het die keuse gemaak om dit wel op my blad te plaas omdat ek weet dit maak dit makliker vir die volgende een, en die een daarna, en die een daarna om oor hulle ervarings oop te maak. Ek verstaan egter wel dat sommige mense verkies om eerder stil te bly, en die redes daarvoor het ek ook op Facebook sien uitspeel. Een van my Facebook-vriende het #MeToo op haar blad geplaas, en een van haar vriende het kommentaar gelewer dat dit ’n grap moet wees, dit kan nie waar wees nie. Sy is nie geglo nie, deur iemand wat haar al jare persoonlik ken. Wanneer ’n vrou seksuele teistering/aanranding beweer, moet sy altyd die ongeloof van mense rondom haar bestry.

Die bekende aktrise Gabrielle Union het vertel hoedat sy as tiener tydens ’n rooftog by die winkel waar sy gewerk het, met ’n vuurwapen gedreig en verkrag is. Mense het nog steeds agterna gevra wat sy aangehad het.

Jennifer Ferguson, sangeres en gewese LP in Suid-Afrika, het ook hierdie week op haar blog geskryf dat ’n bekende sportadministrateur haar 24 jaar gelede in ’n hotelkamer in Port Elizabeth verkrag het. Die victim-blaming het dadelik begin. Hoekom praat sy nou eers? Hoekom het sy nie toe gepraat nie? Sy soek net aandag.

Dis juis in reaksie hierop dat ’n ander hutsmerk die ronde begin doen het: #Ibelieveyou. Solank as wat vroue se pyn afgemaak word as wolhaarstories, gaan slagoffers huiwer om na vore te kom onmiddellik nadat ’n aanval gebeur het, of later.

Dan is daar diegene wat reken daar is ’n skaal van afgryslikhede. Om deur ’n vreemdeling verkrag te word is erger as om deur ’n bekende verkrag te word. Om deur iemand van ’n ander ras verkrag te word is erger as om deur iemand van dieselfde ras verkrag te word. As jy nie half bewusteloos in die hospitaal in geslaan is tydens die aanval nie, is dit nie so erg nie. Asof een se lyding meer of minder saak maak as ’n ander s’n.

Boonop is dit wat ons onsself wysmaak. Wat met my gebeur het, is nie so erg soos wat met X gebeur het nie. Miskien is ek besig om te oorreageer. Miskien is ek oorsensitief. Intussen vreet die wete dat iets verkeerd is, aan jou binneste.

My hart gaan uit na elke slagoffer. My hart gaan uit na elke vrou wat die afgelope tyd op sosiale media oopgemaak het oor hul trauma. Maar my hart gaan veral uit na elke slagoffer wat nie die vrymoedigheid het om met enigeen te praat oor wat met haar gebeur het nie, ongeag hoe gering of hoe ernstig die oortreding teen haar was.

Die vraag is, wat gebeur volgende? #MeToo het gebeur, #Ibelieveyou het gebeur, Harvey Weinstein is besig om die gevolge van sy dade te voel; ander sekspeste sidder, want hulle weet nie wanneer een van hulle slagoffers gaan uitpraat nie. Maar wat gebeur daarna?

Tarana Burke sê die volgende: “A moment is not a movement. This is a moment ... True change can only happen when men change their behaviour. For that to happen, we need to have serious conversations with men about consent, about privilege, about toxic masculinity.”

Dis inderdaad ’n oomblik. Ons het al ander sulke oomblikke gesien. Die 1-in-9-veldtog het gebeur as ’n direkte gevolg van die Khwezi-verkragting. Na Anene Booysen was daar hernude uitsprake en optogte in protes teen geweld teen vroue. Selfs die terme is problematies. “Geweld teen vroue” – wie pleeg die geweld? Dis tog nie ’n passiewe ding wat met vroue gebeur nie. Dis ’n aktiewe handeling wat deur persone, meestal mans, gepleeg word.

Ware verandering sal eers kom as ons ons seuns anders begin opvoed. Ware verandering sal eers kom as ons mans verantwoordelik hou vir hulle dade. Anders sal #MeToo net nog ’n oomblik wees wat oor tien jaar weer opvlam, terwyl niks intussen verander het nie.

  • 1

Kommentaar

  • Anthony Wilson

    Dankie Bettina vir weereens 'n baie insigewende artikel van opperste belang! Kom ons wees eerlik. Dit is 'n sekere tipe man want vroumense verkrag en andersom. Ons hoor menige maal dat verkragting gaan nie oor die seks nie maar die mag wat die blikemmer uitoefen. Ek as man kan my nie eers indink in so situasie nie. As akteur, as ek in so toneel moet speel, sal ek dit moet skep deur die verbeelding of aan die hand van vorige voorbeelde. Dit sal seker nooit ophou nie vir solank as wat dié pervs redes daarvoor wil vind nie; selfs al gaan ons ons seuns grootmaak met 'n bewustheid HOE verkeerd dit is. En ... hoe belangrik respek is. Ek onthou 'n film waar Antonio Banderas kinders uit 'n agtergeblewe gemeenskap leer dans het. Toe een van die ouers die belangrikheid daarvan bevraagteken toe sê hy: "Hierdie seuns leer om aan 'n meisie te vat en met haar te beweeg met respek vir haar lyf en die KUNS wat hulle beoefen." Dit was vir my baie treffend want daai respek tussen die twee geslagte veral op 'n vroeë ouderdom help teen die wandaad of gruwel van verkragting. Ons kan net hoop en bid!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top