Tim Huisamen: Ons is dankbaar

  • 2

...
Tim se liefde vir musiek en kuns was welbekend, en sy geesdriftige betrokkenheid by teater het lewenslank geduur, maar sy diepste passie en toewyding was altyd tot die letterkunde.
...

Tim Huisamen (gebore 1948) sterf vreedsaam op Donderdag 4 September in die Brookshaw-ouetehuis op Grahamstad/Makhanda. Die unieke leegte wat deur die heengaan van so ’n merkwaardig warm en vrygewige vriend, leermeester, boekeliefhebber, storieverteller, mens … agtergelaat is, word nie maklik gevul nie. Rhodes-universiteit en die plaaslike gemeenskap, soos ook ’n veel wyer spektrum letterkundige, teater- en ander kultuurinstansies, sal die verlies van so ’n groot gees lank nog voel.

 

Tim se liefde vir musiek en kuns was welbekend, en sy geesdriftige betrokkenheid by teater het lewenslank geduur, maar sy diepste passie en toewyding was altyd tot die letterkunde. Wat Tim die meeste van boeke gehou het, was nie die skrywers se slimmighede of moderniteit, of hul gejaag na eietydse modes nie, maar eerder wat die letterkunde oor menswees  openbaar, wat boeke ons leer oor die dinge wat in ons menselewens bystaan, die dinge wat hy instinktief in sy eie lewe bewys het: warmte, medemenslikheid, geesdrif, vrygewigheid, vreugde, omgee, humor, pyn, weemoed. Dit is die eienskappe waarvoor hy deur geslagte van sy vorige studente, kollegas en talryke vriende die beste onthou sal word.

Tim begin in 1976 as dosent te Rhodes klasgee en tree aan die einde van 2013 af, maar hy hou steeds aan met lesings tot in Julie vanjaar. Wat Tim van ander letterkundige akademici onderskei het, was nie sy navorsing of publikasies nie, en ook nie sy belangstelling in literêre teorieë nie, maar eerder sy diepgaande, hartstogtelike begrip van die wesenlike van skeppende kunswerke. Sy legendariese belesenheid het hom in staat gestel om die een kundig geskrewe en insigvolle openbare lesing na die ander aan te bied, nie net oor Afrikaanse en Nederlandse boeke nie, maar ook oor grootse werke van Russiese, Spaanse, ook Duitse romanskrywers en dramaturge.  Sy invloed  op geslagte van studente in Afrikaans en Nederlands, asook in moderne fiksie en drama sal jare lank nog duur. Die plaaslike Shakespeare-leesgroep sal sy immer opgewonde deelname aan die maandelikse leessessies kwaai mis.

Dat daar diepe droefheid in Tim se lewe was, is onteenseglik, maar hy het sy swaar moedig gedra, sonder om te kla. Ons is dankbaar dat ons so lank die groot voorreg geniet het om hom as deel van ons gemeenskap te hê.  

Slaap sag, liewe Tim.

(Foto’s: Izak de Vries)

Lees en kyk ook:

Sal ons ou vriende ooit vergeet?

Die Nasionale Kunstefees, waar oud en nuut vervleg

Tim Huisamen deel herinneringe oor André P Brink

  • 2

Kommentaar

  • Dankie vir hierdie hartroerende huldeblyk aan Tim, Malcolm. Ek was altyd verstom oor sy kennis van alles onder die son. Gesprekke met Tim oor 'n koppie tee was altyd 'n vreugde soos min. Hy was 'n mensch par excellence.

  • Marius Bakkes

    Tog gaaf dat ek onlangs nog 'n heerlike week saam met Tim en enkele vriende in my huis in die bos buite Hoedspruit kon deurbring. Tim was 'n lewensgenieter, maar ons het nie toe, tussen al die verwysings, wyshede en kwinkslae, kon reken dat dit die laaste groot aansit was nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top