Sal ons ou vriende ooit vergeet?

  • 0

Wannie Carstens skryf op Facebook:

Ek sien die afgelope tyd hoe berigte op Neerlandistiek.nl toeneem van Nederlandse taal- en letterkundiges wat oorlede is. In die uitgawe van 8 September sommer twee. Mense wat oor lang loopbane besondere bydraes gelewer en geslagte studente opgelei en geïnspireer het. Van hierdie persone se publikasies was/is die leidende bronne oor aspekte van die vakgebied.

So op die vooraand van die komende ALV-vergadering in Bloemfontein het Tim Huisamen (Rhodes) se onlangse afsterwe my laat besef dat ook in die wêreld van Afrikaanse taal- en letterkunde so ’n proses besig is om plaas te vind. Dit is die natuurlike verloop van die lewe dat dit sal gebeur, maar dit is miskien tog nodig om te besef watter groot bydraes hierdie persone gelewer het en watter impak hulle op soveel vlakke gehad het.

Ek herinner my aan die afsterwe van oud kollegas soos:

  • Roy Pheiffer (UCT) in 2006
  • Fritz Ponelis (US) in 2009
  • Henning Snyman (UCT) in 2017
  • Christo van Rensburg (UV, UP) in 2018
  • MM Walters (UCT) in 2020
  • Piet Swanepoel (Unisa) in 2023
  • Jacques van der Elst (NWU) in 2023
  • Diek van Dyk (RAU) in 2023
  • Kas Landman (Unisa)
  • Hans du Plessis (NWU) einde 2024.
  • En pas in September Tim Huisamen (Rhodes).

Frikkie Lombard van die WAT is in Mei 2025 oorlede.

Ek kon nie vasstel wanneer Dawie Steenberg en PD van der Walt (PUCHO) of Barbara Bosch oorlede is nie. Voeg gerus by ter wille van die rekord.

Al die bogemelde kollegas se name staan vas in ons wêreld.

Dan besef ek dat ’n geslag impakmakers, staatmakers en leidende figure in die Afrikaanse taal- en letterkunde besig is om te verdwyn. Dit is die mense wat gehelp het om die vakgebied te vestig en te ontwikkel deur hulle publikasies en hulle vakkundige leiding van verenigings. Adri Breed het in haar artikel in TGW 65(1) oor “Die ontwikkeling van die Afrikaanse taalkunde as ’n vakdissipline” hierdie persone se bydraes in die vestig en ontwikkel van die Afrikaanse taalkunde gedokumenteer. In Storie van Afrikaans, deel 2 (2019) het ek die kernpublikasies van taalkundiges sedert 1900 genoem. ’n Kyk na Perspektief en profiel maak dit duidelik dat ook in die letterkunde etlike stemme stil geword het.

Talle kollegas wat in die 1960’s en 1970’s met hulle loopbane begin het en sedert die vroeë 2000’s afgetree het, het reeds na die agtergrond geskuif, dikwels pla hulle gesondheid en hulle mobiliteit neem af. Hulle eens heldere stemme het stil geword en min publikasies word nog gelewer.

Ek dink aan taalkundiges soos Edith Raidt (reeds 92), Vic Webb, Ernst Kotzé, Jac Conradie, Frank Hendricks, Nerina Bosman, Rufus Gouws, Leon de Stadler, Marietta Alberts, Theo du Plessis, Anne-Marie Beukes, Anna Coetzee, Willem Botha (UJ), Willem Botha (WAT) en ook ekself. En ander wat ek waarskynlik vergeet het. Jammer!

Ek kan die name onthou van letterkundiges wat die afgelope paar jaar afgetree het, soos Hennie van Coller, Steward van Wyk, Hein Willemse, Heinrich Ohlhoff, Helize van Vuuren, Heilna du Plooy, Hein Viljoen, Joan Hambidge, Henriette Roos, Ronel Johl, Franci Greyling, Bernard Odendaal, Etienne van Heerden, Ena Jansen, Louise Viljoen, Marisa Keuris. Vul gerus aan ter wille van die rekord.

Van hierdie mense publiseer wel nog gereeld en hou aan om kernbydraes te lewer, soos in die onlangse TGW-uitgawe (65(1)) rakende Afrikaans Amptelik 100.

Hierdie mense verteenwoordig ’n beduidende deel van die geskiedenis van ons vakgebied. Dit is opvallend dat daar op Wikipedia min inligting is oor van hierdie persone se loopbane en bydraes. Die inskrywing oor Fritz Ponelis, een van Afrikaans se grootste taalkundiges, is byvoorbeeld een paragraaf lank. Dit kan tog nie so wees nie. Self het ek en Ernst Kotzé gesorg dat die inligting oor Edith Raidt op datum is.

Dit is miskien die taak van vakverenigings (soos die ALV, Salals) en ook die huidige generasie, wat onder die bogenoemde persone se leiding gestudeer het, om dit wel te doen. Is dit hoe ons die voorlopers wil onthou?

Lees ook:

Hoe sê ’n mens totsiens aan ons geliefde prof Jacques?

Kettinggesprek: Wannie Carstens gesels met Frank Hendricks oor Kaaps in fokus

Kettinggesprek: Charlyn Dyers gesels met Wannie Carstens oor Ons kom van vêr

Waar lê die uitklophou vir Afrikaans?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top