Tienermeisies vertel self oor hulle ervarings van die grendelstaat

  • 0

Foto: Ngo Tuan Anh (Pixabay)

Was die grendelstaat ’n tyd van van vordering of verskonings?

Christelle Fürstenburg het by tienerdogters gaan aanklop om uit hul monde te hoor hoe hulle 2020 en die pandemie ervaar – van die afwagting en opwinding met die aanbreek van die nuwe jaar, tot nou met jaareinde wat wink; ook om die bestaande uitdagings te aanvaar en hoe om vorentoe te gaan.

Dié onderhoud volg op Danie Kloppers se artikel op LitNet Akademies rakende tienerdogters se stemme tydens die grendelstaat.

Suid-Afrikaanse tienerdogters staar dieselfde uitdagings in die gesig as ander tienerdogters oor die wêreld en die manier waarop die tienerdogters in hierdie artikel hul frustrasie, angs, bekommernis, verwardheid, vreugdes en blydskap nou ervaar, stem ook nou ooreen met dié van die groep met wie Kloppers gepraat het.

Persoonlike groei

Sedert die instelling van grendeltyd staan persoonlike groei vir dié groep dogters in die besonder uit. Hulle het nou meer selfvertroue, het onafhankliker geraak, glo in harde werk en het vinnig geleer om aanpasbaar te wees, want “Ons het geen beheer oor die toekoms nie.”

Opvallend is dat van dié dogters se stemme stiller geword het; hulle het ernstiger geraak, is meer teruggetrokke en meer volwasse, sodat hulle nie aldag meer oor tienergoed of lawwighede wil gesels nie.

Annelize Tolmay

Annelize Tolmay

Die 15-jarige Annelize Tolmay, ’n graad 10-leerder aan Hoërskool Fochville in Noordwes, se grootste les wat sy sover in die pandemie geleer het, is om haarself te wees. “Wees net jouself. Ek weet almal sê dit altyd, maar jô, ek het besef ek ken myself nou beter en gaan nie meer wees soos sekere mense wil hê ek moet wees nie, want dit het soveel van my eie geluk gesteel. As jy net jouself is, gaan die regte mense wat vir jou saak maak, van jou hou.”

Vir Annelize is die afskop van grendeltyd met groot opwinding onder haar en haar vriende ontvang – hulle het uitgesien na ’n onverwagte heerlike lang vakansie. Toe die realiteit insink, het die opgewondenheid tot groot bekommernis verander en het sy besef sy gaan groot dinge misloop wat vir die jaar by die skool beplan was, soos haar gunstelingsport, hokkie, en die hoogtepunt van geesvang wat daarmee heen is.

“Ek het baie in dié tyd verander. Ek het gegroei in verskeie opsigte en het baie meer verantwoordelik geraak. Aanlyn leer met skoolwerk was glad nie vir my effektief nie. Dit was jou eie verantwoordelikheid om die werk te doen. Ek moes myself ook weer leer hoe om te studeer, wat positief is.”

Hulle is nou terug by die skool en sy sien haar vriende, maar “jy kyk vas in maskers, en kan nie agterkom wat in jou vriende se oë skuil nie. Voor grendeltyd het ek van skool gehou en nie van die werk nie. Skool is nou nie meer lekker nie. Ons werk net en moet geweldig gefokus bly. As die onderwyser ’n grappie in die klas maak en jy sit daar doer agter, dan hoor jy dit nie. Dié is nie meer die ideale skoolsituasie nie.”

Annelize sê dit help om te weet dit is nie net jy wat hierdeur gaan nie; almal is geraak. Sy sien ook verandering onder die skoolkinders, dat hulle mekaar nou makliker aanvaar as voorheen, en het meer begrip vir ander se sieninge met minder vooroordele.

Macaylah Bailey

Macaylah Bailey

Vir die 17-jarige Macaylah Bailey, ’n matriekleerling van Barkly-Wes, het sy baie deur die jaar verander. Die jaar het begin met groot optimisme en in die begin van die grendeltyd was sy nog vol optimisme. Dié matrikulant het in April met LitNet haar gedagtes gedeel, en nou op die vooraand van haar finale skooleksamen, het soveel in haar verander.

Macaylah wou graag haar laaste skooljaar ’n jaar van herinneringe maak, nou het sy teruggetrokke en stiller geraak en haar vriende ook. Sy voel onseker oor die toekoms, maar besef: “Ons is die toekoms. Ons moet dinge verander.”

Sy gaan volgende jaar verpleging studeer. Toe die virus al nader aan dié klein Noord-Kaapse dorp kruip, wou sy haar beroepskeuse verander, maar voel sterk dit is wat sy wil doen, “omdat ek ’n verskil wil maak”.

Teen Junie was sy met vrees oorval, omdat onderwysers by haar skool siek geword het. “Ons het nooit gedink mense sal hier in ons klein dorp siek word nie en nou is daar al mense dood. Om my eie vrees te oorwin, het ek besef as ek mense help, kan ek ’n verandering in ons wêreld bring en sien uit na my studies omdat ons nou meer gewoond geraak het aan hoe dinge is.”

Macaylah sê sy is bekommerd oor hoe sy as jongmens haar drome gaan uitleef met die land se ekonomie. “Elkeen van ons kan help om die ekonomie te verbeter, maar dit moet by die regering begin deur die regte mense aan te stel, met die regte kwalifikasie en korrupsie wat moet gestop moet word.”

Sy het in dié tyd leer brei en bak en kan nou met selfvertroue haar piesangbrood aanbied.

Haar grootste les van die jaar sover is om aanpasbaar te wees. “’n Mens kan nie vashou aan een ding nie. Goed verander en ons het geen beheer hieroor nie. Daarom is dit belangrik om jou beste te gee, en jouself te wees. Harde werk bring sukses en as daar iets is wat ek vanjaar geleer het, is dit om meer gefokus op my werk te wees en om my beste te gee.”

Solange Manual

Solange Manual

Die 16-jarige Solange Manual, wat nou in graad 10 by Hoërskool Bloemhof in Stellenbosch is, onthou sy het aan die begin van grendeltyd “histeries gevoel”. “Ek wil begin huil as ek hieraan dink, want ek wens iemand kon my gewaarsku het oor die jaar wat vir ons voorlê en dat elkeen moet weet hoe belangrik dit is om jou tyd en vryhede reg te gebruik.”

Sy was gefrustreerd om nie haar vriende te kon sien nie en het begin bang voel. Boonop moes sy die groot uitdaging hanteer om sonder ’n selfoon te wees, omdat haar foon in dié tyd gebreek het.

“Ek het eensaam gevoel en was verveeld in die begin,” sê sy, maar dinge het gedraai. Sy wil vir elke jongmens sê vat elke geleentheid wat na jou kant met albei hande aan, gebruik jou tyd en geniet jou lewe. “Ek kan nie wag om Europa eendag te gaan plat toer nie.”

Solange het, na sy deur die verveling gewerk het, besef dat sy nou die tyd het om op haarself te fokus. Sy voel vandag vreeslik dankbaar hieroor, want sy kan net ’n beter mens raak deur na haarself om te sien en om haarself lief te hê. Sy het begin gesond eet, oefen en bid meer gereeld, en probeer mense om haar te help.

In die tyd van die pandemie het sy besef watse wonderlike familie sy het en het dit net nie vroeër raakgesien nie. Sy waardeer haar onderwysers ook nou baie meer as vroeër en sal nie deurkom sonder hulle nie. Aanlyn leer is vir haar “’n groot nee, omdat onderwysers die werk net soveel beter verduidelik”.

Oor die tyd waarin ons is sê sy daar was beslis goed ook in sover gewees, maar dit is nou meer as genoeg en sy vertrou dat ons gou oor die pandemie gaan wees.

Monet Kleynhans

Monet Kleynhans

Die matrikulant Monet Kleynhans, nou 18 jaar oud, van Hoërskool Lichtenburg in Noordwes, het sedert die pandemie volwasse gesprekke begin verkies, en het stiller geword in die tyd.

Dit is vir haar opwindend om te weet sy is deel van ’n baie historiese tyd – juis in haar matriekjaar – en dat sy eendag sal kan vertel van hoe dié jaar heeltemal anders uitgewerk het as wat sy verwag het. Sy voel dit is nou soos die flieks wat mens oor die einde van die wêreld sien, en dat sy in so ’n fliek speel.

Sy koester die feit dat sy in haar laaste skooljaar kon besef hoe belangrik haar familie is en waar sy meer tyd saam met hulle kon spandeer het en nader aan mekaar gegroei het juis waar sy volgende jaar uit die huis gaan.

Moedeloosheid was ’n ander worsteling, want met elke verlenging was die skoolwerk net nog meer. Dit was baie frustrerend met tye, want die druk met die skoolwerk was baie erg.

Monet het met ander oë na onderwysers begin kyk. Hulle werk hard en probeer hul bes om die leerders soveel moontlik te ondersteun, en sy het nou baie meer respek vir hulle. Daar was baie kinders in haar graad wat gesukkel het met internettoegang en data en sy het dié kinders werklik jammer gekry, want grendeltyd was baie nadelig teenoor dié skoliere.

“Ek was baie negatief oor hoe die jaar was, maar besef dit is wat jy hiervan gaan maak. Tog, met alles wat ek geleer het vanjaar, is ek bang vir volgende jaar wanneer ek Tukkies toe gaan, want ek is ’n stranger danger-mens en is bang mense dink ek is vreemd omdat ek van die platteland kom. Ek weet wel al kap ek koppe met mense, sal dit ook goed uitdraai na ons moeilike jaar vanjaar,” sê Monet.

Anél Ghalpie

Anél Ghalpie

Die 15-jarige Anél Ghalpie het in die begin van grendeltyd ongelukkig en baie ongemotiveerd gevoel. Sy het haar vriende geweldig gemis en sy en haar vriende het hul bes probeer om slegs met video-oproepe met mekaar te gesels, want dit was vir hulle belangrik om mekaar se gesigte te sien as hulle gesels het.

Sy was ook baie bang toe haar pa, wat diabeties is, die koronavirus opgedoen het. Hy het herstel, maar dit was ’n baie moeilike tyd vir haar en haar gesin.

Anél se dankbaarheidsjoernaal

Anél, wat nou in graad 9 in Hoërskool Bloemhof in Stellenbosch is, het deur die moeilike tye gekom deur elke oggend drie goed neer te skryf waarvoor sy dankbaar is, wat gehelp het om op die positiewe te fokus. Haar familie, vriende en gesondheid is nou nog dié drie goed wat sy die meeste waardeer.

Een van haar skilderye

Sy het in dié tyd haarself leer skilder, waarop sy baie trots is. Omdat sy die natuur so gemis het, het sy dit gewaag om natuurtonele te verf.

Anél is gek daaroor om aanlyn te leer, want dit het haar meer verantwoordelik gemaak. Om in die grendeltyd te moes aangaan met skoolwerk het haar gehelp om beter voor te berei en sy het ook besef hoe beter jy jou tyd organiseer, hoe beter.

Die les wat sy geleer het, is dat dit belangrik is om op skoolwerk en jouself te fokus en om nie met skoolwerk agter te raak nie. Sy het ook besef dat onderwysers ’n lewe en hul eie gesinne het en dit help om hulle nou beter te verstaan.

Janayé Pretorius

Janayé Pretorius en Laika

Die 18-jarige Janayé Pretorius van Hoërskool Fochville in Noordwes het gevoel dat as dit moontlik was, die jaar net te kanselleer. Teen Mei was sy so negatief oor die toekoms en het sy gewens sy kan net begin met volgende jaar, want daar is ’n lewe wat wag.

Janayé, wat vanjaar hoofmeisie is, het ontneem gevoel om nie die leierskaprol te kon vervul nie, omdat soveel projekte wat sy saam met die ander hoofleiers wou aanpak, onder haar voete uitgeruk is. Met die pandemie sien sy onderwysers anders as vroeër, en is dit vir haar ongelooflik hoe onderwysers soveel opoffer ter wille van die skoolkinders.

Met haar leierskaprol wat Janayé nie kon uitleef soos vorige jare se hoofleiers nie, wil sy graag vir enige jongmens in dié stadium sê: “Leef elke dag asof dit jou laaste dag is, en doen alles wat jy aanpak na die beste van jou vermoë. Bly jouself en jy sal sterker uitdraai as wat jy ooit kon glo jy kan.”

Mea Colyn

Mea Colyn

Die 15-jarige Mea Colyn het haar ouers gesmeek om haar vriende in die begin van die pandemie te kon sien, omdat sy baie sosiaal is. Die realiteit van die inperking was vir haar net te veel en sy moes wanneer sy met haar vriende praat, video-oproepe maak om hulle gesigte te kon sien.

Sy het ontvlug deur haar musiek te probeer verbeter en het soveel sy kon haar viool, kitaar en die ukulele beoefen.

Dit was vir Mea opvallend dat tienermeisies hul tyd anders as tienerseuns gebruik het. Die meisies het hulself besig gehou met stokperdjies en skoolwerk, en gereeld met vriendinne gesels, terwyl die seuns feitlik almal net aanlyn speletjies gespeel het. Sy sê die geweld van die aanlyn speletjies is wat die seuns gehelp het wat nie byvoorbeeld rugby kon speel nie.

“Ek was gefrustreerd omdat die begin van die pandemie tydloos gevoel het met geen roetine nie, soos byvoorbeeld ons het geen datums gekry vir skoolopdragte nie. Dit het gevoel jy het niks om voor te leef nie en ek het vreeslik na die geselskap van my vriende verlang.

“Die begin van die grendeltyd het vir my soos ’n mors van belangrike skooltyd gevoel, want die eerste positiewe Covid-geval in ons dorp was eers in Junie en ons kon nie skool toe gaan nie tot dan. Pleks hulle het die kleiner dorpe eers later ingeperk.”

Mea sê sy besef die groot impak van die pandemie op die wêreld en dat ons in dié historiese tyd deel is van ’n soveel groter prentjie. “Dit voel of ek eendag een van daardie mense in die geskiedenisboeke gaan wees met dit wat ons nou beleef en dat ons eendag as ek groot gaan wees baie stories gaan hê om te kan vertel, al is dit nie altyd lekker nie.”

Sy het baie meer geduldig geraak in die afgelope maande en so ook baie meer begin omgee vir ander. Omdat almal deur die pandemie geraak is, is daar groter aanvaarding onder mekaar, maar sy mis drukkies nog geweldig baie.

Mea moes dié jaar haar vakkeuse maak vir volgende jaar en dit was baie moeilik, omdat sy effektief net een kwartaal gehad om die vakke te kon ervaar en daaruit moes besluit vir volgende jaar.

As sy met ander haar grootste les kan deel wat sy in die pandemietyd geleer het, is dit dat jy self bepaal of jy ’n lewe gaan hê van vordering of vol verskonings. “Ek het ook geleer om voluit te leef. Jy weet nie of jy ’n môre gaan hê nie. Net jy kan besluit hoe jy jou tyd elke dag gaan gebruik, en ek wil nie terugkyk na ’n tyd vol verskonings nie.”

Lees ook:

Tieners vol angs, al wedywer hulle vir sterretjies

“We are not just stats and facts!” Tienerdogters se stemme tydens die grendelstaat

Gedagtes van ’n matrikulant ten tyde van die koronavirus

Persoonlike foto’s verskaf en geplaas met ouerlike toestemming.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top