Ek is ’n matrikulant van Barkly-Wes Hoërskool in die Noord-Kaap en die koronavirus kon nie op ’n slegter tyd gekom het nie. Alles was perfek beplan vir 2020, ons teikens vir spesifieke vakke, ons matriekafskeid en ons drome.
Een oomblik is ek opgewonde omdat ek vanjaar die skool verlaat, maar toe kom daar ’n virus wat die hele wêreld stop sit. Die koronavirus bring baie uitdagings/struikelblokke op ons pad. Dit het ’n negatiewe impak op ons matrikulante want hierdie is ’n baie belangrike jaar vir ons. Dis die jaar wat ons maak of breek.
Die werk
Die leerders sal baie sukkel want daar word geen klasse aangebied nie. Ons skoolhoof het ’n WhatsApp-groep gevorm maar nie almal is bevoorreg om ’n “smart phone” te hê nie en data is baie duur. Ons werk aanlyn, maar ons kry nie daardie ekstra leiding en motivering vanaf die onderwysers nie.
Ons het eksamenriglyne wat ons guide, maar soms verstaan ons nie die onderwerpe so lekker nie. Onderwysers help baie, maar is nie altyd beskikbaar wanneer ons hulle nodig het nie. Soms vat die boodskappe lank om deur te kom, dan het ander leerders al aanbeweeg na ander gedeelte van die werk. Ons klas is nie op dieselfde bladsy nie.
Die WhatsApp-groep kan voordelig wees vir die leerders met “smart phones” – ek is een van die gelukkiges – ons is heeltyd aan ons onderwysers geconnect, maar diegene wat nie ’n “smart phone” het nie, sal tydens die tweede kwartaal agter wees met die werk.
Die druk
Die virus plaas ons onder druk, want op die einde van die dag soek ons goeie resultate en ons wil ons ouers tevrede stel, maar nou kom daar so baie “what ifs” by ons op.
Matriekafskeid
As ’n matrikulant was dit my begeerte om die afskeid by te woon. Ons droom al vanaf graad een oor hoe ons daardie aand die mooiste sal wees en ewe skielik kom die virus en plaas alles tot stil stand. Nie dat jou matriekjaar oor ’n afskeid gaan nie, maar tog is dit een van die mooiste aande in ons lewe.
Dis ons finale jaar met ons skoolvriende. Volgende jaar weet ons nie of ons mekaar gaan sien nie, want ons beweeg in verskillende rigtings. Met die virus kan ons nie eens mekaar nou sien nie.
Laaste gedagte
Wat my die meeste bekommer is, wanneer begin skool weer? Ons weet nie sal ons hierdie jaar ons matriek voltooi nie, want alles het tot ’n stilstand gekom. Ons het soveel drome gehad vir volgende jaar, om universiteit toe te gaan en ons passie uit te leef. Nou weet ons nie wat gaan gebeur nie.



Kommentaar
Ek hou baie daarvan want dit beskryf duidelik die druk van die virus situation op matrikulante.
Macaylah jy kon dit nie beter stel nie. Ek bekommer my elke dag, wat as die skool nie gaan oop maak nie, want die departement van onderwys sê ons sal die jaar skryf, selfstudie is nie n opsie nie dit is nie genoeg vir ons om matriekeksamen aan te pak nie, omdat daardie resultate ons toekoms sal bepaal.
Ek stem saam. Het self 'n dogter in matriek. Dis frusterend want soms sukkel jou kind om in the gaan in die app en die wolkskool stuur jou van die een punt na die volgende. Ek voel daar is nie genoeg ondersteuning of hulp vir julle nie.