
John Maytham en Emma Kotze (Daniel Rutland Manners)
Naomi Meyer praat met Emma Kotze oor ’n produksie in die Kunstekaap waarin Emma binnekort te sien is.
Emma, jy’s binnekort op die Kunstekaap se verhoog in die produksie The killing of a union leader. Jy was al te sien op die wye doek en TV – en natuurlik ook baie dikwels op die verhoog. Wat geniet jy van elkeen van die verskillende ruimtes?
Ek geniet die tegniese element van film en televisie geweldig. Om te probeer verstaan waar die akteur in die geheelbeeld inpas is regtig pret. Ek het ook onlangs die geleentheid gehad om ’n kortfilm te vervaardig, wat regtig vir my die geleentheid gegee het om al die “binnewerke” van film beter te verstaan. Niks hou egter vir my kers vas by die kuns van storievertelling wat teater vereis nie. Mens het net dié één geleentheid om die storie by die gehoor tuis te bring, maar daarmee saam is elke gehoor anders en word hulle dan byna nóg ’n medespeler. Daardie fyn spel is wat my aanhou teruglok na die teater, as akteur én as gehoorlid.
Waaroor handel The killing of a union leader?
Die toneelstuk handel oor ’n dodelike werkerstaking en die korrupsie wat daarmee gepaardgaan. ’n Industriële leier, Burke, werk saam met sy dogter, Margot, om die vakbond te vernietig, wat lei tot toenemende spanning en gewelddadige konflik. Deur die verhaal ondersoek die toneelstuk temas van hebsug, mag, korrupsie en die stryd tussen werkers en dié wat in beheer is.

Sizwesandile Mnisi en Carl Beukes (Foto: Daniel Rutland Manners)
Die gehoor maak deur die loop van die toneelstuk kennis met vier karakters: Burke, Margot, Gibson (’n vakbondlid) en Dobs (’n politikus). Al vier karakters het duidelike behoeftes wat hulle vervul wil hê wat weens die voorafgaande konflik nou op die voorgrond geplaas word. Alhoewel die toneelstuk groot temas aanpak wat universeel identifiseerbaar is, delf dit ook diep in die menslike psige in om te probeer verstaan hoe ver ’n mens / mense bereid is om te gaan om te kry wat hulle wil hê.
Wie is jou karakter? Watter aspekte van jouself moes jy ontgin om in haar vel te kon klim en daarin rond te loop?
Ek speel Margot. Louis skroom nooit daarvan weg om die donker kant van die mens te ondersoek nie. Dit is altyd ’n uitdaging wanneer mens sy werk aanpak om vrede te maak met die feit dat hierdie donkerte dalk ook binne-in jou woon en dat jy jouself moet toelaat om dit te ondersoek om die karakters eerlik te kan weergee.
Wanneer is die stuk te siene?
Die toneelstuk is vanaf 12 Mei tot 30 Mei op die planke by die Kunstekaap-arena.
In die era van KI: Waarom sou jy mense aanmoedig om steeds lewende teater te ondersteun – dalk nou, meer as ooit?
Ek dink die antwoord lê reeds in jou vraag. Dit is lewend. Op ’n manier dink ek, of dalk hoop ek, dat KI mense meer gereeld in die teater sal kry. Daar is nou nie meer twyfel oor die vraag of wat ons aanlyn beleef, werklik is of nie. Tevore dink ek het mense nog naïef kon inkoop op glanspersoonlikhede en aanlyn “werklikhede”, maar nou wéét ons dit is kunsmatig. Dit is in die naam en selferkentlik. Daar is geen meer kulkuns nie. Ek hoop dat dit mense sal teruglok na die teater, want daar is geen plaasvervanger vir dit wat mens in die teater kan beleef nie. Maar soos ek sê, dalk hoop ek dit meer as wat dit die werklikheid is. Tyd sal leer. Tot dan, maak ons lewende kuns verwoed voort.

