Tendense in die uitleggeskiedenis van die koninklike amptenaar in Johannes 4:43–54: ’n onderhoud met Francois Tolmie

  • 0

Jy gee in jou artikel baie aandag daaraan dat die Johannesevangelie ’n “oop teks” is en wys dan in jou boeiende en oortuigende oorsig dat dit impliseer dat dieselfde Bybelteks “oop” is vir meer as een interpretasie. 

Jy verwys in die artikel spesifiek na Tobias Nicklas se interessante beskrywing van die Bybel as ’n “oop kunswerk”. Jou artikel fokus sterk op die oop. Kan jy iets meer sê oor die begrip kunswerk wat daarmee verbind word? Vir baie sou so ’n ongewone siening oor die Bybel as kunswerk ’n (welkome) verrassing wees. Dit sou kon beteken dat die Bybel gesien moet word as ’n teks vol skoonheid wat ’n rykheid aan mense se geloofsbelewing wil gee. 

Dit is ’n wonderlike gedagte in tye dat mense gedurig in ’n stryd oor die betekenis van Bybeltekste betrokke raak en vele negatiewe emosies deur die getwis opgeroep word. 

Die gedagte van ’n kunswerk beteken ook dat ’n mens die Bybel anders sal lees as ’n boek wat baie mense dink vol voorskrifte is oor wat jy moet glo. Lesers glo die Bybel bestaan uit allerhande gebooie vir die lewe wat mense moet nakom terwyl ander die Bybel sien as ’n boek vol inligting oor Bybelse tye.  Waarom is dit nodig om van die Bybel as ‘n kunswerk te praat en watter verskil maak dit aan ons verhouding met die Bybel? 

Ja, dit is ’n baie belangrike insig wat deur Tobias Nicklas beklemtoon word. As ’n mens verder in gedagte hou dat die Johannesevangelie waarskynlik oor ’n lang tydperk tot stand gekom het (volgens die Johannes-navorsers wat hierdie saak ondersoek het, kon dit 30 tot 40 jaar geneem het voordat dié Evangelie die finale stadium bereik het waarin ons dit deesdae het) en dat verskeie persone by die ontstaan van die Evangelie betrokke was, is dit geen wonder dat dit so ’n besonder ryk teks is nie.

Dit is nie sommer in een sitting oor ’n paar dae of weke geskryf nie, maar daar is baie oor die teks nagedink en daaraan verander, sodat dit uiteindelik ’n baie komplekse teks geword het.

Met ’n eerste vinnige lees daarvan mis ’n mens baie van die diepgang in die teks, omdat dit op die oog af na ’n eenvoudige verhaal mag lyk. Maar as ’n mens dit oor en oor lees en baie mooi na al die besonderhede kyk, begin ’n mens patrone raaksien wat maklik met ’n eerste vinnige lees misgekyk word. Daar is byvoorbeeld pragtige woordpatrone, herhalings en ironie in die teks – alles aspekte wat daarvan ’n kunswerk maak.

Dit maak ook dat ’n mens die teks op ’n ander manier lees. Dit gaan nie bloot oor die inligting of die storie wat vertel word nie; die teks word ’n wêreld waarin ons ingetrek word en waarin ons as’t ware self begin leef, om dan weer in ons eie harde werklikheid sinvol te kan leef. 

Jy is bekend as Nuwe Testamentikus wat oor jou loopbaan heen wyd gepubliseer het oor die Nuwe Testament as vakgebied en wat dit reeds vir ’n lang tyd aan die Universiteit van die Vrystaat doseer. Jou artikel handel ook oor ’n onderwerp wat direk uit die wetenskaplike vakgebied voortspruit. Wat is vir jou die belangrikste take van die vakgebied? Hoe sien jy die rol van die Nuwe Testament as dissipline? Waarom het jy in die dissipline betrokke geraak? 

Die belangrikste taak van my vakgebied is om die Nuwe Testamentiese tekste baie noukeurig te lees. Daarvoor is ’n verskeidenheid van metodes nodig, en hoe meer hoe beter. Self spesialiseer ek in die Johannesevangelie en in die Briewe aan die Galasiërs en Filemon, en veral op narratiewe ontleding (in die geval van die Johannesevangelie) en retoriese ontleding (in die geval van die twee Paulusbriewe).

My belangstelling in Nuwe Testament het begin juis as gevolg van die feit dat een van my dosente in Grieks 3 (Kobus Cronjé) ons in die geheime van die klassieke retoriek ingewy het. Daarmee het ’n nuwe wêreld vir my oopgegaan; ek het besef hoe baie opwindende navorsingsmoontlikhede daar in dié rigting is, en het gevolglik begin navorsing doen oor die retoriese ontleding van Galasiërs.

Later – tydens my teologiese opleiding – het Jan du Rand ’n liefde vir die Johannesevangelie by my gekweek. Dit is gekombineer met insigte wat ek in Algemene Literatuurwetenskap oor die nut van narratologie gekry het, en het uiteindelik daartoe gelei dat ek in karakterisering in die Johannesevangelie gespesialiseer het.

Ek was ook bevoorreg om saam met twee ander oorsese Nuwe Testamentici wat in hierdie saak in die Johannesevangelie belangstel (Steven Hunt van Gordon College in Wenham, Massachusetts, en Ruben Zimmermann van Mainz, Duitsland), ’n boek uit te gee waaraan ’n internasionale span van navorsers meegewerk het en waarin feitlik al die karakters in die Johannesevangelie bespreek word. Kyk https://www.eerdmans.com/Products/7392/character-studies-in-the-fourth-gospel.aspx.

Baie mense vra waarom wetenskaplikes besig is met eindelose studie van die Bybel. Niewetenskaplike lesers is verwonderd oor die skynbaar oneindige onderwerpe waarmee Bybelwetenskaplikes hulle besig hou. 

Wat is vir jou die waarde van die intensiewe wetenskaplike navorsing oor die Bybel vir die “gewone” Bybelleser? 

Een van die belangrikste insigte vanuit die hermeneutiek is dat die lees van tekste nooit ’n objektiewe wetenskaplike eksperiment is waarvan die uitkoms met absolute sekerheid beskryf kan word en waardeur elke persoon by presies dieselfde gevolgtrekkings sal uitkom nie.

Die rede hiervoor is dat elkeen van ons ’n klomp “bagasie” met ons saambring wanneer ons tekste lees: idees oor hoe ons dink tekste werk, wat ons dink ons in die teks behoort te kry, asook die honderde vorige hoor- en leeservarings van Bybeltekste wat ons met ons saambring wanneer ons tekste lees.

Daarmee saam het die spesifieke vraag wat ons aan die teks stel en die hoek van waaruit ons die teks lees, ook ’n groot impak op dit wat ons in die teks “kry”.

Vir die gewone Bybelleser is die waarde van intensiewe wetenskaplike navorsing oor die Bybel juis dat dit nuwe aspekte in die teks belig wat vroeër misgekyk is. In die geval van die Ou en Nuwe Testamentiese wetenskap was daar in die afgelope paar dekades ’n metodologiese ontploffing wat ten goede meewerk omdat dit die Bybelteks wat vir ’n groot aantal van ons ’n gesaghebbende teks is, op veel meer terreine ontsluit het.

Jy het bekendheid verwerf omdat jy jou in onlangse tye besig hou met hoe die bekende godsdienstige leiers deur die eeue heen die Bybel gelees en verstaan het. 

Die artikel wat jy geskryf het, gee ’n boeiende insig in hoe bekende geestelike leiers oor eeue een dieselfde artikel verskillend gelees het. Waarom doen jy hierdie navorsing? 

Hierdie navorsing het aanvanklik as deel van ’n ander projek oor die retoriese ontleding van die Filemonbrief begin. Ek werk aan ’n boek oor die retoriek van die Filemonbrief, maw die manier waarop Paulus die brief gebruik het om Filemon te oortuig om op ’n sekere manier teenoor Onesimus, die wegloopslaaf, op te tree.

As deel hiervan het ek besluit om te gaan kyk hoe hierdie saak in die antieke kommentare op die brief hanteer is. Dit het egter gou-gou so interessant geword dat dit op sigself ’n nuwe navorsingsprojek geword het. Die interessantste deel van hierdie navorsing is die groot verskeidenheid wat daar in die interpretasie van Filemon in spesifieke tydvakke is.

Baie mense dink byvoorbeeld dat die Kerkvaders tekste almal min of meer op dieselfde manier gelees het, maar my ondersoek van die Kerkvaders wys dat daar baie groot verskille is in die manier waarop hulle die Filemonbrief verstaan het. Dit bevestig die saak wat ek vroeër genoem het, naamlik dat dit wat ons sélf bydra tot die interpretasieproses, gewoonlik deurslaggewend is en die verstaan van die teks in ’n bepaalde rigting stuur.

Vir baie mense sal dit ’n verrassing, of ’n skok, wees om te sien dat daar soveel verskille is tussen al hierdie bekende gesagsfigure. Dit sluit groot kerkleiers soos Augustinus, Luther en Calvyn in wat dieselfde Bybelteks verskillend gelees het. 

’n Mens sien hierdie verskynsel ook in die kerklike lewe: sommige geestelikes gebruik die Bybel om vroue uit die amp van predikant te hou (soos die Gereformeerde Kerk), terwyl ander glo die Bybel verbied dit nie. 

Hoe moet ’n mens die gesag van die Bybel verstaan as daar soveel verskille tussen hierdie bekende en gesaghebbende leiers is in hul uitleg van Bybelboeke? 

Die manier waarop die gesag van die Bybel verstaan word, word deurslaggewend beïnvloed deur die uitgangspunte waarmee ons Bybeltekste lees. Dit is ongelukkig so dat baie gelowiges nie hiervan bewus is nie en ook nie besef watter groot rol ons voorafkeuses speel in die manier waarop ons die gesag van die Bybel verstaan nie.

Dit is dan ook juis die rede hoekom bekende geestelike leiers dieselfde tekste op verskillende maniere verstaan het / deesdae verstaan. Hierdie insig moet op twee maniere ’n rol speel in ons eie verstaan van Skrifgesag: Eerstens moet ons probeer om die uitgangspunte op grond waarvan ons die Bybel benader, duidelik uit te spel en baie krities daaroor na te dink. Tweedens moet dit ons nederiger maak oor dit wat ons in die Bybel gesagvol vind. Dit beteken nie net dat ons met ’n oop gemoed na ander mense se verstaan van die Bybel sal luister nie (veral na dié wat van ons verskil nie!), maar ook dat ons nooit mag vergeet dat die verstaan van die Bybel nie bloot ’n individuele handeling is nie, maar in samewerking met ander gelowiges moet geskied. 

Die Johannesevangelie is bekend as ’n diep simboliese boek. Hoe verstaan jy self die boek en watter waarde het dit vir jou geloof? 

Ek dink dat ’n mens die boodskap van die Johannesevangelie in een woord kan opsom: Lewe. Die Johannesevangelie verwoord die gedagte dat die volheid van die lewe in die wydste sin van die woord in Jesus Christus, die Seun van God, te vinde is.

In dié Evangelie word die lewe wat Christus bied, baie breër verstaan as bloot ewige lewe eendag ver in die toekoms, en dit is juis hierdie insig wat ons as gelowiges kan help om sinvolle lewens te lei. 

Hoe belangrik is die Bybeltale vir teoloë en kerkmense? Waarom is dit nodig dat predikante nog die Bybeltale moet ken? 

Dit is onmoontlik om ’n goeie Ou of Nuwe Testamentikus te wees sonder kennis van die Bybeltale. Daar is geen vertaling van die Bybel beskikbaar wat al die nuanses van die Hebreeus, Aramees en Grieks volledig kan deurgee nie. Dit is altyd ’n geval van “lost in translation”.

Om die Bybeltekste selfstandig te interpreteer, is omvattende kennis van die Bybeltale dus onontbeerlik. 

Hoekom is daar soveel teoloë wat oor praktiese sake navorsing doen, terwyl slegs ’n klein persentasie hulle in die Bybelwetenskappe inwerk? 

Ek kan verstaan dat baie dominees/pastore elke dag in die praktyk van die bediening staan en dan voel dat enige nagraadse studie in die teologie op ’n manier direk van toepassing vir hulle bediening moet wees.

Ek dink egter ook dat hulle ongelukkig nie altyd besef dat nagraadse studie in die Bybelwetenskappe ook baie prakties kan wees nie. Dink maar aan eksegetiese of hermeneutiese studies waarmee ’n mens die manier waarop jy die Bybel ontsluit, geweldig kan verryk.

Of aan nuwe vakterreine wat deesdae ontgin word, soos Bybelse spiritualiteit, wat ’n groot verryking vir ’n mens se bediening kan inhou. Ek dink byvoorbeeld aan ’n studie wat een van ons PhD-studente, Riaan Stander, onlangs oor die mistieke lees van die Johannesevangelie gedoen het.

Kyk https://www.academia.edu/35270440/Menein_as_key_to_a_mystical_reading_of_John_15.

Wat is vir jou die grootste uitdaging vir die kerklike lewe vandag? 

Vir my is die grootste uitdaging vir die kerklike lewe vandag hoe om die groeiende diversiteit in denke in kerklike geledere te hanteer. Die afgelope paar dekades het daar twee belangrike veranderinge in die kerklike opset plaasgevind: Eerstens het lidmate baie meer selfstandig geword. Hulle is lankal nie meer van kerklike leiers, kerklike strukture en die kerklike media afhanklik vir die vorming van hulle sieninge nie. Die internet en die koms van die sosiale media het hierdie hele situasie onomkeerbaar verander.

Tweedens is daar onder Afrikaanssprekendes ’n baie breër kontinuum van sieninge oor enige onderwerp as vroeër jare, en word baie van ons ook met baie meer verskille in standpunte in die alledaagse lewe gekonfronteer.

Dit alles het deurgewerk na die kerklike situasie, met die gevolg dat die meeste kerklike denominasies deesdae met ’n baie groter pluraliteit in sieninge binne eie geledere sit. Een manier om dit te hanteer, is om nog steeds te probeer om (soos 30, 40 jaar gelede) almal binne een keurslyf in te dwing, maar dit werk doodgewoon net nie meer nie, want mense wat voel dat hulle nie meer binne so ’n opset inpas nie, verlaat stilweg die kerk.

Die moeiliker pad – maar ook die beste pad – is om te probeer om binne die kerklike strukture, en veral binne die plaaslike gemeentes, ruimte vir diversiteit in denke te skep. Dit is binne hierdie opset dat ons weer opnuut opgeroep word om te besef hoe belangrik die grootste Christelike deug – die liefde – is en moet probeer om op nuwe maniere in ons eie tydsgewrig daaraan uiting te gee.   

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top