Teateronderhoud: Amper, Vrystaat

  • 0

Mense sê die Vrystaat is waarheen verlore siele trek om dood te gaan, waar geheime die emmer skop, waar die aarde so plat is jy sien jou hele toekoms as jy ’n windpomp klim …

En so ontmoet drie vervreemde susters mekaar weer een Saterdag vir hulle ma se begrafnis in Amper, ’n dorpie duskant nêrens. Daarby het die vreemde omstandighede rondom hul ma se dood die hele kontrei aan die gons.

Hierdie is die agtergrond van Amper, Vrystaat - wenner van Beste Debuutproduksie by die Vrystaatse Kunstefees 2015. Dit is ook vir vyf Fiësta-toekennings genomineer.

Amper, Vrystaat is op 3 Februarie op Die Boer se verhoog (telefoonnommer: 021 9791911). Antoinette Louw is die vervaardiger van die produksie. Naomi Meyer probeer die drie karakters, wat die rolle van drie susters in die toneelstuk vertolk, beter ken.

ampervrystaat1

Cintaine Schutte, Milan Murray en Antoinette Louw

Beskryf jou karakter in vyf woorde.

ANNATJIE (Cintaine Schutte): Sag. Kreef. Sorgeloos. Hardekop. Wannabe-hipster.

BEA (Antoinette Louw): Pretensieus. Louis-se-girlfriend. Alleen. Bang. Weerloos.

LIZ (Milan Murray): Ma. Georganiseerd. Puntenerig. Ongelukkig. Moeg.

Amper, Vrystaat. Beskryf jou idees van die Vrystaat en hoe dit jou
karakter beïnvloed. 

Cintaine: Veilige plek om as kind fiets te ry en modderkoekies te bak. Jou kanse om prefek in laerskool te word is supergroot. Maar na 'n ruk wil jy tog jou vlerke sprei en vlug.

Antoinette: Vir Bea is die Vrystaat te klein vir iemand soos sy en die mense is kleinsielig. Hulle irriteer haar tot die afgrond toe. En die plek is vir haar lelik. Geen normale mens sal uit eie keuse mos daar wìl bly nie?! En almal word vet van basaarpoeding.

Milan: Die Vrystaat is vir Liz 'n plek met beperkte moontlikhede en swak smaak. Sy wou wegkom om te gaan studeer, haarself te bekwaam vir 'n beroep. Volgens haar kweek die Vrystaat net boere en boervroue. Sy kon nie wag om enamel-opskepbakke vir Carrol Boyes te verruil nie.

Cintaine Schutte, Antoinette Louw en Milan Murray

Die Drie Susters. Beskryf ‘n tipiese Kersfeesfamilie-ete met hierdie betrokke drie susters saam om die tafel. Hoe klink die dialoog, volgens jou? (Elkeen kry twee spreekbeurte.)

ANNATJIE:  

Liz: So hoe gaan dit met die werk Anna?
Anna: Dit gaan oukei, ek word darem ge-upgrade na die pikkewyne voer en haaitenke skoonmaak. 
Bea: Kop in die wolke gaan jou nêrens bring nie, Anna Pattata! (Drink 'n glas wyn)
Liz: Maar wanneer kry jy nou 'n regte werk? 
Anna: Wat bedoel jy? Dit ís my regte werk.
Bea: Dis te dierbaar. (Drink NOG 'n glas wyn)

***

BEA:
Bea (drink wyn): Is daar eier in die bobotie?
Liz: Bobotie is nie bobotie sonder eier nie, Bea.
Annatjie: Ek hou van bobotie.
Bea: Maar jy weet mos ek is allergies vir eier!
Liz: Drink ‘n pil.
Annatjie: Ek hou van eier.

***

LIZ:

Annatjie: Waar's Louis? Ek dog jy sê hy kom saam?
Bea: Hy's op 'n vermoeiende sakebesoek in Flôrens.
Liz: Florence
(Bea ignoreer haar)
Bea: Ek het natuurlik my vliegkaartjie opgegee om hier by julle te kan wees?
Liz (sarkasties): Dis gaaf van jou. (Onderlangs) Jammer ek het vergeet om die rooi tapyt vir jou uit te rol.
Bea: Ek sou natuurlik kon sê “Enige tyd! My plesier!”, Liz. Maar ek sien jy't my versoek vir 'n wit Kersboom totaal geïgnoreer en ek het duidelik gekommunikeer dat ek nou 'n vegetariese dieet volg.
(Annatjie staan op)
Annatjie: Ek gaan rook.

Amper, Vrystaat is ook op 9, 12 en 13 Maart 2016 by die US Woordfees 2016 te sien. Koop hier kaartjies.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top