
Titel: Sy wat wil dien – van kaalvoet plaaskind, soldaat, soldaatvrou, ma, mama ranger tot veteraan
Skrywer: Arina Jooste
Uitgewer: Rockhopper Books
Naomi Meyer praat met Arina Jooste oor Sy wat wil dien.
Arina, wat is jou agtergrond en waar kom jy vandaan?
Ek is op 16 April 1952 gebore in Amersfoort, ’n klein plattelandse dorpie in die destydse Suidoos-Transvaal, nou Mpumalanga. My ouers was boere in die distrik en ek was tot en met ouderdom nege ’n plaaskind en koshuisskolier.
My ouers verkoop die plaas en ons verhuis in 1960 na Alberton, waar my pa vir die destydse Nasionale Party werk. Gedurende 1963 sluit hy permanent by die SA Weermag aan, nadat hy jare lank by die deeltydse magte/vrywilliger gedien het – so word ek ’n soldaatkind.
Verhuisings is van jongs af deel van my lewe en leer my op ’n jong ouderdom aanpasbaarheid.
Gedurende my matriekjaar (1970) adverteer die SA Leër vir vroulike vrywilligers om vanaf Februarie 1971 hul militêre opleiding by die nuutgestigte Burgerlike Beskermingskollege in George te gaan doen.
Ek doen aansoek en word uit honderde aansoeke gekeur as een van die 128 meisies wat hierdie eer te beurt val.
Gedurende daardie jaar word ek en drie ander studente bevorder na die rang van sersant. Dit was die hoogste rang wat ons kon verwerf. Ek word tydens die uitpasseringsparade aangewys as die beste sersant en verower die Volkskas Bankskild. Die grootste verrassing egter was toe ek ook die Saambou Trofee vir Leierskap verower.
Die leër besluit om aan dié studente wat sou belangstel, ’n permanente tuiste in die leër te bied. Ek dien in verskeie poste van my kort loopbaan van sewe jaar. Die hoogtepunt was in 1973/4 toe ek aangestel is as adjudant van die Diensvakskool in Voortrekkerhoogte. Die grootste manlike opleidingseenheid van daardie tyd. ’n Leerskool soos min!
In 1975 tree ek in die huwelik met Johan, ’n infanteriesoldaat, en daar het my rol as soldaatvrou in alle erns begin.
Waarom het jy die boek geskryf?
Ek het aanvanklik begin met die deel van kort stukkies oor my ervarings as soldaatvrou op my Facebook-blad. My Facebook-vriende het dit só interessant gevind dat ek lank daarmee aangehou het.
Johan het my aangemoedig om dit te boek te stel, maar ek was aanvanklik baie huiwerig. Na lank se gewik en weeg, het ek besluit dat dit tog vir soldaatvroue iets kan beteken en om ook erkenning te gee aan die soldaatvrou van daardie jare. Verder om die publiek weer opnuut bewus te maak van die opofferings wat soldaatvroue en gesinne moes maak, nie net in vredestyd nie, maar spesifiek gedurende die tyd van die grensoorlog.
Wie is jou ideale leser?
Hierdie boek behoort deur elke oudsoldaatvrou en haar gesin gelees te word, asook deur ouddienspligtiges wat hulself sal herken in die boek.
Wat dink jy van die Suid-Afrikaanse boekewêreld en letterkunde-omgewing?
Dit is goed om te sien hoeveel boeke van alle tipes in Afrikaans geskryf word. Oor die onderwerp van my boek is dit egter ’n eerste wat handel oor die rol van die soldaatvrou in ’n spesifieke era in ons land se geskiedenis.
Waar kan lesers jou boek koop?
By toonaangewende boekhandelaars soos Exclusive Books, Bargain Books, Graffiti en PNA. Aanlyn by Rockhopper Books, Takealot en Amazon.

