
Kom fietna saam Mareldia (Foto: Gys Loubser, via die Suidoosterfees)
I
“Van wane af is jou bek soe los?”
Gaireyah Fredericks het haa bekroonde kortverhaalbundel, een voet innie kabr (2024, Kwela), verwêk in ’n toneelstuk titled Kom fietna saam Mareldia. Die two-women show met Gaireyah Fredericks en Celeste Matthews Wannenburgh was te sien as deel vannie NATi Teaterfees byrie 2026 Suidoostefees.
Ek was excited virrie play om twie redes. As ’n student van Fredericks se Mother Tongue Project innie Paarl en ’n avid reader van haa skryfwêk wou ek haa acting skills ervaar. Twiedens was ek nuuskierag om uit te vind hoe sy die verhale in een voet innie kabr adapt het tot die verwagtinge vannie stage.
Nes die bundel, wat beide die Eugène Marais-prys ennie UJ-debuutprys gewen het, issie toneelstuk oek geskryf in Kaaps en Cape Muslim Vernacular. ’n Wiek voorie opvoering van Kom fietna saam Mareldia het ek mettie skrywer in gesprek getree tydens ’n voorlesing uit haa boek byrie Breytenbach Sentrum. Hie het sy genoem “om ôse Cape Muslim Vernacular in geskriewe taal vas te pen, gierit ’n kans om gepreserve te wôd”.
Fredericks het oek uitgebrei oorie dringendheid van haa skryfwêk. Sy mention dattie taal wattie Cape Muslims praat, “met al ôse oumense tans begrawe wôd”. Mettie toneelstuk bring Fredericks daai selfde language practice na die stage. Ek wil graag oek Zubayer Charles se toneelstukke noem, veral Ek en jy, tot laat toe (2026), wat oek Moslemafrikaans en -karakters se ervaringe sentraal stel.
Ek enjoy dit ommie taal te lees en te hoor, al ken ek net ’n paar woorde en konsepte. Innie bundel maak Fredericks gebruik van ’n woordelys ommie Arabiese woorde en terme annie leser te beskryf. Oppie stage is daai hulpmiddel nie beskikbaar nie. Ek is bewus dattie onbekende woorde moontlik soes ’n barrier kan voel vi persone wat onbekend is mettie references. Maa innie toneelstuk was daa vi my ’n noteworthy attempt om verstaanbaarheid te skep binne ’n konteks deu dialoog en liggaamlik deurie karakters se aksies.
Die toneelstuk speel oek mettie taal barrier in comedic ways. ’n Voorbeeld hievan issie misverstand tussen Mareldia (Celeste Matthews Wannenburgh) en haa kleinkind, Ghoemeira (Gaireyah Fredericks). Ghoemeira hettie woord “trauma” mishear en dink haa ouma praat oo “touba” (vergifnis). Die karakters skrie ampe die twie woorde vi mekaa totdat dit indistinguishable raak van mekaa. Totdat alliterasie en endrym dit saamsmelt. “My Touba” (72) is oekie titel van ’n kortverhaal innie bundel.
II
Die oeg van ’n naald en anne geweefde memories
een voet innie kabr bestaan uit ’n netwêk van 21 kortverhale wat op vindingryke maniere met mekaa link oo dekades, bloedlyne, family heirlooms en geografiese liggings. Terwyl die toneelstuk meestal fokus op Mareldia en haa kleindogter Ghoemeira, function die twie karakters oek as kanale waadeur uittreksels uitie bundel opgeroep word. Die play gebruik die karakters se memories om kort aangepaste extracts te explore.
Dit skop af met jong Ghoemeira wat leer om naaldwêk te doen by Mareldia. Dit is geneem uitie kortverhaal “Naaldwêk” (39). Soes innie bundel issie scene ’n portrait van Ghoemeira se verhouding met haa ouma. Dit is ’n intimate glimpse op familiewaardes en liefde in ’n Kaapse Moslemgemeenskap. Die scene portray oekie oodrag van kennis wat al vi drie generasies in hulle familie is.
Fredericks gebruik oekie play om onnesoek in te stel oppie tradisionele expectation wat veral vroue oorerf. Tienie laaste scene, wannee Ghoemeira ouer is en trug is in haa ouma se voorhuis, bevraagtieken sy wat van haa verwag word. Dan word dieselle lappies wat nou vasgewêk word, uitmekaar geskeur. Ek sal later hiean raak.
Mareldia kyk TikTok-video’s en soe nou en dan loer sy of Ghoemeira nie biesag is met “geknoeiery” nie. Wannenburgh se acting choices as Mareldia is subtle: Sy hou die phone ver weg van haa gesig af en druk oppie screen met haa wysvinge in plaas van haa duim. Sy het oek a vicious side-eye wat Ghoemeira elke kee laat swyg.
Wat vi my uitstaan issie ways in which die play transition tussen dialoog en memory. Sound cues, wardrobe, props en spesifieke woorde word skilfully ingespan as triggers vi memory. Uncle Faatie se wolletjie cardigan bring flashbacks wat Mareldia net kan beskryf as “trauma”. Later, wannee lunchtime genoem word, onthou sy vi hom as Vrietangs. Hie hoor jy nettie gehoor se giggels terwyl sy vertel oo hoe mossag hy iet. Op ’n kol blaker sy uit: “Dai man vriet soes ’n vark wat se vingers oek tanne het!”
Nog ’n segue wat ek vivid onthou: Mareldia kyk ’n TikTok-video met die viral sound clip uit Raye se “Where is my husband?”. Verlangend wonne Mareldia dan hardop: “Waar is mý man?” Dit ontlok nog ’n storie uitie boek wat innie play function as ’n memory. Ghoemiera noem die memory die “suit storie”. Dit handel oo haa classy oupa: Gakkie Gaidien die tailor. Die vertelling is ’n adaptation vannie kortverhaal “Alteration” (116).
III
Fredericks die skrywer vs Fredericks the actor
Dit is Ghoemiera, gespeel deu Fredericks, wattie verhaal van haa oupa vertel. Sy is aangetrek in ’n ligte blou overall me ’n doek op haa kop. Fredericks se taak is om ’n kind te embody. Ek let veral op hoe sy haa stem gebruik op maniere wat karakterisering aanhelp: Sy is versigtig met haa woorde rondom Mareldia; sy calculate wannee om te praat; en maak sieke sy sê “Mamma” in elke sin ipv “djy” of “djou”. Haar approach is oek liggaamlik deu haa kop laag te hou as Mareldia daai side-eye gooi. Soms knoep sy haa vinge an haa klere. Ghoemiera se excitement en pride as sy vertel oo Gakkie is oek baie reminiscent of childhood.
Voo die final scene vi Ghoemeira introduce as ’n mourning mother wat haa twins by geboorte annie dood afgestaan het, slattie stage ees donker. Fredericks en Wannenberg verskyn oppie verhoog as mans: Fanie en Malie. Hulle’s elkeen in ’n broek en ’n onnebaadjie of ’n loshangende tie. Fredericks (nou Fanie) jak ’n wit hoed en Malie (Wannenberg) se hoof is bedek met ’n rooierage koefieyah. Die toneel is gebaseer oppie kortverhaal “Van Rijn” (110) wattie vriendskap en liewens van Fanie en Malie trace vanaf kinnerjare deu adulthood tot by Fanie se sterfte.
Beide “Van Rijn” en “Alterations” (116) portray die ervaring van Kaapse Moslems onne die absurd en oppressive wetgewing van apartheid, sowel as onne ongoing systemic racism. In Ghoemeira se onthou van haa oupa die tailor leer ôs oorie bigotry van sy wit kliënte. Die play vertel oek hoe die tailor deu sy craftsmanship en sy liefde vi opera rebel het tien white supremacy. Oppie stage onnesoek die play oek spesifiek die Population Registration Act ennie Group Areas Act van 1950. Die raswette, en colourism innie Kaapse Moslem gemeenskap as ’n result daavan, het veral ’n impak op Fanie se liewe.
Fanie sit op ’n omgedraaide kussie innie laaste hoofstuk van sy liewe. Fanie roep sy verliede op, maa Malie kom iets vreemd agte in die recollections: spyt. Terwyl dit normal is om trug te kyk op jou liewe met regret vi dalk past mistakes of missed opportunities, borrel Malie se bloed as Fanie jammer voel vi sy houding tienoo auntie Jennesse. Dit is ’n treuroomblik wannee os uitvind dat sy as blank verklaar was in apartheid en dat hy, omdat hy swart van kleur was, in ’n kas opgesluit moes word as sy kom kuier. Maa al wat grys Fanie nou kan onthou, is hoe “arag” hy met haa was. Hy is nou spyt oorie “naarigheid” wat hy altyd op haa gewens het.
Malie is adamant dat Fanie niks in sy verliede hoef te fix nie. Malie moedig hom an om te kyk na sy legacy wat hy agtelos. Sy seun en sy kleinkind se harde wêk, “se hammer slaan” en “ambag”, soes Malie noem, is sy legacy. Die woord wat innie play gebruik word saam met, of soms as ’n placeholder vi “legacy” is “assal”. Fredericks het na die tyd an my verduidelik dat assal is jou komvandaan – jou origin – maa oek jou lineage: wat jy agter los.
IV
Assal (noun): origin, lineage, birth
Ek wonne hoe assal tematies vookom in Kom fietna saam Mareldia. Een voet innie kabr se incipit verhaal, “Kinnes vannie Jannat” (7), lê die grondwêk vi een vannie bundel se hooftemas, naamlik die dood. Innie play wortie verwerking van dié storie gehou tot die finale scene. Ek is van mening dattie toneelstuk, annie anne kant, open mettie konsep van assal as tema.
Mareldia is op ’n call met ’n unnamed organisasie. Hulle het ’n stoel opgespoor wat al vi jare in Mareldia se familie is. Sy verduidelik an Ghoemeira dat haa “groot-groot-groot oolee oupa” die stoel gemaak het. Die stoel dien as ’n vatbare link met haa komvandaan. Soema vannie begin af ground die stoel die toneelstuk ennie karakters in geselskap met hulle geskiedenis en hulle heritage.
Hulle soek die stoel al vi jare. Mareldia kan nie uitgepraat word oorie quality hout waamee die stoel gemaak issie. Sy noem dat niemand mee sulke furniture kan maak nie. Dit klink vi my asof Fredericks hie ’n groter statement maak oo die resilience en belangrikheid vannie konsep assal. Die stoel se endurance ennie memories wat met dit kom, getuig vannie familie se survival, se bestaan. Die resilience vannie taal, die Cape Muslim Vernacular en Kaaps wattie karakters praat, kan oek hieby getel word.
Wat veral my hart breek, is waa die remnants van assal opgetel word innie laaste scene. Ghoemeira is nou ’n grootmens en het onlangs haa pasgebore twieling, Zackareyah en Zaghrah, afgestaan annie dood. Die finale spele voel soes ’n repeat vannie eeste scene. Maa nou issie karakters ouer. Die lappies wat voorheen vasgewêk was, is nou vervang met twie doeprokkies, en al geheime wat openbaar word, is Ghoemeira s’n. Die doeprokkies is wat ek sien as assal. Iets wat al vi lank innie familie is. Die rokkies wat haa kinnes nooit kon dra nie. Of ten minste net een van hulle tel as assal. Die anne rokkie noem Ghoemeira ’n “copy”.
Ghoemeira is trug in haa ouma se voorhuis ommie doeprokkies te stoor. Rou en verlies raak vatbaar tydens die scene. Mareldia verduidelik an haa mourning kleindogter dat “as djy ghaamil (swanger) is, staan djy altyd met jou een voet innie kabr.” Wat vi my bybly, issie relationship tussen liewe en dood, dat die twie met mekaa geassosieer word. Dat uitie dood kan oek nuwe betekenis kom. Terwyl Ghoemeira oepmaak oo haa ellende, herinner sy ôs an wat ammal rondom haa sê: dat die dood nie ’n burden issie, maa ’n blessing; dat sy uitverkies is; dat sy tevriede moet wies.
In Een voet innie kabr skryf Fredericks die volgende oo Ghoemeira: “Soes sy is, het Ghoemeira glattie op haar bek gevallie en sy’s grootgemaak met ’n stêk wil wat haa in ’n strong opinionated Moeslim-vrou ontwikkelit, een wat baie te sê het oo traditional practices en cultural fards” (166). In Kom fietna saam Mareldia noem Fredericks dit nie explicitly nie; sy verkies ommit te wys deu Ghoemeira se aksies en woorde. Sy noem, “It seems soe maklik vi mense wat nog nooit oorie graf van hulle kind gestaan het nie.” Ghoemeira wil net kan rou op haa manier sonne die verwagtinge vannie mense om haa. Hier probeer sy losbreek. Sy bevraagteken tradisionele verpligtinge en verlang om te rou vir soelank as wat sy wil.
V
Die storie agte die storie
Ek het vroeër genoem dat ekkie opportunity gekry het om met Fredericks te gesels oo Een voet innie kabr by die Breytenbach Sentrum. Tydens die praatjie, wat plaasgevint het in Maart 2026, het sy siekere verhale voorgelees en uitgebrei oo wat presies die stories geïnspireer het. Die sessie het sy getitel “Die storie agte die storie”. Die initial storie waaruit Een voet innie kabr en Kom fietna saam Mareldia sprout, is memory. Tydens die boekpraatjie het sy expand oorie memories agte verhale oo haa oupa Gakkie, sy tailor winkel innie Paarl, haar relationship met haa ouma en oek die sterfte van haa kinners.
In Kom fietna saam Mareldia voltooi Fredericks haa gebruik van personal memory as ’n tool om collective experience onne historiese en huidige sisteme te bevraagtieken. Annes as innie boek, brei die play verder uit oo Ghoemeira se ervaring by die hospitaal. Die staff het geweier om aandag an haa te gie. Dit het daatoe gelei dat sy alleen en op haa eie geboorte moes gie an Zackareyah. Ghoemeira noem verder dattie dokter meer gepla was oo an wie sy bid. Hy wou wiet wat “Muhammad vi my nou sal kan doen,” kreun sy. Dit is ’n blik op Islamphobia sowel assie onetiese en abusive behandeling van swart vroue in hospitale.
Op ’n manier is hierie nuwe memory oek ’n vorm van Fredericks se “storie agte die storie”. Die konsep is vi my meer as net ’n nabootsing van memory. Dit laat my dink annie toepassing van rememory in Toni Morrison se novels. Morrison gebruik memory, en oek forgetting, as ’n beginpunt om te probeer sin maak van geskiedenis ennie hede. Omdat geskrewe geskiedenis die liewens en ervaringe van mense wat lyk soes ek, Morrison en Fredericks uitsluit, gaan Morrison so ver om geskiedenis as hulpbron te vervang met memory.
Die twie metodes, storie agte die storie en rememory, maak gebruik van memory assie aandraaiknoppie virrie kreatiewe proses. Soe is Kom fietna saam Mareldia vi my ’n oefening in onthou, versameling, archiving, interrogation en imagination; dit gebruik persoonlike en collective recollection om geskiedenis, cultural practices, tradisionele verwagtinge, familial verhoudinge, patriarchy en generational silence te challenge.
VI
Lived reality
Fredericks bring na die verhoog stories, karakters en lived realities wat min aandag geniet in Afrikaans. En sy doen dit in ’n taal wat geskiedenis en memory dra en wat, in real time, entry ways skep into the present en future.
Nessie source material, een voet innie kabr, ooloep Kom fietna saam Mareldia met humour, die pyn sowel assie beauty vannie alledaagse liewe. Terwyl dit hoofsaaklik fokus oppie leefwêrelde van Kaapse Moslem-karakters, glo ek dattie dieper vrae en twispunte vannie play met almal resoneer.
Die toneelstuk daag mens uit om trug te gan, te herdink, om te oorweeg wat jy dink jy wiet. Soesie titel is die play an invitation om ôs komvandaan te celebrate, maa oek openlik te praat en te investigate wat an ôs oogedra word, en wat ôs agtelos.
Lees ook:
Suidoosterfees 2026: Moslemafrikaans gevier in Ek en jy, tot laat toe

