Suid-Afrikaners wil die land met Dialoog vir Aksie verenig en bou

  • 2

Dialoog vir Aksie tydens ’n onlangse vergadering in Kaapstad.

Die land se inwoners is meer as keelvol vir die regering se onvermoë om noodsaaklike dienste te lewer. Die volk se moermeters het veral die laaste jaar of wat die hoogte ingeskiet. Dit lê tans dieper in die rooi as Eskom se meter op TV wat aandui wanneer die kragverbruik gevaarlik hoog is.

Ongelukkig help die gatvolfaktor nie veel om die land se vele probleme aan te pak nie. Talle Suid-Afrikaners het reeds moed opgegee. Hulle verlaat die land op strepe op soek na groener weivelde elders. Baie ander wat dit nie kan bekostig om die stof van hulle voete af te skud nie, stort hul frustrasies woedend op sosiale media en om braaivleisvure uit. Soms met sterk rassistiese ondertone sonder om oplossinggedrewe te wees. 

’n Groep van SA Women in Dialogue, Joy Lange, Shada Francis, Marthe Muller en Fadeela Ally-Schmidt, saam met Theresa Muller van South African Conversations.

Daar is egter ook ’n derde groep Suid-Afrikaners. Hulle glo daar is nog baie in die land om te waardeer en te vier. Ten spyte van die regering se hopelose rekord van korrupsie en staatskaping is hulle steeds optimisties oor die langtermyn toekoms van die land en glo Suid-Afrika kan weer opstaan uit die moeras.

Selfs Cyril Ramaphosa se new dawn-toespraak van vyf jaar gelede wat ’n muis gebaar het, kry hierdie groep nie onder nie.

Hulle sien Ramaphosa se onvervulde beloftes van ’n nuwe dagbreek eerder as ’n geleentheid om skouer aan die wiel te sit en self die ligte in hierdie donker tonnel aan te skakel.

Hierdie fakkel van hoop te midde van die duisternis word veral in Suid-Afrika brandend gehou deur die talle burgerlike organisasies wat die land sentimeter vir sentimeter terugeis, omdat Suid-Afrika aan al sy mense behoort en nie aan die ANC-regering en die onbeholpe en korrupte politici en ander trogvreters nie.

Die nuweling in hierdie red-ons-land-koor is ’n groep diverse Suid-Afrikaners wat bekend staan as Dialoog vir Aksie – ’n informele netwerk van gewone mense wat sinergie wil bevorder tussen die menigte inisiatiewe en pogings wat reeds bestaan, om die land treetjie vir treetjie en baksteen vir baksteen te probeer regruk.

Hulle is almal uiteenlopende individue met ’n gemeenskaplike behoefte om ’n bydrae te maak waar hulle kan. Die uitgangspunt is hoe meer divers en inklusief die netwerk is, hoe effektiewer sal dit mense in alle gemeenskappe bereik.

Lyzette Schwella, Amy Lottering en Wannie Carstens.

Dialoog vir Aksie het ontstaan uit die “Groep van 10” wit Afrikaanssprekendes wat op 23 Februarie 2020 ’n verklaring uitgereik het waarin hulle verskoning gevra het oor apartheid. Die groep het hulle terselfdertyd opnuut verbind tot samewerking vir ’n beter Suid-Afrika vir al sy inwoners. Meer as 1 000 mense het die verklaring ook later onderteken.

“Daarna het ons gesê, hoe kan ons die daad by die woord voeg en wat kan gedoen word om saam met alle inwoners van die land ’n beter plek te maak,” verduidelik een van die groep se sameroepers Barend la Grange, bedryfshoof van die Privilege Foundation.

Erwin Schwella , die ShackBuilder Quinton Adams en Wannie Carstens.

Aan die begin het slegs wit Afrikaanse mense die leiding geneem, omdat dit uit die Groep van 10 ontstaan het. Hulle het gevoel hulle het ’n groter verantwoordelikheid om by te dra om ’n beter toekoms te help bou.

Die groep het egter vroeg reeds besef om effektief te wees, moet hulle inklusief wees en dat alle Suid-Afrikaners oor kleur- en taalgrense betrek moet word om saam te werk vir ’n beter toekoms as hulle die wa deur die drif wil trek.

Milan Mogashua en Gerrit Van Vuuren van PALS – Partners in Agri Land Solutions.

Tientalle individue en organisasies wat dieselfde ideaal deel, is sedertdien genooi om saam te gesels, en te kyk hoe dialoog kan oorgaan tot aksie sonder om nog ’n groot organisasie te stig. “Ons was dit eens dat dialoog tot aksie moet lei en nie net praat, kla, dink, skryf en ‘beplan’ nie,” sê La Grange wat reeds goed vertroud is met praktiese projekte om dorpe regoor die land se voorkoms te verbeter.

“Suid-Afrikaners uit alle groepe moet mekaar se lewens en behoeftes leer ken en leer om deur middel van openlike dialoog na mekaar te luister. Die volgende stap is om verhoudings te bou deur gesamentlike aksies om werklike probleme aan te spreek. Die soort gemeenskapswerk wat baie van ons en ons ‘vriende’ reeds op verskeie gebiede doen,” verduidelik La Grange.

Theuns Stofberg, Laurie Greyvenstein en Charles Flaendorp wat met herstellende geregtigheid werk.

Die doel is dus om deur die bou van onderlinge begrip en die ervaring van saamwerk, versoening en maatskaplike kohesie op grondvlak tussen alle Suid-Afrikaners te bevorder.

Daar is reeds in 2016 begin met verskeie pogings om inklusiewe dialoog te bevorder. Sommige werk reeds dekades lank elk op hul eie manier daaraan. Deur middel van hierdie nuwe netwerk hoop die deelnemers om dit breër en veral meer inklusief te maak deur middel van steun en netwerkgeleenthede met die bestaande burgerlike gemeenskap.

Uit reaksies op sosiale media blyk dit dat talle Suid-Afrikaners opgewonde is hieroor en graag wil help om die land op te bou, maar weet nie waar en hoe nie.

Natalia da Rocha praat oor die behoefte dat ons almal ons gewig trek om Suid-Afrika te help red. Agter haar is Caroline Peters van SA Women in Dialogue.

Wat hierdie groep anders maak as die meeste ander burgerlike organisasies, is dat daar geen formele lidmaatskap (byvoorbeeld ledegelde) is nie. Hulle wil met bestaande organisasies en mense wat dieselfde ideale nastreef, saamwerk en sulke rolspelers met mekaar in verbinding bring om idees en gedagtes uit te ruil.

Daar word reeds met individue, organisasies en stigtings soos die Ahmed Kathrada-stigting, SA Women in Dialogue, PALS (Partners for Agri Land Solutions) en mediators soos Social Justice en ander saamgewerk.

Die vraag is of dit nie maar net nóg ’n baie praat en weinig doen ego-kamer gaan wees waar mense mekaar vuurwarm praat maar niks prakties uitrig op voetsoolvlak nie?

Kubeshini Govender van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement praat oor die belangrikheid van behoorlike onderwys vir jong mense oor burgerlike verantwoordelikhede en regte. Agter haar staan Menán van Heerden van LitNet.

Volgens La Grange wil hulle juis nie net ’n “geselskamer” of ’n debatforum wees nie. “Dialoog moet oorgaan tot aksie,” sê hy. Daar moet resultate wees. Die behoefte aan behuising moet byvoorbeeld soos die ShackBuilder, Quinton Adams, se werk met die oprigting van menswaardige “shacks” sigbare resultate tot gevolg hê.

“Grondhervorming moet aangespreek word soos PALS SA doen waar daar voorbeelde is van vennootskappe tussen kommersiële en opkomende boere wat as model dien vir die res van die land. Vervalle dorpe moet deur gemeenskappe eienaarskap van hul dorpe neem en dit herstel.  Waar daar konflik is, moet daar deur mediasie oplossings gevind word soos wat Social Justice doen,” sê La Grange.

“Daar moet fisiese waarneembare veranderings kom anders is ‘dialoog’ opsigself sinneloos.”

La Grange sê mense wat betrokke wil raak by hierdie inisiatief, kan hulself aanmeld. Dit moet persone wees wat begerig is om die omstandighede van mense in die land op grondvlak te help verbeter.

“Dialoog vir Aksie gaan oor positiewe verandering wat teweeg gebring word deur die burgerlike samelewing, hetsy as individue of deur hul organisasie,” verduidelik La Grange namens die groep.

“Ons wil ’n wye netwerk vestig om ‘Dialoog vir Aksie’ te bevorder – sodat ons deur meer sinergie en onderlinge steun tussen verskillende gemeenskapsinisiatiewe kan help om die baie behoeftes in ons gemeenskappe aan te spreek, en so ook onderlinge begrip en vertroue te bou, en die verdelings van die verlede maar ook die hede te oorkom.”

Die groep het reeds ’n aantal kere in Johannesburg en Kaapstad bymekaargekom maar beoog nie ’n formele struktuur met ’n voorsitter en ampsdraers nie. Hulle beskou hulself as ’n groep individue wat die behoefte deel om as ’n informele netwerk ’n bydra te maak.

Hulle wil op informele wyse saamwerk met ander individue, bestaande stigtings, geloofsgroepe en ander organisasies om die impak van die burgerlike samelewing in Suid-Afrika te versterk.

“Ons glo hoe meer divers en inklusief die oorhoofse netwerk is, hoe meer effektief sal dit mense in al ons gemeenskappe bereik.”

Daar was onlangs ’n byeenkoms in Kaapstad wat deur ’n verskeidenheid rolspelers in die burgerlike samelewing bygewoon is. Dit het individue en organisasies soos SA Women in Dialogue, OUTA, die Privilege Foundation, LitNet, die Afrikaanse Taalraad, CiviNovus, Shackbuilder Cornerstone Institute, PALS, Applauz Arts Initiative en Social Justice, asook joernaliste en ander individue ingesluit.

Dit is nie net in die suide van die land waar dinge besig is om te gebeur nie. Daar is reeds ’n aantal kere vergaderings in Johannesburg gehou, en hulle beplan binnekort nog een in die noorde.

La Grange beklemtoon dat dit egter nie gaan om vergaderings te hou nie, maar om samewerking en praktiese resultate op voetsoolvlak te bevorder. Die vergaderings is slegs ’n manier om netwerke te bou en duur gewoonlik nooit langer as twee uur nie.

“Die meeste gesprekke sal op Zoom of deur WhatsApp-groepe plaasvind, terwyl ons ’n al groter wordende netwerk van kontakte bou. Die idee is dat wanneer A iemand in die netwerk sien met wie hy of sy dink hulle lekker sal kan saamwerk, of iets by mekaar kan leer, hulle mekaar direk kan kontak. Ons beoog ook om ’n Facebook-blad te hê vir belangstellendes om inligting en inspirerende stories of raadvra te deel.”

Die dagbestuur bestaan tans uit ’n paar van die oorspronklike stigters maar hulle hoop om dit binnekort uit te brei en meer divers te maak. Die huidige sameroepers van die groep is Truida Prekel: stigter en fasiliteerder van innovasie en verandering by SynNovation Solutions, Wannie Carstens:  Afrikaanse taalkundige en voormalige direkteur van tale aan die Noordwes-Universiteit, Freek Robinson: joernalis en TV-aanbieder, Dawie Jacobs: voormalige Suid-Afrikaanse diplomaat en ambassadeur en Barend la Grange: bedryfshoof van die Privilege Foundation.

Soortgelyke byeenkomste soos dié in die Kaap en Johannesburg word landwyd beplan waarby die media, sosiale media en ander mediums ook betrek sal word.

Dialoog vir Aksie glo dat demokrasie op gemeenskapsvlak begin. Om hierdie demokratiese waardes te bevestig, onderneem hulle om aktief betrokke te raak by inklusiewe dialoog, aksies en projekte, met soveel moontlik ander Suid-Afrikaners, wat net so gemotiveerd is om by te dra om ’n beter Suid-Afrika vir al sy mense te bou.

“As ’n groep individue is ons gretig om meer en nuwe maniere te ontgin om ’n positiewe bydrae in gemeenskappe te lewer op ons eie, saam, of in samewerking met ander individue, groepe of inisiatiewe. Ons netwerk is polities onverbonde ten einde almal te kan betrek,” sê die groep.

Hulle glo om dit te bereik, moet Suid-Afrikaners wat soortgelyke waardes het met mekaar saamwerk. As hulle op die manier die burgerlike samelewing kan verenig, sal dit volgens hulle die gees wat die land se mense, en ook die wêreld, in die 1990’s geïnspireer het, weer laat opvlam.

Teen hierdie agtergrond wil Dialoog vir Aksie saam met ’n beduidende groep Suid-Afrikaners hulle toewy aan die waardes van die land se grondwet. Die waardes van respek, waardigheid, gelykheid, medemenslikheid, deernis, omgee, verantwoordelikheid, aanspreeklikheid, deursigtigheid, regverdigheid, eerlikheid, integriteit, nie-rassisme, anti-seksisme, wet en orde, wat die goed is wat Suid-Afrikaners volgens hierdie groep weer sal kan verenig en aktiveer as almal saamstaan.

  • Foto’s: Truida Prekel en Jean Oosthuizen

Lees ook:

Suid-Afrika kan slegs van onder na bo gered word

Kan Suid-Afrika se ekonomie gered word?

Can South Africa be rebuilt?

Tyd vir die burgerlike samelewing om weer hande te vat?

Die burgerlike samelewing in beweging

  • 2

Kommentaar

  • Verstaan my mooi. Ek het nie iets teen mense wat wil help nie. Maar my probleem is met die lot wat net sit en praat. Dit is van te veel praat en vet mooi nokkol doen dat ons in die situasie sit. Moenie vir my vertel jy praat met ander oor iets nie. Wie gaan die werk doen? Wat doen elke persoon in die land vir mekaar? Dade spreek baie luider as woorde en 'n gepraat-praat-praat en boggeroll doen.

  • Andre Roothman

    burgers bo. ons organiseer volgens die grondwet. dankie aan die visie om burgerskap waarde te gee wat tot op die hede alleen deur helde van robbeneiland voorgehou was!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top