
Prent: https://www.netflix.com/za/title/80057281
Die opwindendste reeks van 2025 was sekerlik Pluribus. Ek is verstom dat ʼn uiters somber, stadig ontluikende verhaal, met ʼn onaangename hoofkarakter, wêreldwyd so geliefd is. Dit word hoog aangeprys deur kritici, kykers, en nou die Critics’ Choice Awards.
Dit laat my terugverlang na die eerste seisoen van Stranger things – die eenvoud van die storie, die intieme rolverdeling, die nostalgiese ’80’s, die misterieuse onderwêreld, en die gevoel dat dinge enige oomblik kan skeefloop. Seisoen vyf staan ongelukkig in kontras met al hierdie elemente.
Die las van sukses
Stranger things is aanvanklik geskryf as een seisoen. Toe dit oornag ʼn wegholsukses word, moes die Duffer-broers spring om nog seisoene te skryf en vervaardig. Kykers het nie gekla nie. Die doen en late van die oulike kinders in ʼn amper-fantasie-wêreld, met ʼn 1980’s-klankbaan, en Winona Ryder op haar mees maniese, is presies wat ons nodig gehad het. Oor vyf seisoene het die storie egter lomper geword, die rolverdeling het ontplof, die wêreldskepping het troebel geraak en die soetsappigheid verdriedubbel. Dit was ʼn kolossale produksie wat effe selfbehep met eie waarde geraak het.
Daarteenoor is Pluribus uit die staanspoor geskryf om oor vier seisoene vertel te word. Die visie is helder. Van die eerste skoot af is niks oorbodig nie. Elke blik, elke reël dialoog is ’n baksteen in ‘n fynbeplande raaisel. Waar Pluribus die kyker uitdaag, voel Stranger things 5 soos ’n gyselaarsonderhandeling om Netflix-intekenare te behou.

Prent: Apple TV
Minimalisme versus maksimalisme
ST5 bombardeer jou met CGI-monsters, skeure in die aardkors, musiek wat jou emosies manipuleer, feite wat karakters in vervelige monoloë aframmel, en ʼn ellelang lys van karakters. Natuurlik kon al hierdie elemente iets fenomenaals gelewer het, maar daar was nie ʼn duidelike plan nie.
Pluribus speel met die kuns van die negatiewe ruimte. Die spanning lê in die stilte van ’n gang, in die grys skakerings van ’n kantoor, in die dinge wat nié gesê word nie. Plus, jy het slegs drie hoofkarakters om te leer ken.
Die minimalisme van Pluribus dwing die kyker om aktief deel te neem, terwyl Stranger things jou in ’n passiewe rol inboender.
Spanning
In ST5 is daar absoluut geen spanning nie. Waarom? Omdat ons weet die skrywers gaan nie vir Mike, Dustin, Steve, et al doodmaak nie. (Kali is op die nippertjie ingebring as offerlam.) Die hoofkarakters is onskendbare superhelde. In ’n apokaliptiese oorlog waar ’n hele dorp in ’n interdimensionele skeur verdwyn, is die feit dat die hoofgroep skaars ʼn skrapie optel, narratiewe luiheid. Dit beroof die slot van enige werklike gravitas.
Wanneer Eleven teen Vecna veg, is dit soos om na ’n WWE-stoeigeveg te kyk. Die uitkoms is reeds in die kontrak bepaal. Wanneer Will uit die kas uit kom, is jy gewaarborg hy gaan aanvaar word.
Vergelyk dit met Pluribus. Elke beweging wat Carol maak, laat jou hart in jou keel sit. Waarom? Want in Carol se wêreld is daar geen waarborg nie. Enigiets kan gebeur. Spanning vereis die werklike moontlikheid van verlies, iets wat Stranger things lankal verruil het vir sentimentele veiligheid.
Te veel karakters
In Pluribus is die rolverdeling klein en gefokus. Elke karakter is daar met ’n doel. Jy leer Carol intiem ken. Sy is onaangenaam. Sy is koud en berekenend en sy neem besluite wat baie mense dwars in die krop sal steek. En tog gee jy ontsaglik baie vir haar om. Dit is goeie skryfwerk, om ’n karakter te skep wat menslik is in al haar foute.
Teen seisoen 5 was die rolverdeling van Stranger things so groot dat dit ’n logistieke nagmerrie is. Karakters word in silo’s opgedeel bloot omdat daar nie genoeg suurstof vir almal in een toneel is nie. Die resultaat is ’n gebroke storie waar niemand werklik diepte toon nie. Eleven, Mike, Dustin, et al is nou handelsmerke van die lewende, gebiedende karakters wat hulle aanvanklik was.
Karakters soos Jonathan Byers is gereduseer tot meubels, terwyl nuwe, onnodige toevoegings soos Vickie skermtyd steel.
Carol versus Winona, van alle mense
Kyk na die vroue in Pluribus. Hulle is sterk, hulle is kompleks, en bowenal: Hulle staan op hul eie. Hulle word nie gedefinieer deur hul verhoudings met mans nie.
Kyk nou na die arme Winona Ryder in ST5. Joyce Byers, die vrou wat in seisoen 1 die wêreld met Kersliggies aangedurf het, is nou bloot daar om Hopper se meisie of Will se ma te wees. Sy word gereduseer tot ’n agtergrondreaksie, ’n vermorsing van ’n briljante aktrise ter wille van ’n gemaklike huishoudelike substorie. Die vroue van Hawkins het almal "meisies" of "ma’s" geword, terwyl die vroue van Pluribus argitekte van hul eie lot is.
Wêreldskepping
Die wêreld van Stranger things het verander van ’n tasbare 1980's-dorp na ’n digitale pretpark. Dit voel nie meer eg nie; dit voel soos ’n groenskermoefening.
Pluribus skep ’n wêreld wat so tekstueel en tasbaar is dat jy die koue lug op jou vel kan voel. Die wêreldskepping is intern; dit gaan oor die stelsels van mag, die burokrasie, en die argitektuur van onderdrukking. Dit is ’n wêreld wat jou bybly lank nadat jy die skerm afskakel.
Soetsappigheid
Pluribus is glad nie soetsappig nie. Dit is bitter. Dit is droog. Dit bied geen maklike vertroosting nie. As daar ’n emosionele oomblik is, is dit welverdiend, nie gefabriseer nie.
Die 45 minute lange epiloog se "I love you"-tonele, emosionele herenigings met stadige aksie en die traantrekkende klaviermusiek van ST5 is ’n oordosis suiker. Dit is emosionele manipulasie op sy ergste. Dit voel soos ’n Hallmark-kaartjie wat in $300 miljoen se visuele effekte toegedraai is.
Die einde
Die hantering van Eleven se nie-dood-nie is ʼn reuse teleurstelling. Die reeks het jare lank opgebou na haar finale offerande – maar huiwer dan op die laaste oomblik. Sy is dood vir die emosionele impak, en lewe vir die moontlike franchisehernuwing. Pluribus is die teengif. Dit is dapper, dit is klinies, en dit is onvergeetlik. As jy wil sien hoe televisie lyk wanneer dit as kuns en nie as handelsware hanteer word nie, kyk na Carol in daardie grys gang.
Stranger things het ’n einde wat ontwerp is om niemand kwaad te maak nie, en juis daarom slaag dit nie daarin om enigiemand werklik te roer nie.
Raklewe
Pluribus word deur die kritici as ’n baken van moderne televisie gesien. Dit word geprys vir sy intellektuele erns en sy weiering om voor die altaar van populisme te buig. Dit is ’n reeks wat oor 50 jaar nog bestudeer sal word, terwyl Stranger things teen daardie tyd waarskynlik net ’n voetnota in ’n Netflix-algoritme sal wees.
Lees ook:
Uit OuLitNet: Op soek na die werklikheid deur Herman Wasserman

