<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan poolshoogte@litnet.co.za.
In die wêreld van boeke gaan alles uiteindelik oor kommunikasie – elke skrywer, elke verteller, elke skryfsel, elke uitgewer, redakteur, proefleser en vertaler handel in (doeltreffende) kommunikasie. Dit is die “wat” van die boekewêreld, wat al eeue lank sonder veel verandering geld. Wat voortdurend verander, en steeds al hoe vinniger, is die “hoe” van hierdie wêreld.
Vandag, in 2014, is die boek (ook die koerant en tydskrif) blykbaar reeds by die kantelpunt verby van gedruk na digitaal. Boeke lyk nie meer soos dit vir duisende jare gelyk het nie: tekens en simbole aangebring op ’n tasbare medium, sy dit papirus, perkament of papier. Opvoedkundiges praat lankal nie meer van geletterdheid (of iemand kan lees) nie, maar van geletterdhede. Kinders word nie meer geleer om net woorde te lees nie, maar ook beelde (visuele geletterdheid), saam met ouditiewe geletterdheid (klank). Anders gestel: jy lees nie meer soseer nie, jy kyk en luister.
|
Julian Assange |
|
Laasgenoemde is natuurlik die groot verskil tussen ’n boek en ’n fliek. Naas die boek het die fliek sedert vroeg in die 20ste eeu die belangrikste en mees beskikbare vorm van narratief geword. Dit het ook die boek se grootste mededinger as vorm van vermaak geword. Fliek (hier as ’n omvattende term vir visueel-ouditiewe kommunikasie) gaan in die toekoms die manier wees waarop ons lees.
Ná rolprente het televisie ontwikkel, en dit het verder in verskillende vorme van digitale media vertak. Tot 1990 verteenwoordig dié ontwikkelings ’n kontinuum, maar dan vind daar ’n groot sprong plaas. Dit is nie ’n sprong na ’n veranderde weergawe van die bekende wêreld, soos die Reformasie (Luther se 95 stellings in 1517), die Franse Revolusie (1789–1799) en die Nywerheidsrevolusie (die 1800’s) was nie – dis ’n sprong tot in ’n ánder wêreld. Sedert 1990 het tegnologie ons kommunikasie onherroeplik verander, en omdat kommunikasie so sentraal staan vir die mens, beteken dit dat alles in ons lewe besig is om totaal te verander. In ’n bietjie meer as twee dekades het kommunikasiemediums ontwikkel wat vyftig, sestig jaar gelede onvoorstelbaar was vir almal behalwe navorsers en wetenskapfiksieskrywers.
Waarom 1990 aandui as die tyd van die groot sprong? Die jaartal is enigsins arbitrêr gekies, gemeet aan my eie ervaring. In 1989 het ek honneurs in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer. Aan die begin van die jaar is tikmasjiene aan ons toegewys, soos vir al die vorige joernalistiekstudente. Aan die einde van die jaar moes ons ’n jaarpunt-skryfstuk ingee – spesifiek as ’n rekenaardrukstuk. Waarmee ek wil sê dat die gebruik van persoonlike rekenaars nog só nuut was dat ons as aspirantjoernaliste net-net daarmee kennis gemaak het op universiteit. Ongeveer 1992 het die internet algemeen beskikbaar begin raak, eers in lande soos Amerika en so vyf jaar later hier by ons. Die groot sprong waarna ek verwys, was dus danksy persoonlike rekenaars, die internet en breëband. Dit het die voertuie geword waardeur nuwe kommunikasietegnologieë ontwikkel en versprei is.
Hoe die ander wêreld van vandag lyk, word treffend uitgebeeld in die fliek The Fifth Estate, oor die WikiLeaks-stigter Julian Assange. Toe Assange en kie in 2010 ’n massiewe internetpublikasie van geheime Amerikaanse oorlogsdokumente gedoen het, is uitgesoekte dele daarvan terselfdertyd in die aanlyn weergawes van die bekende en gerespekteerde koerante The Guardian, New York Times en Der Spiegel gepubliseer. Nick Davies van The Guardian, ’n gesoute koerantman toe in sy vyftigs, noem in die fliek die WikiLeakers “the fifth estate”. Reeds sedert die middel-1800’s word die vrye pers die “fourth estate” (vierde stand) genoem – die belangrikste bewakers van ’n land se demokrasie. Die vyfde stand lyk aansienlik anders. Soos die tradisionele pers, wil hierdie skrywers die storie ágter die storie openbaar, veral daardie inligting wat groot korporasies, magtige bankbase, gewetenlose politici en korrupte regerings wil verswyg omdat dit verreikende gevolge vir gewone mense (lees: stemgeregtigdes en belastingbetalers) het. Dié skrywers werk op digitale platforms in die kuberruim, en soos die meeste regerings nou al agtergekom het, is dit feitlik onmoontlik om die internet te beheer en te reguleer. Die Wêreldwye Web is soos die Wilde Weste: elkeen maak ongeveer soos hy wil.
|
|
Ons kan nou maar eers begín om die aard en impak van hierdie ander wêreld te bepaal en te meet, want skaars een generasie het sedert 1990 volwasse geword (as ’n generasie geneem word as 20 jaar, die redelike tyd waarin mense hulleself kan reproduseer). Daarvoor bied die fliek The Bling Ring ’n interessante barometer. Dis gegrond op werklike gebeure: ’n groepie bevoorregte Amerikaanse tieners wat in 2008, 2009 herhaaldelik ingebreek het by die huise van bekendes soos Paris Hilton, Lindsay Lohan en Orlando Bloom. As hulle hou van ’n ster se styl (wat hulle natuurlik in die media leer ken het), het hulle dié se ontwerpersklere, -skoene en -handsakke gaan steel (uiteindelik altesaam ’n paar miljoen dollar se goed). Danksy Facebook het hulle geweet wanneer die sterre uitstedig was, of net vir die aand by ’n glansgeleentheid; danksy die internet en Google Maps het hulle geweet waar die sterre bly; en voor jy “selfie” kon sê, volg nog ’n nagtelike “inkopietog” in Beverly Hills. Om na hierdie jonges te kyk en te luister is soos om mense van ’n ander planeet (nie eens ’n ander wêreld nie) dop te hou – jy vind net eenvoudig geen raakpunte met hul lewensbeskouing nie. Natuurlik is daar oneindig baie variasie tussen mense van oor die hele spektrum, maar dit gaan hier oor norme (die waardes wat die meerderheid in ’n samelewing ondersteun) wat radikaal verander het.
In die kuberruim is moontlikhede en vryhede oënskynlik onbeperk: jy kan sê wat jy wil, vir wie jy wil, net wanneer jy wil, anoniem as jy wil. As die vierdestandmedia volgens wet nie die identiteit van ’n beskuldigde bekend mag maak nie om minderjariges te beskerm, geld dit blykbaar nie vir die vyfdestandmedia nie – mense sal sulke besonderhede, foto’s en al, sonder skroom deur sosiale media versprei. Kommunikasie vandag setel in konnektiwiteit en mobiliteit (breëband en satellietverbindings, skootrekenaars, selfone, tablette), en daar kom gedurig nuwe variasies uit wat beter, sterker en vinniger is. En kleiner, dus al hoe makliker om ongesiens te gebruik.
Die fliek Disconnect wys egter dat dié onbeperkte vryheid ’n illusie is. Die karakters leef in ’n virtuele wêreld van kletskamers, kuberboeliery en kuberpornografie wat hulle meen geheim en privaat is, maar hulle besef nie dat elke handeling op die internet ’n spoor laat wat nagespeur kan word nie. Die internet is die onveiligste plek denkbaar vir ’n geheim, en as jou geheim uit is, kan dit binne sekondes met die hele wêreld gedeel word – letterlik ’n geval van “nou weet die hele wêreld”. Wat die etiese betref, is daar ’n onverwagte positiewe kant: wetstoepassers wat mense mishandel; mense wat mekaar aanrand; skynheilige bekendes wat hoer en rumoer; crush-seks tussen skoolkinders – iémand sal dit sien, afneem en in die openbare domein versprei.
Sosiale media is seker die opvallendste aspek van kommunikasietegnologie vandag: Facebook, Twitter, YouTube, Instagram en so meer. Om nie van die selfie-verskynsel te praat nie – oor dié is al behoorlik geteoretiseer en gefilosofeer. Waarom is mense so versot op sosiale media, selfs verslaaf daaraan? Een van die antwoorde daarop (’n positiewe een) is dat dit in ’n wêreld wat toenemend verwarrend, versplinter en verbrutaliseer is, waar mense al meer afgesny (disconnected) voel van menslikheid en van mekaar, ’n ruimte van gemeenskap (community) en gemeensaamheid bied. Sosiale media is ’n plek om te behoort en ’n manier om kontak te hê met mense wat soos jy dink.
|
|
Maar terug by die begin: as die mensdom se lees-en-skryf-kultuur van meer as 3 000 jaar oud dan stelselmatig verdring gaan word deur ’n kyk-en-luister-kultuur, watter implikasies het dit vir ons kommunikasie? Want dis ’n feit soos ’n koei dat mense se leesvermoë al swakker word, en daarmee saam hul taalvermoë en dus ook hul skryfvermoë. Is ’n Cloud Atlas-scenario (boek én fliek) moontlik waar Engels (by implikasie enige taal) in die verre toekoms ’n skaars herkenbare, skriflose brabbeltaal in ’n primitiewe, vervalle wêreld gaan wees? As die mensdom onbeheers bly groei, aanhou oorlog maak en voortgaan om in kortsigtige gulsigheid die aarde se bronne te vernietig, kan dit gebeur – wie weet? Carl Jung het immers gesê hy weet nie met watter wapens die Derde Wêreldoorlog geveg gaan word nie, maar die Vierde Wêreldoorlog gaan geveg word met klippe en stokke.
As die mensdom betyds tot insig sou kom en die situasie betyds sou omdraai, is daar ’n ander moontlikheid: die alledaagse gebruik van geprogrammeerde intelligensie (artificial intelligence) wat vaardighede soos lees en skryf (dus boeke) oorbodig kan maak. In die futuristiese fliek Her leef die karakters in ’n wêreld waar alle vorme van kommunikasietegnologie naatloos geïntegreer is met elke aspek van hul lewe. Jy het ’n verpersoonlikte rekenaar, kompleet met stem en naam soos ’n mens, waaraan jy opdragte gee soos om jou sakekorrespondensie te doen of jou bankdienste uit te voer. Jy Google nie meer inligting nie, jy praat met jou rekenaar en dié vind dit in ’n breukdeel van ’n nanosekonde op ’n netwerk van superrekenaars en antwoord jou soos ’n bekwame, opgewekte PA. Jy hóéf nie te kan lees en skryf nie, jy moet net kan kyk, luister en praat. (En in ’n ironiese kinkel van die geskiedenis sal die mensdom as’t ware terug wees by die orale tradisie.)
Maar, wonder ek dikwels, wat word van die méns te midde van al hierdie wonderbaarlike tegnologie? Ons, wesens van vlees en bloed wat eintlik maar so broos is. Babes in the wood heel letterlik, voel dit vir my, as jy in ag neem dat die mens (anders as die meeste diere) heeltemal hulpeloos is by geboorte. Vir verskeie jare is mense totaal afhanklik van (en in te veel gevalle uitgelewer aan) ander mense vir oorlewing – jare waarin daar baie verkeerd kan loop met die ontwikkeling van die psige, en wat onteenseglik ’n invloed gaan hê op die lot van die volgende geslag.
Die slottonele van Disconnect en Her sluit treffend hierby aan. Dit wys die skrynende werklikheid van die mens se oeroue behoefte aan ander mense, ons geprogrammeerde tropinstink, ons instinktiewe wiring, wat deur die millennia weinig verander het. Ons tegnologie het in die afgelope dekades ons evolusie met rasse skrede verbygesteek. Weet ons geheel en al wat ons doen – met onsself en aan onsself?
Suzette Kotzé-Myburgh
Ouderdom: onder 50
Uit die LitNet-argief | |
![]() |
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) Die verwerkingsproses ten opsigte van toneelkeuse met verwysing na die rolprent Roepman – Adean van Dyk en Elbie Adendorff 2014-05-20 |
![]() |
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) Who Framed Roger Rabbit en die moontlikheid van outentieke wêrelde in fiksie – André Crous 2011-10-26 |
![]() |
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) Avatar: 'n Mitologie vir ons tyd – Naas Ferreira 2010-10-29 |
![]() |
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) Identifisering met die held en die emosionele betrokkenheid van kykers by rolprentdramas – Francois Human 2010-05-14 |
![]() |
Filmonderhoud Alles wat mal is – Ilza Roggeband, Corine du Toit, Sandra Vaughn 2014-07-22 |
![]() |
Film Gedagtes oor die filmbedryf – Polonius 2014-01-03 |
![]() |
Poolshoogte Call girls maak nie lekker ontbyt nie 2014-07-09 |
![]() |
Briewe deur die lug Die boek, die skrywer en die internet – Deon Meyer 2000 |
![]() |
Young Voices Conference 2004 |
![]() |
Filmrubriek Fliekvlooi – Suzette Kotzé-Myburgh |