Stories help om navorsing – en menswees – te verstaan

  • 0

Akademiese tekste word gewoonlik deur akademici gelees en geskryf. Die tekste bly dus in ʼn soort sirkel van elitistiese skrywers en lesers. Dit word selde buite die sirkel gelees. Maar die landskap is besig om te verander.

Estelle Kruger gesels met Julian Müller en Marguerite Müller oor hulle artikel:

Die gebruik van fiksie vir die ontwikkeling en optekening van navorsing in die sosiale wetenskappe

Julle het ’n interessante keuse gemaak om narratiewe navorsing as teoretiese lens te gebruik. Hoe het julle daarop afgekom – maw wat of wie het julle geïnspireer?

Marguerite: Ek was nog altyd geïnspireer deur goeie fiksieboeke, maar veral kinderboeke. Wanneer ek deesdae vir my kinders boeke lees, is ek altyd verras oor hoe die skrywers dit regkry om komplekse waarhede deur stories en illustrasies oor te dra. Ek dink byvoorbeeld aan boeke soos Where the wild things are deur Maurice Sendak, die vele boeke deur Julia Donaldson en natuurlik Die klein prinsie deur Antoine de Saint-Exupéry. Ek voel altyd verryk deur die kreatiewe omgang met “real life” en wil graag iets daarvan in my akademiese werk intrek.

Julian: Toe ek voltydse dosent geword het in 1990, was my opdrag “Die pastoraat”. Dit was vir my ’n nuwe veld omdat ek vir my doktoraal in die predikkunde en die liturgiek gespesialiseer het. Hierdie opdrag het my geleentheid gegee om interdissiplinêr na die veld van beraad en terapie te kyk en in daardie tyd was daar reeds ’n aktiewe skool van navorsing en aksie in die narratiewe terapie. Mense soos Michael White en David Epston het die land besoek en ek het van hulle werkswinkels bygewoon en was onmiddellik ’n aanhanger van die sogenaamde narratiewe benadering tot terapie. Van daar was dit ’n klein tree na narratiewe navorsing. Veral na my kontak met die Amerikaanse voorlopers in die veld, Jill Freedman en Gene Combs, het dit ook duidelik geword dat dit hier eerstens oor ’n metafoor van dink en doen gaan en nie soseer net oor metode nie. Beide die terapie en die navorsing wat geskoei is op die narratiewe metafoor het dieselfde filosofiese uitgangspunt en maak van ooreenstemmende metodes gebruik, al is daar natuurlik ook steeds verskille tussen die doen van terapie en die doen van navorsing.

Julle noem hierdie navorsingsmetode ’n “refleksie op die pad” – watter verband het narratiewe navorsing met outo-etnografie?

Die soort navorsing wat ons doen en voorstaan, is inherent outobiografies, en van daar dan ook die verband met outo-etnografie. Met ander woorde, om die wêreld te verstaan moet mens eers jouself verstaan en jou verhouding met dit wat rondom jou aangaan. As navorsers is dit nodig om onsself binne die navorsing te posisioneer as ons kennis sien as iets waarvan ons deel is, en nie iets wat buite ons staan nie. In beide narratiewe en outo-ethnografiese navorsing word die navorser doelbewus deel van die navorsing.

Kwantitatiewe en ook selfs verskeie kwalitatiewe navorsers meen dat wat julle doen, nie werklik navorsing is nie en dat dit net “stories” is. Watter soort kritiek het julle teëgekom en hoe beantwoord julle dit?

Daar word soms vrae gevra oor die “geldigheid” of “betroubaarheid” van narratiewe navorsing. Maar vir ons is dit nie nodig om dit wat ons doen te verdedig as navorsing nie. Daar is reeds genoeg gepubliseerde akademiese tekste wat dit wel doen, en ons verwys na sommige daarvan in ons artikel. Ons leef in ʼn wêreld wat vinnig aan die verander is en navorsingsmetodes moet ook bybly, veral as dit gaan oor mense se ervaringe en herinneringe. Eksakte metodes is onvoldoende, terwyl die verhale wat lewe, ’n beter kyk op die komplekse werklikheid van menswees gee. Verhale is nooit objektiewe mededelings oor verhale wat daar buite afspeel nie. Die oomblik dat ’n verhaal vertel word, word dit gekonstrueer met die oog op die gee van betekenis. Fiksieskryf, soos stories vertel, word ’n manier om uitdrukking te gee aan ons as navorsers se betrokkenheid by ons navorsingsverhale. Dit word ook  ʼn manier om ons navorsingsverhale met ander te deel. Verder strek die fiksiegenre verby die akademiese gehoor en maak navorsing meer toeganklik vir nie-akademiese gehore.

Kritiese refleksie veronderstel nadink oor positiewe en negatiewe ervarings en herinneringe. Hoe pas dit by julle navorsing in?

Marguerite: Dit is juis deur fiksie dat dit vir ons moontlik word om uitdrukking te gee aan beide ons negatiewe en ons positiewe ervaringe. Die oomblik wat jy ervaringe verwoord en op skrif stel, word dit makliker om met ʼn kritiese oog daarna te kyk. Ek  het byvoorbeeld gevind dat dit vir my makliker is om oor sekere negatiewe ervaringe te skryf uit Daisy (die fiktiewe karakter na wie ek in die artikel verwys) se oogpunt as uit my eie. Sodoende help die fiksiebenadering ons soms om die dinge te deel wat ons nie noodwendig wil nie, maar wat tog nodig is vir ons om reflektief te wees.

Verduidelik asseblief wat julle bedoel daarmee dat fiksieskryf ’n metafoor is vir navorsing. Sou ’n mens ook kon sê julle gebruik metaforiese narratiewe om julle navorsing te stuur?

Daar is verskeie perspektiewe. Fiksie is ’n genre en/of metode wat aangewend word om die soms onpeilbare diepte van die ervaringe na vore te laat tree. Navorsing word gewoonlik deur iemand gedoen (ʼn hoofkarakter) en daar is gewoonlik ander partye betrokke (nog karakters) en dan word dit opgeskryf om ʼn geheel te vorm (die storie). Daar ontwikkel ook op dié manier intriges en daarom nuwe vrae. Uiteindelik is dit ’n sinvolle manier om dit met ander te deel.

Maar as ons aan fiksie as metafoor dink, dan is dit weer ’n manier om aan navorsing as sodanig te dink. ’n Metafoor maak altyd verrassende perspektiewe oop. So help hierdie metafoor ook vir ons om nuut te dink oor navorsing, om ou geykte konsepte te bevraagteken en nuwes op die tafel te sit.

Sommige lesers sal dalk wat julle die “narratiewe benadering” noem verwar met narratologie – wat is die verskille en ooreenkomste tussen hierdie begrippe?

Die narratiewe benadering is eerstens ’n metafoor vir ’n bepaalde verstaan van realiteit. Dit behels die insig dat ons ons werklikhede konstrueer aan die hand van en met verhale. Daarom word die term storying ook soms in Engels gebruik. Ons vertel nie net verhale nie, ons is die heeltyd in ’n proses van “storying”. Ons het geen ander manier om gestalte en betekenis te gee aan ons ervaringe nie. Die narratiewe benadering behels dus meer as metode. Dit is eerder die insig dat ons hele bestaan aanmekaar “gestorie” word en so verstaan moet word. Hierdie insig het natuurlik voortdurende implikasies vir allerlei aktiwiteite, soos terapie en navorsing.

Daarteenoor het die begrip narratologie ’n meer tegniese betekenis. Dit beteken letterlik die kennis (logos) van narratiewe. Hier gaan dit oor die verstaan van hoe stories werk – hoe stories opgebou word en hoe verhale ontleed sou kon word.

Narratiewe navorsing is bekend by akademici in veral Kanada en die VSA. Wat dink julle is die rede dat Suid-Afrikaanse navorsers nog onbekend met hierdie soort navorsingsmetodiek is?

Dit is ’n interessante verskynsel. ’n Mens moet miskien Europa en Australië en Nieu-Seeland ook in die prentjie inbring. En mens moet ook onthou dat mens maklik geneig is om te veralgemeen en dalk ongeldige uitsprake te maak oor waar die benadering wortel geskiet het en waar nie. Maar my indruk is dat dit sukkel om wyd veld te wen in Europa. Miskien het dit met ’n akademiese purisme en konserwatisme te doen. Die feit is dat ons in die sosiale en geesteswetenskappe in Suid-Afrika nogal sterk beïnvloed word deur Europa. Daar is bemoedigende tekens dat dit in sommige kringe in Suid-Afrika goed veld wen. Ons twee skrywers se vakgebiede (opvoedkunde en teologie) is voorbeelde van terreine waar hierdie ontwikkeling plaasvind.

In die opvoedkunde het Dewey en Schön1 baie geskryf oor die konsep van nadenkende praktisyns. Hoe hou dit verband met julle navorsing?

Marguerite: Dewey beskryf refleksie as sentraal tot probleemoplossing. Refleksie maak dit dus vir ons moontlik om ons ervaringe op ʼn intellektuele manier te ondersoek, maar ook om op ʼn skeppende wyse daarmee om te gaan. Schön plaas weer klem op hoe refleksie gebruik moet word om ons dade te ondersoek – reflection-on-action – en dan ons optredes te ontleed om sodoende te hersien wat ons doen. Vir my is die skryf van fiksie ʼn manier om na te dink oor ervaringe  in die konteks waarin ek werk. Die doel van refleksie is tog om te dink aan nuwe en beter moontlikhede van doen en wees en die skeppende proses van fiksie skryf help my om hierdie nuwe moontlikhede te verwoord.

Julian, jy kom uit die teologiese navorsingsterrein waar narratiewe terapie baie veld gewen het. Wat is die verskille en ooreenkomste tussen narratiewe terapie en narratiewe navorsing?

Ek het reeds hierna verwys in antwoord op vraag een hier bo. Die waterdigte skeidslyne tussen dissiplines is besig om te vervaag. Akademici raak al meer bewus van die ooreenkomste en vind dit al minder betekenisvol om die skeidings te handhaaf. Dieselfde geld vir die grense tussen terapie en navorsing. In wese is die twee velde baie naby aan mekaar. In albei gevalle word gesoek na betekenis en word daar uitgenooi om te interpreteer en te verstaan. As mens die klem op die eng metodologiese vlak lê, sou mens ’n saak kon uitmaak vir verskillende metodes wat gevolg word, maar selfs dit is meer gekompliseerd. Veral as die klem val op die narratiewe metafoor as uitgangspunt by albei velde, raak dit minder van toepassing om skeidslyne te probeer trek. In albei gevalle moet daar integriteit in die proses wees, en etiese verantwoordelikheid teenoor die ander partye wat betrokke is.

Hoe dink julle kan die gebruik van fiksie “akademiese navorsing meer toeganklik ... maak vir nie-akademiese gehore”?

Akademiese tekste word gewoonlik deur akademici gelees en geskryf. Die tekste bly dus in ʼn soort sirkel van elitistiese skrywers en lesers. Dit word selde buite die sirkel gelees. Hierdie situasie is egter toenemend problematies en teenstrydig met wat besig is om te gebeur in sowel die hoëronderwyslandskap as in die teologie. Hoër onderwys word as almal se reg beskou, eerder as party se voorreg. Dieselfde gebeur in die kerklik-teologiese wêreld. Soos wat ons besig is om hoër onderwys te herondersoek in terme van dekolonialisering, moet ons seker ook kyk na die navorsingsprosesse en dink hoe akademiese tekste meer toeganklik gemaak kan word vir alle lesers, eerder as net vir ʼn klein groepie elite akademici. Fiksie is ʼn genre waarmee meer mense vertroud is as akademiese tekste, en om hierdie rede hou dit nuwe moontlikhede in vir breër omgang met akademiese teorie en idees. Fiksie in die sin van verhale wat vertel word, was ook nog altyd deel van die teologiese omgewing. Dink maar aan die Bybelverhale en die benutting daarvan met die oog op teologiese verstaan.

Om fiksie in die navorsingsproses te gebruik behels ’n sekere vorm van kreatiewe denke en gebruik van die verbeelding – laasgenoemde is seker nie in almal se aard nie. Beteken dit dat nie almal sulke navorsing kan doen en interpreteer nie? Verduidelik asseblief.

Net soveel soos wat die gebruik van syfers of statistiek nie in almal se aard val nie, sal die gebruik van fiksie sekerlik ook nie ewe veel byval vind nie. Die idee is nie om fiksieskryf of kreatiewe navorsingsmetodes te verhef bo ander metodes nie; dit is bloot om dit daar te stel as ʼn aanvaarbare alternatief vir diegene wat wel aangetrokke voel tot hierdie vorme van uitdrukking en verstaan. Die interessante is verder dat ons almal, geleerd of nie, gedurig in ons gewone omgang en taalgebruik van spreekwoorde en metafore gebruik maak om ons idees oor te dra. Taal en metafoor is in dié sin naby en natuurlik. Refleksie daarop vra teoretiese insig en geleerdheid, maar dit is andersins allemansgoed.

Hoe (en wanneer) sou julle jong navorsers aanmoedig om narratiewe navorsing te doen?

Wat ons betref, is dit nie ’n ekstra of luukse nie. Die narratiewe, en daarmee saam die skryf van fiksie, bied moontlikhede van uitdrukking wat nie ontbeer kan word nie. Jong navorsers moet uit die staanspoor hiermee in aanraking gebring word.

Julle sê “feite en fiksie [is] nie so maklik te skei ... van mekaar nie”. Hoe kan fiksie die navorser help om sy/haar eie aansprake te relativeer en versigtig te wees met finale gevolgtrekkings – dus ’n soort objektiwiteit te ervaar en in te bou in die navorsing?

Die eindpunt van hierdie tipe navorsing is juis nie finale gevolgtrekkings nie. Dit is eerder om nog vrae op die tafel te sit – alternatiewe vrae wat nuwe perspektiewe open. Die ontologiese vertrekpunt is dus nie ʼn geloof in objektiewe en vaste realiteit nie, maar eerder die gedurig veranderende en skeppende proses. In feite lê daar soms fiksie en in fiksie soms feite. Die navorser wat begin om fiksie as genre te gebruik ontdek onmiddellik die oneindige verskeidenheid van moontlikhede wat hulle voordoen. Die maak van keuses in hoe die storie verwoord en oorgedra word, is dan meteens nie meer ’n onderbewuste vanselfsprekendheid nie. Keuses word deur fiksieskryf na die oppervlak gebring en dit word moontlik om daarop te reflekteer.

Wat het julle elkeen in hierdie navorsings- en publikasieproses geleer van julleself?

Marguerite: Vir my was die belangrikste leerproses om myself binne die konteks van die navorsing te leer ken. Verder was dit vir my ʼn aangename verrassing dat ek die navorsingsproses kon “geniet” deur ʼn kreatiewe omgang met akademiese teorieë en idees. Vir hierdie spesifieke publikasie was die uitdaging vir my ook om in Afrikaans te skryf na baie jare van staatmaak op Engels as akademiese taal. Dit het my nogal uitgedaag om begrippe te herondersoek soos wat ek na die korrekte Afrikaanse woorde gesoek het om myself mee uit te druk.

Julian: Ek het ontdek dat navorsingsmetodes nie in beton gegiet is nie. Ek het ook herontdek dat interpretasies nooit objektief en “waar” is nie. As jy jou met fiksieskryf bemoei, word jy gekonfronteer met meervoudigheid en relatiwiteit. Dit dwing mens om opnuut versigtig te soek na subjektiewe integriteit in die navorsingsproses.

Eindnota

1 Dewey, John. 1997. How we think. Mineola, NY: Dover Publications.

Schön, Donald A. 1983. The reflective practitioner: How professionals think in action. New York: Basic Books.

—. 1987. Educating the reflective practitioner: Toward a new design for teaching and

learning in the professions. The Jossey-Bass higher education series. 1ste uitgawe. San Francisco: Jossey-Bass.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top