.........
Die 16de kykNET Fiëstas is Sondagaand by The Bay Hotel in Kampsbaai gehou. Dit was ’n deftige affêre met vermaak en die Suid-Afrikaanse teaterbedryf se grootste sterre, en altesaam 30 Fiëstas is uitgedeel. Die seremonie is ook regstreeks op YouTube gestroom.
.........
Die 16de kykNET Fiëstas is Sondagaand by The Bay Hotel in Kampsbaai gehou. Dit was ’n deftige affêre met vermaak en die Suid-Afrikaanse teaterbedryf se grootste sterre, en altesaam 30 Fiëstas is uitgedeel. Die seremonie is ook regstreeks op YouTube gestroom.
Dis vanjaar deur Tribuo aangebied en het kykNET as naamborg.
Die span beoordelaars onder leiding van Pieter Bezuidenhout as sameroeper het in 2025 sewe kunstefeeste bygewoon en elkeen van die 350 debuutproduksie op elkeen van die feesprogramme gesien. Die aantal kategorieë vir vanjaar se Fiëstas is uitgebrei na 25 en dek alles op én agter die verhoog en oor al die genres heen. Twee Blou fiëstas vir verdienstelike werk wat nie in enige van die kategorieë val nie en drie lewensbydrae-Fiëstas is toegeken.
Die twee produksies wat met die meeste Fiëstas weggestap het, was Ek is nie Danie (beste akteur, beste prestasie in klank-musiek-ontwerp, beste vertaling of verwerking van ’n bestaande teks, beste musiekgedrewe teater, beste aanbieding en produksie van die jaar) en Verwelkingslied (beste regie, beste aktrise, beste prestasie in beligtingsontwerp en beste nuutgeskepte Afrikaanse/Suid-Afrikaanse teks).
Die aanbieders van die aand was Dean Balie, De Klerk Oelofse, Veronique Jephtas, Nicole Holm en Tollie Parton.
Verskeie musiek- en sang-insetsels is gelewer en reuse poppe deur Sipho Ngxola het tussen die gehoorlede deurbeweeg, terwyl die Kaapse Opera se Vokale Ensemble opgetree het.
Twee van die aanbieders, De Klerk Oelofse en Dean Balie, het die gek geskeer met akteurs en produksies, maar op ’n ernstiger noot het De Klerk gesê hy het sy eerste Fiësta tydens die grendeltyd aangebied. Toe het ons gedink die wêreld is op ’n donker plek. Nou – ses jaar later – kan ons steeds nie applous gee nie, want ander euwels speel op die wêreldfront uit.
Waldimar Pelser, kanaalhoof: Premium-kanale, MultiChoice, ’n Canal+-maatskappy, het in sy kort toespraak gesê mens kan deesdae vanweë KI nie alles glo wat jy sien nie, want die grense tussen feit en fiksie word oral vertroebel. Soms maak hierdie tegnologie kreatiewe wonderwerke moontlik; plek-plek is daar dié wat vrees dat dit die menslike beskawing op sy kop sal draai. Masjien en mens werk nou in tandem saam op verskeie vlakke. In televisie en film worstel vervaardigers en uitsaaiers nou met vrae rondom etiek en die noodsaaklikheid daarvan om aan te hou skep wat outentiek menslik is. Ons staan voor groot debatte oor die aanwending van KI, en dis dalk ’n groter revolusie as die internet.
“Terwyl die KI-revolusie voortwoed, verteenwoordig die teater wat ons vanaand hier vier, ’n tasbare vlees-en-bloed-konstante – iets wat op geen manier deur KI vervang kan word nie. Dit wat jy in die visuele en beeldende kunste sien, is iets wat jy kan glo.”
Karen Meiring, uitvoerende voorsitter van Tribuo, het gesê: “Die kunste en kunstenaar vervul ’n rol wat geen ander instelling of professie kan vervang nie. Dit benoem die onsigbare.”
Die kunstenaar is tegelyk argivaris en profeet – iemand wat die verlede dra en die hede bevraagteken; wat empatie kweek waar verdeeldheid heers en wat die stories kan help vertel van diegene sonder ’n stem of ’n sitplek aan die tafel.
“In ons land met sy diep letsels van vervreemding en identiteitsworsteling is dit nie ’n luukse nie, dit is ’n noodsaaklikheid.”
Sy het gesê dit geld des te meer vir “Afrikaanse kunste, want ’n taal en kultuur leef of sterf in sy stories, sy dramas, sy liedjies, musiek en die inhoud op alle platforms.
“Die volhoubaarheid van die kunste as beroep is nie net ’n finansiële en ekonomiese uitdaging nie, dis ’n doelbewuste keuse om ’n dinamiese en diverse kultuur te laat oorleef.
“Die kunstenaar is nie ’n nice to have nie. Dis gewete, dis geheue en dikwels die enigste eerlike stem.
“Die Fiëstas is nie net nog ’n toekenning nie, dis die enigste platform vir nasionale erkening aan kunstenaars wat by kunstefeeste optree. Dis die soort erkenning wat CV’s en loopbane bou, deure oopmaak en beter werksgeleenthede skep. Dit stimuleer ambisie om groter te dink, te aspireer, en dryf die ekosisteem vir volhoubaarheid.
“Ons het baie werk om te doen. Ons het die talent en het niemand se toestemming nodig om dit te doen nie.”
Die wenners is ...
Beste akteur
Albert Pretorius: Ek is nie Danie, Toyota Stellenbosch Woordfees
Beste aktrise
Antoinette Kellermann: Verwelkingslied, Suidoosterfees en Momentum Aardklop
Beste vroulike byspeler
René Cloete: Huis van sand
Beste manlike byspeler
Jefferson J Dirks-Korkee: Huis van sand
Beste ensemble
Boklied, Toyota Stellenbosch Woordfees en KKNK
Beste visuele prestasie
Marthinus Basson, visuele ontwerp: Boklied
Beste prestasie in beligtingsontwerp
Faheem Bardien: Verwelkingslied
Beste prestasie in klank- en musiekontwerp
Schalk Joubert, musiekontwerp: Ek is nie Danie, Toyota Stellenbosch Woordfees
Beste prestasie in kinder- en jeugteater
Grommels
Beste vertaling of verwerking van ’n bestaande werk
Danie Marais: Ek is nie Danie, Toyota Stellenbosch Woordfees
Beste nuutgeskepte Afrikaanse/Suid-Afrikaanse teks
Breyten Breytenbach: Verwelkingslied
Beste komedie
Moedswil en muitery
Beste vertolking in ’n komedie
Chris Vorster: Gebou soos Steffi Graf, Vrystaat Kunstefees
Beste prestasie in dans/beweging
Die een wat bly
Beste prestasie in ’n solovertoning
Wian Taljaard: Ont-, KKNK
Beste kontemporêre-musiek-vertoning
Duif, KKNK en Suidoosterfees
Beste musiekproduksie: podium
The Scullery Quintet: Stir-fried Sonatas, Momentum Aardklop
Beste musiekgedrewe teater
Ek is nie Danie, Toyota Stellenbosch Woordfees
Beste prestasie in klassieke musiek: vokale uitvoering
Afrikaans is 100, Toyota Stellenbosch Woordfees
Beste prestasie in klassieke musiek: instrumentele uitvoering
The Scullery Quintet: Stir-fried Sonatas, Momentum Aardklop
Beste prestasie in visuele kuns
Henk Serfontein: Die stomme aarde, KKNK
Beste nuweling
Angelo Bergh: Kompoun, Suidoosterfees, Toyota Stellenbosch Woordfees, KKNK, en Vannie wal, Af, Suidoosterfees
Beste regie
Marí Borstlap: Verwelkingslied, Suidoosterfees en Momentum Aardklop
Beste aanbieding
Ek is nie Danie, Toyota Stellenbosch Woordfees
Produksie van die jaar
Ek is nie Danie, Toyota Stellenbosch Woordfees
Ton en Anet Vosloo-fiësta
Boklied
Beste juniornuweling
Judi Hattingh: Annie+Helen
Blou fiëstas:
Toyota Stellenbosch Woordfees se Veldhospitaal
KKNK Karoo Kaarte-projek
Lewensbydrae
John Theodore, Juanita Swanepoel en Anton Goosen

Die drie direkteure van Tribuo, wat die kykNET Fiëstas aangebied het, is van links Cornelia Faasen, Gillian Mitchell en Karen Meiring (uitvoerende voorsitter). Cornelia is ook die hoof- uitvoerende beampte van die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi).

Die Toyota Stellenbosch Woordfees-produksie Ek is nie Danie het met ses Fiëstas triomfeer vir beste akteur, beste prestasie in klank-musiek-ontwerp, beste vertaling of verwerking van ’n bestaande teks, beste musiekgedrewe teater, beste aanbieding en produksie van die jaar. Van links is Albert Pretorius (beste akteur), Niel van Deventer (konsep en produksie), Danie Marais (skrywer en wenner vir beste vertaling of verwerking) en Nico Scheepers (regisseur). Schalk Joubert (musikant) is vereer vir beste prestasie in klank-musiek-ontwerp, maar was nie by die toekenningsgeleentheid nie.

Albert Pretorius is vereer as beste akteur vir sy rol in Ek is nie Danie.

Cole Wessels en Niel Rademan op die rooi tapyt.

Waldimar Pelser, kanaalhoof: Premium-kanale, MultiChoice, ’n Canal+-maatskappy, gesels met Wicus Pretorius, een van Fiësta se veldaanbieders, oor die 16de Fiësta-toekennings.

Anet en Ton Vosloo, nie alleen beskermhere van die KKNK vir 31 jaar deur Naspers nie, maar ook die kykNET Fiëstas se hoofdonateurs, en Anet het ook van die Fiëstas oorhandig. Anet is ook die Tribuo-beskermvrou en hulle het ’n Fiësta geborg.

Akteur en vervaardiger Ignatius van Heerden (akteur in Prooi en saam met Johan van der Merwe vervaardigers van Seun wat vir ses Fiëstas benoem is), Duane Alexander en Anton Luitingh, albei van Luitingh Alexander Musical Theatre Academy (Lamta), wie se Beyond: a fantasy cirque experience vir beste prestasie in dans/beweging benoem is, en Ryan Rossouw (akteur in Prooi wat as beste nuweling genomineer is).

Elzette le Roux, Sue Diepeveen (aktrise in Prooi), Johan van der Merwe (vervaardiger en regisseur van Prooi), Johann Smith (skrywer en regisseur van Prooi en verwerker van Seun), Ryan Rossouw (akteur in Prooi wat genomineer is as beste nuweling) en Ignatius van Heerden (akteur in Prooi en saam met Johan vervaardigers van Seun wat in verskeie afdelings genomineer is, waaronder beste akteur, beste visuele prestasie, beste beligtingsontwerp, beste vertaling of verwerking van ’n bestaande werk, beste prestasie in ’n solovertoning en beste aanbieding.

Isabelle Grobler poseer saam met Sjaka S Septembir wat genomineer is vir beste prestasie in kinder- en jeugteater vir Stinkie, los uit! Don’t touch! (Suidoosterfees).

Cintaine Schutte is genomineer as beste aktrise in Annie+Helen en glimlag hier saam met haar akteurman, Carel Nel.

Marietjie Rossouw en die aktrise Marion Holm, wat in die komedie Kry vir jou ’n tux, Thomas, te sien was. Dis vir ’n Fiësta vir beste komedie benoem.

Kuns het in die gange, op die trappe en in die hoekies naby die Rotunda gebeur, terwyl gaste met drankies en versnaperinge gekuier het.

Wian Taljaard is vir verskeie Fiëstas benoem en wen beste prestasie in ’n solovertoning in Ont-.

Carla Smith staan by Bianca Flanders (middel) wat benoem is vir beste vroulike byspeler in Annie+Helen en Wian Taljaard as beste akteur, beste prestasie in dans/beweging en beste prestasie in ’n solovertoning in Ont-, en beste manlike byspeler in Boklied. Wian wen die Fiësta vir beste prestasie in ’n solovertoning in Ont-.

Elsa de Bruyn en Wilhelm van der Walt op die rooi tapyt. Wilhelm speel die rol in Seun, wat vir ses Fiëstas benoem is

Wilhelm van der Walt in Seun, wat vir ses Fiëstas genomineer is, in aksie by die Toyota Stellenbosch Woordfees.

Die dryfvere agter van ons grootste feeste is lede van die Suidoosterfees: van links Carin Bester, Raymano Randall, Tamsyn Alexander, Kaylin Khan, Jana Hattingh (uitvoerende hoof van die fees), Cindy Purén en Edmund Jeneker.

Nico Scheepers, die regisseur van die Fiëstas 2016, is ook in verskeie kategorieë benoem. Hy staan hier saam met Peter-John Titus.

Die glorieryke geleentheid is in die hotel se Rotunda gehou.

Verskeie musiek- en sang-insetsels is gelewer en reuse poppe deur Sipho Ngxola het tussen die gehoorlede deurbeweeg, terwyl die Kaapse Opera se Vokale Ensemble opgetree het.

Ilza Roggeband en Felischia Lesch kondig die wenner van die beste kontemporêre-musiek-vertoning, Duif, aan en Nicolaas Swart ontvang dit. Twee van die aanbieders, Dean Balie en De Klerk Oelofse, staan heel links.

Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK en ook die brein agter Karoo Kaarte, ontvang die Blou fiësta vir dié unieke Oudtshoorn-projek.

Cornelia Faasen, een van die Tribuo-direkteure, kondig die wenner van die beste ensemble, Boklied, aan. Een van die aanbieders, Dean Balie, staan heel links.

‘n Paar akteurs van Boklied, Wian Taljaard, David Viviers, Hannah Borthwick en Keagon Cochrane, met die Fiësta vir beste ensemble, beste visuele prestasie: Marthinus Basson en die Ton en Anet Vosloo-Fiësta.

Vier van die kunstenaars wat by Veldhospitaal betrokke was en die Blou fiësta in ontvangs geneem het, is van links Gert van Tonder (Trane), Haidee Nel (Arms en hande), Maia Nel (Tande) en Jeffline Ndavala (Skaduwees).

De Klerk Oelofse en Dean Balie vermaak die gehoor.

Chris Vorster wen die Fiësta vir beste vertolking in ’n komedie vir Gebou soos Steffi Graf.

Jefferson J Dirks-Korkee wen die Fiësta vir beste manlike byspeler vir sy rol in Huis van sand.

Jefferson J Dirks-Korkee, beste manlike byspeler, in aksie in sy rol in Huis van sand.

Twee van die musikante wat by die geleentheid opgetree het: Féroll-Jon Davids (klarinet) en Nina Schumann (klavier).

Mark Willard en Lee-ann van Rooi, wat benoem is vir beste visuele prestasie in stelontwerp vir Kompoun.

Grant van Ster, Shaun Oelf en Daneel van der Walt te sien in Die een wat bly, wat die Fiësta ontvang het vir die beste prestasie in dans/beweging. Grant was die choreograaf vir die Fiëstas 2026. Shaun Oelf is benoemd vir beste musiekontwerp vir Die een wat bly.

Anton Goosen (foto bo), John Theodore en Juanita Swanepoel het elkeen ’n Fiësta vir hul lewensbydrae tot die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf ontvang.

Andre le Roux van Concerts SA, Christine Msibi en Brett Pyper, voormalige uitvoerende hoof van die KKNK.
Foto’s: Clifford Roberts met die Canon R6 spieëllose kamera

