Stellenbosch Law Faculty 100 years | Stellenbosch Regsfakulteit 100 jaar deur Gerhard Lubbe en Andreas van Wyk: ’n boekresensie

  • 0

Prent: SUN Media

Stellenbosch Law Faculty 100 years | Stellenbosse Regsfakulteit 100 jaar
Gerhard Lubbe
en Andreas van Wyk
SUN Media
ISBN: 1996-2177

Dit is 1979. Professor Andreas van Wyk, met lui ooglede agter sy dik bril, vou sy besproete hande voor hom voor die vierdejaar-Wisselregklas in die Ou Hoofgebou, Stellenbosch: “Dames en here, ek het vir u gesê, die wissel is ’n onvoorwaardelike belofte op skrif om ’n vasgestelde bedrag geld te betaal ...” Buite dreun die Kremlin se grassnyers, en die ewige tortelduiwe koer saam.

Of later in die jaar: Lede van die Gevorderde Kontraktereg-klas drom saam in die vierkant in hulle Sondagbeste vir ’n mondeling by professor Gerhard Lubbe. Oë wat brand van die min slaap. Naar kol op die maag.

Daar is seker ’n rede hoekom mens gevra word om ’n boek soos hierdie een te resenseer. Dit mag iets te doen hê met die feit dat hierdie resensent in die jare 1976 tot 1980 sy broeke op die patinaglimmende banke van die Ou Hoofgebou deurgeslyt en na die einste, ietwat intimiderende nou mede-outeurs van die gedenkboekvan die Stellenbosse Regsfakulteit geluister het.

So ’n leser soek dus onvermydelik iets van sy eie ervaring terug. Iets persoonliks. Iets van die reuk van bordkryt en blinkgepoetste houtbanke, met stemme wat teen die hoë dak vasslaan.

...........
’n Regsfakulteit is immers allereers mense, en in dié verband stel die boek nie teleur nie. Elke paar bladsye verskyn daar ’n paar paragrawe van ’n oudstudent wat sy herinnerings weergee. Hierdie stukkies is menslik, vermaaklik, roep assosiasies op  en is dikwels baie snaaks.
.............

’n Regsfakulteit is immers allereers mense, en in dié verband stel die boek nie teleur nie. Elke paar bladsye verskyn daar ’n paar paragrawe van ’n oudstudent wat sy herinnerings weergee. Hierdie stukkies is menslik, vermaaklik, roep assosiasies op  en is dikwels baie snaaks.

Soos die 1987-onderhoud deur senior advokaat Jeremy Gauntlett met prof JC de Wet – deur baie as die grootste gees uit die fakulteit beskou, en wat op ’n Oos-Kaapse plaas grootgeword het – wat só afsluit:

From the beginning, it was clear to me that I had to go to Stellenbosch. My teachers had in general been trained there. … Once I had decided to go to Stellenbosch, it became almost inevitable that I should be a lawyer. I have never in my life had any doubt about this. Mind you, I loved oxen and working with them. I think they are very intelligent; I agree with Roy Campbell that horned animals are more intelligent.

Of prof Mortie Malherbe, een van die driemanskap wat die fakulteit gegrondves het, se lesingstyl soos beskryf deur een van sy oudstudente, Gys Steyn:

Hy sou gewoonlik die lesingkamer binnekom, hoflik groet en dan dadelik begin om sy notas aan ons voor te lees. Dit het hy stadig op een stemhoogte en sonder emosie gedoen … Aan die einde van die klas het hy bloot ophou dikteer, gegroet met iets soos “Nou goed dan” en daarna by die deur uitgestap.

En Mortie se finale lesing, waar hy uitgestap het, ten spyte van die studente se pogings tot ’n klein afskeidsfunksie, sy rede beperk tot dié gevleuelde woorde: “Hierdie is nou ons laaste klas van die jaar. Julle moet asseblief mooi na die dames omsien. Ek groet u. Nou goed dan.”

Soos verwag kan word van ’n gedenkboek deur twee akademiese juriste geskryf, is die boek sistematies. Die geskiedenis word chronologies vertel, vanaf die grondlegging in 1921, deur die Wêreldoorloë, die groeijare van die sewentigs en die vroeë negentigs, en die uiteindelike nuwe bestel ná 1994. Die massa navorsing en geduldige skaafwerk wat kennelik nodig was om hierdie uiteindelik kompakte en volgepakte eindproduk te lewer, spreek van geoefende verwerking van inligting.

Soos mens kan dink, skemer iets van die onstuimigheid van die nuwe bedeling, met sy Grondwetlike eise van gelykheid, en die taalstryd aan die universiteit deur, hoewel noodwendig ietwat versluier agter die feit dat die publikasie ’n (ietwat polities korrekte?) beelddraer van die universiteit is.

............
Soos mens kan dink, skemer iets van die onstuimigheid van die nuwe bedeling, met sy Grondwetlike eise van gelykheid, en die taalstryd aan die universiteit deur, hoewel noodwendig ietwat versluier agter die feit dat die publikasie ’n (ietwat polities korrekte?) beelddraer van die universiteit is.
...............

Die boek is dan ook tweetalig, met die Engelse deel op die linkerblad en die Afrikaanse deel (metafories?) regs – amper ’n eggo van die taalbedeling. Maar die twee helftes is nie spieëlbeelde van mekaar nie. Studentebydraes is goed verdeel tussen demografiese groepe en hulle skryfsels en foto’s verskyn óf in die Engelse óf in die Afrikaanse deel, wat ’n nuttige manier word om plek te bespaar en bladuitleg meer buigbaar te maak.

Maar eindelik kom ons terug by die mense. Daarom is dit heerlik om volledige beskrywings te lees van wat van alumni geword het, en hoeveel van hulle diep spore in die regs- en sakewêreld getrap het; hoeveel appèlregters uit die fakulteit gekom het en hoeveel ook op ander gebiede presteer het. Wie sou nou kon dink dat die skrywer WA de Klerk ’n produk van die fakulteit was? Of baie beroemde sportmanne, soos Danie Joubert (1933), wêreldrekordhouer oor 100 treë in ’n tyd van 9,4 sekondes.

Onvermydelik kyk ’n mens ook deur die uiters interessante lys afgestudeerdes van die twintigerjare tot nou, mooi volgens jaar gerangskik. Dis verbasend hoeveel herinneringe en eienaardighede die deurblaai daarvan oproep – dit natuurlik nadat mens in alleryl eers jou eie naam gesoek het.

Die boek bevat getuienis wat lesers behoort te oortuig dat ons werklik hier met ’n regsfakulteit van wêreldgehalte te doen het. Die tradisie wat deur die Stellenbosse denkskool gevestig is, word deur ’n klomp verwysings gerugsteun. Dit het te doen met die intellektuele tradisie van die fakulteit wat van huis uit beginselgedrewe, eerder as positivisties en kasuïsties, was. Dit is bes moontlik weens daardie fondament dat die fakulteit verbasend goed by ’n veranderende politieke bestel aangepas het. Die oorheersende bydrae van leidende skrywers uit die fakulteit met Afrikaanse handboeke – JC de Wet en JP Yeats (Die Suid-Afrikaanse Kontraktereg en Handelsreg), Andreas van Wyk (latere medeskrywer van die handelsreggedeelte) en  CG van der Merwe (Sakereg), het letterlik Afrikaanse regstaal geskep en ontwikkel – maar terselfdertyd die beginselbenadering geanker. Hierdie handboeke se invloed kring vandag nog uit.

Terselfdertyd is daar die besef dat niks dieselfde bly nie. Oor die jare het die studentetal gegroei van ’n handjievol in die twintigerjare tot oor die 900 vandag. In 2021 was 49 persent van die fakulteit se voorgraadse studentekorps uit voorheen benadeelde groepe, en 60 persent nie Afrikaanssprekend nie.

Tog bly gehalte steeds deurslaggewend. ’n Verstommende stukkie getuienis hiervan is dat die Kanseliersmedalje, wat sedert 1961 jaarliks aan een uitmuntende finalejaar- of nagraadse student toegeken word, reeds vyf maal aan studente in die Regsfakulteit gegaan het – waarvan twee ná 1994.

............
Tog bly gehalte steeds deurslaggewend. ’n Verstommende stukkie getuienis hiervan is dat die Kanseliersmedalje, wat sedert 1961 jaarliks aan een uitmuntende finalejaar- of nagraadse student toegeken word, reeds vyf maal aan studente in die Regsfakulteit gegaan het – waarvan twee ná 1994.
..............

’n Riem onder die hart is die vroeë (oorwegend liberale) politieke ontwaking van die regstudentekorps en merendeels positiewe belewenis van die eerste klompie bruin en swart studente. So byvoorbeeld vertel Rodney Africa (1993), ’n politieke aktivis, Trotski-aanhanger en lid van Cosas en Sasco, hoe “I never experienced a backlash from the law faculty. It embraced and accepted different views and went out of its way to accommodate us. This was confirmed when Professor Lubbe, the acting dean at the time, informed me that I had been awarded a bursary (despite my political involvement and in fact having attended a political rally on that day).”

Stellenbosse Regsfakulteit 100 jaar is ’n goeie manier om te help onthou. Maar wat ook soos ’n goeie regsargument die getuienis uiteensit en die feite vir sigself laat spreek. Of soos ons op Stellenbosch sou sê: Res ipsa loquitur.

Lees ook:

Open Stellenbosch: The elephant in the room

Open Stellenbosch: Academic imperialism at Stellenbosch and in higher education

Robert Greig on the language debate at Stellenbosch University

Open Stellenbosch and the importance of mother tongue education

Open Stellenbosch: Beyond the rainbow, towards a change of climate

Open Stellenbosch: “Yeah but you said it” – revisited

100% Stellenbosch: A whole town on a stage

Review: The Stellenbosch Mafia: Inside the Billionaires’ Club by Pieter Fourie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top