Steinhoff en die Stellenbosse Boys deur James-Brent Styan: ’n lesersindruk

  • 0

Steinhoff en die Stellenbosse Boys
James-Brent Styan
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799371635

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Alle Suid-Afrikaners is direk of indirek deur die Steinhoff-ineenstorting van 2017 geraak. Daar is mense wat hulle lewenslange spaargeld gebruik het om in Steinhoff-aandele te belê, met die hoop dat dié aandele inflasie sal klop en genoeg geld vir hulle sal genereer vir ’n gemaklike aftrede. Die meeste groot Suid-Afrikaanse fondse het aandele in Steinhoff, onder meer die grootste een, die GEPF, wat die regering se pensioenfonds is en waarin onder meer polisielede, onderwysers en verpleegsters se pensioengeld belê word. Die aanvanklike voorlopige skatting van die totale verlies van die Steinhoff-ineenstorting is op R87 miljard gestel (bl 222). Wanneer soveel geld in so ’n kort tyd uitgewis word, dan is daar uiteraard gevolge vir die hele samelewing. Wat die hele drama soveel vererger, is die beweringe dat die skade veroorsaak is deur ongerymdhede en nalatigheid. Die Steinhoff-ineenstorting het vertroue geskok, veral in die lig van die feit dat die ervare direksie skynbaar net so onverhoeds betrap was soos die publiek.

Baie van die inligting in Steinhoff en die Stellenbosse Boys sal moontlik bekend wees aan diegene wat die onderwerp gereeld in die media volg. Die boek is voorsien van ’n bronnelys (wat eintlik beter beskryf sou kon word as eindnotas). Die oorgrote meerderheid van die inligting in die lys is bronverwysings na populêre media soos Sunday Times, Die Burger en The Citizen. Dan is daar ook primêrebronverwysings in die vorm van notules, verslae en korrespondensie. Die skrywer het heelwat moeite gedoen om mondelingse getuienis te versamel deur “met nagenoeg 80 mense in onder meer Suid-Afrika, Nederland, Duitsland en die VSA” (225) onderhoude te voer en te korrespondeer. Dit vorm ook deel van die lys. Die lys bevat geen beskrywende voetnote nie, en indien jy nie lus is vir heen en weer rondblaai nie, gaan jy dus nie veel mis indien jy net die boek van voor tot agter deurlees nie. Vir diegene wat dus minder vertroud is met wat alles in die media geskryf was, sal baie van die inligting nuut wees. Maar selfs vir mense aan wie die inligting grootliks bekend mag wees, kan dit interessante leesstof bied waar dit nou saamgeweef is tot ’n boeiende narratief met nuwe insigte.

Steinhoff en die Stellenbosse Boys is in vyf dele opgedeel en begin by die ontstaan van “Die Steinhoff-storie” in 1964 in die dorp Westerstede in Duitsland, waar Bruno Steinhoff begin het om meubels onder die naam Steinhoff te vervaardig. Dan volg daar ook agtergrondinligting oor die groot rolspelers in die Steinhoff-ineenstorting, soos hoofstukke oor Markus Jooste en Christo Wiese. Die leser word van hierdie punt af getrakteer op onderwerpe soos Jooste se uitgebreide kennis van belastingprosedures, sy rol in die perdewedrenbedryf en die sakenetwerke van Stellenbosch. Daar was altyd kritiese stemme teen Steinhoff, maar dié is oordonder deur die sukses van die maatskappy. Verdagte transaksies en onvolhoubare uitbreiding is van die tipiese kritiek wat uitgespreek is, waarvan baie in hierdie boek verreken word. Die aanloop tot die bom wat vroeg in Desember 2017 gebars het, en die bedanking van Markus Jooste as hoof uitvoerende amptenaar van Steinhoff, word natuurlik ook volledig gedek.

James-Brent Styan | Foto: Izak de Vries

Wat hou die toekoms vir Steinhoff in? Daaroor heers daar groot onsekerheid.

In ’n tyd waarin meeste Suid-Afrikaners se aandag waarskynlik veel meer gefokus was op die skade wat die Zuma-regering aan die land gedoen het, het die Steinhoff-ineenstorting waarskynlik veel minder aandag geniet as wat dit normaalweg sou. By die jaarvergadering van 20 April was daar volgens Styan “verstommend” min mense: “Miljoene Suid-Afrikaners het miljarde rande in pensioenfondse verloor, maar hier is vandag skaars 100 mense om die direksie verantwoordbaar te hou” (209). Miskien is hierdie ook ’n bedekte aanklag teen die publiek. Mens hoor gereeld die oproep dat Suid-Afrikaners nie aktief genoeg is by hulle gemeenskappe, by hulle mediese fondse se besture, ens ens nie. Maar die slotsom waartoe die boek oor Steinhoff kom, is maar oorwegend somber. Hoewel die toekoms onseker is, is dit moontlik dat Steinhoff-aandele uiteindelik tot R0 kan tuimel. Daar is bemoedigende tekens, maar daar is te min feite bekend, en die vertrouensbreuk is uiteraard groot.

Steinhoff en die Stellenbosse Boys dokumenteer die verhaal van die Steinhoff-ineenstorting op ’n boeiende wyse. ’n Mens het nie gevorderde finansiële kennis nodig om die boek te kan verstaan en te geniet nie. Daar sal nog veel oor die ineenstorting onthul word soos wat meer inligting bekend word. Volgens die skrywer se eie bekentenis is die Steinhoff-ineenstorting “’n voortdurende proses met hangende ondersoeke wat nog jare kan duur” (226). Dit is kommerwekkend om te weet hoe maklik feite verskans kan word agter ’n gloeiende verslag, hoe maklik die mens inkoop op iets wat op die oog af in orde lyk, en hoe aangewese die gewone mens is op kenners vir finansiële raad. Indien die kenners nie eens die Steinhoff-ineenstorting sien kom het nie, hoeveel te meer kan die gewone lid van die publiek die aandelemark vertrou? Hopelik sal die lesse wat in die proses geleer word, nie te gou weer vergeet word nie, en kan enige skuldiges aan die pen ry. Witboordjiemisdaad word wêreldwyd nog gans te maklik oor die hoof gesien.

Lees ook:

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Steinhoff en die Stellenbosse Boys deur James-Brent Styan

Video: Steinhoff en die Stellenbosse Boys word bekendgestel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top