Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Steinhoff en die Stellenbosse Boys deur James-Brent Styan

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


James-Brent Styan

Foto: Izak de Vries

James-Brent Styan het in 2003 as ’n rekenmeester gekwalifiseer en daarna sy klerkskap by ’n ouditeursfirma voltooi voordat hy ’n sakejoernalis geword het. Hy het vir jare vir onder meer Finweek, Forbes Africa, Sake24, Fin24, Beeld en Die Burger geskryf en werk tans in kommunikasie.

Steinhoff is Styan se derde boek. Sy ander titels sluit in: Hartebreker: Christiaan Barnard en die eerste hartoorplanting en Blackout – The Eskom Crisis.


Opsomming

Steinhoff en die Stellenbosse Boys
James-Brent Styan
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799371635

Op Dinsdag 5 Desember 2017 was die Steinhoff-groep nog R193 miljard werd. Skaars 24 uur later is meer as R117 miljard daarvan uitgewis. Die Steinhoff-ryk, wat oor 50 jaar tot ’n internasionale kolos opgebou is, het oornag verkrummel.

Markus Jooste, Steinhoff se flambojante grootbaas, het bedank en sedertdien val geraamtes die een ná die ander uit sy kas: bewerings van bedrog, spoghuise vir ’n blonde minnares en ’n lewe van oordaad.

Wat presies het hier gebeur? Wie het wat geweet? Wat is Steinhoff, wie is Markus Jooste en wat het dit alles met die sogenaamde “Stellenbosch-mafia” te doen? Hoe pas die magnaat Christo Wiese, Shoprite en Pepkor in en waar is die pensionarisse se geld heen?

Die bekende skrywer James-Brent Styan beantwoord dié en ander vrae in hierdie sake-exposé van die jaar, Steinhoff en die Stellenbosse Boys (LAPA Uitgewers).

Die boek is die eerste volledige weergawe van hierdie verstommende verhaal van die grootste finansiële ineenstoring in die geskiedenis van Suid-Afrika. Deur onderhoude met tientalle betroubare bronne in die binnekring, inligting uit vertroulike dokumente en dieptenavorsing oor Steinhoff se geskiedenis, onthul Styan die binnewerkinge van die groep.

Steinhoff en die Stellenbosse Boys is ’n boeiende sakeriller wat nog dekades lank in raadsale sowel as sitkamers oorvertel sal word.

Die boek is ook in Engels beskikbaar as Steinhoff, inside SA’s biggest corporate crash.


Uittreksel

Hoe Whitey Basson Shoprite gered het

Die Afrikaanse sangers Kurt Darren en Pedro Kruger, die aktrise Brümilda van Rensburg en die Shoprite-baas Whitey Basson is bymekaar in Sun City. Voor ’n skare van 5 000 mense wat boere­wors proe, tel Brümilda tot drie. Terwyl Pedro oor die mikrofoon skree: “Kom ons kook!”, vat Kurt ’n groot silwerbak vol yskoue wa­ter en gooi dit oor Basson se kop uit. Papnat in sy kenmerkende ligblou kraaghemp en wit langbroek, draai Basson om en loer glim­laggend na Kurt.

“Ek sal hom later in die hande kry,” skerts Basson.

Dié koue “stort” was deel van ’n wêreldwye gier ten bate van liefdadigheidsorganisasies, die sogenaamde Ice Bucket Challenge. Die doel van hierdie spesifieke uitdaging was om geld in te samel ten bate van mense wat aan motorneuronsiekte ly. Die modus operandi is eenvoudig: Jy moet net ’n emmer yswater oor jou eie of iemand anders se kop uitkeer. Die “slagoffer” kan dan weer ander mense benoem om die uitdaging te aanvaar.

Tydens dié Ice Bucket Challenge op 5 Oktober 2014 by Sun City beloof Basson dat die Shoprite-Checkers-groep bykomend tot die geld vir die MNS-lyers ook R100 000 se boerewors aan verskeie skole gaan skenk met die doel dat hulle dit gebruik om geld in te samel vir hul skole en gemeenskappe.

“Ons wil graag kyk of ons ’n verskil kan maak in skole. Dis lekker om te weet jy’t miskien iets begin vir die kinders. Ons het besluit ons welsyn moet bietjie anders wees, want ons wil entrepreneurs skep.”

Basson was ook anders – anders as al die “slim” sakelui en batebe­stuurders wat deur die Steinhoff-verhaal om die bos gelei is. Nadat Steinhoff Pepkor suksesvol oorgeneem het, is hul visier op die su­permarkgroep Shoprite gerig. Shoprite is wel in die Pepkor-stal ge­bore, maar was teen daardie tyd ’n afsonderlike, onafhanklike maatskappy wat op die JSE genoteer is. Shoprite het dus nie deel geword van Steinhoff toe die groep Pepkor gekoop het nie.

Christo Wiese se wens was dat Shoprite onder die Steinhoff-vaan­del moes val. Hy wou al sy wydverspreide belange onder een sambreel hê, en vir hom was Steinhoff die onderneming wat dit moontlik sou maak. Dit sou ook vir hom aansienlike belastingvoordele ingehou het as hy sy beleggings op dié manier taamlik moeiteloos na Duitsland kon skuif. Dit het onder meer enorme belasting- en valutabeheerimplikasies as jy ’n klomp geld landuit wil vat. Suid-Afrikaanse indi­vidue kan byvoorbeeld jaarliks net sowat R10 miljoen uit Suid-Afri­ka na die buiteland neem. Vir Wiese was miljarde rande ter sprake.

Hy het ’n belang van 23% in Steinhoff en 16% in Shoprite gehad. Hy wou dié belange onder een dak hê.

“Dit lyk of hy (Christo Wiese) Jooste gesalf het as die een wat hy met die familiejuwele vertrou,” sê Sasha Naryshkine, ontleder by Vestact, ’n Johannesburgse batebestuursgroep. (Die Openbare Beleggingskorporasie, die grootste pensioenfondsbestuurder in die land, is die naasgrootste aandeelhouer in Shoprite met ’n 10%-belang.)

Twee struikelblokke het Wiese se planne in die wiele gery om Shoprite in die Steinhoff-stal te kry: Shoprite se minderheidsaandeelhouers en sy ikoniese leier, Whitey Basson.

Whitey Basson

James Wellwood (Whitey) Basson was byna vier dekades lank aan die stuur van Shoprite.

Basson is op 8 Januarie 1946 op die familieplaas Dasbosch in die Porterville-distrik in die Wes-Kaap gebore. Sy ouers, Jack en Maude, het nog ’n seun en dogter gehad. Basson se pa het ’n drank­winkel besit.

“Ek het van kleins af geleer koop en verkoop,” het Basson later vertel.

Basson se middelnaam, Wellwood, was dié van ’n ou Skotse fami­lievriend wat nie kinders gehad het nie, en toe besluit Jack om sy seun die naam te gee.

“Dit (die Engelse naam) het nie goed afgegaan in die baie Afri­kaanse Porterville nie, toe moes hulle maar ’n korter naam kry. Ek dink hulle het die W vir Whitey gehou,” het Basson in ’n onderhoud in 2017 aan Primedia se finansiële joernalis Bruce Whitfield ver­duidelik.

Die blondekopseun – vandaar die bynaam Whitey – het sy hoër­skoolloopbaan voltooi aan die Kaapstadse skool Rondebosch Boys High, waar hy in 1963 gematrikuleer het. In daardie stadium wou hy ’n dokter word.

“Ek het aansoek gedoen en is toegelaat, maar ek het nooit gegaan nie. My ma het gesê ek was bang vir bloed . . .”

In ander onderhoude sê Basson dit was eerder ’n vakansieromanse wat ’n stokkie voor sy mediese studie gesteek het. Die mediese kursus aan die Universiteit van Kaapstad het twee weke vroeër as die Universiteit van Stellenbosch se klasse begin, en die liefde het toe nog sterk geblom. Toe verander Basson “sommer van universiteit, van kursus – én van loopbaan”.

Met dié dat sy pa ’n sakeman was, het hy besluit om sake by Maties te gaan studeer.

Op Stellenbosch het Basson en Wiese bevriend geraak. Die twee was in dieselfde koshuis, Wilgenhof. (Kyk hoofstuk 5.)

“Wiese het ook uit ’n SAP-huis (die destydse Suid-Afrikaanse Party) gekom. Daar was destyds nie te baie van ons (op Stellenbosch) nie, so ons was na aan mekaar.” In 1970 het Basson as ’n geoktrooi­eerde rekenmeester gekwalifiseer voordat hy in 1971 by Pepkor aangesluit het. Slegs drie jaar later, in 1974, is hy in die Pepkor-direksie aangestel waarin hy vir die volgende 30 jaar sou dien.

Basson se aanslag

In November 1979 koop Pepkor ’n klein Wes-Kaapse winkelgroep genaamd Shoprite met agt takke. “Ons het besluit ons wil in kos in­gaan. Die model was nog altyd om baie vinnig baie groot te word.”

Die transaksie het met ’n telefoonoproep begin. “Ek is gesê daar’s ’n maatskappy wat ek kan koop. Dit was net so ’n goeie aanbod – ek kon dit nie weier nie.”

Dit was die begin van Pepkor se uitbreiding in die voedselsektor.

Basson het Pepkor se hoofkantoor verlaat om hom op Shoprite en die voedselbedryf toe te spits.

“Ek het teen die einde van 1979 my kantoor (by Pepkor) ver­laat met ’n kar en ’n aktetas. (Renier) Van Rooyen – wat Pepkor be­gin het en steeds in daardie stadium in beheer was – het gesê vat vyf ouens saam met jou. Hulle hoef nie slim te wees nie, hulle moet jou net ondersteun, want jy gaan ’n helse tyd hê. Ek het ’n plek gekry in Lansdowne en gaan sit in ’n stoel wat heeltyd gekantel het. Die vorige eienaar van die stoel het omtrent 400 kilogram geweeg. Maar ek het baie geleer en hard gewerk.”

In 1984 het Basson ses Ackermans-koswinkels – toe beheer deur die Edgars-groep – gekoop. Die Shoprite-groep het in 1986 op die JSE genoteer. Dit het beteken Shoprite het afsonderlik van Pepkor gestaan en was ’n onderneming op sy eie, al is hy in die Pepkor-stal gebore. Die Steinhoff-groep het Pepkor later jare oorgeneem, maar Shoprite was nie deel van daardie transaksie nie. Wiese het aandele in Steinhoff, Pepkor en Shoprite gehad, maar Steinhoff het nooit ’n belang in Shoprite gehad nie. Dis een van die redes hoekom dit vir Wiese so moeilik was om Shoprite onder die Steinhoff-vaandel te kry. Shoprite se groot aandeelhouers was Wiese en die OBK.

In Sakegesprek – ’n televisieonderhoud gevoer deur Theo Vorster – sê Basson hy en sy jong kamerade het in die beginjare “lekker gespeel”.

“Ons het met ons kompetisie in die Wes-Kaap kat en muis gespeel en bosoorlog gemaak. Dit was ’n lekker tyd. Die hoogtepunt was rêrig dat jy begin met iets kleins teen die grote Goliat in daardie stadium, en as jy die slag wen, kry jy die ongelooflike adrenalieninspuiting wat sê kom ons gaan vir die volgende stap.”

In 1990 het die Shoprite-groep ’n kleinhandelgroep genaamd Grand Bazaars gekoop, wat in daardie stadium die naasgrootste in sy soort in die Wes-Kaap was.

“Die kleinhandel is baie lonend, maar dis nou nie juis ’n white-collar job nie. Een oomblik dra jy ’n boks, die volgende moet jy ’n groot kontrak afhandel.”

Checkers se laaste avondmaal

Die jaar daarna, in 1991, het Shoprite die hele Checkers-groep met sy 169 winkels teen R55 miljoen gekoop. Dit was ’n groot risiko, want Checkers se jaarlikse verlies was meer as Shoprite se jaarlikse wins. Die Checkers-groep het aan Sanlam behoort en was in groot finansiële moeilikheid. Teen daardie tyd kon ’n hele reeks agtereen­volgende bestuurspanne dit nie regkry om die groep te red nie.

Sanlam was aanvanklik skugter, maar danksy Basson se vriend­skap met die destydse voorsitter van Sanlam, Marinus Daling, het Sanlam ingestem en die transaksie met Shoprite beklink. Die groep se naam is na die Shoprite Checkers-groep verander.

Die sukkelende Checkers moes dringend reggeruk word en dit was ’n enorme taak. Die ommeswaai het reeds met die eerste middagete begin. Basson vertel die storie van dié ete in die destydse Checkers se formele eetkamer.

“Middagete by Shoprite beteken dat jy teen vyfuur die middag ont­dek jy het vergeet van middagete. Ons het nie oop- en toemaaktye nie. Toe ek by Checkers kom, was dit fantasties. Hulle het gesê tien voor een moes ek begin voorberei, my hande gaan was en gaan aansit vir middagete in hierdie pragtige eetkamer met kelners wat aangetrek is met wit handskoene. Dit was baie lekker. Ek het gevoel soos een van daardie Bybelse adellikes wat lemoene en druiwe gevoer is. Toe eet ek die middagete, ’n driegangmaaltyd. En ek kyk na die mense om die tafel en ek sê: ouens, kyk, ons verloor R45 miljoen per jaar. Hier­die middagete is in kontras met wat ek dink ons behoort te doen en waarheen ons op pad behoort te wees. En ek het gesê: Het julle ouens gehoor van die laaste avondmaal? Wel, hierdie een is die tweede ronde, en dit is die laaste middagete. Dié plek is gesluit van môreoggend af. En so het ons die eetkamer gesluit en nie weer ’n middagete daar ge­had nie.”

Met die aankoop van die bykans bankrot Checkers het Basson 16 500 werkgeleenthede gered.

Die volgende groot transaksie was in 1997 toe OK Bazaars, nog ’n bekende kleinhandelgroep, in ernstige geldelike moeilikheid be­land het. Weer het Basson tot die groep se redding gekom. Hy het SA Brouerye, die eienaar van die destydse OK Bazaars, R1 betaal vir die hele OK Bazaars-kettinggroep.

“Hy sou later sê hy’s spyt hy’t hulle nie tot 99c afgestry nie!” sê Ann Crotty, ’n joernalis van die Financial Mail.

Weer was dit ’n yslike taak om dié groep om te swaai. Die OK-groep met sy meer as 150 koswinkels moes gemoderniseer en reg­geruk word. Die oorname van OK was ook ’n ontsaglike risiko. Sommige ontleders het die transaksie selfs as roekeloos beskryf.5

“Ek was bekommerd oor OK Bazaars. Dit was soos ’n selfmoord­sending as jy regtig daaroor nadink,” sê Basson later.5 Tog sê hy in ’n onderhoud die bestuurders was nie bang of onseker nie.

Weer is meer as 14 000 werkgeleenthede gered danksy Shoprite se ingryping. (Shoprite Checkers skep vandag steeds tussen 5 000 en 7 000 werkgeleenthede per jaar.)

“Dit was van dag een af die beleid in ons groep om mense te verander en te verbeter.”

Een van Basson se meer ambisieuse drome was om Shoprite na ander Afrika-lande te neem. Ná die vrylating van Nelson Mandela in 1990 het die groep aan dié planne begin werk. Enkele jare later het Shoprite ’n tak in Lusaka in Zambië oopgemaak. Die groep is een van bitter min groepe wat vandag met welslae in ander Afrika-lande sake doen.

Dié sukses kan dalk daaraan toegeskryf word dat die groep win­kels in klein en afgeleë plattelandse dorpe in Suid-Afrika het waar die omstandighede soortgelyk is aan elders op die vasteland.

Maar Shoprite se sukses is ongetwyfeld ook te danke aan Basson se werketiek en onortodokse styl.

In ’n onderhoud met Hanlie Retief in 2016 in Rapport skryf sy as Basson “elfuur die aand by ’n partytjie hoor Shoprite se tamaties is 20c duurder as die opposisie s’n, maak hy summier 20 vuurwarm oproepe en verwag ’n verslag agtuur die volgende oggend”.

“Ek is mos ’n vreeslike ou. Wat ek vandag besluit, moet môre geïm­plementeer word en oormôre moet daar aksie wees.”

Volgens Deloitte se Global Powers of Retailing 2018-verslag is die Shoprite-groep vandag die 94ste grootste kleinhandelaar ter wêreld. Die groep, wat met agt winkels en ’n waarde van R1 miljoen begin is, is vandag meer as R152 miljard werd en bestaan uit meer as 2 200 winkels waar meer as 140 000 werknemers werk.

Die eerste poging om Shoprite oor te neem

Daar was twee pogings om Shoprite en Steinhoff te laat saamsmelt. Op 31 Oktober 2016 het Basson (toe 70) die sakewêreld geskok toe hy op Shoprite se jaarvergadering aankondig hy gaan teen die einde van daardie jaar as uitvoerende hoof bedank. Die kleinhandelkoning het net gesê hy is moeg en keelvol en die spel is nou meer geskik vir “’n jong man”.

’n Maand later het Crotty geskryf die ware rede vir Basson se besluit was waarskynlik dat hy nie betrokke wou raak by Wiese se “vasbeslotenheid om Shoprite met Steinhoff te laat saamsmelt nie”.

Basson het aan Rapport oor sy bedanking gesê: “Ek dink net jy loop lê en sê vir jouself dis nou genoeg.” Die kritiek oor sy ruim vergoeding was ook moontlik ’n bydraende faktor.

“Elke jaar is daar ’n argument oor hoeveel ek verdien en ek het régtig niks met my salaris te doen nie. En dan lees jy boonop Shop­rite word oorgeneem of ons smelt saam met dié of daai. Dis seker maar van dié emosies wat ’n mens beïnvloed . . .”

Shoprite het Basson in 2016 ’n bonus van R50 miljoen betaal be­newens sy pakket van R100 miljoen vir daardie jaar. Die bonus was volgens die direksie vir sy 45 jaar van lang en getroue diens. In 2010 het Basson R627 miljoen gemaak toe hy van sy aandele verkoop het. Dié soort vergoeding het dikwels onder skoot gekom, maar Wiese het aan die Financial Mail gesê hy sou lag-lag R1 miljard vir nog ’n Basson betaal het. Basson se harde werk oor bykans 40 jaar het van hom en Wiese baie ryk mense gemaak. Teen die tyd dat Basson bedank het, was Wiese se 16%-belang in Shoprite sowat R17,8 miljard werd. Basson se belang van 1,6% was in daardie sta­dium sowat R1,77 miljard werd.

Simon Brown, stigter van die beleggingswebwerf Just One Lap, is ’n bekende markkommentator en belegger. Hy het self ook Shop­rite-aandele. Simon sê hy het altyd die indruk gekry Wiese is Basson se baas. “Hulle is nie beste vriende nie, maar het ’n baie sterk en ge­sonde werkverhouding gehad. Een was die geldman en een was die winkelier. Wiese het uit Basson se pad gebly en hom toegelaat om sy ding te doen en dit het goed uitgewerk vir almal. Dit is bekend dat Wiese nie direk by die Shoprite-onderneming betrokke was nie. ’n Mens moet wonder: Was dit dieselfde werkwyse wat Wiese by Steinhoff gehad het met Markus Jooste?”

Basson se uittrede het diegene gepas wat oortuig was hy was die struikelblok in die pad van Wiese se meesterplan om Shoprite en Steinhoff te laat saamsmelt. Toe Basson sy uittrede aankondig, het dit dus al hoe waarskynliker gelyk dat die samesmelting sou voort­gaan.

Pieter Engelbrecht, wat vroeër Basson se persoonlike assistent was, het in sy plek waargeneem nadat hy uitgetree het.

Met Basson uit die pad het die samesmelting tussen Steinhoff en Shoprite na ’n blote formaliteit gelyk.

Wiese se plan het op 14 Desember 2016 amptelik in werking getree toe Steinhoff en Shoprite ’n gesamentlike verklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, uitgereik het. Die groepe het aandeelhouers ge­maan om met omsigtigheid te handel en gepraat van die “vestiging van ’n Afrika-kleinhandelkampioen”.

Die verklaring het die plan soos volg uiteengesit: Shoprite sou eers al Steinhoff se kleinhandelbedrywighede in Afrika koop, waar­onder Pepkor en Tekkie Town. In ruil hiervoor sou die Shoprite-groep nuwe Shoprite-aandele aan Steinhoff uitreik. Dit sou beteken dat Steinhoff ’n wesenlike belang, sowat 37%, in Shoprite sou verkry. Terselfdertyd sou Steinhoff die OBK se Shoprite-belange kry, asook dié van die Christo Wiese-beheerde Titan-groep. Die Titan-groep is Wiese se familietrust se beleggingsmaatskappy. Dit is waar die res van sy Shoprite-belange lê. Uiteindelik, ná die samesmeltingstransaksie, sou Steinhoff die hele Shoprite en al sy filiale besit. Die saamgesmelte kleinhandelgroep sou voortaan as Retail Africa bekend staan en sy geraamde waarde sou R180 miljard wees.

Die eerste poging misluk

Hierdie poging om Shoprite in die Steinhoff-stal te kry het drie maande later egter in die hek geduik. Op 20 Februarie 2017 het Steinhoff en Shoprite in ’n tweede gesamentlike Sens-verklaring aangekondig die transaksie is van die baan. Luidens die verklaring kon die onderskeie beleggers by Titan, Steinhoff en die OBK nie ooreen­

kom oor die waarde van die aandeleruiltransaksie en die koerse wa­arteen die onderskeie aandele geruil sou word nie.

Die minderheidsaandeelhouers in Shoprite het dit as ’n groot oorwinning beskou. Daar is vandag altesame 28 413 aandeelhouers in Shoprite Holdings, van wie 22 524 minder as 1 000 aandele elk besit – altesame sowat 1,08% van al die aandele. 79 aandeelhouers – onder wie Christo Wiese met sy 16,89% – besit altesame 78,84% van al die Shoprite-aandele.

Die minderheidsaandeelhouers was teen die samesmelting gekant omdat dit die waarde van die Shoprite-aandele sou verwater. Shop­rite sou as deel van die transaksie baie nuwe aandele aan Steinhoff moes uitreik, en hoe meer aandele daar in omloop is, hoe minder is elke aandeel werd.

Minderheidsaandeelhouers het ook nie almal daarin belang gestel om Steinhoff-aandele te besit nie, sê die markkommentator Brown. “Hulle wou spesifiek Shoprite-aandele hê. Shoprite is die wêreld se beste kleinhandelaar wat fokus op lae-inkomstegroepe. Ek wou nie stukkies en brokkies van ander maatskappye soos Bradlows en al die res deur middel van Steinhoff-aandele hê nie. Ek wou net my ge­fokusde, uitstekende bate Shoprite gehad het.”

Basson, met sy 1,52%-aandeelhouding, het hom by die minder­heidsaandeelhouers geskaar. “Nee, ek weet nie of dit ’n goeie idee is nie,” het hy oor die beoogde samesmelting gesê. “Watse voordeel sal jy kry as jy (die mynboureus) Anglo American en (die voertuigver­vaardiger) Toyota bymekaar voeg?”

Bronne in die binnekring sê verskeie bestuurspanne in die Stein­hoff-groep was ook nie ten gunste van die samesmelting nie. Veral in Pep Stores en Ackermans was bestuurslede skepties of die transaksie voordele vir hul onderskeie ondernemings sou inhou.

Die mark het ’n kollektiewe sug van verligting geslaak toe die samesmelting gefnuik is. Shoprite se aandeelprys het dadelik met 8,6% geklim.

Almal het egter geweet dit sou nie die laaste poging wees nie. Die dag ná die mislukte samesmelting in Februarie 2017 was dit op Shoprite se jaarvergadering duidelik Wiese sou weer probeer. Hy was in daardie stadium steeds die grootste aandeelhouer en die voor­sitter van Steinhoff én Shoprite. Hy het Markus Jooste as ’n spesiale gas op die vergadering verwelkom en glo “geïrriteerd gelyk” toe hulle praat oor die ander Shoprite-aandeelhouers se teenkanting teen die beoogde samesmelting.

Hy sou in dieselfde jaar weer probeer.

Die tweede poging

In September 2017 het Steinhoff al sy Afrika-kleinhandelaars as ’n nuwe, afsonderlike maatskappy genaamd Steinhoff Africa Retail (Star) op die JSE genoteer. Toe kondig Steinhoff aan dat Wiese en die OBK hul onderskeie belange in Shoprite vir aandele in die nuwe onderne­ming (Star) sou verruil. Dit sou beteken die Steinhoff-beheerde Star kry effektiewe beheer oor Shoprite.

In Star se jaarverslag vir die jaar geëindig 30 September 2017 het die groep aangekondig: “Star sal 128,2 miljoen gewone Shoprite-aandele by verskeie partye verkry, onderhewig aan die nodige regula­toriese goedkeuring.”

Op 30 November 2017 het Star ’n Sens-verklaring uitgereik en gesê die groep beplan om ’n beherende belang in Shoprite te ver­kry. Voordat die transaksie egter kon gebeur, het Steinhoff se aandeelprys op 5 Desember 2017 in duie gestort (kyk hoofstuk 12) en het die samesmelting nooit voortgegaan nie. As hierdie bom nie gebars het nie, was Shoprite vandag ongetwyfeld deel van Steinhoff en was Shoprite-aandele aansienlik minder werd. Maar danksy Bas­son en die ander minderheidsaandeelhouers se teenkanting teen die samesmelting is Shoprite-aandeelhouers se belang veilig.

Terloops, Basson se verklaarde Shoprite-belang (in die state van die 2016/2017-boekjaar) is vandag sowat R2,3 miljard werd.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top