
Bundelomslag: Jonathan Ball
Steierwerk
Johan Myburg
Human & Rousseau, druknaam van Jonathan Ball
ISBN: 978-0-7981-8634-6
- Inleiding
Steierwerk, ’n bundel van 71 eietydse sonette, deur Johan Myburg, is ’n hoogtepunt van digkunsprestasie in Afrikaans van die afgelope etlike dekades. Dit is ’n prestasie wat iets van die destydse Weimar-republiek se tragiese kunshoogtepunte dra: Dit is uitstygend, nie ondanks nie, maar as gevolg van verval op ongeëwenaarde hoop. Ek verwys spesifiek na die sosiale en historiese gewrig van Suid-Afrika waarin Myburg skryf. Dit is nie ’n prestasie wat vlekkeloos of volmaak is nie, dalk weens die dringendheid waarmee dit gelewer is (ook om persoonlike redes), maar desondanks sorg dit vir een van die mees intense, elegantste en verrassendste digkuns-leeservarings in jare in Afrikaans. En een van die indrukwekkendste. Dit is die heel beste werk wat Myburg tot op hede gelewer het.
.......
Dit is die heel beste werk wat Myburg tot op hede gelewer het.
..........
Tematies bestryk die bundel persoonlike siekte, die maak van digkuns, die waardering van kunsprodukte (musiek, argitektuur, beeldhouwerk, letterkunde), die bou van ’n huis as metafoor vir die bou van ’n lewe, kommentaar op politieke werklikhede (op sy beste wanneer dit baie implisiet aanwesig is), mymeringe oor die plek van ons huidige menslike bestaan in die groter geskiedenis van die bestaan, liefdesgedigte, en nog meer. Maar alles gaan uit vanuit die belang en fokus van die subjektiewe ervaring, uniek verwoord, en hoe dit nuwe insigte kan bring oor dit wat gemeenskaplik is.
Die bundel vleg naklanke van oor die spektrum van Afrikaanse digkuns bymekaar: Van Wyk Louw, ’n spatsel Dertigers, TT Cloete, Eugène Marais, Elizabeth Eybers, en ook wyer, soos Shakespeare en Petrarcha self. Dit is voorsien van ’n glossarium wat die leser attent maak op tersaaklikhede uit die kunste en die breër wêreld wat volgens die digter verreken kan word vir ’n ryker lees.
Die klem is deurgaans op die juiste woord – nie soseer die fyn geoeste oorspronklike beeld nie, maar juis weens die genoemde klem kom getemperde en behendig gebalanseerde seggings, musikaal presies, tot stand wat ewe veel imponeer. Dit is dikwels die doodgewone ervaring – ’n stap die middag in (gedig 64: “In so ’n middag sou ek in kon stap”) – wat dan skielik oopgaan op ’n skraal kier van wonderbaarlikheid vir die leser, en ’n betekenisskakering wat weens die onopsigtelikheid daarvan nie ophou resoneer met die herlees nie.
Steierwerk is mymerend in toon. Dit staan opvallend afstandelik ten opsigte van twee punte van prestasie wat oorheersend was (en is) in die Afrikaanse poësie in die afgelope dekades. Beide punte het oorheers weens die aard van die taal wat sigself meer en meer laat geld het. Afrikaans is grammatikaal ’n uiters plooibare taal, sonder die klassieke vormelemente wat Duits byvoorbeeld inbind, en in ’n kleiner mate ook Engels. Dié feit het nadele vir uitdrukking in die taal, maar ook vele voordele. Een van die nadele is dat dit begin het om die mymerende poësie, waarvan Van Wyk Louw die meester was, en waarvoor ’n klassieke aanslag dikwels benodig word, uit te skuif.
Die een uiterste punt waarvan ek praat is die bykans ongemedieerd liriese, op die spits gedrewe ervaringsuitings (waarvan Breyten Breytenbach ten dele en die liriese digkuns in die algemeen sedert die jare sewentig voorbeelde is); die ander uiterste punt is die fragmentasie van reëls en die tegniek van die radikale verwringing en uitmekaarhaal van woorde, met inbegrip van die gemak waarmee Afrikaans samestellings en neologismes vorm (waarvan Plunder, van Antjie Krog, die toppunt van prestasie is). Tussen hierdie twee punte span ’n groot deel van die Afrikaanse digkuns van die afgelope vyftig jaar in Afrikaans in ’n mindere of meerdere mate.

Protea Boekhuis
Maar nie alles daarvan nie. Myburg se digkuns val vir my ook daarbuite. Waar Uittogboek se vormgewing vir my soms te veel teruggehunker het na ’n poëtiese landskap voor Breytenbach en Krog, en in effek na vormgewing wat oudmodies of anachronisties ten opsigte van eietydse ervaring aandoen (veral betreffende die oorvloedige aanwesigheid van eindrym en koeplette), staan Steierwerk steeds buite die genoemde spanningsveld, maar dan wat op vormgewende wyse wel daarin slaag om die huidige tyd te weerspieël.
Daar rus ’n groter onus op konteks as op die individuele reël as die kern van betekenisgenerering in hierdie gedigte. Hiervan is die langer sinne getuienis. Konteks as die bron van betekenisgewing is ook tipies van die sonnet, wat eers in die laaste reëls met ’n wending volledig ontvou. Die titel se verwysing is na steierwerk wat bestaande bouwerk restoureer (gedig 27), ook van die “bouwerk” van ’n lewe. Dit wys ook heen na steierwerk in die sin van ’n stellasie wat die gedig se betekenis vanuit verskeie steunpunte lewer. Hierin roep dit die aspek van konteksgedrewe betekenis op.
Hierdie sonnette verskil van Breytenbach s’n in Eklips, wat, so sou ek betoog, om die helfte deur die afsonderlike reëls sowel as die konteks gedra word. Daar is ’n mymering by die meeste van Myburg se verse betrokke, wat betekenis per definisie uitstel, en oplaas lewer hy ’n soort gedig wat nader aan Van Wyk Louw en Eybers beweeg, en iets van Goethe se begrip van die monade dra. Goethe het die monade beskryf as ’n betekenis “wat verhard het in die tyd” en “van geslag tot geslag” aangestuur word. Die individualiteit van die gedigte lê dus nie soseer in hul beelding of in die aard van die persepsie nie, maar in die oortuigende manier waarop dit gevestigde monades van digterlike betekenis opnuut op ’n glansryke manier tot lewe bring. Gedigte 54 en 62 illustreer wat ek bedoel.
Sulke digkuns, waarin die onmiddellike ervaring deur mymering of poëtiese nadenke bemiddel word, is ’n veld van die digkuns wat in Afrikaans gerus meer dikwels bevolk kan word.
Die terughoudendheid van die liriese ek in Steierwerk sluit aan by Van Wyk Louw en is in teenstelling met Breytenbach, Krog en ook dikwels Johann de Lange. By laasgenoemde is die selfbewuste aard van die liriese ek-verteller – die aard van die liriese ek is dalk dié mees bepalende aspek van die liriese gedig – meer dikwels in teenstryd met Louw. Die tipering wat De lange geniet by Joan Hambidge as dié draer van Louw se erfenis, kan op grond hiervan (en ook ander aspekte) met reg betwyfel word. Myburg is veel nader aan Louw.
- Die betekenis en relevansie van die sonnet vir die huidige tyd
Ek wil allereers wys op twee aanvegbare opvattings oor die sonnet.
Die eerste: Daar is die geneigdheid om aan die sonnet te dink as ’n “Eurosentriese” digvorm. Daar is immers die Italiaanse sonnet (wat uitval in ’n oktaaf en ’n sestet wat bestaan uit twee tersines), en die Shakespeariaanse sonnet (wat in drie kwatryne en ’n eindkoeplet verdeel). Hierdie siening gooi ’n skadu van twyfel oor die geskiktheid van die sonnet vir die uitdruk van Afrika-ervarings in die identiteitsbewuste tydsgees waarin ons lewe. Sommiges mag so ver gaan om te redeneer dat die sonnet ’n oorblyfsel van ’n koloniale erfenis is.
Gedig 38 beskryf egter die oorsprong van die sonnet op klinkende wyse as komende vanuit die Moslem- en Arabiese erfenis. Dit is dus ’n oorgenome literêre praktyk binne die Europese konteks, soos vele kulturele praktyke.
Helaas, die so pas genoemde aanklag sowel as Myburg se antwoord daarop berus op wat die filosofie reeds aangetoon het is ’n wanopvatting – naamlik dat die betekenis van historiese gebruike in die huidige tyd aan hul oorsprong gemeet kan word. Gebruike word egter té radikaal aangepas soos hulle aangestuur word vir die oorsprong om bepalend te bly vir betekenis. Die oorsprong is naderhand ’n blote voetnoot.
Meer beduidend is dat Myburg se digbundel oortuigend toon hoedat die sonnet, soos wat hý die vorm aanpas en vernuwe, radikaal en onlosmaaklik gewortel is in die historiese gewrig van Myburg se eie lewe. Gedig 43 beskryf byvoorbeeld die digter se ervaringsgewrig as “Witpraat”, maar dit is uit die bundel duidelik dat “Witpraat” ’n bepaalde kultuurverskynsel is en nie gelyk te stel is aan “Europees” nie.
’n Tweede aanvegbare siening is dat die sonnet as vorm onlosmaaklik aan die Europese Romantiek of Klassieke letterkunde verbind is, en dus nie geskik is om eietydse ervarings op te vang nie. Die Romantici het geglo dat die letterkunde die draer is van onverweerbare, ewige eienskappe wat die mensheid oortref. Die kwasireligieuse en metafisiese aard van hierdie siening, ook in sy magtige manifestasies soos die Duitse Idealisme, is vir vandag se mens glad nie meer oortuigend nie. Maar nou is dit wel waar dat die Romantiek, veral deur middel van Petrarcha en Shakespeare, aan die Europese sonnet sy moderne beslag gegee het. Die eksperimentele sonnet wat vandag toenemend geskryf word, en ook deur Myburg, het min met die oogmerke van die antieke Europese sonnet gemeen. Die eietydse sonnet is dikwels ironies, ondervraend en ontmitologiserend. Die klassieke sonnet neig in die teenoorgestelde rigting: mitologiserend, innig, bevestigend.
Vanuit ’n hedendaagse terugblik is dit duidelik dat die sonnet ’n kultureel-subjektiewe, selfs toevallige verskynsel is, waarvan die waarde nie in enige inherente eienskappe lê nie. Die sonnet is nie ’n orakelvorm nie. Die waarde daarvan lê in die feit dat dit ’n wyd aanvaarde raam van betekenisgewing is, en dat dit gevestig geraak het as ’n universele (lees gemeenskaplike) literêre praktyk wat op sy beurt niks meer, maar ook niks minder is nie as ’n fenomenologiese gegewe waaroor ooreengekom is. As sulks sal dit as vorm van tyd tot tyd sy funksie verander. Hermeneutiese hervertolkings staan sentraal aan die spel wat sorg vir die oorlewing van praktyke soos die skryf van die sonnet.
........
Die term raam is belangrik. ’n Raam van waarneming skep betekenis nie net deur wat deur die raam ingesluit word nie, maar veral deur wat deur die raam uitgesluit word.
.........
Die term raam is belangrik. ’n Raam van waarneming skep betekenis nie net deur wat deur die raam ingesluit word nie, maar veral deur wat deur die raam uitgesluit word. Uitsluiting is kardinaal belangrik vir die totstandkoming van enige betekenis, en juis daarom werk vorme soos die sonnet, omdat dit tegelyk ons moontlikhede sowel as ons beperkings uitwys.
Vir my is die sonnet eintlik ’n metafoor vir alle menslike stelsels en hoe dit funksioneer: Die stelsel lewer sy eie waarhede op, en boots nie waarhede na wat vooraf bestaan nie.
Steierwerk verteenwoordig die verrassendste voorbeeld van die eksperimentele sonnet in Afrikaans tot dusver.
- Verskillende manifestasies van die moderne sonnet
Die sonnet het in die meeste moderne tale ’n aansienlike teenwoordigheid: in Russies, Frans, Duits, Engels, Spaans, Italiaans, noem maar op. En ook in Afrikaans. Een van my gunstelingsonnetdigters is Miguel Hernandez (Spanje, 1910–1942). Die elemente van die sonnet wat in die eksperimentele variasies van die sonnet al laat vaar is, is omtrent almal – op voorwaarde dat sommige ander elemente behou word om die vorm herkenbaar te hou. Dit is ’n ope vraag of alle voorbeelde van die eksperimentele sonnet nog sonnette genoem kan word, en hierdie ope vraag is deel van die eksperimentele sonnet se bydrae.
Die veranderlikes in die geval van die sonnet se elemente sluit in: afwykings van die klassieke rymskemas; die omruilbaarheid van die klassieke volgorde van die onderafdelings – tersines, kwatryne, slotkoeplet (ek het al die slotkoeplet as reëls 1–2 gesien); wit reëls tussen die onderafdelings of nie; enjambement of nie; die mate waarin die onderskeid sentrale metafoor/toepassing eksplisiet of implisiet gestel word; die stel van die sentrale metafoor en toepassing as óf gelyklopend óf opeenvolgend; en die mate waarin rym, binnerym en eindrym (laasgenoemde wat minder nodig is as wat mens sou dink) voorkom. Nog ’n veranderlike is die aantal lettergrepe per reël: Dit wissel gewoonlik tussen nege en 13 lettergrepe. Die klassieke middelpunt is 10 lettergrepe per reël. Al die lettergrepe in elkeen van Myburg se sonnette is 10 lettergrepe lank, soos in baie van Eybers se sonnette, en net in enkele gevalle kom dit geforseerd oor by Myburg. Hy laat vaar die rymskemas, die eindrym, die indelings – bykans alles – maar behou die mees klassieke punt wat getal lettergrepe betref om sy sonnette herkenbaar te hou.
Vir my is daar drie ononderhandelbare elemente wat teenwoordig moet bly in die eksperimentele sonnet: Die lengte moet 14 reëls bly; die reëls moenie te veel wissel ten opsigte van aantal lettergrepe nie; en daar moet ’n sentrale metafoor en ’n “toepassing” daarvan wees wat van mekaar ontwar kan word. Die beste gedigte in Steierwerk voldoen behendig aan die hantering van dié drie elemente.
Die meeste verse hier voldoen aan die verwagting van ’n metafoor wat ’n breër of verborge toepassing vind. Laasgenoemde opmerking kan ook anders aan gedink word: dat die sonnet ’n uitgebreide metafoor aanbied en dit dan as argument gebruik word om die “waarheid” daarvan wyer van toepassing voor te hou. Die volta, of wendingspunt in die sonnet, is belangrik en verbind die metafoor en “toepassing” dikwels op implisiete wyse.
Dit moet dadelik genoem word dat daar afwykings bestaan vir die standaard 14-reëlige sonnet, maar hier duik die vraag weer op: Is dit dan nog ’n sonnet? Gerald Manley Hopkins het byvoorbeeld die sonnet “Pied Beauty”, oor ’n perd met kolle, met 11 reëls geskryf. Vermoedelik as daar die voelbare effek is van opeenvolgende onderdele, of ’n slotkoeplet wat alles saamvat of herinterpreteer, kan daar nog van ’n sonnet gepraat word. Ek sluit hierdie variasies in my bespreking uit. Al die sonnette in die bundel onder bespreking is die standaard lengte van 14 reëls en al die reëls het 10 lettergrepe.
Dit is egter duidelik, histories gesien, dat die voorskrifte vir wat ’n “sonnet” is, nog altyd vervloeibaar was.
- Die verhouding tussen vorm en inhoud
Die streng vormgebonde sonnet suggereer ’n toedrag van sake wat ordelik is. Dit weerspieël ook ’n wêreld – laat Middeleeus in byvoorbeeld die sonnetskrywer John Donne se geval, of vroegmodern in die geval van John Milton, of hoogmodern soos in die geval van sonnette deur Robert Frost – wat daardie oogmerke nastreef.
Die volgende sonnet deur DJ Opperman weerspieël ook die hoogmoderne, maar reeds met ’n bewustheid van die ontsetelende kragte van ’n wêreld wat weldra wyer gaan oopgaan en uitloop op die laatmoderne. Die feit dat die spreker ‘n praktyk buite sy eie kultuur aanskou, is duidelik uit die “verkeerde” gebruik van die woord “priester”. Hier is “Vuurlopers” uit die Brandaan-siklus in Engel uit die klip:
Bokant die piesang- en die mangobome
spring rooi vlamme van die hout ineen,
en langs die Hindoetempel uit die lome
wierook begin kalbasfluite eentonig teem
as die gereinigdes met klam kaalvoete
die paadjies kies uit die rivier – maar bang
duskant die oopgeharkte vierkant gloed
terugstuit, soos nat bruin vullens vasgevang.
Die bok en die pampoen lê oopgebreek,
die priester sprinkel met sy takkie blare
wywaters oor die vure en koel kweek
en voorste ry van die beswete skare.
Dan in vervoering trap die kaal voetsole
lig-lig na Brahma oor tapyte kole.
Die volta (wendingspunt) van die sonnet kom in die laaste twee reëls. Voor die wending is die beskrywing van ’n baie ondermaanse toneel en dan gaan dit oor in ’n vertoning van magie (waar die gelowiges oor warm kole loop asof dit ’n koel tapyt is).
Die metafoor wat in die beskrywing te vinde is, vind wyer toepassing in die volgende idee wat ek raaklees: erkenning aan die ondermaanse om die ondermaanse te kan oorstyg. Ek lees ook die volgende “argument”: dat die partikuliere onmisbaar is om ’n weg na die universele te vind.
Die vormelemente van ’n goeie gedig is deel van die gedig en weerspieël en onderstut die inhoudelike betekenis van die mededeling. Enige goeie gedig bevat ’n hele biblioteek swyende aannames. Om hierdie rede is dit vir my amper onmoontlik om die klassieke sonnet op vormmatige vlak vir die laatmoderne wêreld nog funksioneel te vind as dit nie met ’n sin van ironie of afstandelikheid gedoen word nie. Die beste is om radikaal eksperimenteel daarmee om te gaan, selfs al gaan die vorm hier en daar ten gronde. Dit is die beste manier om ’n antieke vorm aan ’n eie tyd wat in radikale fluksie verkeer, te bind. Myburg se sonnet 40 beeld juis die spanning uit tussen voorskrif en ongekende moontlikheid aan die hand van twee ervaringsvelde: die voorskriftelike liefde versus die liefde “se duisend” ander vorme, en gehoorsaamheid aan die keurslyf van die sonnet versus om oor te gee aan die “oopgelate” moontlikheid. Betekenisvol eindig die sonnet met ’n halfvoltooide reël: “Asof ek vir die eerste keer […]”, met die suggestie dat die verbreking van die vormvoorskrifte tot radikale nuutheid (“die eerste keer”) lei.
Die volgende klassieke sonnet, “Altydheid”, van die postmoderne meester Jorge Luis Borges, en deur my direk uit Spaans vertaal (dit verskyn in Die nomadiese oomblik) is oënskynlik ten volle klassiek, maar moenie te maklik glo nie:
Een ding bestaan nié: die Vergetelheid.
God spaar die metaal en die metaalskuim,
En in Sy profetiese geheue skyn
Mane van gisters, en môres vooruit.
Alles is: die duisende afbeeldings
In die glas waar jy verby was of in die allooi
Van spieëls wat jou stukkies nog verder verstrooi
Tussen die dag se twee skemerings.
En al's is 'n deel van die groot kristal
Se tallose vorms: die geheue van die heelal;
Die een wat deur dié eindelose gange dwaal
Hoor die swaar grendels sluit agter sy voetval;
En slegs van die aandskemer se oorkantste wal
Sien hy oplaas die Oertipes en die Volheid straal.
Daar word soms gesê die grootste twyfelaars bid die mooiste. Borges is as laatmoderne skrywer een van die mees ironiese ontsetelaars van moderne sekerhede in die wêreldletterkunde. In hierdie gedig maak verskeie eeue oue aannames, pragtig in hul idealisme, hul verskyning, maar op swyende manier bevraagteken Borges dit, hoewel die skoonheid van die heengegane orde hom melankolies bekoor.
Op hierdie noot wil ek Myburg se uitstekende sonnet 64 volledig aanhaal:
In só ’n middag sou ek in kon stap,
tot in die merg in blou, so stralend blou:
Ver bo die lug ’n koepel bokant land
en see, en onder voet die bleek voetpad
wat lei na Racó del Conill, kom boom
en bas en naald so binneaars byeen
in sap wat loom sikades tap om geil
en galmend op die middaguur te sing.
In só ’n malse middag sou ek in
kon stap, sirenes op ’n afstand, dut
vervang sodat ek onbevange skoon
kan dink, ’n adios laat glip en een
kan word, so gloeiend soos die dag, met sand
en bos en bowenal Aleppo-den.
Hier is ook ’n soort gebed – noem dit ’n agnostiese gebed – in die vers ingebed. Daar is baie sterk dog versteekte binneryme (byvoorbeeld Conill/koepel) wat deurgaans vorm bied, en dus die klassieke sonnet se voorskrif gestand doen, maar op geskommelde wyse.
In Myburg se sonnet vertel die spreker hoe hy kan uitstap en een word met ’n melankoliese, stemmingsvolle agtermiddag. Daar het ons die gedig se metafoor. By implikasie word die “uitstap” egter, by wyse van verlenging, ’n beskrywing van hoe die spreker graag eendag sal wil sterf. Dit is ’n agnostiese gedig, maar eindig paradoksaal met ’n beeld van die Alleppo-den wat uittroon bo die landskap en hemelwaarts wys. Hierdie soort panteïstiese belewenis is nie nuut in ons digkuns nie, maar dit vind in hierdie gedig een van sy fynste en navrantste vergestaltings.
Let op hoe Myburg die Dertigers oproep in sy gebruik van die woord “bleek”. Die gebruik van hierdie tegniek kom deurgaans in die bundel voor, waar voorgangers, wat ook, soos WEG Louw, sonnette geskryf het, opgeroep word op sekondêre betekenisvlak. Maar mens moet bedag wees op hierdie verskuilde verwysings. Die funksie daarvan is om die hermeneutiese opdrag van die digter se eie tyd ten opsigte van voorgangers tot uitvoering te bring.
’n Belangrike idee wat in die bundel voorkom, is die idee van verskillende “soorte” slaap. By implikasie sien die digter die lewe self as reeds deel van hierdie vorme van slaap, en vind ’n mooi versoening tussen lewend-wees en dood-wees plaas. In die aangehaalde gedig kom hierdie sentrale tema van die bundel ook voor. Ook die tema van lig, en wind en windsterkte, kom in verskeie gedigte voor as deel van ’n idee dat alle lewe en dood op skakerings van mekaar neerkom:
Diep slaap het ek geslaap en toe ontwaak –
Wat is dit wat diep middernag verklaar?
Die reëls in sonnet 60 kan as volg gelees word: Wat wil die totale uitwissing (“middernag”) vir ons vertel oor ons slaap en wakker-word?
- Steierwerk as intellektuele poëtikale oefening
Steierwerk is ’n bundel wat ook ’n aansienlike intellektuele oefening in die digkuns verteenwoordig. Die emblematiese gedig waarna ek kortlik wil verwys, is sonnet 29, waarin die Romaanse en die Gotiese kerkargitektuur met mekaar vergelyk word, en terselfdertyd herinner aan ’n opstel wat Goethe geskryf het oor die Duitse kerkargitektuur (sien bibliografie onder “Goethe”). Die gedig kies ongelukkig kant vir die een boustyl (die Romaanse) bo die Gotiese – die sonnet is immers ook argument – terwyl Goethe se opstel beide style se sterktes en betekenisse belig. Nietemin is dit een van die treffendste gedigte in die bundel. Regdeur hierdie bundel is ’n terugkeer na die Duitse as bakermat, soos wat dit vir Van Wyk Louw was, van ’n liriek wat die liriese self nivelleer en oplos in die omringende, soos gevind in byvoorbeeld Rilke (en ook in die breër Europa van die tyd, byvoorbeeld by die Russiese meesters Marina Tsvetaeva en Anna Ahkmatova), en dus wegbeweeg van die inslag van die onlangse dekades se sterk selfgerigte liriese poësie in Afrikaans, en veral in Europa.
- ’n Emblematiese voorbeeld van hoe ’n sonnet in Steierwerk gelees kan word
Vir hierdie doel kies ek gedig 28:
’n Muur van droë klipwerk om die huis
verklap geheime nie, hou alles dig
en asof alles pluis sou wees staan bot
en skurf, die blare toegekurf, reg langs
die huis ’n vyeboom – die stam die tint
van grys sement en plek-plek glad getrap
van klim en reik na vrugte, vlesig saf.
Die reën bly weg. Volstruisskelette doem
van iewers op en pik-pik sap uit dor
vaal tollofas. Donkerte slaan toe;
die boom val uit. Daar’s anargie aan’t broei
in dunner bolug. Bome aborteer.
Met deure swart en vensters uitgedoof
val vye hard soos akkers op ’n dak.
Die spreker in die gedig besoek ’n huis in ’n droë landsdeel, moontlik die Karoo. Die leidrade wat Karoo kan laat vermoed, of ‘n soortgelyke streek, is die sinsnede “droë klipwerk” in reël 1, wat ook een van NP Van Wyk Louw, die argetipiese Karoo-seun, se beroemdste digsiklusse, “Klipwerk”, oproep. Die huis staan toe, gee die indruk dat dit meestal onbewoon is, en dus geheime bewaar. Daar word gesê alles is nie pluis nie.
Die beeld van die vyeboom wat langs die huis staan, waarvan die blare toegekurf is, versterk die indruk dat iets hier selfbeskermend is en blootgestel is aan vergaan. Daar was wel vroeër lewe hier gewees, want die stam se boom lyk afgetrap, asof kinders dit geklim het om sappige vrugte te pluk.
Helaas is daar nou droogte, en waarskynlik geen sappige vrugte nie. Die verwysing na volstruisskelette versterk die indruk dat dit Klein Karoo-wêreld is, maar dat die gebied en sy kultuur in ’n sterfgang verkeer. Daar word verwys na turksvye (“tolofias”) (kyk hier onder oor die skryfwyse in die gedig) wat nou dor is, maar normaalweg konnotasies van sappigheid sou dra.
Dan slaan die donkerte toe, daar is “anargie aan’t broei / in die dunner bolug” (reëls 11–12), met ander woorde ’n storm is op pad, waarskynlik ’n droë storm. Daar is ’n onheilspellende wind wat waai, gesuggereer deur die sin “Bome aborteer” (die wind waai die droë blare en oorblywende vrugte af). Die deure begin swart vertoon (lees onheil en botheid, asook dalk boosaardigheid), en die “vye val hard soos akkers op die dak”.
Waaroor gaan die gedig, behalwe oor ’n versaakte huis teen donkertyd? Hier moet die leser ook die bundel se sleutels in die geheel raadpleeg. Daar is verskeie verwysings na politieke verval, en in die bundel word die huis of blyplek metafoor vir die private bestaan.
Dit lei my om die hele gedig as ’n metafoor vir Suid-Afrika te lees, en spesifiek die Afrikaanse kultuur, wat sy wortels (vertaal “taalwortels”) in ’n groot mate in die Karoo het. Maar hier behoef ’n belangrike voetnoot. Die woord tolofias laat dit lyk of die streek dalk in die Middellandse See-streek of Levant is, wat een van die bundel se subtemas is. In daardie geval verander die interpretasie van die gedig effens, en word ’n verband tussen verval in Libanon en Suid-Afrika getrek.
Die woord “bolug” impliseer dat dit ’n storm is waaraan die mense op die grond weinig kan doen. Wat vrugbaar en sag moes wees (die vye), is bedorwe en hou geweld in (akkers wat hard val). Die Bybelse metafoor van die vervloekte vyeboom speel ook hier in.
Om puntenerig te wees: Die gedig onder bespreking is nie sonder gebreke nie. Soos op sommige ander plekke in die bundel kom onnodige toutologie voor in “droë klipwerk”. Is klipwerk in ’n dorre streek nie per definisie droog nie? En tolofias het een l, nie twee nie – spelfout dus. Mens wonder waarom die digter nie net die woord turksvy kon gebruik het nie? Dit is een van my punte van kritiek teen die bundel in sy geheel, dat Latinistiese woorde gebruik word pleks van Germaanse Afrikaanse woorde, wat meermale effektiewer is om die “onderbewussyn” van die taalproduk te aktiveer. Hierdie kritiek van my is geensins universeel nie, en ek is bewus daarvan dat daar taalpraktisyne en skrywers is wat aanvoer dat daar teen die Latinistiese deel van ons taalagtergrond in Afrikaans gediskrimineer word. Die argument loop dat die Germaanse nie die enigste ondergrond van ons taalbewussyn is nie. Wat dan van die allerbelangrike Arabiese onderbewussyn in ons taal? Helaas, Myburg gebruik die Latinistiese woorde meestal op elegante en betekenisvolle wyse, hoewel my eie besluit as digter anders sou gewees het. Die beweerde gebreke laat sink egter nie die sukses van die gedig in sy geheel nie.
- Klankspel in die bundel
Een van die gedig se sterkste punte is die subtiele klankspel: dak/akkers; skurf/toegekurf; huis/pluis; en eindeloos meer.
Hoe sommige gedigte rymeffekte in die spel kan bring tussen woorde wat soms tot agt reëls van mekaar verwyder is, is gewoon briljante vingerwerk (gedig 18: bek/argitek; of in gedig 65: postuur/kuur).
In gedig 29 se slotreël kan die leser sien hoe vindingryk die digter met taal te werk gaan in die taalaantrekkingskrag tussen “groteske” en “Hooggotiek”. Daar is talryke voorbeelde van sulke vondste in hierdie werk. My huidige bespreking is uiters bondig.
- Hoogtepunte
Ek wil kortliks die gedigte uitsonder wat vir my hoogtepunte is, iets wat moeilik is om te doen in ’n bundel wat deurgaans so ’n hoë peil handhaaf.
Gedig 13 (“Geklonte drome van ’n beter lot”); 18 (“Verby my vlieg ’n vink met ’n veer in sy bek”); 20 (“bedags hou ek my op met red wat nog”); die genoemde 28; gedig 29 (“Romaans te bou sou dikker mure, stomp”); 40 (“Probeer ek oopgelate sinne skryf”); 45 (“Verruk oor haar ekstase sou ’n mens”); 46 (“Sy spin ’n koord van ragdun sy wat sy)”; 58 (“Beskryf ek teen die end van laat-Papier”); 60 (“Diep slaap het ek geslaap en toe ontwaak –“); 62 (“Miskien is ‘n tuinier se hand nog raak”); en die volledig aangehaalde gedig 64.
- Die vaste vorme versus die vrye vers
Dit is belangrik om die verhouding tussen die vaste vorme en die vrye vers kortliks te belig; en die een is nie belangriker of minder belangrik as die ander een nie.
My mening, as iemand wat al albei opsies beoefen het, is dat dit in bepaalde opsigte makliker is om ’n vaste vers te skryf as ’n vrye vers as albei vorme behoorlik gedoen word.
Die vaste vorme beliggaam veel van die geheue van die digkuns, maar die vrye vers is die wesenlike draer van die moderne mentaliteit en sy dilemmas. In die moderne tyd het die sekerhede verval wat vorige eras gekenmerk het, en daarmee saam het die vrye vers prominensie ingeneem as draer van ’n wêreld wat sy vaste omramings verloor het en in sy oneindige palet vreesaanjaend sowel as inspirerend is, met die moderne boodskap: “Alles van nuuts af”.
’n Interessante digkunsverskynsel in Afrikaans was Doodmenslik deur WL van der Merwe (2018). Die bundel bevat tegelyk van die beste vaste vers en die beste vrye vers wat nog in Afrikaans geskryf is, maar weens die problematiese aard van die bundeleenheid, wat beide hierdie soorte digkuns bevat, bly die digbundel tot op hede onderskat. In ’n mindere mate kenmerk dieselfde samestellingsdilemma my eie debuut, Die nomadiese oomblik (1994), wat om die helfte sonnette bevat.
Myburg se keuse om radikaal hermeneuties met die sonnet om te gaan, omseil hierdie probleem.
Die omraming vir moontlikhede wat die sonnet as vorm bied, help die leser om binneryme en vormelemente raak te sien. Baie narratiewe of vrye verse is ook met sulke binneryme saamgestel, maar die leser moet aandagtiger lees om dit raak te sien – weens die implisiete omraming wat in elke vrye vers ánders, en verál, eenmalig is. Die vrye vers plaas 'n groter onus op die leser om op soek te gaan na die betekenis weens die omraming van die gedig wat nié gegewe is nie. Dit plaas insgelyks ’n groter onus op die digter om die vorm van sy gedig so te sê van nuuts af te vind.
- Slotopmerkings
Steierwerk is een van die elegantste, mooiste en mees deurgekomponeerde bundels in ’n baie lang tyd. Dit handhaaf ’n gespanne relasie tussen die liriese en die nadenkende. Die gedigte taan nie met herlees nie, maar trek jou net verder in. Aspekte wat beïndruk, is die geslypte en unieke seggings, soos die sintaktiese behendigheid in die volgende sin: “Van vloei kan kwalik iemand water wys”, en die meestal indrukwekkende wyse waarop reëls skandeer. Die feit van ’n gegewe vaste raam, in hierdie geval die sonnet, help natuurlik hiermee.
Graag stip ek die volgende positiewe vondste aan: Die beeldrykheid van “erts met glinsterstrepe aan”. Die vindingryke metafore (gedig 65) of die teenstelling van die tuinier en woesteny in gedig 62. Die herhaling en deurgevlegtheid van motiewe, soos dié van slaap, of van bouwerk in die bundelopset. Die slim woordspel in ’n sinsnede soos “die eg van egte geesgenote” (waar verbintenis en ploeg by mekaar uitgebring word), of “keurslyf” (in gedig 40), waar ’n korset (of enige inperkende maatreël) terselfdertyd vryheid van keuse suggereer. Die oorspronklikheid van ’n term soos “laat-Papier” om ’n era van skriftuurlikheid te benoem, wat volgens aanduidings op die duur moontlik vervang sal word deur ander kommunikasie-eras (gedig 58). Die manier waarop ’n onpoëtiese gegewe, soos ’n elektriese sperheining, onverwagte poëtiese glans verkry in ’n reël soos “’n Sagte gloed met die voorspelbaarheid van simmetrie”.
Die volgehoue dubbelsinnigheid in ’n sin soos die volgende, en dit is tiperend van groot dele van die bundel: “(sal ons produkte neffens steen en brons / en yster tyd oorleef)” is indrukwekkend.
Die melankoliese selfspot in “Die laaste loflied van Tant Tolie” (gedig 71) deur ‘n ouer wordende homoseksuele manlike digter, is bekoorlik en innemend.
En tog is dit nie ’n bundel sonder dowwe kolle in die kleine nie, soos reeds vermeld. Enkele voorbeelde: die onnuutmakende gebruik van clichés soos “wyd en syd” (bl 61) of “kop tot toon” (bl 68). Toutologie soos in “kaal gespalk in al haar glorie naak” (bl 45). Die geforseerde beeld in “koepel van ’n kwas” (gedig 48). Sien ook: “radikaal sy wortels ingestoot” (bl 40).
Daar is twee gedigte, beide polities van aard, wat die kompleksiteit en skoonheid van die bundel in sy geheel mis: gedig 32 en gedig 56.
Desnieteenstaande, oordeel ek dat hierdie bundel onverwags die digterlike landskap in Afrikaans herskryf.
Bibliografie
Ahkmatova, A. 1976. You will hear thunder. Vertaal deur DM Thomas. Londen: Secker & Warburg.
Eybers, E. 2004. Versamelde gedigte. Kaapstad: Human & Rousseau.
Goethe, J. On German architecture. In Goethe’s literary essays. Vertaal deur Erwinia Steinbach. https://www.gutenberg.org/cache/epub/76103/pg76103-images.html#Page_3 (3 Julie geraadpleeg).
Naudé, C-P. 1994. Die nomadiese oomblik. Kaapstad: Tafelberg.
Opperman, D. 1978. Engel uit die klip. Kaapstad: Tafelberg.
Rilke, R. 2011. Selected poems / Ausgewählte Gedichte. Vertaal deur Stanley Appelbaum. New York: Dover Publications.
Tsvetaeva, M. 2027. After Russia: the first notebook. Vertaal deur Christopher Whyte. Bristol: Shearsman Books.
Van der Merwe, W. 2018. Doodmenslik. Pretoria: Protea Boekhuis.
Lees ook:
Breytenbach op 80: Perspektiewe | perspectieven op Breytenbach – Daniel Hugo en Job Degenaar

