Staatsgrense en migrasie in Afrika: Van Berlyn tot Kaïro en Kigali

  • 2

Agtergrond. Afrika bestaan uit 55 state (Wes-Sahara uitgesluit) waarvan 49 op die kontinent is, plus ses eilandstate (byvoorbeeld Mauritius in die Indiese Oseaan en Kaap Verde in die Atlantiese Oseaan). Van hierdie 49 is 34 kusstate en 15 wat landomslote is. Daar is dus baie grense. Dié grense is nie in Afrika gemaak nie, maar in Berlyn tydens die “Stormloop” om Afrika: die datum 1884/5.

Dié grense is ook feitlik almal nuut, want dis meestal kunsmatige lyne op die Afrikakaart. Die deelnemers aan hierdie koloniale “stormloop” was Portugal wie se seevaarders die seeroete na Indië en China in die 1490’s gevind het. Daarna het die Hollanders van die VOC gekom en gegaan, opgevolg deur Brittanje, Frankryk, Duitsland, Italië en België.

’n Besondere datum wat Berlyn voorafgegaan het, was 1869: die jaar toe die Suezkanaal wat die Middellandse See met die Rooisee/Golf van Aden/Indiese Oseaan verbind het, oopgestel is. Dit was ook die jaar toe diamante in Kimberley ontdek is: “1869” kan dus as die begin van die “Stormloop” gesien word. Skielik het merkantilisme en imperialisme nuwe betekenisse gekry. Dit was die tyd toe invloedryke persoonlikhede soos Henry Morton Stanley, koning Leopold van België, David Livingstone en Cecil John Rhodes die strategiese en kommersiële waarde van die Afrikakontinent besef en benut het.

’n Diplomatieke plan moes gemaak word om die “Stormloop” te reguleer. Die Duitse Kansellier, Otto von Bismarck, het al die imperiale moondhede plus Amerika en Turkye na Berlyn genooi om reëls te maak vir die verdeling van die hele Afrikakontinent. Daar is oor vyf beginsels ooreengekom: besetting (occupation) deur middel van Oktrooie (Charters); daarná besitting (possession) deur middel van verdragsluiting (treaties) met inboorlingleiers soos konings, kapteins en hoofmanne oor die oordrag van grondbesit; en militêre onderwerping (conquest) indien oktrooie verdragsluiting op niks uitgeloop het nie.

Die gevolge hiervan het op groot probleme vir Afrika uitgeloop: die verdrae (treaties) was vaag en in Europese tale opgestel wat ongeletterdes nie verstaan het nie: Staatsgrense was burokraties opgestel met reguitlyne wat geografies, volkekundig en staatkundig weinig sin gemaak het.

Die inheemse reg is ook totaal ontken behalwe in sekere Britse gebiede. Dit was slegs Brittanje wat later met ’n beleid van “indirekte beheer” gepoog het om stamstelsels vir administratiewe en belastingdoeleinders te behou en gebruik. So het drie prekoloniale Afrikaryke – slegs in Britse gebiede, hulle koningskappe behou: die “Baganda” het die kolonie van Uganda geword; die “Swazi” het Swaziland (eSwatini) geword; en die “Basotho” het Basutoland/Lesotho geword.

Ongeveer ’n halfeeu later het Afrika-nasionalisme sodanig ontwaak – veral ná die Tweede Wêreldoorlog, dat dekolonisasie onvermydelik geword het, maar vreemdgenoeg met die behoud van die Berlyn-gemaakte kunsmatige grense.

Die “nuwe” Afrikastate

In die staats- en volkereg is daar sekere minimumvereistes waaraan “staatskap” gemeet word: ’n bevolking; ’n sentrale regering; ’n grondgebied met grense; en internasionale erkenning. So het die eertydse kolonies die nuwe state geword. Die destydse Organisasie vir Afrika-Eenheid het die grense tydens die Kairo Spitsberaad in 1964 bekragtig. Dit was ’n verlore geleentheid om die kunsmatigheid van die Berlynse grense reg te stel, ten minste wat die pre-koloniale stamstelsels betref.

Die glorieryke tradisies van byvoorbeeld die Bakongo, die Chokwe, Bunyoro, Songhai, Ashanti, Ewe, Sokoto, Matabele, Herero, Bamangwato, Kikuyu, Bemba, en vele ander, het niks van gekom nie. Homogeniteit het heterogeniteit geword wat in latere jare ’n probleem vir “nasiebou” sou word.

Die feit dat daar ’n sogenaamde “Moslemlyn” van Wes na Oos – vanaf Dakar tot by Djibouti, talle Afrikakolonies in ’n Moslemnoorde en Christensuide verdeel het, is ook nie aangeraak nie: godsdiensverdeelde state het sodoende in Senegal, Ghana en Nigerië tot stand gekom. Soedan was in dieselfde kategorie. Maar hier moes die Suid-Soedanese, soos die Dinka en Nuer, in ’n jarelange afskeidingsoorlog met die Arabies-beheerde Moslem-noorde gewikkel raak wat eers in 2011 tot die afskeiding van Suid-Soedan gelei het.

Eritrea het ook van Ethiopië weggebreek, maar dit was in werklikheid dekolonisering omdat Eritrea ’n Italiaanse kolonie was wat ná afloop van die Tweede Wêreldoorlog deur die geallieerdes (VSA en Brittanje) aan Ethiopië toegeken is uit dank vir Heile Selassie se opposisie teenoor Mussolini se fascistiese regering wat van Eritrea ’n basis gemaak het om Ethiopië te annekseer.

Die Organisasie vir Afrika-Eenheid (OAE) en die Kairo Resolusie van 1964

Die OAE is ’n produk van pan-Afrikaanse eenheidsideale wat aan die begin van die vorige eeu in Amerika en Jamaika onder swartbewussynleiers soos George Padmore, Henry Sylvester Williams se Marcus Aurelius Garvey ontstaan het. Spitsberade het gereeld plaasgevind. Afrika se eie pan-Afrikaniste was leiers soos Heile Selassie, Kwame Nkrumah, Jomo Kenyatta en andere. Dit was hulle strewe om ’n kontinentale instelling te skep. Dis hoe die Organisasie vir Afrika-Eenheid in Addis Ababa in 1963 gestig is. (Dis in 2002 herbevestig as die hoofkwartier van die nuwe Afrika-Unie.)

Die Egiptiese leier, Gamel Abdel Nasser was voorsitter tydens die Kairo-Spitsberaad in 1964 – slegs een jaar nadat die OAE gestig is. ’n Resolusie van groot belang is voorgelê en aanvaar; naamlik dat Afrika se koloniale grense onveranderd sal voortbestaan. Skielik het die “sagte” koloniale grense nuwe simbole van soewereiniteit geword. Dit was die begin van “harder” grense: grensbeheer, paspoorte, visums, wettige/onwettige migrante, deportasie, ens.

Nadat waardevolle nuwe grondstowwe soos koper, uraan en olie ontdek is, het minderheidsgroepe van dáárdie mineraalryke streke afskeidingsneigings begin toon. Voorbeelde hiervan is Katanga (koper en uraan) wat wou wegbreek van die destydse Belgiese Kongo wat Zaire geword het; en Biafra (olie) wat wou wegbreek van die res van Nigerië. Dieselfde met die olie van Cabina in noord-Angola.

Die heersersklasse het hulle op soewereiniteit en “harde” grense beroep ten einde die opbrengste van waardevolle kommoditeite binne landsgrense te beskerm. Op dié manier het die Berlynse reëls van 1884/85 en wat by Kaïro in 1964 bekragtig is, onwrikbaar geword. Skaars twintig jaar later sou nuwe reëls egter intree. Onder die vaandel van “vryhandel” moet harder grense vervang word met sagter grense soos hieronder uiteengesit. En dit val saam met klimaatverandering wat ook migrasies skep.

Nuwe Rigtings onder die AU

Die OAE is in 2002 deur die nuwe Afrika-Unie vervang. Die nuwe leierskap van Generaal Obasanjo van Nigerië, Thabo Mbeki van Suid-Afrika en selfs Muammar al-Gadaffi van Libië het ’n verskil begin maak. Die laasgenoemde is bloedig onttroon, maar Obasanjo en Mbeki het voortgegaan met die nuwe instellings van die AU, soos die Vredes- en Veiligheidsraad van die AU en die New Partnership for African Development (Nepad) in 2002 en ’n enkele Pan-Afrikaparlement by Midrand (Suid-Afrika) ’n onderdeel van die “politieke integrasie” van die kontinent.

Die nuwe denke het ook kontinentale markintegrasie ingesluit, en was geïnspireer deur die markintegrasie in die 27 lidlande van die Europese Unie met sagte grense, enkele paspoort en ’n sentrale bank. Die implikasie is dat “sagter” grense die oorgrensbeweging van nie net goedere en dienste nie, maar ook mense vergemaklik. Ten spyte van vryhandelsvoordele skep so ’n situasie ook bedreigings vir sekuriteit veral in die lig van onwettige en onwelkome vreemdelinge.

Die institusionele raamwerk is gebaseer op “politieke eenheid” (’n “Verenigde State van Afrika”) sowel as “ekonomiese integrasie” (’n “Afrika-Ekonomiese Gemeenskap”). Die meesterplan hiervoor is vervat in “Agenda 2063” wat presies ’n honderd jaar ná die stigting van die OAE in 1963 verwesenlik moet wees, met Addis Ababa in Ethiopië as die hoofstad van so ’n Verenigde State van Afrika (“VSA”).

Dié pan-Afrikaanse toekomsplan is waarskynlik onhaalbaar, want die kontinent is te groot – ’n gebied groter as die gesamentlike groottes van die VSA (Amerika), Indië, Europa en Japan. Waar Berlyn (1884/5) en Kairo (1964) probeer het om kunsmatige, dog “harder” grense te trek, staan Kigali (2018) weer vir “sagter” grense, maar met die voorbehoude soos hierbo uitgespel. Die twee ekonomiese reuse van Sub-Saharan Afrika, tewete Nigerië en Suid-Afrika was aanvanklik huiwerig om te onderteken en bekragtig juis vanweë die feit dat migrasies lank nie meer deur oorlogsituasies veroorsaak word nie, maar ook ander oorsake het. Die “destinasiestate” is die ryker lande.

Tans vind grootskaalse migrasie reeds plaas: in Noord-Afrika via die Middellandse See na Europa; en per spoor, pad en seeroetes na Suid-Afrika. (In Europa het die regerings van Griekeland en Italië reeds ’n verbod op die binnekoms van enige Afrikavlugtelinge en asielsoekers geplaas.)

Islamitiese terreur. In Noord- en Oos-Afrika is migrasie ook die resultaat gewelddadige ekstremisme en terrorisme wat godsdiensgedrewe kan wees in die vorm van Islamitiese terreur wat vanuit die Midde-Ooste na Afrikagebiede verskuif. In die afgelope jaar het geheimsinnige terreur in die Cabo Delgado-provinsie van Noord-Mosambiek uitgebreek. Of dit ’n verlengstuk van die Islamitiese al-Shabaab van Somalië is en/of dit huursoldate in diens van groot olie- en gaskorporasies is wat eksplorasiewerk in hierdie gewestes doen, is onseker. Amerikaanse en selfs Russiese huursoldate is na bewering gekontrakteer om olie- en gasbronne te beskerm.

In die geval van Suid-Afrika is migrasies veeldimensioneel en hoofsaaklik ekonomies van aard: tydelike werkers van die myn- en landboubedrywe en/of mense wat vrywillig migreer op soek na beter heenkomes en werkgeleenthede. Die oorspronglande van Afrika-migrante is veral die Demokratiese Republiek van die Kongo, Zimbabwe, Mosambiek, Ethiopië en Bangladesh verder weg. Die meeste hiervan is onwettige migrante wat nie noodwendig vlugtelinge of asielsoekers is nie.

Asielsoekers. Daar is geen besondere “menseregte” wat aan asielsoekers gekoppel word nie. Die enigste vereiste is dat hulle slagoffers van vervolging (“persecution”) in die lande van herkoms moet wees wat dan aansoek om asiel in die “destinasiestaat” doen wat geweier kan word. Daar is nie ’n reg tot appél nie. Die syfer beloop tans ongeveer 185 000 mense in Suid-Afrika.

Vlugtelinge. Die situasie rondom vlugtelinge (refugees) is egter anders. Dis mense wat “internally displaced people” (ISPs)is, met ander woorde vlugtelinge as gevolg van oorlog en/of genadelose omgewingsfaktore soos droogte of vloede. (Dié syfer in Suid-Afrika is ongeveer 268 000.) Diegene het regte wat deur die Verenigde Nasies (VN) gereguleer word, byvoorbeeld die UN High Commissioner for Refugees (sedert 1951) waarvoor daar beskermingsentra (“encampment centres”) in meestal Uganda is. Die VN subsideer sekere onderhoudskostes. Nie-regeringsorganisasies soos die Rooikruis, Human Rights Watch, Kerkorganisasies en Amnesty International speel ook rolle.

Die somtotaal van asielsoekers en vlugtelinge in Suid-Afrika bedra dus ongeveer 453 000 persone. Dan is daar ook ander onwettige en wettige migrante uit Afrika waarvoor geen betroubare statistiek bestaan nie, maar op tussen vyf en agt miljoen geskat word. Dit lei tot griewe wat dikwels in vreemdelingshaat (xenofobie) oorgaan in plekke soos Johannesburg, Pretoria, Krugersdorp, Durban en Kaapstad. Twee voorbeelde van plaaslike versetbewegings is die Sisonke Forum en All Truck Drivers Foundation wat vragmotors met byvoorbeeld Zimbabwiese trokdrywers teiken.

Die Suid-Afrikaanse regering het reeds in 2017 die “White Paper on International Migration” sowel as die “Border Management Authority Bill” gepubliseer. Dit voorsien ’n (harder) grensbeheerstelsel wat vir groter militêre en polisietoesig by grensposte voorsiening maak, dws “securitisation of borders”. Die amptelike standpunt is egter dat wettige en gedokumenteerde migrante welkom is; onwettige migrante soos krimineles en ongedokumenteerdes is dus nie welkom nie. Dit sluit nie oorgrensinstromings in nie. Die uitdagings bly groot, want Suid-Afrika grens aan ses ander Afrikastate waarvan die grenslyne 4470km lank en uiters porieus is, en deur slegs 71 grensposte bedien word. Anti-terreur wetgewing sal ook nie “klimaatvlugtelinge” keer om te vlug nie. Dis steeds onseker of meer polisiëring ’n beter oplossing is.

Goeie en Slegte Nuus. Die goeie nuus is dat die oorloë en gewelddadige konflikte in buurstate gepaard met ondemokratiese politieke vervolgings beduidend afgeneem het, daarom minder asielsoekers en politieke vlugtelinge. Die slegte nuus is egter dat klimaatverandering orals – van Kalifornië tot Australië en Brasilië drasties toeneem. In die Sahelgebiede van sentraal Afrika het klimaatverandering – water, weer, weiding en voedselproduksie, alreeds tot nuwe patrone van Noord/Suid sowel as Suid-Noord bevolkingsmigrasies aanleiding gegee: “Klimaatvlugtelinge”.

Wat dit vir Suid-Afrika inhou, sal slegs die toekoms leer. Die “grensdebat” is nog lank nie verby nie, want die groot probleme rondom klimaatverandering en vlugtelingskap is ook lank nie verby nie. Dit is egter ook ’n internasionale vraagstuk waaraan enkele destinasiestate feitlik niks kan doen nie. Beleidskonsensus ontbreek egter. Die uitwerking hiervan op die kieserspubliek neig om populisties te wees, soos om grense harder te maak. Voorbeelde is Brittanje en Brexit en Trump se Meksikaanse Muur.

Lees ook

Demokrasie en demokratisering in Afrika (Deel 1): Konsepte, teoretiese benadering, historiese oorsig en huidige stand

Afrika en koloniale gebiedsverdeling: ’n onderhoud met Willie Breytenbach

China en Afrika: ’n raaiselagtige mengsel van alles?

  • 2

Kommentaar

  • Waarnemer Wildevark

    Uitstekende artikel. Baie dankie.

    En die instroming na SA gaan dag en nag voort. En hulle bring hul vuurwapens en visnette en verdowingsmiddele vir ruilhandel saam.
    En hulle “demand” regte en dienste.
    En toenemende sosiale onrus is ons voorland.
    En wat doen die ANC om hierdie probleem hok te slaan?
    En so donner ons voort.

  • In 'n berig wat onder https://www.bbc.com/news/world-africa-47800718 van 2 Oktober 2019 verskyn het:
    "Where are the migrants from?
    About 70% of foreigners in South Africa come from neighbouring Zimbabwe, Mozambique and Lesotho.
    The remaining 30% is made up of people from Malawi, UK, Namibia, eSwatini, previously known as Swaziland, India and other countries.
    There are an estimated 3.6 million migrants in the country, a spokesperson for South Africa's national statistics body told the BBC, out of an overall population of well over 50 million."

    Weet enigiemand wat werklik aangaan?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top