Afrika en koloniale gebiedsverdeling: ’n onderhoud met Willie Breytenbach

  • 0

Hierdie onderhoud is gebaseer op die LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel “Demokrasie en demokratisering in Afrika (Deel 1): Konsepte, teoretiese benadering, historiese oorsig en huidige stand” deur Chris Nelson (Junie 2012).

Menán van Heerden het met Willie Breytenbach, oudprofessor in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch, gesels oor kolonialisme, Afrika en die moderne staat.

Willie Breytenbach (foto: Naomi Bruwer)

Die gevolge van die historiese Berlynse Konferensie van 1884/85 was die neerlê van kunsmatige geometriese grense deur Europese moondhede. Afrika het 6 000 homogene etniese groeperings en om en by 22 prekoloniale state. Wat was die oorsprong van hierdie konferensie? Wat was hierdie byeenkoms se verreikende gevolge vir Afrika?

Die oorsprong van hierdie konferensie – gereël deur die Duitse kanselier, Otto von Bismarck, was om die reëls vir besetting (teenwoordigheid deur staatsmaatskappye) en besitting (verdragsluiting en/of militêre onderwerping) as riglyne vir koloniale gebiede tydens die sogenaamde Stormloop om Afrika (“Scramble for Africa”) te aanvaar.

Die gevolge was dat daar nie reeds in die 1880’s ’n oorlog tussen Europese moondhede om koloniale grondgebiede plaasgevind het nie, maar eers in 1914, toe dit om ander redes plaasgevind het. Duitsland – heel ironies, waar die konferensie plaasgevind het – moes sy gebiede aan die destydse Volkebond afstaan omdat die Kaiser se Duitsland teen Brittanje verloor het, soos in die destydse Tanganjika (Tanzanië) en Suidwes-Afrika (Namibië).

Vaste grense (“boundaries”) is ’n kenmerk van moderne state. Afrikastate is dus moderne postkoloniale state. Wat het ’n prekoloniale ryk/staat egter behels in terme van grense en etniese groeperings?

Sedert die antieke ontstaan van Egipte en Abessinië (Ethiopië) en stadstate soos Kartago (Tunisië) en Alexandrië (Egipte) het Moslemstate noord van die Saharawoestyn, soos in Marokko en Mauritanië, ontstaan. Ghana, Songhai en Mali het op die Arabiese handelsroetes (trans-Saharawoestyn) tussen Noord-Afrika en Wes-Afrika ontstaan.

Vanaf die 16de eeu het swart inheemse prekoloniale state ook elders ontstaan. Voorbeelde is Monomotapa (Zimbabwe), Ashanti (Ghana), Lozi (Zambië), Basuto (Lesotho), Swazi (Swaziland) en Zulu (KZN).

Dié entiteite het, soos moderne state, ook oor regeerders, grondgebiede en politieke gemeenskappe beskik wat meestal twee klasse gehad het: heersersklasse en verowerde onderdane. Konings en hoofmanne was altyd van die heersersgroepe.

Hierdie prekoloniale staatsgebiede het ook grense gehad, maar wat nie op kaarte omskryf is nie – daarom was dit nie “boundaries” nie, maar eerder “frontiers” wat begrens was deur kuslyne, riviere of bergreekse.

In die 19de eeu, op die vooraand van die Stormloop, was daar 22 sulke entiteite wat ná die Berlynse Konferensie onderverdeel was in Duitse, Turkse, Britse, Franse, Spaanse, Portugese en Italiaanse kolonies. Toe is “frontiers” in “boundaries” omskep. Ná die Eerste en Tweede Wêreldoorloë is die Duitse, Turkse en Italiaanse kolonies onder die vaandels van die Volkebond, wat die Verenigde Nasies geword het, in Britse of Franse kolonies omskep – Tanganjika (Tanzanië), wat voorheen Duits was, het byvoorbeeld Brits geword.

Chris Nelson verdeel Afrika se politieke ontwikkeling in drie tydperke: die prekoloniale onafhanklikheidsera (voor 1884), die koloniale era (1884–1951) en die eietydse onafhanklikheidsera (1951 tot vandag). Was die nuwe onafhanklikes dus meestal Afrika se multi-etniese kolonies?

Ja. Die meeste is steeds multi-etnies. Maar wat sub-Sahara-Afrika betref, was 1960 die belangrikste waterskeiding en nie 1951 nie. Ghana was die eerste in 1957 en verdere kolonies het in 1960 onafhanklik geword. Die Franse, Britse en Portugese kolonies (byvoorbeeld Algerië, Kenia, en Angola en Mosambiek onderskeidelik) wat deur blanke setlaars beset is, het dikwels bevrydingstryde opgelewer wat “uhuru” tot na 1974 uitgestel het, toe Portugal skielik onttrek het. Daarna het Rhodesië (Zimbabwe) en Suidwes-Afrika (Namibië) onafhanklik geword en Suid-Afrika het gedemokratiseer.

In die Kaïro Resolusie van 1964 van die destydse Organisasie van Afrika-Eenheid (OAE), is besluit dat die koloniale grense (soos by Berlyn bepaal) onveranderd sal bly. Die uiteinde was meer as 48 Afrikastate wat net soos die voormalige kolonies gelyk het – die ses eilande (bv Madagaskar en Mauritius) se grense was natuurlik. Dit is altesaam 54 state. Dit is egter vreemd dat daar nie meer etniese afskeidingsoorloë onder die 48 kontinentale state was nie.

Etniese afskeidingsoorloë het slegs in vyf gebiede sedertdien plaasgevind: Wes-Sahara wat van Marokko wil afskei, Biafra (met olie) van Nigerië, Katanga (met koper en kobalt) van die DRK en Eritrea van Ethiopië; in 2015 het Suid-Soedan (met olie) van die res van Soedan afgeskei.

Is daar enige lande in die wêreld wat nie deur imperialisme/kolonialisme geraak is nie? 

Met uitsluiting van die Romeine, die Ottomaanse Turke en Rusland (tsaristies en kommunisties) wat Europa, die Midde-Ooste en dele van Asië gekoloniseer het, was daar geen plekke in Suid-Amerika, Afrika, Asië en Australië wat nie gekoloniseer was nie – byvoorbeeld Suid-Amerika hoofsaaklik Spaans, Cecil Rhodes se “Cape to Cairo” weer hoofsaaklik Engels. Die enigste Afrikastate wat nie volkome gekoloniseer was nie, is Ethiopië en Liberië.

Afrika in 1914 na die Stormloop om Afrika (grafika: http://www.nuttyhistory.com/scramble-for-africa.html)

In Maart 2017 het Helen Zille ’n herrie laat losbars met haar kolonialisme-twiet. Sy het die stelling gemaak dat kolonialisme ook positiewe gevolge gehad het. In die artikel beklemtoon Nelson verskeie nadelige politiese en sosio-ekonomiese gevolge van kolonialisme in Afrika. Hy argumenteer ook dat die demokratiseringsproses in Afrikalande, insluitend Suid-Afrika, nie suksesvol gekonsolideer is nie. Kan daar daarom afgelei word dat demokrasie, ’n Westerse konsep, nie voordelig vir Afrika was en is nie? Of is so ’n stelling/oorweging te simplisties / nie relevant nie?

Die belangrikste eienskappe van alle demokrasieë is politieke deelname, vreedsame mededinging (vrye en regverdige verkiesings) om mag, en funksionele instellings. Die beduidendste gevolge van kolonialisme was Europese taaloordrag (bv Engels en Frans), die oorneem van sport deur Europese sportsoorte soos sokker, rugby en krieket in feitlik alle kolonies, die vestiging van die moderne bankwese (’n Britse produk) en regstelsels soos Britse maatskappyregte. Dit is waar moderniteit ter sprake is, wat onvermydelik is ten spyte daarvan dat Afrika-populisme dit wil ontken.

Feitlik alle items in aktes van menseregte, bv politieke regte en burgerlike vryhede soos eiendomsregte, godsdiensvryheid, vryheid van assosiasie, is voorbeelde van die grondslae van moderniteit wat ook eienskappe van enige demokrasie is.

Volgens Nelson is die “vreedsame, onderhandelde skikking” tussen die Nasionale Party-regering en die African National Congress (ANC) om ’n “inklusiewe demokrasie” te vestig “allerweë as een van die mees dramatiese en betekenisvolle ontwikkelings in die demokratiseringproses in Afrika beskou”. Wat is jou mening rakende hierdie argument?

Korrek, en nie uniek nie. Onvermydelik. Die postkoloniale geskiedenis van Afrika is nie net ’n geval van “1951 tot vandag” nie. ’n Beter indeling is 1960 tot 1989 (einde van die Koue Oorlog); en Samuel P Huntington se “third wave of democratisation”, wat veral op die tyd ná die val van die Berlynse Muur / einde van Koue Oorlog (alles 1989) betrekking het. So het herdemokratisering in lande soos Pole, Chili, Argentinië, Brasilië en die Filippyne begin en het kerke en vakbonde plus donateursdruk van buite die einde van ondemokratiese bedelings begin inlei (in die geval van Suid-Afrika was dit internasionale isolasie en sanksies) wat uiteindelik tot ’n elite-gedrewe skikking tussen die NP / blanke bewind en ANC/bevrydingsbeweging gelei het. Uniek vir Afrika, maar nie elders nie. Kortom: ’n onderhandelde grondwet binne die konteks van ’n regstaat waarin die swart meerderheid volle politieke regte sou ontvang – op alle owerheidsvlakke – en in ruil daarvoor dat die blanke minderheid dieselfde politieke regte as swart mense sal hê, maar dat bestaande burgerlike vryhede, soos eiendomsregte, persvryheid en godsdiensvryheid, verskans sal wees in ’n rigiede grondwet wat ook voorsiening maak vir ’n konstitusionele hof, wat die finale arbiter oor grondwetlike geskille is.

Voor 1989 was daar slegs drie veelpartystate op grond van volle deelname, verkiesings en funksionele instellings in Afrika, te wete Mauritius, Botswana en Senegal. Vandag is daar reeds twee Afrikastate wat aan Huntington se “two-turnover”-toets voldoen, maw regerende partye wat verkiesings verloor en mag grondwetlik aan nuwe meerderheidspartye oorhandig het: Mauritius en Tunisië. In ’n verdere agt state was daar reeds één “turnover”, te wete Ghana, Kaap Verde, Zambië, Kenia, Nigerië en Lesotho (wat egter sedertdien in onstabiliteit verval het).

Hierbenewens beskou Freedom House (NY) die volgendes wat nog nie “turnovers” beleef het nie, nogtans as “vry”: Benin, Namibië, Senegal, Sao Tomé & Principe en Suid-Afrika.

Chris Nelson mag dus korrek wees as hy na Afrika in sy geheel kyk, maar hierdie glas is ten minste halfvol wat minstens ’n dosyn Afrikastate betref, Suid-Afrika ingesluit. Geen eenparty Marxistiese staat bestaan meer in Afrika nie.

Die mees outoritêre state vandag is waar presidente vir drie, vier termyne of selfs lewenslank wil regeer, soos met Museveni (Uganda), Nkurunzisa (Burundi), Kabila (DRK), Dos Santos (Angola), Mugabe (Zimbabwe) en al-Bashir (Soedan) die geval is.

Waar kom die naam Afrika vandaan?

Afrika is vernoem na Scipio Africanus, die Romeinse generaal wat Hannibal van Kartago verslaan het wat met sy Afrika-olifante probeer het om Rome in ongeveer 200 vC binne te val, waarna hy deur Scipio teruggedryf is Kartago toe. Kartago (tans Tunisië) het ’n provinsie van Rome geword en met erkenning aan die rol van die generaal is die hele vasteland Africanus genoem. Die naam het in Romeinse geskrifte neerslag gevind, waarna Portugese en Spaanse ontdekkingsreisigers en Nederlandse handelaars hierdie benaming ook op hulle wêreldkaarte aangebring het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top