China en Afrika: ’n raaiselagtige mengsel van alles?

  • 3

.............

“Is dit neokoloniale kultuurprojekte waarin die Chinese ontwikkelingsmodel gepropageer word?”

.............

China het handelsbande met die ooskus van Afrika gehad lank voordat die Portugese die Kaapse seeroete na Asië ontdek het en die Hollanders (die VOC in 1652) hier gevestig het. Daarna het ander Europese moondhede soos die Britte, Franse, Belge en selfs Duitsers betrekkinge met Afrika oorheers totdat kolonialisme tot ’n einde gekom het. Tydens die Koue Oorlog het die Chinese teruggekeer. Op dáárdie tyd het die Sowjetunie (Rusland) en die Volksrepubliek van (Kommunistiese) China om die guns van opkomende Afrikastate meegeding deur byvoorbeeld verskeie bevrydingsorganisasies te befonds en te steun.

Rusland het die Aswandam in die Nylrivier in Egipte gebou en China die Tanzam (vandag die Tanzania-Zambia Railway, oftewel Tazara-spoorlyn) tussen Dar es Salaam en die Zambiese Koperbelt in die 1970’s. Die Chinese is steeds betrokke by infrastruktuurprojekte in Afrika, asook by allerlei kulturele bedrywighede.

Vanjaar, dertig jaar ná die val van die Berlynse Muur in 1989, het Rusland weinig, indien enige, belangrike invloed in Afrika. China wel. Hoekom? Die antwoord lê in China self opgesluit: soos vermeld, was die Chinese alreeds in prekoloniale tye hier. Tans het hulle die grootste bevolking ter wêreld (1,4 miljard mense) – groter as Indië (1,3 miljard) en al 49 state op die Afrikakontinent (gesamentlik minder as ’n miljard). China het ook die derde grootste ekonomie naas die VSA; dus ’n supermoondheid.

In 1979, veertig jaar gelede, het Mao Zedong, die eerste leier van die Volksrepubliek en ’n groot aanhanger van Karl Marx, se opvolger Deng Xiaoping, die eenkindbeleid ingestel ten einde oorbevolking te stuit. Op daardie stadium was daar vier kinders vir elke volwassene in China (’n verhouding van 4:1); vandag is dit egter vier kinders vir elke vier volwassenes (’n verhouding van 4:4), wat ’n yslike vergrysingsprobleem geskep het wat niemand voorsien het nie. En met ’n snelgroeiende ekonomie van 7–10% per jaar die afgelope dekade, is daar vandag egter werkerstekorte in China wat grootliks opgelos is deur wêreldklas outomatisasie, meganisasie en digitalisasie soos in moderne kapitalistiese state. Op dié manier het China die sogenaamde Vierde Nywerheidsrevolusie ingelui, en oorbevolking was nie meer ’n probleem nie.

Die Chinese staat het egter kommunisties gebly. Die regerende Kommunistiese Party van China (KPC) het steeds die monopolie op politieke mag en van persvryheid, en van ’n onafhanklike regbank en onafhanklike sentrale bank is daar nie sprake nie. Die yuan/dollarwisselkoers word byvoorbeeld doelbewus laag gehou ten einde ’n vergelykende voordeel (’n soort “uitvoersubsidie”) in uitvoermarkte van die VSA, Europa, Japan en Afrika te behaal: ’n stelsel van “kapitalistiese Leninisme”.

Afrika het ’n plek in hierdie plan, en dit staan op drie pilare: die soeke na nuwe grondstowwe vir die Chinese vervaardigingsektore; nuwe markte vir Chinese uitvoerprodukte wat bevoordeel word deur wisselkoersmanipulasie; en die oprigting van infrastruktuur – veral mbt energie en vervoer in Afrikastate met lamlendige infrastruktuur, vanwaar grondstowwe ingevoer word. Afrika-infrastruktuur moet dus Chinese produktiwiteit bevorder.

Ingevoerde grondstowwe uit Afrika sluit koper van Zambië en die DRK, olie van Suid-Soedan, Angola en Nigerië en tabak van Zimbabwe in. ’n Belangrike onderdeel van hierdie markte is die ongeveer 80 000 “Chinatown”-winkels in stede soos Addis Abeba, Lagos, Lusaka, Kinshasa en Nairobi en in Suid-Afrikaanse stede en dorpe. Die fokus is ook op die bemarking van Chinese klerasie en tekstiel; die infrastruktuurontwikkeling sluit weer die opgegradeerde uitvoerhawens soos Dar es Salaam, Bagamoyo, Mombasa en Djiboeti in Noordoos- en Oos-Afrika en Lobito en Benguela aan die weskus in.

Op versoek van die regering van Ethiopië help China ook om die voltooiing van die Great Ethiopian Renaissance Dam in die belope van die Blou Nyl te bespoedig, wat ten minste tydelik die vloei van water na die Aswandam in Egipte kan belemmer en moontlik tot spanning kan lei.

Dié beleggings is met die uitsondering van die oprigting van ’n splinternuwe hoofkantoorgebou van die Afrika-unie in Addis Abeba (Ethiopië) nie skenkings nie. Dit word teen laer kostes aangebied (gewoonlik 2% rente vir 20 jaar) as heersende markkoerse. Die Chinese koppel hierdie goedkoop lenings ook nie aan “voorwaardelikheid” (“conditionalities”) soos wat die Wêreldbank of die Internasionale Monetêre Fonds byvoorbeeld doen nie, soos hieronder verduidelik word. ’n Ander metode is ruiltransaksies, byvoorbeeld waar Afrikagrondstowwe verruil word vir infrastruktuur – veral transport en elektrisiteit wat deur Chinese korporasies opgerig word. Terugbetaling is dus nie ’n suiwer finansiële aangeleentheid nie.

By verdere nabetragting is daar egter tog politieke voorwaardes: geen amptelike betrekkinge met die pro-Westerse Taiwan nie; ook nie simpatie met Hong Kong of die Dalai Lama, die afgesette antikommunistiese leier van Tibet, nie. Tot onlangs was daar vier sulke Afrikastate op China se “swartlys”: Burkina Faso, Swaziland, Gambië en São Tomé, wat saam met die Vatikaan in Rome ook diplomatieke bande met Taiwan het.

Sover ons weet is daar geen Afrikastaat wat China “swartlys” nie. Daar is egter ten minste twee wat China al “gerooikaart” het: die een keer was toe ’n voormalige Zambiese president, Levy Mwanawasa, die Chinese versoek het om hulle op grond van rassisme aan ’n padbouprojek te onttrek omdat hulle glo neerkyk op swart mense; die ander keer was toe Ian Khama, ’n voormalige president van Botswana, die Chinese kontrak vir die voltooiing van die Dikgatlhong-dam in die Shashrivier noord van Selebi-Phikwe en suidoos van Francistown op die Zimbabwiese grens opgeskort het, vanweë beweerde swak vakmanskap.

’n Newe-aspek van die Chinese praktyk om nie “voorwaardelikheid” toe te pas nie, is dat state soos Soedan onder die al-Bashir-bewind, die Demokratiese Republiek van die Kongo onder die Kabila-bewind, Angola onder die korrupte Dos Santos-bewind en Zimbabwe onder die diktatoriale Mugabe-bewind, hegte betrekkinge met China gehad het

Ná die bevrydingsoorloë in Afrika het China egter nooit grootskaals by militêre aktiwiteite betrokke geraak nie, behalwe in Suid-Soedan en Mali. Die Chinese regering het as lid van die VN se Veiligheidsraad wel soldate vir VN-vredesmissies in Liberië en Suid-Soedan verskaf, asook ’n aktiewe rol in die maritieme patrollering van die Golf van Aden in die stryd teen die seerowery op olietenkskepe opweg na die Rooisee en Suezkanaal en/of Asië gespeel.

Die Chinese het redelik onlangs egter aangekondig dat ’n militêre basis ook by Djiboeti opgerig word. Djiboeti is aan die Afrikakant van die Golf van Aden reg oorkant die onstabiele Jemen wat in die visier van die anti-Westerse Iran en van die Islamitiese Staat in die Midde-Ooste en Noord-Afrika is. Die hawe van Djiboeti is dus vir die Weste – soos die Kaapse seeroete voordat die Suezkanaal geopen is – van kritieke strategiese belang.

Djiboeti kan vergelyk word met Gibraltar, wat krities vir die sekuriteit van skeepvaart tussen die Middellande See en Atlantiese Oseaan is. Waar die Britte gedurende die koloniale tydperk Gibraltar en die Kaapse seeroete beheer het, is dit Brittanje, Frankryk en Egipte wat die Suezkanaal beheer het. Net so het Frankryk en Brittanje die Golf van Aden beheer met Brittanje wat Aden besit het en Frankryk wat Djiboeti besit het. Nadat Djiboeti in 1977 onafhanklik geword het, het Frankryk die vlootbasis behou. Naas Frankryk het die VSA en Japan ook lug- en vlootgeriewe gevestig.

Nou het China bygekom. Dit is omdat die olieroete van die Persiese Golf na Europa via die Golf van Aden, die Rooisee en die Suezkanaal loop. Hier in Djiboeti het daar dus informele multilaterale verdedigingsalliansies tussen die Weste, Japan en China ontstaan wat verwelkom moet word.

Waar laat dit Afrika? Is daar oortollige Chinese wat in Afrika afgelaai word? Amptelike syfers is nie beskikbaar oor hoeveel Chinese op die Afrikakontinent is nie. Die enigste syfer wat ek kon opspoor, is 202 689 van ’n tyd gelede, wat gans te min is.

Na berekening is daar ook die bovermelde 80 000 “Chinatown”-winkels op die kontinent en indien dit deur twee gesinne bedryf word met een kind per gesin, is dit ses mense per winkel, wat op 480 000 bereken kan word.

Wat die getal (tydelike?) Chinese werkers by die verskillende infrastruktuurprojekte is, weet niemand nie. As dit die 200 000 plus is waarna hierbo verwys word, is dit steeds minder as ’n miljoen mense. Dit kan dus nie waar wees dat Afrika ’n ouetehuis vir oortollige Chinese bejaardes geword het nie, soos soms gespekuleer word. Daar was ook nie grondgrype nie. ’n nywerheidspark buite Addis Abeba was onder verdenking, maar daar werk meer Ethiopiërs as Chinese. Waaroor daar wel gedebatteer kan word, is wat China beoog met die bevordering van Mandaryns in Afrikaskole soos in Tanzanië en ook die Confucius Institute in Johannesburg.

Is dit neokoloniale kultuurprojekte waarin die Chinese ontwikkelingsmodel gepropageer word? As “kapitalistiese Leninisme” gaan oor Confuciaanse burgerlike vryhede en politieke regte, kan maar net gekyk word na wat deesdae met die Dalai Lama en Hong Kong gebeur: onverdraagsame hardhandigheid. China dop dus enige toets wat aan die standaarde van die Verenigde Nasies se Universele Verklaring van Menseregte gemeet word.

Kapitalisme is beter as Marxisme/Maoisme, maar Leninisme is diktatoriaal van aard, wat geen inspirerende opsie is nie. In die lig hiervan bly die langtermyn einddoel van “China/Afrika” sekerlik ’n raaiselagtige mengsel van alles.

.............

Lees meer oor China-Afrika-betrekkinge in die LitNet Akademies-artikel:
China se eerste oorsese militêre basis in Djiboeti: ’n kontekstualisering van die oogmerke, politieke belange en toekomsmoontlikhede
(Theo Neethling, 2019)

.............

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Henning Herbsy

    Alles goed en wel, maar daar is altyd n motief vir enige belangstelling in Afrika en laagste op die lys is liefdadigheid.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top