
Die rubriekgrafika is gemaak met Canva-elemente, onderhewig aan hierdie gratis lisensie-voorwaardes: https://www.canva.com/policies/content-license-agreement/. Hier is die erkenning ten opsigte van die foto van die tande: huertacs op Pixabay, gepubliseer op 13 September 2019.
........
’n Vriendin het onlangs vir my gesê ’n mens se tande is gemaak om net 50 jaar oud te word, daarna val dit uit, of gee probleme. Wel, my tande het goed gehou, behalwe vir een probleem: Ek kners snags verskriklik op my tande. Bruksisme, noem die geleerdes dit. Dit is skynbaar ’n slaapversteuring wat geassosieer word met spanning en stres. Angs. En ja, daardie teksvers in die Nuwe Testament wat handel oor die geween en kners van tande, slaan die spyker op die kop: Mense wat so kners, het reeds ’n glimp van die hel gehad.
........
’n Vriendin het onlangs vir my gesê ’n mens se tande is gemaak om net 50 jaar oud te word, daarna val dit uit, of gee probleme. Wel, my tande het goed gehou, behalwe vir een probleem: Ek kners snags verskriklik op my tande. Bruksisme, noem die geleerdes dit. Dit is skynbaar ’n slaapversteuring wat geassosieer word met spanning en stres. Angs. En ja, daardie teksvers in die Nuwe Testament wat handel oor die geween en kners van tande, slaan die spyker op die kop: Mense wat so kners, het reeds ’n glimp van die hel gehad.
Eers het ek my kiestande losgekners – en uit radeloosheid en ongeduld, sommer een van die wiggelende tande self met ’n tweezer getrek. Maar toe begin my regtervoortand te lol, en laat ek dit duidelik stel: Dit verg nogal skill (en baie stres) om jou voortand uit te kners. Gelukkig het ek sterk, dik tande ... maar helaas. Dit het net die verlies aan die tand uitgestel, en nadat die tandarts vir my ’n knersplaatjie laat maak het, was ek gerus dat ek darem nie in my slaap my los voortand sou insluk nie.
’n Paar weke later betrag ek myself in die spieël: My los voortand het nou, soos ’n domino, 70 grade skeef gestaan. En die paniek het my beetgepak: Sê nou ek verloor my voortand? Of sou die dokter die los tand kon red? Ek het skielik onthou wat die koste verbonde aan tandheelkunde is, en dat baie mediese fondse maar traag is om op te dok daarvoor. Dus: Ek het weer ’n afspraak by my tandarts gemaak en eers vooraf ’n bedaarmiddel gedrink om my maagsenuwees te kalmeer, want ek kry ’n gag-refleks as iemand in my mond grou. Ook maar goed so, want toe die dokter ’n tampax in my mond druk om my kakebene wyd oopgesper te hou, was ek dankbaar, want my maag was so kalm soos ’n Hindoe-olifant.
Die volgende stap was dat ek moes aantree vir X-strale van my (oorblywende) tande.
So gesê, so gedaan. Maar, soos so dikwels, het my verbeelding op loop gegaan.
“Dit is ’n panoramiese X-straalmasjien, ook genoem ’n OPG, of panoramiese radiograaf,” het die vriendelike assistent gesê. “Wees Mevroutjie nou rustig, ons gaan gou X-strale van Mevrou se hele tandkas en dele van die kop neem.”
Sy het my gelei na ’n vertrek met ’n groot, liggrys masjien wat vas aan die aangrensende muur was.
Ek het gefassineer gekyk na die groot boog, soos ’n arm, die X-straalbron en die sensor.
“Staan Mevroutjie nou asseblief hier,” het sy vriendelik gesê en gewys na die groot, futuristiese masjien.
(In my verbeelding het ek verander in ’n ruimtevaarder: Ek was bevelvoerder van NASA se Orion-17-missie en ek het aangetree op die lanseerplatform – ’n tree vorentoe, ken omhoog, skouers agtertoe.)
Die assistent het die masjien se hoogte verstel. (Die hoogtekalibrasie van die ruimtetuig, het ek verder gedroom.)
“Sit Mevroutjie se ken hier op die kenrus, asseblief.”
(Nou koppel ek aan die ruimtestasie se bemanningsmodule, het dit deur my gedagtes geflits.) Ek het my ken gedruk op die klein plaatjie en met my tande sag op die bytblokkie gebyt.
Die assistent het die voorkopsteun nader geskuif. “Hou Mevrou se kop doodstil, hoor.”
Die masjien het begin zoem, die groot C-arm stadig draaiend om my kop.
Ek kon die rotasie voel. Die X-strale het deur my kop, van die een kant na die ander, geskiet. Die sensor aan die oorkant het die strale opgevang; ’n 2D-beeld van my hele mond: al my tande, sinusse en kaakgewrigte in een foto.
(Nou is dit gevorderde kosmiese sensors wat my skelet in 360 grade skandeer om te kyk of ek sterk genoeg is vir Mars.)
“Moenie sluk nie,” het die assistent gewaarsku.
Die arm het al stadiger gedraai; my oë steeds toe. (Ek kon myself in ’n wit ruimtepak sien, vlag in die hand, besig om op die rooi planeet te land.)
Die masjien het skielik gestop. “Klaar! Mevroutjie kan maar ontspan,” het die assistent opgewek laat klink.
Ek het verward na haar gekyk en gedink: Maar ek het nou net ’n volledige skelet- en kaakanalise vir my interstellêre reis ondergaan ...
Terug in die tandarts se stoel het hy my X-strale bestudeer. “Jy’s ’n roker,” het hy opgemerk, maar dit het meer na ’n verwyt as iets anders geklink. Hy het sy stokstywe indeksvinger vermanend op die beeld van my los, seer voortand gedruk en verduidelik waarom daar atrofie van die tandwortel is, waarom hy die tand moes trek ...
Die volgende stap was dat ek moes byt in tandartsgips om ’n gipsmodel van my tande te maak. Die dok het dié model vir my saamgegee, om huis toe te neem. Dáároor was ek dankbaar, want ek het op ’n kol gipsafdrukke van tande versamel vir my junk art. Ek het baie gipsgebitte geverf: die verhemeltes rooi of pienk; die tande wit. Ek sou ’n stompie of pap ballon tussen die bo- en ondertande indruk. En natuurlik het die humor van die junk art gelê in die uit tande. Maar my eie gipsafdruk was verreweg die snaaksste. Ek het besluit om die verhemelte swart te verf en die tande wit ... en as ek die gipsmodel oopslaan, dan kon dit deug vir ’n asbak. My uit voortand sou die roker se sigaret in posisie hou. Ja, en ek sou die kunswerk ’n Reliek vir my verlore verhemelte noem.
My grootste vrees is inderdaad bewaarheid. Ek het nooit besef hoe belangrik ’n voortand is tot ek dit verloor het nie. Die tandarts sou vir my ’n plaatjie maak van al my verlore tande; die slagoffers wat ek snags so meedoënloos in my slaap uitgekners het. Twee kiestande en ’n bielie van ’n voortand. Ek het ’n groot laglyn en een verlore voortand sou ’n yslike gat in my mond laat. Dit was die nare waarheid, of is dit die ware naarheid?
Ek het ’n afspraak gemaak vir die volgende konsultasie, en my tand, wat uiteindelik bebloed en verwese in ’n bakkie gelê het, weemoedig betrag.
Die tandarts het my nuwe akrielharsplaatjie aangepas en tevrede geknik. “Niemand sal weet nie; dit lyk nes jou vorige tand,” het hy getroos. Hy het my gevra of ek ’n hond het, waarop ek nee geantwoord het, want, het hy benadruk, ’n hond ruik jou in jou plaatjie en kou dit dan. Derduisende rande se speelgoed ... Ja, ons almal ken immers daardie cartoon van die hond wat met ouma se kunsgebit glimlag, ’n spotprent wat al vir dekades die rondte doen.
Buite, voor die praktyk, het ek ’n sigaret gerook, maar dit het tussen my lippe gedobber, want met my tandvleis wat doodgespuit is, was daar geen suspensie in my lippe nie.
Tuis het ek die plaatjie in en uit my mond gehaal. ’n Vermiste voortand verander ’n mens se voorkoms drasties. Die transformasie was verstommend: Met my nuwe tand sou ek kon deurgaan as ’n gesofistikeerde dame; daarsónder lyk ek summier soos ’n gangster, wat my weer laat besin het oor sosiale en kulturele vooroordele en stereotipering. Dis pure oëverblindery, ’n meesterkuns in illusie, met of sónder ’n tand. Sê nou net ek pleeg ’n misdaad met my uit voortand? het my verbeelding my getart; net om later weer my plaatjie in te sit? Dan sou ek waarskynlik die meeste mense flous, want mense kyk, maar sien nie regtig nie.
Selfs skrywers ken die truuk: ’n Karakter met min of geen tande is outomaties uit die laer stand of ’n skurk.
Ek het geglimlag en opeens besef: Ek trek nogal op Alfred E Neuman op die voorblad van ’n Mad Max-tydskrif. “What, me worry?”
Ek het weer geglimlag, dié keer met ’n springmes in ’n gebalde vuis, en ’n selfie geneem.
Haas onherkenbaar. Ek het besluit om my WhatsApp-profielfoto te verander na dié nuwe een ...
Sekondes later was daar ’n oproep van my sus. Sy het die nommer vinnig doodgedruk.
“Jammer, ’n vingerfout. Jou nuwe profile pic is cool!”
Ek het besef dat sy waarskynlik van skok die belknoppie gedruk het.
Die res van die middag het ek geëksperimenteer met my nuwe plaatjie. Maar ek het gesukkel om te byt: Die valstandjie was bloot ’n foptand, ’n dummy-tand met geen gevoel in nie; sou ek ooit weer my tande in ’n sappige mielie kon slaan? Is sagte kossies nou my voorland, soos met ’n sieke of ’n bejaarde? En wie fop ek nou éintlik, behalwe myself? Ten minste het die tande-mechanic, soos die tandarts na hom verwys, ’n goeie job gedoen.
Maar die grootste aanpassing was my nuwe plastiekverhemelte. “Die gebitsprostese se dak is tandvleeskleurig, liggewig, buigsaam genoeg vir gemak en pas goed by die mondweefsel,” lees ek.
Aanvanklik het ek gesukkel om behoorlik te praat. My verhemelte was swaar en lomp in my mond en ek het gelispel. Toe begin ek oefen: Ek het my kake wyd oopgesper en agter uit my keelgat gepraat. Maar om Engels te besig met die versperring in my mond, was die grootste uitdaging. Ja, elke taal het sy eie tongval, en elke tongval vereis dat jy jou mond op ’n idiosinkratiese manier inspan. Maar iets was nie reg nie. Nou het ek Engels met ’n Duitse aksent gepraat ... die the (/ðə/) het ek geartikuleer as z ([z]). My s’e het in fluitklanke verander. Wel, ek kan seker niks daaraan doen nie, was my gelate gewaarwording: Dis nou ’n geval van adapt or die. En die tandarts het belowe ek sal aanpas.
Maar ek was nie so seker nie.
Daardie nag het ek ’n vreemde droom gehad, ’n nostalgiese herinnering aan die tandemuis. Dié mitiese karaktertjie het sy opwagting gemaak in ’n boek oor dierkunde. (My drome is altyd baie helder, met ’n vreemde sin vir logika.) Tussen al die taksonomieë en knaagdierspesies het die klein kalant gepryk: Dentalis capitalismus. Hy het ’n rooi baadjie soos ’n outydse usher aangehad met ’n swierige strikdassie en ’n moonbag met ’n dollarteken op. (In my droom het ek gewonder of die tandemuis EFT’s ook aanvaar, of bly dit streng kontant, en in ’n skoen? Want dís tog waarin die magic lê, om ’n skoen met ’n tand in uit te sit en die volgende oggend lê die munte blink en wag op jou. Nee, die tandemuis sou ’n kredietkaart moes swipe vir my groot voortand.)
Die volgende dag het ek, soos gewoonlik, vir my gaan kougom koop. Maar ek het onmiddellik besef iets is anders; verkeerd. Die kougom het opgebreek in lang drade en ek het oopmond begin kou, van links na regs, soos ’n kameel, en gevoel hoe my tande aan mekaar vasplak.
Wéér het ek my plaatjie uitgehaal en dit geborsel met tandepasta. Nope. Ek het skottelgoedseep probeer, maar helaas; die kougom het soos superglue aan my akrielplaat geklou. Ten einde raad het ek ’n tweezer gevat en die drade pynlik stadig en sorgvuldig uit my kiestande getrek. Dit het my ’n volle twee uur geneem om my gebit skoon te kry. In my gedagtes het ek die tandarts verwens dat hy my nie gewaarsku het teen kougom nie.
En die ander aanpassings – eerder: uitdagings?
Voor my gebitsprostese (die formele term, sug) kon ek soos ’n plaasklong fluit. Maar met die kunsverhemelte het daar so ’n dowwe, vals klank uit my mond ontsnap, kompleet soos ’n amateur wat vir die eerste keer op ’n panfluit blaas.
Ek het besluit om te google waarvoor ’n mens alles jou verhemelte gebruik, en die lys is lank: “Die palatum se funksies behels sluk, suig (soos met ’n strooitjie), soen, proe en spraak; die artikulasie van klanke soos ‘k’, ‘g’, ‘ng’, ‘t’, ‘d’.” En ek het gewonder of tongklap, soos met die sprekers van Xhosa, ook dowwer word met ’n plastiekverhemelte? En wat van die gutturale bry ([ʀ])? Sal inwoners van Malmesbury met ’n akrieldak in hul mond skielik sagter bry?
Wilma Stockenström se gedig “Die skedel lag al huil die gesig” het in my geestesoog verskyn. Om te dink: Sou iemand ooit eendag iewers my skedel ontdek, dan sal dit sonder ’n voortand en enkele kiestande wees.
Die skedel lag al huil die gesig, met erkenning aan die digter, Wilma Stockenström
Eendag sal ek, weet ek, die dood
met laggende skedel trotseer. Minstens
my sin vir humor sal ek behou. Maar
of ek soos oorlee mevrou Ples en soos
die bloubok van my geboorteland
ook ’n glaskas in ’n museum sal haal?
’n Seldsame dier is die mens nou nie juis.
[…]
Ek het skielik onthou dat ek moes teruggaan tandarts toe, want met dié dat my voortand getrek is, moet ek weer! ’n nuwe knersplaatjie vir die nagtelike bruksisme kry. Want nou was ek inderdaad op die ouderdom dat middeljariges begin om tandeplaatjies in verskillende formate te versamel.
Ek het verder gelees oor al die funksies wat die natuurlike verhemelte het, en was verbaas oor die proegedeelte: die lys was wéér inderdaad lank.
Die verhemelte bevat baie smaakknoppies wat help om komplekse smake te onderskei. My smaak sou nou veel “dowwer” wees, het ek treurig gedink, nadat ek sedert my aankoms in die Kaap soveel moeite gedoen het om my palet op te lei in die kulinêre kunste en wynproe. Ja, ek wou ook saampraat met die Stellenbossers en ’n fyn verhemelte hê ... maar ’n plastiekpalet is passief, wat dit minder sensitief vir smaak sou maak. Sjefs is lief daarvoor om te verwys na hoe hulle skilder met geure op die verhemeltes van hulle gaste. Dus: Die palet word ’n doek waarop die sjef sy emosionele en sensoriese ervaring skep. En as jy gewoond is aan die goeie lewe, dan kan jou palet moeg raak.
Almal weet dat die verhemelte die kok se grootste bondgenoot en strengste kritikus is en dat wyn veel meer as ’n drankie is; aldus sommeliers is dié bloed uit die aarde ’n lewende kunswerk, ’n gedig in vloeistofvorm. Ek wou ook, neus-in-die-lug, sug en snip: Dit pas nie by my verhemelte nie (terwyl ek my heimlik kwel oor die een uit 11 mense in die totale wêreldbevolking wat snags honger gaan slaap).
Dalk moet ek ’n ode aan my verhemelte skryf, het ek gepeins. Want nóú is my palet halfdood, of erg gestrem. Ek het met verlange gedink aan die Bordeaux-versnitte en ’n wynproesessie wat ek ’n ruk gelede bygewoon het.
’n Ryk, fluweelagtige tekstuur tref die voorkant en middel van die verhemelte. Die donker vrugte (swartbessie en rypswart pruim) is sappig en intens, maar nie soet nie. Dit voel asof die vrugtesmaak die tong en verhemelte omhels.
Die verhemelte vóél die tanniene; dit is ryp en gepoleerd soos fluweel wat oor growwe klip gly. Ek voel ’n vars, lewendige suurheid wat die verhemelte salf. O, en die lae wat ontvou is hemels: eikehout, vanilla, geroosterde speserye en sjokolade; ook ’n effense souterigheid, grafiet ... tabak en ’n sweempie leer. Die nasmaak is lank, talmend, en die verhemelte bly droog met die tanniene wat stadig saamtrek en jou nooi om nog ’n sluk te neem. Die algehele gevoel op die verhemelte is kragtig, dog elegant; gestruktureerd, maar nie swaar nie. Dit het ’n pragtige mineralekarakter – tipies van die Stellenbosch-terroir.
Die enigste manier hoe ek dit weer kan beleef, sal wees om ’n wynproe sonder my plaatjie by te woon. Ek sal swirl en swish en my neus diep in die glas druk. Swyg.
Die vrou wat daar sit met ’n mond vol tande.
Lees ook:

