Springmielies: Belowe jy sal vir niemand sê nie, maar ...

  • 1

Skinder word as ’n informele, interaktiewe gespreksvorm beskou, omdat dit spruit uit die diepliggende begeerte wat ons almal het, naamlik ’n belangstelling in ander mense se doen en late. Daar is ’n uitdrukking wat lui: “Great minds discuss ideas; average minds discuss events; small minds discuss people”, maar die hartseer waarheid is dat verreweg die meeste mense oor ander mense (wil) praat. Die filosowe onder ons is maar dun gesaai.

Onder die begrip skinder word verstaan dat twee of meer persone wat mekaar ken, op ’n agteraf wyse ’n spontane gesprek voer oor ’n derdeparty wat nie teenwoordig of binne hoorafstand is nie.

Die meeste skinderstories word gekenmerk deur ’n kwaadsprekery en deur vals of leuenagtige gerugte, alhoewel daar skinder is wat ook ’n positiewe basis het (maar dis in die minderheid). Want hoe sappiger, hoe beter. En as daar ’n pejoratiewe en morele oordeel oor die arme derdeparty betrokke is, soveel beter.

Interessant genoeg is die ewolusionêre basis van skinder soortgelyk aan dié van grooming by primate. Dus, as iemand jou weer nader met ’n mondjievol skinder, dink aan ’n bobbejaan wat jou pels wil kom uitpluis vir vlooie. Waar hierdie grooming egter ’n een-tot-een-basis het, bereik skinder ’n hele groep. Volgens die Britse evolusionêre sielkundige, Robin Dunbar, het skinder ontstaan as ’n menslike ekwivalent van sosiale grooming by primate.

.......
Interessant genoeg is die ewolusionêre basis van skinder soortgelyk aan dié van grooming by primate. Dus, as iemand jou weer nader met ’n mondjievol skinder, dink aan ’n bobbejaan wat jou pels wil kom uitpluis vir vlooie. Waar hierdie grooming egter ’n een-tot-een-basis het, bereik skinder ’n hele groep. Volgens die Britse evolusionêre sielkundige, Robin Dunbar, het skinder ontstaan as ’n menslike ekwivalent van sosiale grooming by primate.
........

Met die ontwikkeling van taal het skinder dus nou ewolusionêr die hele groep bereik, en vertroue, alliansies en groepskohesie binne die groep versterk. Skinder funksioneer dus as ’n goedkoop en doeltreffende meganisme om samewerking in groot groepe te handhaaf. Mense gebruik skinder om hul eie status of dié van hul vriende te verhoog en dié van mededingers te verlaag. Ewolusionêr gesproke kan negatiewe skinder oor ’n mededinger daardie persoon se toegang tot hulpbronne (kos, vriende, status) verminder. Positiewe skinder oor jouself of jou bondgenote kan jou help om meer hulpbronne te bekom. Met ander woorde, volgens hierdie perspektief is skinder as ’n subtiele vorm van sosiale kompetisie veiliger en meer effektief as fisiese aggressie binne ’n groep. Vooruitgang, gewis!

Die skinderbek se skinderstorie hang af van die entoesiasme waarmee die aanhoorder(s) daarna luister en die verteller aanmoedig om meer te vertel – en ’n mens kan so ’n skindergroepie se lyftaal op ’n afstand raaklees, as jy weet waarop om te let. Die half intieme, sameswerende liggaamstaal van die skinderbek en luisteraar, wydgesperde oë, intense oogkontak, opgetrekte wenkbroue, grinnik, die rol van die oë, ’n lae of fluisterende stemtoon ... party vroue wat skinder se gesigte trek so spits, soos dié van ’n worshond. Maar moenie sommer ’n bejaarde persoon as bondgenoot vir ’n skinderhappie betrek nie. Oumense kan nie fluister nie; wys jy vir hulle iemand en sê byvoorbeeld: “Kyk daai vrou”, dan skiet ’n wysvinger uit en ’n rasperstem vra kliphard: “Wie? Waar?” En die wysvinger swaai rond en druk per abuis amper in jou oog. Ja, ek sê dit met die grootste deernis: Skinder met omsigtigheid.

In die Afrikaanse en breër Suid-Afrikaanse samelewing het skinder ’n ingeburgerde, byna institusionele karakter gekry. Dit is nie net ’n tydverdryf nie, maar ’n sosiale meganisme wat gemeenskappe bymekaarhou, grense afbaken en reputasies maak of breek.

In kleiner, digter gemeenskappe – die plattelandse dorp, kerk, skool, of familiekring – funksioneer skinder lank reeds as die vinnigste en goedkoopste vorm van inligtingsoordrag. Voor die internet en selfs voor die radio het mense geweet wat in die buurdorp gebeur deur mondelinge netwerke. Die vraag: “Het jy gehoor?” was nie net nuuskierigheid nie, maar ’n manier om te bepaal wie betroubaar is, wie die reëls oortree en wie buite die groep val. In ’n Calvinistiese kultuur waar openbare fatsoen, hardwerkendheid en morele korrektheid hoog aangeslaan is, het skinder dikwels as die informele morele polisie gefunksioneer. Wat die mense sê, het soms swaarder geweeg as wet.

Hierdie sosiale patrone is nie uniek aan Afrikaners nie. In talle Suid-Afrikaanse gemeenskappe speel skinder dieselfde rol: Dit bou samehorigheid, maar kan ook individue vernietig. In Afrikaanse kringe het dit histories ’n meer formele, byna rituele karakter gehad – die koffiekuier in die koöperasie, die na-kerkse teegesprek op ’n Sondagoggend ... Vandag het dit net van platform verander. WhatsApp-groepe, Facebook-kommentare en die voorblad van Huisgenoot of Son doen dieselfde werk, net vinniger en met ’n groter gehoor.

Die media het hierdie kultuur bloot versterk en kommersieel gemaak. Die geelpers floreer juis op skinder, omdat dit ’n diep gewortelde behoefte bevredig, naamlik om te weet wat ágter die gordyn gebeur, om te oordeel en om te voel jy is “in”. ’n Skandaal oor ’n predikant, ’n politikus, Afrikaanse popsanger of bekende rugbyspeler word nie net nuus nie, dit word nou gemeenskaplike eiendom en word herhaal, verdraai, vergroot en dan, wanneer die volgende sappige storie kom, verdwyn dit. Die vlugtigheid van die geelpers is dus nie toevallig nie – dit pas perfek by die vinnige en polsende ritme van ’n skinderstorie self.

.......
Die media het hierdie kultuur bloot versterk en kommersieel gemaak. Die geelpers floreer juis op skinder, omdat dit ’n diep gewortelde behoefte bevredig, naamlik om te weet wat ágter die gordyn gebeur, om te oordeel en om te voel jy is “in”. ’n Skandaal oor ’n predikant, ’n politikus, Afrikaanse popsanger of bekende rugbyspeler word nie net nuus nie, dit word nou gemeenskaplike eiendom en word herhaal, verdraai, vergroot en dan, wanneer die volgende sappige storie kom, verdwyn dit. Die vlugtigheid van die geelpers is dus nie toevallig nie – dit pas perfek by die vinnige en polsende ritme van ’n skinderstorie self.
........

Dis interessant hoe skinder in talle Afrikaanse televisieproduksies as sentrale tema aangebied word. Baie van ons onthou waarskynlik nog die ou Afrikaanse TV-komedie, Nommer asseblief (1979–1980). Tant Lissie (gespeel deur Hannah Botha) was legendaries as Overberg se dorpskinderbek: Sy het by die telefoonsentrale gesit en luister na mense se gesprekke – wat vir heelwat chaos en komiese situasies gesorg het. In die ou dae was die telefoonsentrale die perfekte skindermasjien – juis omdat die operateur in daardie dae fisies kon inluister op enige gesprek wat deur die sentrale gegaan het. Dit was ’n baie herkenbare stukkie van die ou Afrikaanse dorpslewe. En dan Koöperasiestories, met Tant Mietie, Veldsman en Genis, wat so sielsalig elke dag op die koöperasie se stoep gesit en skinder het! Ek onthou as kind het ons altyd vakansie gaan hou by my ouma op ’n dorpie in die Groot-Karoo. En dalk net ’n regstelling tot die definisie van skinder: Dit is nie heeltemal waar dat die beskinderde derdeparty altyd buite hoorafstand is nie – soms hoor mens álles wat die skinderbekke van jou sê. Ek onthou as kind het ek laatmiddag deur die dorp se strate geloop en ek kon die inwoners wat verveeld op hul stoepe gesit het, se oë letterlik op my rug voel brand. Stilte. (Jy weet jy word getakseer.) Dan skaars ’n paar treë verder hoor jy hard en duidelik die bespreking – bespiegeling? – oor jou, agter jou rug. Ek skat diesulkes skinder nou op Facebook.

Digitale skinder? Ja, niks wat jy op enige toestel tik, stuur of share is ooit privaat nie. Tegnologie het skinder nie net makliker gemaak nie; dit het dit heeltemal in ’n nuwe sportsoort verander. Waar jy vroeër moes wag tot jy iemand in ’n gang of in die werk se kombuis teëkom, kan jy nou binne sekondes ’n skinderstorie na duisende (of meer) mense stuur. Dít is hoe moderne tegnologie skinder “aanhelp”:

Een van die kragtigste wapens in die digitale skinderarsenaal is die forward-funksie. Jy kry ’n WhatsApp-boodskap, foto, e-pos of ’n skermgreep van iemand se privaat gesprek ... en met een klik stuur jy dit aan ’n vriend, groep of 10 groepe. Die oorspronklike konteks verdwyn dikwels, maar die skade bly.

As kind het ek altyd in die grootmense se geselskap gesit en tande tel en my ma se skinderstories groot-oor beluister. En as sy dieselfde storie vir die tweede of derde maal vertel het, het ek haar onderbreek en gekorrigeer en gesê nee, dit het nie so verloop nie, maar só-en-só. Natuurlik was sy woedend vir die klein snip (al was ek, tegnies gesproke, reg).

Wat ’n mens bring by copy-and-paste-skinder: Dit is net so maklik. Vroeër moes jy die storie self onthou en hervertel. Nou kopieer jy net die teks, plak dit in ’n nuwe boodskap en stuur.

Die stories bly woord vir woord dieselfde, selfs al beweeg hulle van een groep na ’n ander. Die storie verander nie meer deur mondelinge oordrag nie, maar word ’n vaste, herbruikbare skinderteks.

En skermgrepe as bewyse? Selfs as die konteks ontbreek of die boodskap uit verband geruk is, word die skermgrepe as “feite” of “bewyse” (van byvoorbeeld ’n WhatsApp-gesprek, Instagram-storie of e-pos) gesien. Dit maak skinder sterker en moeiliker om te weerlê.

Maar die grootste nagmerrie is die groep-chats as skinderfabrieke: In ’n groep van 20 of 50 mense kan een boodskap binne minute deur almal gesien word. Die storie hoef nie eers “vertel” te word nie – dit word net geplaas en almal reageer met 😮😂🔥. Die groep self word die kollektiewe skinderbek.

Méér as dit: Die sosiale media argiveer skinderstories vir ewig. Iemand se Instagram-storie word gestoor en later gedeel, en ’n ou Facebook-pos of Twitter-twiet word uitgegrawe en weer rondgestuur.

Wat vroeër ’n fluistering in die oor was, kan nou vir altyd op iemand se foon of in ’n wolk bly. En anders as tradisionele skinder, verdwyn digitale skinder selde heeltemal – dit kan jare later weer opduik. Die nare waarheid, of ware naarheid, is dat tegnologie skinder van ’n mondelinge kuns in ’n digitale produksielyn verander het. In die tradisionele mondelinge rolle van die sender en ontvanger van ’n skinderstorie het digitale skinder nou ook nuwe rolle geskep – die passiewe derdeparty, die voyeur wat verby scroll, is ook deel van die gesprek, en ’n “Someone tagged you”-kennisgewing is die moderne ekwivalent van: “Het jy gehoor?” Want met digitale skinder beweeg die storie nou vinniger as die waarheid. FOMO is die nuwe skinderkoors. Maar nou ja, as daardie skindervinger jeuk ...

Ja, daar is darem skadelose uitlaatkleppe vir daardie skindervinger ook. Of dit nou die Britse koningshuis of die eindelose sirkus van Amerikaanse politiek is – geelpersblaaie, skinder- en glansnuusrubrieke bly een van die mees winsgewende en volgehoue verskynsels in die media. Skinderblaaie bied vermaak, ’n emosionele uitlaatklep en medium tot sosiale samehorigheid, alles in een. Aan die hart van geelpersjoernalistiek lê skindernuus – met sy groot, skreeuende opskrifte. Geelpersnuus is vlugtig; dit leef in die oomblik en is vergete en verdwyn so vinnig soos ’n poep in ’n panfabriek die oomblik wat die vólgende geelpersstorie breek.

Vandag verwys dit na tabloids – koerante en webwerwe wat op skandes, persoonlike dramas, verhoudings, skoonheid en rykdom fokus. Dit is die “wie het met wie geslaap, wie het hoeveel gewig aangesit en wie het wie verraai”-tipe nuus. Laasgenoemde werk met ’n mengsel van feite, anonieme bronne, spekulasie of soms suiwer gerugte. Die grens tussen feite en fiksie is dikwels vaag – en dít is juis die punt.

Die Britse koningshuis, byvoorbeeld, bly ’n ewige goudmyn: Dit bied ’n moderne sprokie met regte bloed, paleise en drama. Lesers kan tegelykertyd die karakters bewonder, jaloers wees op hulle en hulle veroordeel.

Amerikaanse politiek het intussen self ’n vorm van realiteit-TV geword. Van Trump se twiets tot Hollywood-sterre wat politieke standpunte inneem – die grens tussen politiek en skinder het byna heeltemal verdwyn. Dit is nie meer net politieke beleid nie; dit is die skandale, wraak en spektakel van glansryke en magtige personas.

Hierdie stories werk, omdat hulle emosies manipuleer: afguns, schadenfreude, nuuskierigheid, identifikasie en selfs morele superioriteit. “Kyk hoe ryk en mooi hulle is ... maar kyk net hoe ongelukkig is hulle eintlik.”

Geelpersskinder is egter meer as blote leë vermaak; dit vervul insgelyks dieper menslike behoeftes.

Deur saam oor bekendes te praat, skep mense ’n gevoel van samehorigheid.

Deur na die “perfekte” lewens van die rykes en beroemdes te kyk – en dan hul mislukkings te sien – voel gewone mense beter oor hulself. Dit is ’n vorm van emosionele gelykmaking, vergelykbaar met Mikhail Bakhtin se teorie van die karnavaleske, waarin amptelike hiërargieë tydelik omgekeer of opgeskort word en plek maak vir die vrye, familiêre lag wat die ernstige, offisiële diskoers ondermyn en gesag belaglik maak. Só funksioneer geelpersskinder as ’n alledaagse, volkse vorm van die karnavaleske. En hierdie skindernuus, as ’n sepie-agtige uitweg, bied ontvlugting in ’n wêreld vol ontstellende nuus (soos oorloë en ekonomiese probleme). Dit is emosioneel intens, maar sonder werklike gevolge vir die leser.

Deur die private lewens van magtige mense te “ken”, voel lesers asof hulle ’n mate van insig en selfs mag het. Deur die illusie van kontrole lyk die koningshuis of Hollywood skielik minder verhewe.

Die gevaar is natuurlik dat hierdie mentaliteit die grens tussen nuus en vermaak laat vervaag. Ernstige politieke kwessies word gereduseer tot persoonlikheidsbotsings, en menslike tragedies word soap operas. Tog bly die aanvraag: As mense dit nie wou gehad het nie, sou geelpersblaaie en tabloids nie so goed verkoop het nie.

Dit sê dalk meer oor ons as oor die mense oor wie geskryf word. Want let maar mooi: ’n Skinderstorie – vir die vertellers en aanhoorders daarvan – werk soos ’n Rorschach-toets. Dus, as iemand jou ’n volgende keer nader vir ’n mondjievol skinder ...

Lees ook:

Springmielies: Toemaar, die held is nie dood nie

  • 1

Kommentaar

  • Die rubriek eindig nietemin op 'n positiewe, filosofiese noot: oor die mens. En aan die einde van die dag is dit van belang. Rorschach se toetsies kan maklik 'n lokval wees, misleidend, soos hierdie video pertinent uitwys.

    Afdrukke word bv. doelbewus omgedraai om verwarring by die ondervraagde te skep.

    https://youtu.be/Qv9hdW3Df1c?si=XfHuvSl5BFJKbT87

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top