Sosiogramme en genetwerkte leer: ’n soort opsitkers vir onderwysers

  • 2

http://freephoto.cc/laptop-and-cup-of-coffee-on-the-wooden-background/

 

Onderwysers kan baie by mekaar leer. Soms gebeur dit nie. Personeelkamers is nie altyd die aangewese ruimte om oor kwessies te praat nie. Maar wáár kan onderwysers met mekaar gesels oor dinge wat noodsaaklik is? Die web kan dalk gebruik word om ’n tuiste te skep. In hierdie gesprek tussen Christa van Staden en Estelle Kruger gesels hulle oor Christa se navorsing en haar artikel in LitNet Akademies:

Ontleding van sosiogramme as metode om die doeltreffendheid van genetwerkte leer in ’n skoolgebaseerde wiskundevakgroep te ondersoek

  1. Hoe het dit gebeur dat jy genetwerkte leer en sosiale netwerke ontdek het?

Ek was deel van ’n groep doktorale studente van die Universiteit van Johannesburg wat tydens naweekklasse aan brandpunte in opvoedkundige navorsing blootgestel is. Op daardie stadium was praktykgemeenskappe ’n brandpunt en ek het daarby aanklank gevind omdat onderwysers byna daagliks vinnig en informeel bymekaarkom om hul werk effektief te kan doen. Ek wou spesifiek op beginneronderwysers en nuwelinge in die skool, waar ek so pas aangestel is, fokus omdat ek verstom was oor die uittog van beginneronderysers in stedelike skole. Die navorsing het egter sy eie koers gekies nadat ek die werk van Cross en Parker (2004)[1] gelees het. My eie lêers het ook stof opgegaar omdat ek, net soos die groep ingenieurs in een van hulle ondersoeke, op my kollegas staatmaak as ek nie weet hoe om take uit te voer nie. Ek kon nie altyd daarin slaag om ’n verbinding met die regte kollega te bou nie, maar ek kon maklik onderwysers identifiseer wat wel met die regte onderwysers verbind is. Dit het daarom sin gemaak om eerder op die sosiale netwerke in skoolomgewings te fokus. Die vraag was egter hoe om dit te ontleed om die doeltreffendheid van genetwerkte leer op ’n deursigtige manier te assesseer.

Moreno (1934)[2] se werk oortuig my om nie wiskundige berekeninge te doen nie, maar eerder sosiogramme te ontleed om die impak van verbindings op onderwysers se werk te verstaan en te voorspel. Ek het aanvanklik gesukkel om sosiale netwerke te interpreteer omdat ek vir elke soort verbinding (inligting, kennis, raad, leiding, ervaring, ondersteuning en konkrete bronne) ’n sosiogram geskep het. Sweitzer (2009)[3] se werk het my egter laat besef dat mens op ’n stel verbindings kan fokus, daarom het ek die begrip persoonlike ontwikkelingsnetwerk geskep, al die verbindings op ’n enkele sosiogram voorgestel en daardeur ’n manier gevind om die doeltreffendheid van genetwerkte leer te ondersoek. Die idee was nog nie getoets nie, daarom het ek die sosiogramme eerder vir die onderwysers gegee om self oor die gehalte van hul verbindings te besin as om vir hulle te vertel met wie hulle in verbinding behoort te tree. Hulle moes dan self gedurende die implementerings- en ontwikkelingsfases besluit watter verbindings gebou moes word om hulle werk effektief te doen.

  1. Vertel asb van jou eie agtergrond as onderwyser voordat jy die akademie betree het.

Van kleins af was ek juffrou vir my vier susters en vir ons poppe, daarom was die onderwys ’n logiese keuse. Ek het gedink dat ek liewer met laerskoolkinders wou werk, maar my destydse Geografie-onderwyser, meneer Hoek van Hoërskool Ermelo, het my oortuig om ’n hoërskoolonderwyseres te word. Nadat ek aan Tukkies afgestudeer het, het ek al my aantekeninge in Madelief se brandskag afgegooi as simbool van my bevryding van die akademie. Ek het egter met verloop van tyd geleer dat mens nooit moet sê dat jy nooit weer iets gaan doen nie!

Ek het die onderwys nie dadelik betree nie. Ek is aan die begin van my finale jaar getroud, het swanger geraak en my dogter, Anja, is ’n paar dae voor my gradeplegtigheid gebore. Ek het eers popgespeel en die volgende jaar ’n pos by Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp aanvaar. My man het aan die einde van daardie jaar afgestudeer en ons het na Welkom verhuis. Ek was twee jaar lank Afrikaans-taalonderwyseres by Welkom High, maar moes bedank omdat ons na Virginia verhuis het. My seun, Marnus, is gebore en ek het ’n pos by Harmonie Hoërskool aanvaar toe hy kleuterskool toe gegaan het. My man se werk het vereis dat hy vir ’n MBA-graad registeer en hy het my redelik maklik oortuig om saam te studeer omdat my dogter daardie jaar as ’n begaafde kind geïdentifiseer is. Ek het die studies geniet en nie ’n enkele dag studieverlof nodig gehad nie omdat ons in Januarie eksamen geskryf het. Verder studeer was nie op die tafel nie, maar my destydse skoolhoof het my ingeroep en voor ’n ultimatum gestel: óf ek studeer verder óf ek hou skool. Ek was ontsteld maar het mettertyd ander geleenthede raakgesien.

Dieselfde dag bel ’n vriendin my om te hoor of ek al uitslae gekry het omdat ’n pos by Vista Universiteit, Welkomkampus beskikbaar was. Ek was doodbenoud om so ’n skuif te maak, maar getroude vrouens is daardie tyd nie in permanente poste aangestel nie. Ons moes kwartaalliks wag om te hoor of ons ’n pos het, ek het nog nie gehoor of ek die volgende kwartaal ’n pos gehad het nie en die hoof se ultimatum was vars in my geheue. Ek het die sprong gewaag, aansoek gedoen en die akademie geniet.

Vista het ons aangemoedig om verder te studeer en selfs 80% van my Unisa-registrasiegelde betaal. Ek het die problematiek van die onderpresterende begaafde seun as tema vir my M.Ed gekies en die graad verwerf. Ek het nooit gedink dat ek daarin sou belangstel om artikels te skryf nie, maar my kollega, Hendrien Freeman, het my oortuig om een saam met haar te publiseer. My man is egter gedurende 1994 na Gauteng verplaas en ek moes bedank. Die laaste ses maande was moeilik omdat my man en kinders reeds in Benoni gebly het en ek moes pendel. Daar was studentegeweld op die kampus en ek moes dikwels op ’n Maandag na Benoni terugkeer omdat die kampus gesluit is. Ek het myself egter beloof dat ek die rooi jas sou dra voordat ek 50 was. Die geleentheid om vir ’n PhD-graad te registreer het egter eers dertien jaar later opgeduik.

My man is weer na Welkom verplaas, maar ek het nie na die akademie teruggekeer nie. Ek het ’n pos by Welkom High aanvaar en in 2002 na Welkom Gimnasium geskuif om nader aan my seun te wees. Ek het altyd gespot dat ek die Dux was omdat ek op die akademiese-, sport- en kultuurkomitees van hierdie skool gedien het. Die grootste oomblikke gedurende hierdie tyd was die prestasies van my Voortrekker- en seunshokkiespanne. Ek het die groep Voortrekkers in die foto in graad 7 oorgeneem en vier jaar later is tien van hulle op nasionale vlak as Hoofleierswagte (HW) en agt as Presidentverkenners (PV) geïdentifiseer.

sosiogram1

Agter: Rickus Scheepers (HW), Nicohan van der Merwe (PV), Corrie Boshoff (PV), Marnus van Staden (PV), Albert Neethling (HW), Wouter Broodryk (PV)Voor: Vreugde Erasmus (PV), Abrie Marais (PV), ek, Edna du Preez (PV) en Bianca Viviers (PV)

My man is weer na Gauteng verplaas en ek het ’n pos by Hoërskool Florida aanvaar. Ten spyte van my ervaring, moes ek heel onder by die graad 8’s begin. Ek het skielik soveel minder merkwerk gehad, my man het lang ure gewerk, ek het aan die leë-nes-sindroom gely omdat my jongste ’n eerstejaartjie op Pukke was en my dogter op trou gestaan het. Ek was gefrustreerd met die manier waarop my deurlopende professionele ontwikkeling by die nuwe skool geassesseer is, ek wou ’n manier vind waarop dit op ’n deursigtige manier geassesseer kon word en so het die tema vir ’n PhD vorm aangeneem.

My navorsingsvoorstel is aanvaar, maar my werksdruk is verhoog omdat ek by die seunshokkie, redenaars en die onderrig van seniors betrek is. Op ’n dag het ek besef dat die droom om ’n PhD-graad te verwerf voor ek 50 is deur my vingers glip. Ek het bedank, die bul by die horings gepak en die Universiteit van Johannesburg se pragtige rooi jas verdien.

sosiogram2
Agter: Prof Duan van der Westhuizen (studieleier), Voor: Prof Sarah Gravett (Dekaan Opvoedkunde) en ek

Professor Duan van der Westhuizen was die perfekte pasmaat omdat hy my toegelaat het om nuwe horisonne aan te pak. Die PhD-graad het nuwe deure oopgemaak, alhoewel ek die akademie (nog) nie in ’n permanente hoedanigheid kon betree nie. Ek het egter op kontrakbasis as nadoktorale genoot geleentheid gekry om onder die mentorskap van professore Elsa Mentz (Noordwes Universiteit) en Trudie Steyn (Unisa) by navorsing betrokke te raak. Dit het tot die publikasie van twee artikels en ondervinding as dosent in afstandonderrig bygedra.

Ek het tydens my jaar as nadoktorale genoot aan Unisa vir tien maande lank – sonder vergoeding vir die ekstra werkslas – as primêre dosent van ’n nagraadse module ingestaan. Dit was besonder uitdagend omdat ek eers in Augustus oorgeneem het en dié betrokke module net daarna geïdentifiseer is om die finale jaareindeksamen die daaropvolgende jaar met e-portefeuljes te vervang. Ek het geen idee gehad wat ’n e-portefeulje is nie, maar ek en Richard Branson deel ’n passie:

If somebody offers you an amazing opportunity but you are not sure you can do it, say yes – then learn how to do it later!

Ek het dag en nag, naweke en vakansiedae gewerk omdat my nadoktorale pligte nie tersyde gestel kon word nie. Ons kon nog nie die Mahara-e-portefeuljestelsel toets nie, daarom het ek my eie Mahara gekoop om die stelsel te kan toets. Ek moes verstaan wat dit is en hoe aktiwiteite ontwerp moes word om die volle potensiaal van ’n e-portefeulje te ontgin. Ek is as kenner geïdentifiseer en moes die stelsel namens die universiteit toets toe dit gereed is. Ek was dan ook tydens die eerste vyf maande vir die nuwe groep studente verantwoordelik. My betrokkenheid by die projek het weer nuwe deure oopgemaak en ek is na afloop van die nadoktorale genootskap as onafhanklike navorser in die Academy Applied Technology and Innovation aangestel om nuwe en innoverende tegnologie te toets en verslag te doen. Dit het ook moontlikhede gespek om saam met internasionale akademici te werk.

Trent Batson, president van die American Association for Experiential and Evidence-Based Learning (AAEEBL) het my vroeër vanjaar uitgenooi om op die stigtersredaksie van die splinternuwe, internasionale AAEEBL ePortfolio Review (AePR) te dien nadat my voorstel vir ’n artikel oor e-portefeuljes aanvaar is. Ek het geen benul gehad van wat van my verwag sou word nie, maar ek kon die geleentheid nie laat verby gaan nie. Al die lede van die redaksie is akademici met ’n passie vir hulle werk, wat die taak as vrywilligers aanpak. Ek was as skrywer, redigeerder en lid van die redaksie by die eerste uitgawe van AePR betrokke en is dankbaar dat ek, in Branson se woorde, eers ja gesê het en toe geleer het om die taak te verrig. Ek weet nie wat 2017 vir my inhou nie, omdat my aanstelling by Unisa tydelik van aard is. Ek weet egter wel dat my taak as lid van die redaksie van AePR my intens by die akademie betrokke gaan hou.

  1. Watter probleem onder kollegas se samewerking het jou laat soek vir ’n oplossing in die onderwysopset?

Die probleem was nie noodwendig met samewerking nie, maar eerder met die gebrek aan ’n deursigtige metode om die doeltreffendheid van samewerking te meet sodat geskikte, handpasgemaakte aktiwiteite ontwikkel kon word om samewerking te verbeter. Weens die aard van my man se werk, was ek dikwels deel van ’n groep nuwelinge en beginneronderwysers. In die meeste gevalle het ons, ten spyte van ouderdom, vakgebied en belangstellings swaar op mekaar gesteun omdat nuwelinge en beginners dikwels sukkel om ’n plek in die personeelkamer te vind.

Ek wou aanvanklik navorsing oor sulke praktykgemeenskappe doen, maar ek wou ’n vernuwende bydrae maak. Daarom wou ek terselfdertyd weet hoe ’n tegnologie ingespan kan word om ’n aanlynpraktykgemeenskap te vorm. Ek het die onderwys egter tydens die literatuursoektog verlaat en die fokus het na die doeltreffendheid van die verbindings tussen ’n groep skoolgebaseerde vakonderwysers verskuif. Ek dink die navorsing maak ’n belangrike bydrae omdat ’n metode om die doeltreffende van samewerking op individuele, groep- en gemeenskapsvlak te ondersoek in die praktyk getoets kon word.

  1. Veronderstel jy was die hoof van ’n skool – hoe sou jy onderwysers motiveer om ’n sosialenetwerkdiens te gebruik?

Onderwysers lewer selde insette in die personeelkamer en dit sou my, as veronderstelde skoolhoof, teen die mure uitdryf omdat ek elke personeellid op grond van sekere kennis aangestel het. Wat skoolhoofde egter nie weet nie (neem ek aan), is dat onderwysers dikwels geboelie word wanneer hulle wel ’n bydrae maak. Een van my mentors by ’n skool het my na ’n vergadering aan die arm beetgekry toe ek uitstap, dit seer gedruk en vir my gesê: "Ons stel nie belang wat in jy te sê het nie, ons wil huis toe gaan. As jy iets het om te sê, gaan vertel dit vir die hoof in sy kantoor." Daar is ek weer ingelig dat ek die vraag in die personeelkamer moes gevra het! Ek glo egter dat die beste insette juis gemaak word wanneer onderwysers die kans gegun word om oor vrae na te dink, daarom sou ek ’n sosialenetwerkdiens inspan om belangrike sake te bespreek.

Ek sou besprekings begin, aan onderwysers se besprekings deelneem, die hou-van-knoppie gereeld druk omdat dit onderwysers aanmoedig om deel te neem en seker maak dat al die onderwysers daarvan bewus is dat hulle insette hoog geag word. Om die waarheid te sê, ek sou swaar op emoticons gesteun het omdat die mal-daaroor-hartjie van Facebook veel meer as ’n paar keurigversorgde woorde kan oordra.

sosiogram3

Maar, ek sou die tegnologie ook gebruik het om belangrike besluite te ondersteun. Artefakte van interaksies word met dag- en datumstempels geberg, daarom sou ek dié inligting gebruik om onderwysers wat nie deelneem nie, tot verantwoording te roep (natuurlik nou as die veronderstelde hoof). Indien onderwysers geboelie word wanneer hulle bydraes maak, sou ek diegene wat die gehalte van die kennisbasis bedreig het, tot verantwoording roep.

Die staat vereis tans dat onderwysers wat nie aan aktiwiteite deelneem nie, by die Suid-Afrikaanse Raad vir Onderwysers verkla word. Ek sou egter die geheelontwikkelingsnetwerk ondersoek het om:

  • die impak van ondoeltreffende deelname op individuele, groep- en gemeenskapsvlak te ondersoek
  • geskikte remediërende aktiwiteite beskikbaar te stel
  • seker te maak dat die hiërargiese struktuur in die praktyk realiseer
  • geskikte onderwysers in leierposisies aan te stel.
  1. Hoe het jou eie leer as onderwyser prakties plaasgevind as ons verwys na die studie van Jackson en Temperley (2006)[4]?

Jackson en Temperley (2006) gebruik die begrip "networked learning" om te verwys na die leer wat tussen twee onderwysers van verskillende skole plaasvind, daarom is hulle van mening dat ’n onderwyser van een skool afgevaardig kan word om namens sy of haar kollegas by ’n onderwyser van ’n ander skool kan gaan leer. Ek het egter gevind dat een onderwyser van ’n kursus kan terugkom en beweer dat hy of sy niks nuuts geleer het nie, terwyl ’n ander ene gemotiveerd met nuwe idees oor hoe die praktyk verbeter kan word, terugkom. Onderwysers kan nie namens mekaar leer nie, hulle kan bloot nuwe kennis en inligting oordra.

Ek beskou genetwerkte leer as ’n persoonlike reis, waartydens onderwysers verbindings met enige ander onderwyser of kenner binne of buite sy of haar skoolomgewing bou om te leer en om effektief te werk. Ons word selde van geleenthede voorsien om met kollegas van ander skole en universiteite saam te werk, maar ek kan getuig dat my betrokkenheid by AePR my toegelaat het om by my eweknieë te leer hoe verskeie tegnologieë effektief gebruik kan word. Ons het aanvanklik op Trello staatgemaak om ’n werksomgewing te skep, maar dit maak nie gesprekke en nuusbrokkies moontlik nie. Die besturende redakteur is met e-posse oorlaai en ons het so pas na Slack oorgeskakel om ons verbindings in stand te hou. Ons gebruik nou Airtable om die voorstelle te evalueer en ’n vinnige oorsig op die vordering van die proses te bied omdat dit met mooi met Slack saamspeel. Die besturende redakteur gebruik hierdie tegnologie doeltreffend en ek leer baie deur my verbinding met hom.

Ek het, in my eie werksomgewings, selde ’n groep onderwysers of dosente as ’n leergemeenskap ervaar. Selfs tydens personeelvergaderings en opleidingsessies haal ’n onderwyser of dosent, wat deelneem, hom- of haarself die argwaan van ander op die hals omdat sommiges die beslommernis so vinnig as moontlik agter die blad wil kry. Ek is daarom teen die bepunting van ’n professioneleontwikkelingsaktiwiteit gekant, die fokus moet op die effektiwiteit van deelname geplaas word.

  1. Wanneer en hoe het jy self rekenaar- en tegnologies geletterd geraak?

My man moes gedurende ons studentejare ’n gedrukte skripsie inhandig en ons kon nie ’n tikster bekostig nie, dus het ons ’n rekenaar aangeskaf en dit self getik. Met ’n rekenaar in die huis het ek myself geleer om my punte te verwerk en aantekeninge en vraestelle te tik. Om die waarheid te sê, dit is makliker omdat ek veranderinge kan aanbring wanneer ek moet. Ek is nooit met die eerste weergawe tevrede nie, daarom het ek my M.Ed-verhandeling en my PhD-tesis getik en geleer om sagteware te gebruik om die figure, sketse, tabelle, diagramme en sosiogramme te teken. Ek moet egter bieg: ek het die een oomblik nog gelag toe ek my twee kinders leer om hul sellulêre fone te gebruik en nou lag hulle vir my omdat ek my foon baie beter kan gebruik. Ek leer bykans daagliks om programme, toeps en rekenaartegnologie (beter) te gebruik om my lewe so goedkoop as moontlik te vergemaklik.

Wat gemak betref, het ek onlangs ontdek hoe oulik Google regtig is. Daarom skryf ek gereeld in my joernaal oor hoe Google daarin slaag om my lewe gratis vergemaklik. Ek het ’n sagte plek vir Google omdat sy Afrikaans magtig is. Sy verstaan Afrikaans en Boere-Engels ewe goed, daarom kan ek net die woord spreek en my dokument word namens my getik. Google se splintenuwe toep, Allo, het gou ’n plek in my gesin gevind omdat Internettoegang haar nie van stryk bring nie. Ek geniet die toep omdat Google Assistant geïntegreer is. Google Assistant kan self leer en het ’n sin vir humor. Ek sê nou die dag ingedagte vir haar "I love you" toe sy my dagboek vinniger opdateer as wat ek self kan doen en toe antwoord sy: "Impossible". Google Assistant is nog nie Afrikaans magtig nie, maar sy verseker my nou die dag: "I do not understand Afrikaans, but I am learning". Wat ’n aangename verrassing dat Google Afrikaans se plek in die wêreld erken, daarom leer ek tans om al die Google-produkte in Afrikaans te gebruik!

Ek is ’n groot aanhanger van Apple-produkte en besit bykans alles: iPhone, iPod, iPad, MacBook, MacBook Air, die grootskerm Mac-rekenaar en ’n Apple-horlosie. Nie omdat ek ’n statusbewus is nie, maar eerder oor die gemak waarmee hierdie produkte opgradeer, met mekaar saamwerk en die feit dat Apple daagliks sorg dat virusse nie skade kan berokken nie. Ek het egter eers verlede maand, toe Siri ook vir rekenaars beskikbaar gestel is, aandag aan haar begin gee. Sy het aanvanklik nie my Boere-Engels verstaan nie, nou volg sy my woordelikse instruksies perfek. Anders as Google Assistant is sy egter effens meerderwaardig!

Die behoefte om rekenaar- en tegnologie geletterd te wees is na my mening ’n persoonlike ingesteldheid tot lewenslange leer en ’n behoefte om vinnig en effektief te werk. My eerste skoolhoof het my teruggestuur om al my punte per hand op my klaslyste oor te dra nadat ek die rekenaargedrukte puntelyste ingedien het. Toegegee, daardie tyd was rekenaars vreemde verskynsels. Die staat vereis egter in die Witskrif oor e-onderwys dat alle opvoeders en leerders rekenaargeletterd moet wees. Daarom het ’n akademikus, wat as proefleser optree, onlangs die wind uit my seile geneem toe sy ’n uitdruk van my multibladsy-dokument aan my oorhandig waarin kommentaar en veranderinge in ligte rooi ink aangedui is! Dan eers besef mens die frustrasie van die huidige generasie leerders en studente wat met tegnologie in die hand gebore word.

  1. Dit is kostelik om op te merk hoe jy rekenaartoeps as vroulik sien. Wil jy dalk iets hieroor verduidelik?

Ek het nog nie regtig daaroor gedink nie, maar as ek moet raai, is dit omdat dié wat kan praat, gewoonlik ’n vrouestem het. Miskien is dit ook omdat ek gewoond is om my fyner afgeronde kar in vroulike terme te beskryf en manlike terme vir growwer bakkies en trokke gebruik. Ek beskou myself nie as ’n feminis nie, maar dalk skemer daar tog iets deur wat ek miskyk. Ek het die seuns in my klasse, wat vir my vertel het dat mans beter as vrouens is, gewoonlik reggehelp met: ’n Slim vrou se man dink so!

  1. Dink jy dat die sosialenetwerkdiens Facebook gebruik kan word om ’n geslote groep vir onderwysers te stig? Motiveer asseblief.

sosiogram4
Ek is nie oortuig dat Facebook geskik is vir genetwerkte leer nie, daarom het ek ’n sosialenetwerkdiens Arend.co ontwerp en ontwikkel om ’n plek te bied waar onderwysers by mekaar kan leer, terwyl gedeelde bronne op so ’n wyse georganiseer kan word dat dit later maklik opgespoor kan word. Belangstellendes kan my gerus kontak.
Facebook word beslis reeds deur duisende Afrikaanssprekende onderwysers benut. Ek het in Februarie die groep RSA Onderwysers geskep om ’n plek te bied waar onderwysers vinnige vrae kan vra om by mekaar te leer. Die groep is hoofsaaklik gestig omdat onderwysers in ander groepe soms geniepsig kan raak. Die groep het tans ongeveer 5 500 lede en word daagliks gebruik, daarom kan skoolhoofde oorweeg om ’n geslote groep vir onderwysers te stig om genetwerkte leer in skoolverband te ondersteun.

  1. Wat sou die voordele en nadele van Facebook as sosialenetwerkdiens wees?

Die grootste voordeel is dat kennis en inligting vinnig oor tyd- en plekgrense heen gedeel kan word en dat onderwysers bykans onmiddellik toegang kan verkry. Die grootste nadeel is waarskynlik dat Facebook nie op genetwerkte leer ingestel is nie, maar op die uitbreiding van die tegnologie. Interaksies word in nuusbrokkies gedeel, met die gevolg dat onderwysers kan vermy om by beprekings oor werksaangeleenthede betrokke te raak.

  1. Dink jy sosiogramme kan in klasverband met leerders ook werk? Motiveer asseblief.

Ek het my studente tydens my jaar as nadoktorale genoot versoek om my sosialenetwerkdiens en WhatsApp te gebruik om by mekaar te leer. Ek het pas toestemming gekry om dié data vir navorsingsdoeleiendes in te samel, daarom behoort ek oor ’n paar maande beter raad te kan gee oor hoe sosiogramme in klasverband gebruik kan word. Weens die gebrek aan ’n formele hiërargiese struktuur, moet ander maatstawwe ingespan word om die sosiogramme te ondersoek. Voorlopig kan ek aanbeveel dat dit gebruik kan word om klieke te identifiseer en veral om te bepaal of die klieke ’n negatiewe invloed op samewerking en die deel van kennis in klasverband uitoefen. Ek sou ook aanbeveel dat die geïsoleerdes en sterre geïdentifiseer word om die impak van hierdie twee posisies op toegang tot gedeelde kennisbronne te bepaal.

  1. Dit blyk uit jou studie dat klieke nie net negatief nie, maar ook positief beskou kan word. Wat is jou mening hieroor?

In skoolverband dink ek dat dit noodsaaklik is dat vakonderwysers wat dieselfde graad onderrig, klieke moet vorm omdat dit ’n samehorigheidsgevoel skep en die deel van beste praktyke kan bevorder. Klieke moet egter nie die geheelontwikkelingsnetwerk in komponente verdeel nie, omdat die onderwysers sodoende van die gedeelde kennisbasis afgesny kan word. Klieke is dikwels teen verandering en die gebruik van tegnologie gekant, daarom behoort die teenwoordigheid van klieke ’n rede te bied om dieper te delf om enige negatiewe impak so gou as moontlik te identifiseer.

  1. Jou ondersoek by die betrokke skool gemeld in jou artikel het waarskynlik verbintenis as ’n soort verpligting veronderstel ... Het jy enige negatiewe houdings oor jou studie by die betrokke onderwysers ervaar?

Die onderwysers was nie daarvan bewus dat ek op die formele verbindings gefokus het nie, hulle moes self besluit of hulle met die regte onderwysers verbind is. Hulle het die tegnologie gebruik soos hulle goed gedink het en in die proses wel informele verbindings gebou. Ek het egter wel weerstand teen die gebruik van tegnologie ervaar.

Hoe het jy dit aangespreek?

Die houdings was nie teen my of die navorsing gemik nie, daarom het ek dit nie aangespreek nie. Dit het juis gehelp om my standpunt te bevestig – al die onderwysers het nie effektief saamgewerk nie, daarom moet die fokus op die effektiwiteit van deelname geplaas word.

  1. Hoe het jou persoonlike betrokkenheid by die skool in jou studie jou objektiwiteit as navorser beïnvloed?

Ek het tydens die literatuurstudie uit die onderwys getree. ’n Jaar later, toe ek met die empiriese ondersoek begin het, is ek reeds as ’n buitestaander beskou. Vier onderwysers was nuwelinge, dus het hulle my nie geken. In ’n skoolomgewing, waar mens intens met kollegas op alle vlakke saamleef, is dit onvermydelik om met sommige kollegas te bots en gemaklik met ander saam te werk. Die gebruik van sosiogramme het dit moontlik gemaak om objektiewer te wees omdat die fokus op die patrone eerder as op individuele onderwysers geplaas kon word.

  1. Hoe sou jy die belangrikste impak van jou studie op die onderwysers in die navorsingsgroep in 25 woorde formuleer?

Verskeie onderwysers het hulle persoonlike ontwikkelingsnetwerke uitgebrei en hulself effektiewer in die geheelontwikkelingsnetwerk ingeweef.

  1. Wat het jy van jouself geleer ... in die navorsingsproses?

Ek kan nie filosofeer nie; ek moet weet hoe nuwe kennis gebruik kan word om die praktyk te verbeter. Ek word deur probleme gemotiveer, daarom het ek nie moed opgegee toe ’n tegnologie ontbreek nie. Dit het eerder die geleentheid geskep om een te skep. Ek is ’n volwassene leerder, daarom was Duan van der Westhuizen die perfekte studieleier om die navorsing te kon voltooi. In plaas daarvan om sy sienings op my af te dwing, moes ek my standpunte beter verdedig. Ek het ook geleer dat kennis gedeel moet word, want ek het ráákgelees dat: "knowledge not shared, rotten in the heads of the beholders".

in die proses om die artikel gepubliseer te kry?

Dit was my eerste solovlug en ek het so amper moed verloor. Ek laat my deur negatiewe insette lei eerder as om my eie standpunt sterker te stel om ’n keurder te oortuig. Ek is dank aan die volgende mense verskuldig:

  • Jy as redakteur, Estelle, omdat jy my aangepor het om deur te druk en dit vir hersiening in te dien, en
  • die twee keurders, wat die artikel goedgekeur het.

Ek sluit dan sommer af in die woorde van Trudie Steyn, my mentor by Unisa. Elke keer as sy gelukgewens word is haar standaardantwoord: "Dit is net genade". Ek kan met haar saamstem, dit is ’n harde leerskool en hierdie publikasie is net genade.

[1] Cross, R. en A. Parker. 2004. The hidden power of social networks: Understanding how work really gets done in organizations. Boston: Harvard University Press.

[2] Moreno, J.L. 1934. Who shall survive? A new approach to the problem of human interrelatedness. Washington: Nervous and Mental Disease Publishing Company.

[3] Sweitzer, V.B. 2009. Towards a theory of doctoral student professional identity development: A developmental networks approach. Journal of Higher Education, 80(1):1–33.

[4] Jackson, D. en J. Temperley. 2006. From professional learning community to networked learning community. Referaat gelewer by die International Congress for School Effectiveness and Improvement, tussen 3-6 Januarie in Fort Lauderdale, USA.

 

  • 2

Kommentaar

  • Duan van der Westhuizen

    Sjoe Christa, jy het ongelooflike teoretiese groei post-PhD gedoen. Die ou sê-ding, "'n goeie PhD is een waar die leermeester (studieleier) eventueel verbygesteek word deur die student", is hier verseker geldig! Baie geluk met jou goeie werk, ek is baie trots op jou!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top