Soos oorlog, maar ek is bly ek woon in Howick

  • 0

Insurrection ... gewelddadige georganiseerde opstand teen die regering

Howick, langs die N3-slagaar van Durban na Gauteng, was een van die brandpunte. En ek is bly dat ek hierdie tyd in Howick was.

Die afgelope week was byna soos oorlog. Hoewel ek normaalweg nie die TV gedurende die dag aanskakel nie, was dit baie aan en het ek met ongeloof die beelde van plundering dopgehou. Boonop was die internet kort-kort nie beskikbaar nie. Dit het my bekommerd gehad. In Amberglen, een van die aftree-oorde net buite Howick waar ek woon, was dit stil, baie stil. En teen die einde van die week het ons dikwels die woord insurrection gehoor. Ek moes dit opsoek op Google. Dit help om te verstaan wat aangaan.

Maandagoggend het ons ’n dringende SMS van die Amberglen se bestuurder gekry. Heelwat van die mense wat in Howick werk, woon anderkant die N3. Verpleërs van verswakte bejaardes wat nie kon huis toe gaan nie, het eenvoudig aangebly en skofte van ver oor die 24 uur gewerk. In Amber Valley, een van ons ander aftree-oorde oorkant die Karkloofpad, het die Care Centre gevra vir matrasse en beddegoed vir die verpleërs, en binne ’n halfuur is ’n tydelike slaapsaal vir hulle ingerig.

Dinsdag het ’n melkboer met ’n tenkwa vol vars melk na die ingang van Amber Valley gekom en almal kon houers bring en volmaak, gratis.

Woensdag het ek dit gewaag om uit te ry om ’n vriendin in Howick-Noord te besoek. Teen daardie tyd het die Love Howick-organisasie reeds met die hulp van vrywilligers die dorp opgeruim. Die deel naby die Umgenirivier wat die ergste deurgeloop het, het ek maar vermy. Die res van Howick was rustig en skoon en slegs by winkels wat kos verkoop het, was daar baie motors en lang toue mense – báie lang toue! Greendale Spar se deure was oop. Vrywilligers het glo in groepe van 300 dag en nag daar wag gehou en potensiële plunderaars weggehou. Padblokkades was nog by sleutelpunte te sien. Teen daardie tyd was hulporganisasies goed op dreef en het hulle die publiek deur sosiale media op hoogte van sake gehou. Hier is maar een voorbeeld van ’n WhatsApp-groep wat ons voortdurend van inligting voorsien het.

Unrest SA: Police to protect convoys bringing food, fuel into KwaZulu-Natal

Food, fuel and other critical aid bound for KwaZulu-Natal will be transported in armed police convoys, after days of unrest shattered supply chains and left the province with a dwindling supply of essential goods.

Shoppers flocked to stores that had not fallen prey to unrest and rampant looting, with some lining up from as early as 03:00 – waiting for up to eight hours – to get basic groceries that were being strictly rationed.

The context: The burgeoning food security crisis comes in the aftermath of an orchestrated campaign of disruption in the name of former president Jacob Zuma that spiralled out of control.

Die sosiale media is gebruik vir kwaadstook die afgelope week, maar ook om mense saam te snoer. Hier is nog voorbeeld:

AVAILABLE TODAY (Thursday) IN HOWICK
– updated 15/07/2021

Milk and cheese
From 8 am
PLEASE BRING YOUR OWN CONTAINERS
La Petite France shop on Karkloof Road will be selling milk, cream, cheese and yoghurt. Some jams and frozen meals still available, but not much.
– Allan Dell

Woolworths
9 am to 1.30 pm
Availability is really bad. We have no fresh perishable items to sell except some yogurt, cheese and frozen items. Long life items are OK, but essential lines like flour, sugar, long life milk and rice etc are completely sold out. We do have basic groceries like cereals, pasta, canned foods and non-foods available.
– Lee Nieuwoudt

Fresh produce market
From 2 pm
On the open field opposite the Howick Community Church (between Main Street, Fraser Street, Patterson Road and Holmes Lane)
– Linda Mills Barnsley

Fresh produce in Lions River
Milk, cabbages, carrots, coleslaw, spinach, broccoli and potatoes available in Lions River tomorrow. Please bring your own containers for milk.
– Brittany Shaw

Grapevine
8 am to 4 pm
Grapevine is baking bread all day – BUT YOU MUST ORDER AHEAD.

Dovehouse
9 am to 11 am
Limited fresh produce available.

The Cookhouse
9 am to 5 pm
Stocks of frozen meals are currently good.
Please keep an eye on website for updates: thecookhouse.co.za.

Donderdag het ons in Amberglen drie maal SMS’e gekry: “Fresh produce available at the Centre NOW. Milk, eggs, vegetables and cheese. Bring own containers.” Stoele is uitgepak op die stoep en die sowat 50 mense het rustig gesels en aangeskuif van stoel tot stoel tot ons in die eetkamer was waar ek kool, aartappels, melk, eiers en kaas kon koop. Alles vars. Die aartappels was duidelik daardie oggend uitgehaal en is in handevol in ons mandjies gelaai. R10 vir twee hande vol. Vir R90 het ek genoeg kos huis toe gedra vir ’n hele paar dae en het ek gou ’n groot pot sop gekook met die buitenste blare van die rooi kool, die aartappels, ’n blikkie tamatie-en-uie-smoor en ’n pakkie sampioensop wat nog in my voorraad was. As porsies in die vrieskas sal ek nog lank daarvan kan geniet. Op my stoep, in die sonskyn en tussen die blomme in my tuin het ek die talle voëls wat sing en krummeltjies kom bedel, gevoer.

Die sonderlinge hulp van boere was nie net aan Amberglen nie. Oral het boere wat nie hulle produkte na markte kon vervoer nie, dit vir die inwoners beskikbaar gestel. ’n Hoederboer het byvoorbeeld eiers weggegee op ’n oop stuk grasveld in die dorp, soveel as wat mense wou hê.

Teen Vrydag het ek gevoel dis veilig om na ’n vriendin in Amber Valley te stap. Dit was goed om ’n slag buite Amberglen te stap, en lekker om oor ’n koppie koffie die gebeure van die afgelope dae sonder emosie te bespreek. By een van die mooi damme daar het ek plat op my maag op die damwal gelê om van die mooi geel blommetjies af te neem. Die natuur gaan voort!

Om 16h24, terwyl ek met Izak in Kaapstad gesels (internetverbindinge weer goed), kry ek weer ’n SMS van die Amberglen-bestuur. “Love Howick have fruit and veggies available free of charge. They have parked at the Sanctuary …” Croissants, plaatkoekies, aarbeie, pakkies slaai, papajas … Ek kon my oë nie glo nie.

Die twee manne met hulle Love Howick T-hempies vertel dat dit ‘n donasie was van Spar uit dankbaarheid vir die ondersteuning die afgelope week en gevra dat Love Howick dit sal uitdeel. Hulle het besluit om daarvan onder andere na die bejaardes te neem. Ek moes stilletjies glimlag. Ek skat op byna 78 jaar word ek ook geklassifiseer as ‘n “bejaarde”, en ek mag maar voordeel trek uit hierdie donasie. Het darem ’n geldelike donasie aan Love Howick gegee.

Saterdag was die Karkloof-boeremark weer oop, met vlak 4-Covid-beperkinge in plek. Daar was nie soveel produkte soos gewoonlik nie, maar genoeg plaaslike produkte, lekker koffie en twee stalletjies wat ontbyt verkoop. Mense sit buite en geniet die eetgoed in die sonnetjie en die uitsig oor die rustige Natalse Middelland.

Ja, Howick was ’n brandpunt van ’n angswekkende week, maar deurgaans het ons elektrisiteit en water gehad, en die gemeenskap het mekaar wonderlik ondersteun. Ek is bly ek woon in Howick.

Lees ook:

The heart of Howick

Nothing left to loot in Soweto

Under siege in Durban

Seen elsewhere: Goodwill and compassion are stronger than the forces of destruction

Gemeenskappe staan saam terwyl plundering voortduur

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top