sonke

  • 3

Foto: verskaf

sonke

daar ver langs die see
stap die egpaar Viljee
hul lyk heel verlief
en gelukkig, dié twee

blou is die lug en potblou die see
en hoe pragtig is dit nie
as hy haar ’n french kiss wil gee
blou is die lug en nog blouer die see

heel onlangs getroud
want hy vat aan haar boud
en sy giggel verleë
as hy haar ’n knypie gee

grys raak die lug en grou raak die see
daai vat is mos seer
en hy knyp haar nou weer
grys is die lug en nog gryser die see

donker raak die lug en donker die see
smekend is die kyk van mevrou Viljee
hy donner haar nou
en sy sit haar nie teë
donker raak die lug en stikdonker die see

hy begin haar verkrag
met brutale geweld
en sy het nie die mag
om haarself te laat geld

duisternis in die lug en verduistering oor die see
die mes sny deur
en die houe reën neer
duisternis in die lug en hoe duister is die see?

geskok is die lug en verstar is die see
wie gaan iets doen
en wie gaan sê nee?
geskok is die lug en te lam is die see

rooi is die lug en purperrooi die see
met haar wang in die sand
lê mevrou Viljee
rooi is die lug en skarlaken die see

Lees ook: 

"Sou ék?" I en II deur Jannie Pretorius

Vleis-en-hopies-wol

Hoekom?

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top